Hoofstuk 66
By die Huttefees
IN DIE ongeveer drie jaar sedert sy doop het Jesus beroemd geword. Derduisende mense het sy wonderwerke gesien, en berigte oor sy bedrywighede het deur die hele land versprei. Nou, terwyl die mense vir die Huttefees in Jerusalem vergader, soek hulle hom daar. “Waar is Hy?” wil hulle weet.
Jesus het ’n omstrede figuur geword. “Hy is goed”, sê party. “Nee, maar Hy mislei die skare”, beweer ander. Gedurende die eerste dae van die fees is daar talle gedempte gesprekke soos hierdie. Maar niemand het die moed om in die openbaar vir Jesus op te kom nie. Dit is omdat die mense bang is dat die Joodse leiers teen hulle sal optree.
Toe dit al in die middel van die fees is, kom Jesus daar aan. Hy gaan op na die tempel, waar die mense hulle oor sy verbasende onderrigvermoë verwonder. Aangesien Jesus nooit die rabbynse skole bygewoon het nie, begin die Jode wonder: “Hoe kom Hy aan die geleerdheid terwyl Hy geen onderwys ontvang het nie?”
“My leer is nie myne nie”, verduidelik Jesus, “maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek.” Jesus se leer is streng volgens God se wet. Dit moet dus duidelik wees dat hy God se eer soek, nie sy eie nie. “Het Moses julle nie die wet gegee nie?” vra Jesus. By wyse van bestraffing sê hy: “Niemand van julle hou die wet nie.”
“Waarom wil julle My om die lewe bring?” vra Jesus dan.
Die mense in die skare, waarskynlik besoekers by die fees, is nie van sulke pogings bewus nie. Hulle ag dit ondenkbaar dat enigiemand so ’n wonderlike onderwyser sal wil doodmaak. Hulle meen dus dat iets met Jesus skort as hy so dink. “U is van die duiwel besete”, sê hulle. “Wie wil U om die lewe bring?”
Die Joodse leiers wil Jesus dood hê, hoewel die skare dit nie besef nie. Toe Jesus anderhalf jaar tevore ’n man op die Sabbat gesond gemaak het, het die leiers hom om die lewe probeer bring. Jesus ontbloot dus nou hulle onredelikheid deur hulle te vra: “As ’n mens die besnydenis op die sabbat ontvang, sodat die wet van Moses nie verbreek mag word nie, is julle kwaad vir My, omdat Ek ’n mens op die sabbat heeltemal gesond gemaak het? Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ’n regverdige oordeel.”
Inwoners van Jerusalem wat van die situasie bewus is, sê daarop: “Is dit nie Hy wat hulle soek om dood te maak nie? En kyk, Hy spreek openlik en hulle sê vir Hom niks nie! Sou die owerstes dan waarlik weet dat Hy werklik die Christus is?” Hierdie inwoners van Jerusalem verduidelik waarom hulle nie glo dat Jesus die Christus is nie: “Hierdie man—ons weet van waar Hy is; maar die Christus, wanneer Hy kom, weet niemand van waar Hy is nie.”
Jesus antwoord: “Julle ken My en julle weet ook van waar Ek is; tog het Ek nie uit Myself gekom nie; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig, vir wie julle nie ken nie. Maar Ek ken Hom, omdat Ek van Hom kom en Hy My gestuur het.” Hierop probeer hulle om hom gevange te neem, moontlik om hom in die gevangenis te werp of om hom om die lewe te laat bring. Maar hulle slaag nie daarin nie, omdat dit nie die tyd is vir Jesus om te sterf nie.
Sommige stel egter geloof in Jesus, soos hulle inderdaad behoort te doen. Hy het dan op water geloop, die wind stilgemaak, die stormagtige see tot bedaring gebring, duisende mense wonderdadig met ’n paar brode en visse gevoed, die siekes gesond gemaak, die verlamdes laat loop, die oë van die blindes geopen, melaatses gesond gemaak en selfs die dooies opgewek. Daarom vra hulle: “Wanneer die Christus kom, sal Hy meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het?”
Wanneer die Fariseërs hoor dat die skare hierdie dinge mompel, stuur hulle en die owerpriesters dienaars uit om Jesus te arresteer. Johannes 7:11-32.
▪ Wanneer kom Jesus by die fees aan, en wat sê mense oor hom?
▪ Wat is moontlik die rede waarom sommige sê dat Jesus van die duiwel besete is?
▪ Hoe beskou die inwoners van Jerusalem Jesus?
▪ Waarom stel baie van die mense geloof in Jesus?