Christus—Die sleutelfiguur in profesie
“Dit is die aflegging van getuienis omtrent Jesus wat profesie inspireer.”—OPENBARING 19:10.
1, 2. (a) Voor watter besluit het Israel vanaf 29 G.J. te staan gekom? (b) Wat sal in hierdie artikel bespreek word?
DIT is die jaar 29 G.J. Oral in Israel word daar oor die beloofde Messias gepraat. Die bediening van Johannes die Doper het die gevoel van afwagting verhoog (Lukas 3:15). Johannes ontken dat hy die Christus is. Hy wys eerder na Jesus van Nasaret en sê: “Ek het getuig dat dié een die Seun van God is” (Johannes 1:20, 34). Kort voor lank volg skares Jesus om na sy onderrigting te luister en deur hom genees te word.
2 In die maande wat hierop volg, voorsien Jehovah oorvloedige getuienis omtrent sy Seun. Diegene wat die Skrif bestudeer het en wat Jesus se werke sien, het ’n vaste grondslag vir geloof in hom. Maar God se verbondsvolk toon oor die algemeen ’n gebrek aan geloof. Betreklik min erken dat Jesus die Christus, die Seun van God, is (Johannes 6:60-69). Wat sou jy gedoen het as jy destyds gelewe het? Sou jy Jesus as die Messias aanvaar het en sy getroue volgeling geword het? Beskou die getuienis wat Jesus self oor sy identiteit lewer wanneer hy daarvan beskuldig word dat hy die Sabbat skend, en let op die bewyse wat hy daarna gee om die geloof van sy lojale dissipels te versterk.
Die getuienis wat Jesus self lewer
3. Watter omstandighede het Jesus genoodsaak om getuienis te lewer oor sy identiteit?
3 Dit is die Pasgatyd in 31 G.J. Jesus is in Jerusalem. Hy het so pas ’n man genees wat 38 jaar lank siek was. Maar die Jode val Jesus lastig omdat hy dit op die Sabbat gedoen het. Hulle beskuldig hom ook van godslastering en probeer hom doodmaak omdat hy God sy Vader noem (Johannes 5:1-9, 16-18). Jesus verdedig homself deur drie kragtige redenasies te gebruik wat enige opregte Jood van Jesus se ware identiteit sal oortuig.
4, 5. Wat was die doel van Johannes se bediening, en hoe goed het hy dit volbring?
4 Eerstens verwys Jesus na die getuienis van sy voorganger, Johannes die Doper, en sê: “Julle het manne na Johannes toe gestuur, en hy het van die waarheid getuig. Dié man was ’n lamp wat gebrand en geskyn het, en julle was ’n kort tydjie bereid om julle grootliks in sy lig te verbly.”—Johannes 5:33, 35.
5 Johannes die Doper was “’n lamp wat gebrand en geskyn het”, aangesien hy, voordat hy ten onregte deur Herodes in die gevangenis gegooi is, sy godgegewe opdrag vervul het om die weg vir die Messias te berei. Johannes het gesê: “Die rede waarom ek in water kom doop het, was sodat [die Messias] aan Israel openbaar gemaak kon word. . . . Ek het die gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en dit het op hom gebly. Selfs ek het hom nie geken nie, maar Hý wat my gestuur het om in water te doop, het vir my gesê: ‘Die een op wie jy die gees sien neerdaal en bly, dit is hy wat in heilige gees doop.’ En ek het dit gesien, en ek het getuig dat dié een die Seun van God is” (Johannes 1:26-37).a Johannes het Jesus spesifiek as die Seun van God—die beloofde Messias—geïdentifiseer. Johannes se getuienis was so duidelik dat talle opregte Jode sowat agt maande ná sy dood erken het: “Alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, was waar.”—Johannes 10:41, 42.
6. Waarom moes Jesus se werke mense oortuig het dat hy God se ondersteuning het?
6 Hierna gebruik Jesus ’n ander redenasie om te bevestig dat hy die Messias is. Hy verwys na sy eie goeie werke as ’n bewys dat hy God se ondersteuning het. “Ek het die getuienis wat groter is as dié van Johannes”, sê hy, “want juis die werke wat my Vader my opgedra het om te volbring, die werke wat ek doen, getuig aangaande my dat die Vader my gestuur het” (Johannes 5:36). Selfs Jesus se vyande kon nie hierdie bewyse ontken nie, wat talle wonderwerke ingesluit het. “Wat moet ons doen, want hierdie man doen baie tekens?” vra sekere persone later (Johannes 11:47). Party reageer egter gunstig en sê: “Wanneer die Christus kom, sal hy tog nie meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het nie, of hoe?” (Johannes 7:31). Jesus se toehoorders was in ’n uitstekende posisie om die Vader se eienskappe in die Seun te herken.—Johannes 14:9.
7. Hoe getuig die Hebreeuse Geskrifte aangaande Jesus?
7 Laastens vestig Jesus die aandag op onweerlegbare getuienis. “Die Skrif, . . . juis dié getuig aangaande my”, sê hy en voeg by: “As julle Moses geglo het, sou julle my glo, want hy het van my geskryf” (Johannes 5:39, 46). Moses was natuurlik net een van baie voor-Christelike getuies wat oor die Christus geskryf het. Hulle geskrifte sluit honderde profesieë en uitvoerige geslagsregisters in, wat alles na die Messias vooruitgewys het (Lukas 3:23-38; 24:44-46; Handelinge 10:43). En wat van die Mosaïese Wet? “Die Wet [het] ons tugmeester geword wat na Christus gelei het”, het die apostel Paulus geskryf (Galasiërs 3:24). Ja, “dit is die aflegging van getuienis omtrent Jesus wat profesie inspireer”, of wat die hele aard, oogmerk en doel van profesie is.—Openbaring 19:10.
8. Waarom het baie Jode nie geloof gestel in die Messias nie?
8 Sou al hierdie bewyse—Johannes se uitdruklike getuienis, Jesus se eie kragtige werke en sy goddelike eienskappe asook die oorvloedige getuienis van die Skrif—jou nie oortuig het dat Jesus die Messias is nie? Enigiemand wat opregte liefde vir God en vir sy Woord het, sou dit geredelik insien en geloof in Jesus as die beloofde Messias beoefen. Hierdie liefde het egter in Israel ontbreek. Jesus het vir sy teenstanders gesê: “Ek weet goed dat julle nie die liefde vir God in julle het nie” (Johannes 5:42). In plaas van “die heerlikheid [te] soek wat van die enigste God kom”, het hulle “heerlikheid van mekaar [aangeneem]”. Geen wonder nie dat hulle dit oneens was met Jesus, wat soos sy Vader sulke denke verafsku!—Johannes 5:43, 44; Handelinge 12:21-23.
Versterk deur ’n profetiese visioen
9, 10. (a) Waarom was die tydsberekening van ’n teken wat Jesus se dissipels ontvang het, ideaal? (b) Watter merkwaardige belofte het Jesus aan sy dissipels gemaak?
9 Meer as ’n jaar het verloop sedert Jesus die voormelde bewyse van sy Messiasskap gegee het. Die Pasga van die jaar 32 G.J. het gekom en gegaan. Baie wat geglo het, het opgehou om hom te volg, dalk weens vervolging, materialisme of die sorge van die lewe. Ander is dalk verward of teleurgesteld omdat Jesus die mense se pogings om hom koning te maak, verwerp het. Toe hy deur die Joodse godsdiensleiers uitgedaag is, het hy geweier om ’n teken uit die hemel te voorsien om homself te verheerlik (Matteus 12:38, 39). Hierdie weiering was vir party dalk vreemd. Daarbenewens het Jesus iets aan sy dissipels begin openbaar wat hulle baie moeilik vind om te begryp—naamlik “dat hy na Jerusalem moet gaan en baie dinge van die ouer manne en hoofpriesters en skrifgeleerdes moet ly en doodgemaak . . . moet word”.—Matteus 16:21-23.
10 Oor nege tot tien maande sal dit tyd wees vir Jesus “om uit hierdie wêreld na die Vader toe te gaan” (Johannes 13:1). Jesus is diep besorg oor sy lojale dissipels en belowe party van hulle juis dit wat hy die ongelowige Jode geweier het—’n teken uit die hemel. “Voorwaar, ek sê vir julle”, sê Jesus, “dat party van dié wat hier staan, glad nie die dood sal smaak voordat hulle eers die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Matteus 16:28). Jesus sê natuurlik nie dat sekere van sy dissipels sal lewe tot die oprigting van die Messiaanse Koninkryk in 1914 nie. Jesus wil vir drie van sy intieme dissipels ’n skouspelagtige voorskou van sy heerlikheid in Koninkryksmag gee. Hierdie visioenêre voorskou word die gedaanteverandering genoem.
11. Beskryf die visioen van die gedaanteverandering.
11 Ses dae later neem Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes teen ’n hoë berg op—waarskynlik ’n uitloper van die berg Hermon. Daar word Jesus “voor hulle van gedaante verander, en sy gesig het geskyn soos die son, en sy boklere het skitterend geword soos die lig”. Die profete Moses en Elia verskyn ook en voer ’n gesprek met Jesus. Hierdie ontsagwekkende gebeurtenis vind moontlik in die nag plaas, wat dit besonder indrukwekkend maak. Trouens, dit is so werklik dat Petrus aanbied om drie tente op te rig—een elk vir Jesus, Moses en Elia. Terwyl Petrus nog praat, oorskadu ’n helder wolk hulle en sê ’n stem uit die wolk: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het; luister na hom.”—Matteus 17:1-6.
12, 13. Watter uitwerking het die visioen van die gedaanteverandering op Jesus se dissipels gehad, en waarom?
12 Petrus het weliswaar onlangs getuig dat Jesus “die Christus, die Seun van die lewende God”, is (Matteus 16:16). Maar stel jou voor jy hoor hoe God self sy getuienis lewer om die identiteit en rol van sy gesalfde Seun te bevestig! Wat ’n geloofversterkende ondervinding is die visioen van die gedaanteverandering tog vir Petrus, Jakobus en Johannes! Hulle geloof is grootliks hierdeur versterk, en hulle is nou beter voorbereid op wat voorlê en op die belangrike rol wat hulle in die toekomstige gemeente sal speel.
13 Die gedaanteverandering maak ’n blywende indruk op die dissipels. Meer as 30 jaar later skryf Petrus: “[Jesus] het eer en heerlikheid van God die Vader ontvang toe hierdie woorde deur die luisterryke heerlikheid tot hom gekom het: ‘Dit is my seun, my geliefde, wat ek self goedgekeur het.’ Ja, hierdie woorde het ons uit die hemel hoor kom terwyl ons saam met hom op die heilige berg was” (2 Petrus 1:17, 18). Die gebeurtenis het Johannes net so diep getref. Meer as 60 jaar nadat dit plaasgevind het, verwys hy blykbaar daarna met die woorde: “Ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos dié van ’n enigverwekte seun wat van ’n vader kom” (Johannes 1:14). Maar die gedaanteverandering is nie die laaste van die visioene wat aan Jesus se volgelinge gegee is nie.
Verdere lig vir God se lojales
14, 15. In watter sin sou die apostel Johannes bly totdat Jesus kom?
14 Ná sy opstanding verskyn Jesus by die See van Galilea aan sy dissipels. Hier sê hy vir Petrus: “As dit my wil is dat [Johannes] bly totdat ek kom, wat gaan dit jou aan?” (Johannes 21:1, 20-22, 24). Gee hierdie woorde te kenne dat die apostel Johannes langer as die ander apostels sal lewe? Blykbaar, want hy dien Jehovah byna nog 70 jaar lank getrou. Maar daar is meer betrokke by Jesus se stelling.
15 Die uitdrukking “totdat ek kom” herinner ons aan Jesus se verwysing na “die Seun van die mens [wat] in sy koninkryk . . . kom” (Matteus 16:28). Johannes bly totdat Jesus kom in die sin dat Johannes later ’n profetiese visioen ontvang van Jesus wat in Koninkryksmag kom. Na aan die einde van Johannes se lewe, terwyl hy op die eiland Patmos in ballingskap is, ontvang hy die Openbaring met al sy verstommende profetiese tekens van gebeure wat gedurende “die dag van die Here” sal plaasvind. Johannes is so diep getref deur hierdie skouspelagtige visioene dat Jesus se woorde: “Ja; ek kom gou”, Johannes laat uitroep: “Amen! Kom, Here Jesus.”—Openbaring 1:1, 10; 22:20.
16. Waarom is dit belangrik dat ons ons geloof bly versterk?
16 Opregtes van hart wat in die eerste eeu lewe, aanvaar Jesus as die Messias en stel geloof in hom. Dié wat gelowiges word, moet versterk word weens die heersende gebrek aan geloof in die wêreld om hulle, die werk wat hulle moet doen en die toetse wat voorlê. Jesus het genoegsame bewyse van sy Messiasskap gelewer en het verligtende profetiese visioene voorsien om sy lojale volgelinge aan te moedig. Vandag is ons al diep in “die dag van die Here”. Christus gaan binnekort Satan se hele goddelose stelsel van dinge vernietig en God se volk verlos. Ons moet ook ons geloof versterk deur ten volle gebruik te maak van al Jehovah se voorsienings vir ons geestelike welsyn.
Deur duisternis en verdrukking heen bewaar
17, 18. Watter skerp teenstelling was daar in die eerste eeu tussen Jesus se volgelinge en dié wat God se voorneme teëgestaan het, en hoe het sake vir elke groep afgeloop?
17 Ná Jesus se dood gehoorsaam die dissipels moedig sy bevel om “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” van hom te getuig (Handelinge 1:8). Ondanks vlae van vervolging wat hulle ondervind, seën Jehovah die jong Christengemeente met geestelike lig en met talle nuwe dissipels.—Handelinge 2:47; 4:1-31; 8:1-8.
18 Aan die ander kant word die vooruitsigte van dié wat die goeie nuus teëstaan, al hoe donkerder. “Die weg van die goddeloses is soos die donker”, sê Spreuke 4:19. “Hulle het nie geweet waaroor hulle bly struikel nie.” “Die donker” vererger in 66 G.J. wanneer Romeinse magte Jerusalem beleër. Nadat die Romeine om geen verklaarbare rede nie tydelik terugtrek, keer hulle in 70 G.J. terug, en hierdie keer verwoes hulle die stad. Volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus sterf meer as ’n miljoen Jode. Maar getroue Christene ontkom. Hoe so? Omdat hulle, ná die einde van die eerste beleëring, gehoor gee aan Jesus se bevel om te vlug.—Lukas 21:20-22.
19, 20. (a) Waarom het God se volk geen rede om te vrees terwyl die huidige stelsel sy einde nader nie? (b) Watter merkwaardige insig het Jehovah sy knegte in die dekades voor 1914 gegee?
19 Ons is in ’n soortgelyke situasie. Die komende groot verdrukking sal die einde van Satan se hele goddelose stelsel beteken. Maar God se volk hoef nie te vrees nie, want Jesus het beloof: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:20). Om die geloof van sy vroeë dissipels op te bou en hulle voor te berei op wat voorgelê het, het Jesus hulle ’n voorskou van sy hemelse heerlikheid as Messiaanse Koning gegee. Wat van vandag? In 1914 het daardie voorskou ’n werklikheid geword. En hoe geloofversterkend was daardie werklikheid tog vir God se volk! Dit hou die belofte in van ’n wonderlike toekoms, en Jehovah se knegte het stelselmatig insig in daardie werklikheid ontvang. Te midde van ’n wêreld wat vandag al hoe donkerder word, is “die pad van die regverdiges . . . soos die helder lig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is”.—Spreuke 4:18.
20 Selfs voor 1914 het ’n klein groepie gesalfde Christene belangrike waarhede oor die Here se terugkeer begin begryp. Hulle het byvoorbeeld onderskei dat dit onsigbaar sou wees, soos die twee engele te kenne gegee het wat in 33 G.J. aan die dissipels verskyn het terwyl Jesus na die hemel opgevaar het. Nadat ’n wolk Jesus uit die dissipels se gesig weggeneem het, het die engele gesê: “Hierdie Jesus wat van julle af in die lug opgeneem is, sal net so op dieselfde manier kom as wat julle hom die lug in sien gaan het.”—Handelinge 1:9-11.
21. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
21 Net Jesus se lojale volgelinge het hom sien weggaan. Soos met die gedaanteverandering was daar geen openbare vertoon nie; die wêreld oor die algemeen het nie eers geweet wat gebeur het nie. Dieselfde sou waar wees wanneer Christus in Koninkryksmag terugkeer (Johannes 14:19). Slegs sy getroue gesalfde dissipels sou onderskei dat hy as koning teenwoordig is. In die volgende artikel sal ons sien hoe daardie insig ’n diepgaande invloed op hulle gehad het en gelei het tot die insameling van miljoene mense wat Jesus se aardse onderdane sal word.—Openbaring 7:9, 14.
[Voetnoot]
a Blykbaar het net Johannes God se stem gehoor toe Jesus gedoop is. Die Jode met wie Jesus praat, “het nog nooit [God se] stem gehoor of sy gedaante gesien nie”.—Johannes 5:37.
Onthou jy?
• Watter bewyse het Jesus voorsien om te toon dat hy die Messias is toe hy van Sabbatskending en godslastering beskuldig is?
• Hoe het Jesus se vroeë dissipels by die gedaanteverandering baat gevind?
• Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat Johannes sal bly totdat hy kom?
• Watter voorskou het in 1914 ’n werklikheid geword?
[Prente op bladsy 10]
Jesus het bewyse voorgelê dat hy die Messias is
[Prent op bladsy 12]
Die visioen van die gedaanteverandering was geloofversterkend
[Prent op bladsy 13]
Johannes sou bly tot Jesus se ‘koms’