Jehovah bewaar ons vir redding
“Julle [word] deur God se krag deur middel van geloof beveilig . . . vir ’n redding wat gereed is om in die laaste tyd geopenbaar te word.”—1 PET. 1:4, 5.
HOE SAL JY ANTWOORD?
Hoe het Jehovah ons na ware aanbidding getrek?
Hoe kan ons toelaat dat Jehovah ons met sy raad lei?
Hoe voorsien Jehovah ons van aanmoediging?
1, 2. (a) Watter versekering het ons dat God ons sal help om ons onkreukbaarheid te handhaaf? (b) Hoe goed ken Jehovah elkeen van ons?
“WIE tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matt. 24:13). Met hierdie woorde het Jesus dit duidelik gestel dat ons, as ons behoue wil bly wanneer God oordeel aan Satan se wêreld voltrek, ons onkreukbaarheid tot die einde toe moet handhaaf. Maar dit beteken nie dat Jehovah verwag dat ons deur middel van ons eie wysheid of krag moet volhard nie. Die Bybel verseker ons: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur” (1 Kor. 10:13). Wat gee hierdie woorde te kenne?
2 Om seker te maak dat ons nie versoek word bo wat ons kan verdra nie, moet Jehovah alles omtrent ons weet, insluitende die uitdagings waarmee ons te kampe het, ons individuele samestelling en presies hoeveel ons kan verduur. Ken God ons werklik so goed? Ja. Die Bybel toon dat Jehovah elkeen van ons intiem ken. Hy is vertroud met ons daaglikse roetine en gewoontes. Hy kan selfs ons gedagtes en die bedoelings van ons hart onderskei.—Lees Psalm 139:1-6.
3, 4. (a) Hoe toon Dawid se ondervinding dat Jehovah aan individue aandag skenk? (b) Watter merkwaardige werk verrig Jehovah vandag?
3 Klink dit vergesog dat God soveel belangstelling in nietige mense sal toon? Die psalmis Dawid het oor hierdie vraag gepeins en vir Jehovah gesê: “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u berei het, wat is die sterflike mens dat u aan hom dink?” (Ps. 8:3, 4). Hierdie vraag het dalk ontstaan uit Dawid se eie ondervinding. In hom, die jongste seun van Isai, het Jehovah “’n man na sy hart” gevind en hom “agter die kleinvee weggeneem om ’n leier” oor Israel te word (1 Sam. 13:14; 2 Sam. 7:8). Stel jou voor hoe Dawid moes gevoel het toe hy besef het dat die Skepper van die heelal aandag geskenk het aan sy private bepeinsing, die gedagtes van ’n herderseun!
4 Dit is net so verbasend om te dink aan die merkwaardige persoonlike belangstelling wat Jehovah vandag in ons toon. Hy bring “die begeerlike dinge van al die nasies” bymekaar in ware aanbidding, en hy help sy knegte om hulle onkreukbaarheid te handhaaf (Hag. 2:7). Om beter te verstaan hoe Jehovah ons help om ons onkreukbaarheid te handhaaf, kan ons nadink oor hoe hy mense in die eerste plek na ware aanbidding trek.
DEUR GOD GETREK
5. Hoe trek Jehovah mense na sy Seun? Lig toe.
5 Jesus het gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Joh. 6:44). Hierdie woorde gee te kenne dat ons God se hulp nodig het om ’n dissipel van Christus te word. Hoe trek Jehovah skaapgeaardes na sy Seun? Deur die verkondiging van die goeie nuus en die werking van die heilige gees. Toe Paulus en sy medesendelinge in Filippi was, het hulle byvoorbeeld ’n vrou met die naam Lidia ontmoet en haar van die goeie nuus begin vertel. Die geïnspireerde verslag sê: “Jehovah het haar hart wyd oopgemaak om aandag te skenk aan die dinge wat Paulus gesê het.” Ja, God het sy gees voorsien om haar te help om die sin van die boodskap te begryp; gevolglik is sy en haar huisgenote gedoop.—Hand. 16:13-15.
6. Hoe is ons almal deur God na ware aanbidding getrek?
6 Was Lidia se ondervinding uniek? Glad nie. As jy ’n toegewyde Christen is, is jy ook deur God na ware aanbidding getrek. Net soos ons hemelse Vader iets kosbaars in Lidia se hart gesien het, het hy iets goeds in jou gesien. Toe jy na die goeie nuus begin luister het, het Jehovah jou gehelp om dit te verstaan deur heilige gees te voorsien (1 Kor. 2:11, 12). Toe jy die dinge wat jy geleer het, probeer toepas het, het hy jou pogings geseën om sy wil te doen. Toe jy jou lewe aan hom toegewy het, was sy hart bly. Ja, sedert jy die pad na die lewe begin bewandel het, was Jehovah altyd met jou.
7. Hoe weet ons dat God ons sal help om getrou te bly?
7 Jehovah het ons gehelp om met hom te begin wandel, en hy laat ons nie nou aan onsself oor om getrou te bly nie. Hy weet dat ons, net soos ons nie op ons eie in die waarheid gekom het nie, nie op ons eie in die waarheid sal bly nie. In ’n brief aan gesalfde Christene het die apostel Petrus gesê: “Julle [word] deur God se krag deur middel van geloof beveilig . . . vir ’n redding wat gereed is om in die laaste tyd geopenbaar te word” (1 Pet. 1:4, 5). Hierdie woorde is in beginsel op alle Christene van toepassing en moet vandag vir elkeen van ons van belang wees. Waarom? Omdat ons almal God se hulp nodig het om aan hom getrou te bly.
DAARVAN WEERHOU OM ’N MISSTAP TE BEGAAN
8. Waarom moet ons oppas dat ons nie ’n misstap begaan nie?
8 Die druk van die lewe en ons eie onvolmaakthede kan veroorsaak dat ons ons geestelike fokus verloor, wat ons sal blootstel aan die gevaar om ’n misstap te begaan sonder dat ons selfs daarvan bewus is. (Lees Galasiërs 6:1.) Dit word toegelig deur ’n voorval in Dawid se lewe.
9, 10. Hoe het Jehovah Dawid daarvan weerhou om ’n misstap te begaan, en wat doen Hy vandag vir ons?
9 Terwyl koning Saul op hom jag gemaak het, het Dawid bewonderenswaardige selfbeheersing aan die dag gelê om nie weerwraak op hierdie jaloerse koning te neem nie (1 Sam. 24:2-7). Maar kort daarna het Dawid se onvolmaakte gevoelens hom oorweldig. Hy het voedsel en water vir sy manne nodig gehad en het ’n mede-Israeliet met die naam Nabal respekvol om hulp gevra. Toe Nabal hom beledig het, het Dawid woedend geword en beplan om hom op al die manne van Nabal se huishouding te wreek, sonder om daaraan te dink dat dit hom bloedskuldig voor God sou maak as hy onskuldige mense doodmaak. Net die tydige ingryping van Abigail, Nabal se vrou, het Dawid daarvan weerhou om ’n rampspoedige fout te begaan. Dawid het Jehovah se hand in die saak gesien en het vir haar gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet! En mag jou verstandigheid geseënd wees, en mag jy geseënd wees wat my vandag daarvan weerhou het om bloedskuldig te word en my eie hand tot my redding te laat kom.”—1 Sam. 25:9-13, 21, 22, 32, 33.
10 Watter les kan ons uit hierdie verslag leer? Jehovah het Abigail gebruik om Dawid daarvan te weerhou om ’n misstap te begaan. Hy doen basies dieselfde vir ons vandag. Ons moet natuurlik nie verwag dat God iemand sal stuur om in te gryp elke keer wanneer ons op die punt staan om ’n fout te begaan nie; ook kan ons nie aanneem dat ons presies weet hoe God in ’n gegewe situasie sal optree of wat hy in die verwesenliking van sy voorneme sal toelaat nie (Pred. 11:5). Ons kan nietemin seker wees dat Jehovah altyd bewus is van ons omstandighede en ons sal help om aan hom getrou te bly. Hy verseker ons: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou” (Ps. 32:8). Hoe gee Jehovah ons raad? Hoe kan ons daarby baat vind? En waarom kan ons seker wees dat Jehovah vandag sy volk lei? Let op hoe hierdie vrae in die boek Openbaring beantwoord word.
BEVEILIG DEUR RAAD
11. In watter mate is Jehovah bewus van wat in die gemeentes van sy volk plaasvind?
11 In die visioen wat in Openbaring hoofstukke 2 en 3 opgeteken is, inspekteer die verheerlikte Jesus Christus die sewe gemeentes van Klein-Asië. Die visioen openbaar dat Christus nie bloot algemene tendense sien nie, maar spesifieke situasies. In party gevalle meld hy selfs individue, en in elke geval prys hy die gemeente of gee hy hulle raad, na gelang van die situasie. Wat toon dit? In die vervulling van die visioen stel die sewe gemeentes gesalfde Christene ná 1914 voor, en die raad wat aan die sewe gemeentes gegee is, is in beginsel van toepassing op al die hedendaagse gemeentes van God se volk regoor die aarde. Dit is dus veilig om aan te neem dat Jehovah sy volk daadwerklik lei deur middel van sy Seun. Hoe kan ons baat vind by hierdie leiding?
12. Hoe kan ons Jehovah toelaat om ons voetstappe te rig?
12 Een manier waarop ons by Jehovah se liefdevolle leiding kan baat vind, is deur persoonlike studie. Jehovah voorsien ’n oorvloed van skriftuurlike raad deur middel van die publikasies van die “getroue en verstandige slaaf”-klas (Matt. 24:45). Maar as ons daarby wil baat vind, moet ons die tyd neem om dit te bestudeer en toepas wat ons leer. Wanneer ons persoonlike studie doen, laat ons Jehovah toe om ons “van struikeling [te] bewaar” (Jud. 24). Het jy al iets in ons lektuur bestudeer wat lyk asof dit net vir jou geskryf is? Aanvaar dit as teregwysing van Jehovah. Net soos ’n vriend jou dalk op die skouer tik om jou aandag op iets te vestig, kan Jehovah sy gees gebruik om jou aandag te vestig op ’n aspek van jou gedrag of persoonlikheid waarin jy—en ongetwyfeld baie ander soos jy—moet verbeter. Deur die leiding van die gees te volg, laat ons Jehovah toe om ons voetstappe te rig. (Lees Psalm 139:23, 24.) In hierdie verband sal dit goed wees as ons ons studiegewoontes ondersoek.
13. Waarom sal dit verstandig van ons wees om ons studiegewoontes te ondersoek?
13 As ons te veel tyd aan vermaak bestee, kan dit ons beroof van tyd wat ons aan persoonlike studie moet wy. ’n Broer sê: “Dit is baie maklik om persoonlike studie te verwaarloos. Vermaak is nou toegankliker as ooit tevore, en dit is goedkoper as ooit tevore. Dit is beskikbaar op die TV, op die rekenaar en op die telefoon. Ons is omring daardeur.” As ons nie versigtig is nie, kan tyd wat nodig is vir diep persoonlike studie geleidelik afneem totdat dit feitlik verdwyn (Ef. 5:15-17). Elkeen van ons kan gerus vra: ‘Hoe dikwels maak ek tyd om dieper te delf in my studie van God se Woord? Is dit net wanneer ek ’n toespraak of ’n vergaderingdeel moet voorberei?’ As dit die geval is, kan ons miskien die aand wat vir gesinsaanbidding of persoonlike studie opsygesit is, beter benut om die skat van geestelike wysheid te bekom wat Jehovah voorsien om ons vir redding te bewaar.—Spr. 2:1-5.
ONDERSKRAAG DEUR AANMOEDIGING
14. Hoe toon die Bybel dat Jehovah aandag skenk aan ons gevoelens?
14 Dawid het talle angswekkende omstandighede in sy lewe verduur (1 Sam. 30:3-6). Sy geïnspireerde woorde openbaar dat Jehovah bewus was van sy gevoelens. (Lees Psalm 34:18; 56:8.) God is ook bewus van ons gevoelens. Wanneer ons ‘gebroke van hart’ of ‘verbryseld van gees’ is, kom hy nader aan ons. Dit op sigself kan ons ’n mate van vertroosting bied, soos vir Dawid, wat gesing het: “Ek sal bly wees en my in u liefderyke goedhartigheid verbly, omdat u my ellende gesien het; u het geweet van die benoudhede van my siel” (Ps. 31:7). Maar Jehovah merk nie net ons benoudheid op nie. Hy onderskraag ons ook deur vertroosting en aanmoediging te voorsien. Een manier waarop hy dit doen, is deur middel van Christelike vergaderinge.
15. Watter les kan ons uit Asaf se ondervinding leer?
15 Een voordeel van vergaderingbywoning word toegelig deur die ondervinding van die psalmis Asaf. Omdat Asaf oor onregte getob het, het hy begin twyfel of dit van enige nut is om God te dien. Asaf het mismoedig geword. Hy het sy gevoelens soos volg beskryf: “My hart was verbitterd, en in my niere het ek skerp pyne gevoel.” Gevolglik het hy byna opgehou om Jehovah te dien. Wat het Asaf gehelp om sy balans te herwin? “Ek [het] in die grootse heiligdom van God ingegaan”, het hy gesê. Daar, tussen medeaanbidders van Jehovah, het hy weer die regte perspektief verkry. Hy het besef dat die sukses van die goddeloses net kortstondig is, dat Jehovah sake beslis sal regstel (Ps. 73:2, 13-22). Dieselfde geld vir ons. Die stres wat deur die onregte van Satan se wêreld veroorsaak word, kan ons uitmergel. Wanneer ons saam met ons broers vergader, verkwik dit ons en help dit ons om ons vreugde in Jehovah se diens te behou.
16. Hoe kan ons baat vind by die voorbeeld van Hanna?
16 Maar sê nou ’n situasie in die gemeente maak dit vir jou moeilik om vergaderinge by te woon? Miskien moes jy van ’n diensvoorreg afstand doen en voel jy verleë, of miskien het jy ’n meningsverskil met ’n broer of suster gehad. Dan sal jy moontlik die voorbeeld van Hanna nuttig vind. (Lees 1 Samuel 1:4-8.) Onthou dat sy baie ontsteld was oor ’n gesinsituasie wat deur haar mededingster, Peninna, veroorsaak is. Die situasie het elke jaar besonder erg geword wanneer die gesin na Silo gegaan het om offerandes aan Jehovah te bring. Dit was vir Hanna so ontstellend dat “sy gehuil het en nie geëet het nie”. Maar dit het haar nie laat wegbly van geleenthede om Jehovah te aanbid nie. Jehovah het gelet op haar getrouheid en haar geseën.—1 Sam. 1:11, 20.
17, 18. (a) Hoe word ons by gemeentelike vergaderinge aangemoedig? (b) Hoe voel jy oor die tere sorg wat Jehovah voorsien om ons te help om redding te verkry?
17 Christene het vandag goeie rede om Hanna se voorbeeld te volg. Ons moet vergaderinge getrou bywoon. Soos ons almal al gevind het, verskaf vergaderinge noodsaaklike aanmoediging (Heb. 10:24, 25). Hartlike Christelike omgang vertroos ons. ’n Paar eenvoudige woorde in ’n toespraak of ’n antwoord raak moontlik ons hart. ’n Medegelowige bied ons miskien ’n luisterende oor of vertroos ons dalk met woorde tydens ’n gesprek voor of ná ’n vergadering (Spr. 15:23; 17:17). Wanneer ons ons stem in sang tot Jehovah verhef, beur dit ons op. Veral wanneer ons deur “verontrustende gedagtes” geteister word, het ons die aanmoediging nodig wat ons by vergaderinge ontvang, waar Jehovah ons met sy “vertroostinge” versterk en ons onderskraag in ons vasbeslotenheid om getrou te bly.—Ps. 94:18, 19.
18 Veilig in ons God se tere sorg, voel ons soos die psalmis Asaf, wat vir Jehovah gesing het: “U het my regterhand gevat. Met u raad sal u my lei” (Ps. 73:23, 24). Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah ons bewaar vir redding!
[Prent op bladsy 28]
Jy is ook deur Jehovah getrek
[Prent op bladsy 30]
Ons word beveilig deur God se raad toe te pas
[Prent op bladsy 31]
Ons word onderskraag deur die aanmoediging wat ons ontvang