Waarom het Jesus nie by die politiek betrokke geraak nie?
STEL jou ’n toneel voor uit die jaar 32 HJ. Dit is laat in die dag. Jesus, die voorspelde Messias, was alreeds welbekend omdat hy die siekes gesond gemaak en selfs die dooies opgewek het. Vandag het hy ’n skare van duisende met ontsag vervul deur kragtige tekens te doen en hulle van God se leringe te vertel. Nou verdeel hy die honger mense in kleiner groepe. Hy bid tot Jehovah en voed hulle almal op wonderdadige wyse. Dan maak hy die oorskietkos bymekaar om vermorsing te voorkom. Hoe reageer die mense?—Johannes 6:1-13.
Wel, nadat hulle Jesus se wonderwerke gesien het, asook sy bekwame leiding toe hy die menigtes georganiseer het en na hulle behoeftes omgesien het, kom die mense tot die slotsom dat Jesus ’n volmaakte koning sou wees (Johannes 6:14). Hulle reaksie is glad nie verbasend nie. Onthou dat hulle baie graag ’n goeie, bekwame heerser wou hê; hulle geliefde vaderland was onder die onderdrukkende heerskappy van ’n vreemde mag. Hulle het dus regstreeks op Jesus druk geplaas om by die politieke proses betrokke te raak. Beskou sy reaksie teen hierdie agtergrond.
“Omdat Jesus geweet het dat hulle op die punt staan om hom te kom gryp om hom koning te maak, het hy weer na die berg weggegaan, heeltemal alleen”, sê Johannes 6:15. Jesus kon nouliks ’n sterker standpunt ingeneem het. Hy het volstrek geweier om by die politiek van sy vaderland betrokke te raak. Sy standpunt het nooit verander nie. Hy het gesê dat sy volgelinge dieselfde standpunt moet inneem (Johannes 17:16). Waarom het hy hierdie standpunt ingeneem?
Waarom het Jesus neutraliteit gekies?
Jesus se neutraliteit ten opsigte van die politiek van hierdie wêreld was stewig op skriftuurlike beginsels gegrond. Kyk na net twee.
“Die mens [het] oor die mens geheers . . . tot sy nadeel” (Prediker 8:9). Dit is hoe die Bybel die geskiedenis van menseheerskappy opsom. Onthou dat Jesus lank voordat hy as ’n mens na die aarde toe gekom het, as ’n geesskepsel in die hemel bestaan het (Johannes 17:5). Hy het dus geweet dat die mens, ongeag hulle goeie bedoelings, nie die vermoë het om behoorlik na die behoeftes van miljarde mense om te sien nie; God het hom ook nie geskep om dit te doen nie (Jeremia 10:23). Jesus het geweet dat die oplossing vir die mensdom se probleme elders gevind kan word—nie by menseregerings nie.
“Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Vind jy daardie stelling skokkend? Vir baie is dit. Hulle dink aan opregte mense wat by die politiek betrokke raak omdat hulle die wêreld ’n beter, veiliger plek wil maak. Maar al probeer hulle hoe hard, kan selfs die opregste heersers niks doen omtrent die invloed van die een wat Jesus “die heerser van hierdie wêreld” genoem het nie (Johannes 12:31; 14:30). Dit is waarom Jesus vir een wêreldse politikus gesê het: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Jesus was die toekomstige Koning van God se hemelse regering. As Jesus by die politiek betrokke geraak het, sou hy sy lojaliteit aan sy Vader se regering prysgegee het.
Het Jesus dan geleer dat sy volgelinge geen verpligting teenoor aardse regerings het nie? Inteendeel, hy het hulle geleer hoe om die regte balans te vind tussen hulle verantwoordelikhede teenoor God en hulle verpligtinge teenoor wêreldse regerings.
Jesus het die regering se gesag gerespekteer
Terwyl Jesus in die tempel onderrig het, het teenstanders hom in ’n netelige situasie probeer plaas deur te vra of mense belasting moet betaal. As Jesus nee gesê het, sou sy antwoord as opruiend beskou word en kon dit selfs ’n opstandige gees aangeblaas het onder verdrukte mense wat graag ontslae wou raak van die juk van Romeinse onderdrukking. Maar as Jesus ja gesê het, sou baie gevoel het dat hy die onregte wat hulle ly, vergoelik. Jesus se antwoord was heeltemal gebalanseerd. Hy het gesê: “Betaal dan . . . aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Lukas 20:21-25). Sy volgelinge het dus verpligtinge teenoor God en teenoor die keiser—dit wil sê die regering.
Regerings handhaaf ’n mate van orde. Hulle vereis tereg dat burgers eerlik moet wees, belasting moet betaal en die wet moet gehoorsaam. Watter voorbeeld het Jesus daarin gestel om “aan die keiser [te betaal] wat aan die keiser behoort”? Jesus is grootgemaak deur ouers wat die wet gehoorsaam het selfs wanneer dit ongerieflik was om dit te doen. Josef en sy swanger vrou, Maria, moes byvoorbeeld sowat 150 kilometer na Betlehem reis toe ’n Romeinse verordening uitgevaardig is dat ’n sensus gedoen gaan word (Lukas 2:1-5). Soos hulle, het Jesus die wet gehoorsaam en selfs belasting betaal wat hy nie werklik verskuldig was nie (Matteus 17:24-27). Hy was ook versigtig om nie sy gesag in sekulêre aangeleenthede te oorskry nie (Lukas 12:13, 14). Hoewel Jesus die regeringstelsel gerespekteer het, het hy geweier om ’n deel daarvan te wees. Maar wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat ons “aan God [moet betaal] wat aan God behoort”?
Hoe Jesus ‘aan God gegee het wat aan God behoort’
Jesus is eenkeer gevra wat die grootste wet is van al die wette wat God aan die mens gegee het. Christus het geantwoord: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’” (Matteus 22:37-39). Om “aan God [te betaal] wat aan God behoort”, behels volgens wat Jesus geleer het, in die eerste plek liefde vir Hom—wat ons heelhartige, volkome getrouheid insluit.
Kan sulke liefde verdeeld wees? Kan ons lojaliteit verdeel word sodat ons aan Jehovah God en sy hemelse regering sowel as aan ’n aardse regering lojaal is? Jesus self het die beginsel gegee: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag” (Matteus 6:24). Jesus het hier gepraat van lojaliteit wat verdeeld is tussen God en rykdom, maar hy het klaarblyklik gemeen dat dieselfde beginsel van toepassing is op betrokkenheid by die politiek—en sy volgelinge in die eerste eeu het ook so gevoel.
Die oudste beskikbare verslae toon dat Jesus se volgelinge in die eertydse wêreld glad nie by die politiek betrokke geraak het nie. Omdat hulle al hulle aanbidding gegee het aan die Een wat deur Christus aanbid is, het hulle geweier om aan Rome en sy keiser trou te sweer, om militêre diens te doen en om ’n openbare amp te aanvaar. Gevolglik het hulle allerhande soorte vyandigheid ondervind. Hulle vyande het hulle soms daarvan beskuldig dat hulle mense haat. Was daardie beskuldiging geregverdig?
Ware Christene gee vir mense om
Dink aan Jesus se verwysing na die tweede grootste gebod wat God gegee het—“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dit is duidelik dat geen ware volgeling van Christus mense mag haat nie. Jesus was lief vir mense, het hom ten behoewe van hulle ingespan en het hulle selfs met die mees praktiese en alledaagse probleme gehelp.—Markus 5:25-34; Johannes 2:1-10.
Maar waarvoor het Jesus hoofsaaklik bekend gestaan? Hy is nie as Geneser, as Voeder van Duisende of selfs as Opwekker van die Dooies aangespreek nie—hoewel hy al hierdie merkwaardige rolle vervul het. Mense het hom eerder Leermeester genoem, en heel tereg (Johannes 1:38; 13:13). ’n Belangrike rede waarom Jesus aarde toe gekom het, het hy verduidelik, was om mense oor die Koninkryk van God te leer.—Lukas 4:43.
Dit is waarom Christus se ware volgelinge hulle toespits op dieselfde werk waarmee hulle Heer besig was toe hy op die aarde was—om mense die goeie nuus van God se Koninkryk te leer. Jesus Christus het alle ware Christene die opdrag gegee om mense regoor die wêreld daarvan te leer (Matteus 24:14; 28:19, 20). Daardie onverderflike hemelse regering sal oor God se hele skepping heers, in ooreenstemming met die wet van liefde. Dit sal God se wil volbring en selfs lyding en die dood uit die weg ruim (Matteus 6:9, 10; Openbaring 21:3, 4). Geen wonder dat die Bybel na Christus se boodskap as “goeie nuus” verwys nie!—Lukas 8:1.
Hoe kan jy vandag Jesus Christus se ware volgelinge op aarde identifiseer? Sal hulle in die politiek van hierdie wêreld inmeng? Of is hulle hoofdoel dieselfde as dié van Jesus—om die Koninkryk van God te verkondig en ander daarvan te leer?
Wil jy graag meer leer oor die Koninkryk van God en hoe dit jou lewe nou kan beïnvloed? Ons nooi jou om met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking te kom of om hulle amptelike webwerf, www.watchtower.org, te besoek.
[Venster/Prente op bladsy 24, 25]
Help Jehovah se Getuies die gemeenskap?
Jehovah se Getuies is polities neutraal. Hulle is egter hard besig om mense van alle rasse en agtergronde in hulle gemeenskap te help. Kyk na ’n paar feite:
◼ Jehovah se Getuies sluit meer as sewemiljoen vrywilligers in wat jaarliks altesaam meer as 1,5 miljard uur daaraan bestee om mense te leer wat die Bybel bevat en hoe dit hulle kan help om skadelike gewoontes en gebruike te oorkom, gelukkige gesinne te bou en hulle lewe op ander maniere te verbeter.
◼ Hulle druk lektuur en versprei dit gratis in meer as 500 tale, insluitende party waarin daar geen ander gedrukte leesstof is nie.
◼ Hulle hou kursusse in die openbare spreekkuns wat miljoene gehelp het om te leer om hulle duidelik en taktvol uit te druk.
◼ Hulle borg lees-en-skryf-programme wat tienduisende mense regoor die wêreld gehelp het om te lees en skryf.
◼ Hulle het wêreldwyd meer as 400 Streekboukomitees georganiseer om vrywilligers bouvaardighede te leer sodat hulle sentrums vir Bybelonderrig kan bou. In die afgelope dekade is meer as 20 000 plekke van aanbidding, of Koninkryksale, gebou.
◼ Hulle is betrokke by noodlenigingswerk regoor die wêreld wat hulp verleen aan Getuies sowel as mense wat nie Getuies is nie. In ’n tydperk van twee jaar ná ’n onlangse reeks orkane wat die Verenigde State getref het, het Getuievrywilligers meer as 90 Koninkryksale en 5 500 huise herbou.
[Prent op bladsy 23]
Toe mense druk op Jesus geplaas het om by die politiek betrokke te raak, het hy “na die berg weggegaan, heeltemal alleen”