Jesus—Die volmaakte voorbeeld om na te volg
WIL jy ’n beter, gelukkiger mens wees? Die apostel Petrus verduidelik hoe ons dit kan doen. Hy skryf: “Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Ja, Jesus Christus het ’n uitsonderlike lewe gelei en het baie gedoen waaruit ons kan leer. Deur van Jesus te leer en hom in ons lewe na te volg, kan ons beslis beter en gelukkiger mense word. Kom ons beskou van naderby party van die eienskappe waarvoor hierdie grootse mens bekend was en kyk hoe ons by sy voorbeeld kan baat vind.
Jesus was gebalanseerd. Hoewel Jesus gesê het dat hy “geen plek [het] om sy kop neer te lê nie”, het hy nie ’n asketiese lewe gelei of dit voorgestaan nie (Matteus 8:20). Hy het feesmaaltye bygewoon (Lukas 5:29). Sy eerste opgetekende wonderwerk—toe hy by ’n huweliksfees water in goeie wyn verander het—toon dat hy nie antisosiaal of ’n askeet was nie (Johannes 2:1-11). Maar Jesus het duidelik gemaak wat vir hom die belangrikste was. Hy het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring.”—Johannes 4:34.
□ Het jy jou lewe ontleed om te sien hoe jy ’n balans tussen jou materiële en geestelike strewes kan vind?
Jesus was genaakbaar. Die Bybel beeld Jesus uit as ’n liefdevolle en vriendelike man. Dit het hom nie geïrriteer wanneer mense hom met hulle probleme of ingewikkelde vrae genader het nie. Toe ’n skare hom by een geleentheid omring het, het ’n vrou wat 12 jaar lank aan ’n kwaal gely het, aan sy kleed geraak in die hoop dat sy verligting sou vind. Hy het haar nie tereggewys vir haar oënskynlik voorbarige daad nie, maar het vriendelik gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak” (Markus 5:25-34). Kinders was ook op hulle gemak in sy geselskap, sonder om te dink dat hulle geïgnoreer sal word (Markus 10:13-16). Sy handelinge met sy dissipels is gekenmerk deur openhartige, vriendelike gesprekke. Hulle het nie geaarsel om ’n hegte verhouding met hom aan te kweek nie.—Markus 6:30-32.
□ Hoe vryelik nader ander jou?
Hy het empatie en medelye gehad. Een van Jesus se grootste deugde was sy vermoë om hom in die plek van ander te stel, in hulle gevoelens te deel en behulpsaam te wees. Die apostel Johannes vertel dat Jesus “in die gees gekreun en verontrus geword” het en “trane gestort” het toe hy Maria oor die dood van haar broer, Lasarus, sien huil het. Omstanders kon duidelik sien hoe lief Jesus daardie gesin gehad het, liefde wat hy nie skaam was om openlik te toon nie. En watter medelye het hy tog getoon deur sy vriend op te wek!—Johannes 11:33-44.
By ’n ander geleentheid het ’n man wat aan melaatsheid gely het—’n verskriklike siekte wat vereis het dat hy afgesonderd moes bly—Jesus gesmeek: “Here, as u net wil, kan u my rein maak.” Jesus se reaksie was waarlik hartroerend: “Hy het sy hand uitgesteek, hom aangeraak en gesê: ‘Ek wil. Word gereinig’” (Matteus 8:2, 3). Jesus het mense nie genees bloot om profesieë te vervul nie. Hy wou hulle trane afvee. Alles wat hy gedoen het, is gerig deur een van sy bekendste stellings: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”—Lukas 6:31.
□ Kan die medelye wat jy vir ander het, in jou dade gesien word?
Jesus het begrip en onderskeidingsvermoë gehad. Hoewel Jesus ’n man was wat geen foute begaan het nie, het hy nooit volmaaktheid van ander verwag of ’n meerderwaardige houding aangeneem nie; hy het ook nie sonder begrip opgetree nie. Eenkeer het ’n vrou wat “in die stad as ’n sondares bekend gestaan het”, haar geloof en waardering getoon deur Jesus se voete met haar trane te was. Jesus het haar toegelaat om dit te doen, tot die verbasing van sy gasheer, wat haar sterk veroordeel het. Omdat Jesus besef het dat sy opreg is, het hy nie die vrou vir haar sondes veroordeel nie. Hy het eerder gesê: “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.” As gevolg van Jesus se liefdevolle reaksie was daardie vrou heel moontlik beweeg om haar vorige lewenswyse te laat vaar.—Lukas 7:37-50.
□ Is jy daarvoor bekend dat jy gou is om ander te prys en stadig is om hulle te veroordeel?
Hy was onpartydig en het ander met respek behandel. Jesus het sy dissipel Johannes besonder liefgehad, dalk weens Johannes se persoonlikheid of ’n moontlike familieverwantskap.a Nietemin het hy nooit partydigheid teenoor hom betoon of hom voorgetrek nie (Johannes 13:23). Inteendeel, toe Johannes en sy broer Jakobus gevra het of hulle bevoorregte posisies in God se Koninkryk kon hê, het Jesus geantwoord: “Om aan my regter- of aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie.”—Markus 10:35-40.
Jesus het ander altyd met respek behandel. Hy het nie dieselfde vooroordele as ander mense van sy dag gehad nie. Byvoorbeeld, vroue is oor die algemeen behandel asof hulle ondergeskik was aan mans. Tog het Jesus aan vroue die waardigheid verleen wat hulle toekom. Die eerste keer dat hy hom openlik as die Messias geïdentifiseer het, was dit aan ’n vrou wat nie ’n Jood was nie, maar ’n Samaritaan, wat oor die algemeen deur die Jode verag is, wat nog te sê gegroet is (Johannes 4:7-26). Jesus het ook aan vroue die voorreg gegee om die eerste ooggetuies van sy opstanding te wees.—Matteus 28:9, 10.
□ Is jy onpartydig in jou handelinge met mense van ’n ander ras, geslag, taal of nasionaliteit?
Hy was ’n pligsgetroue seun en broer. Jesus se pleegvader, Josef, het blykbaar gesterf toe Jesus nog jonk was. Jesus het heel waarskynlik sy moeder en sy jonger broers en susters onderhou deur as ’n timmerman te werk (Markus 6:3). Gedurende die laaste oomblikke van sy lewe het hy sy moeder in die sorg van sy dissipel Johannes gelaat.—Johannes 19:26, 27.
□ Kan jy Jesus navolg deur, soos hy, na jou gesinsverantwoordelikhede om te sien?
Jesus was ’n ware vriend. Jesus was ’n uitstekende vriend. Hoe so? Hy het nie sy vriende verwerp net omdat hulle foute gemaak het nie, al het hulle keer op keer dieselfde foute gemaak. Sy dissipels het nie altyd opgetree soos hy wou hê nie. Hy het egter bewys dat hy hulle vriend is deur op hulle goeie eienskappe te konsentreer, eerder as om slegte beweegredes aan hulle toe te skryf (Markus 9:33-35; Lukas 22:24-27). Hy het nie sy eie beskouings op hulle afgedwing nie, maar hulle eerder genooi om hulle vryelik uit te druk.—Matteus 16:13-15.
Bowenal het Jesus sy vriende liefgehad (Johannes 13:1). Tot watter mate? Hy het gesê: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende” (Johannes 15:13). Kan enigiemand sy vriende iets waardevollers as sy lewe aanbied?
□ Bly jy ’n vriend selfs wanneer ander jou irriteer of aanstoot gee?
Hy was moedig en manlik. Jesus was allesbehalwe die swak, passiewe mens wat sommige kunstenaars uitbeeld. Die Evangelies beeld hom uit as ’n sterk, energieke man. Jesus het twee keer handelaars, met hulle goedere, uit die tempel uitgedryf (Markus 11:15-17; Johannes 2:14-17). Toe ’n oproerige skare gekom het om “Jesus die Nasarener” in hegtenis te neem, het hy moedig na vore getree om homself te identifiseer en sy dissipels te beskerm, en hy het ferm gesê: “Dit is ek. . . . As dit dan na my is wat julle soek, laat hierdie mense gaan” (Johannes 18:4-9). Dit is geen wonder nie dat Pontius Pilatus, toe hy Jesus se moed ondanks aanhouding en mishandeling sien, gesê het: “Kyk! Die mens!”—Johannes 19:4, 5.
□ Tree jy beslissend en moedig op wanneer jy sien wat jy moet doen?
Hierdie en ander uitstaande eienskappe maak Jesus die volmaakte voorbeeld vir ons. As ons toelaat dat sy gedrag ons beïnvloed, sal ons beter en gelukkiger mense wees. Dit is waarom die apostel Petrus Christene aangespoor het om Jesus se voetstappe noukeurig te volg. Probeer jy om Jesus se voetstappe so noukeurig as moontlik te volg?
Meer as net ’n voorbeeld
Jesus was egter baie meer as net ’n voorbeeld vir ons. Hy het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Jesus het nie net die waarheid omtrent God bekend gemaak en sodoende die weg geopen om nader aan Hom te kom nie, maar hy het dit ook vir getroue mense moontlik gemaak om die lewe te verkry.—Johannes 3:16.
Aangaande hierdie aspek van die rede waarom hy aarde toe gekom het, het Jesus gesê: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Deur sy lewe as ’n offerande te gee, het Jesus die grondslag gelê vir mense om die ewige lewe te geniet. Wat moet elkeen van ons doen om by hierdie voorsiening baat te vind? Jesus het verduidelik: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Ja, om kennis van Jesus in te neem, sy lewenswyse na te volg en geloof in sy offerdood te beoefen, is vereistes om die ewige lewe te verkry. Ons nooi jou om tyd in te ruim om die bron van hierdie kennis, die Bybel, te bestudeer en daarna te streef om, soos Jesus, toe te pas wat dit sê.b
Jesus se voorbeeldige lewe leer ons watter soort mens ons moet wees. Sy offerdood kan ons bevry van sonde en die loon daarvan, die dood (Romeine 6:23). Hoe droewig sou ons situasie tog gewees het sonder die kragtige invloed van Jesus Christus! Moet nooit toelaat dat kommer en die sorge van die lewe jou van die geleentheid ontneem om die voorbeeld van die grootste mens wat nog geleef het—Jesus Christus—te ondersoek en noukeurig na te volg nie.
[Voetnote]
a Johannes se moeder, Salome, was moontlik die suster van Maria, die moeder van Jesus. Vergelyk Matteus 27:55, 56 met Markus 15:40 en Johannes 19:25.
b Vir ’n breedvoerige verslag van Jesus se lewe op die aarde, sien die boek Die grootste mens wat nog geleef het, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Venster/Prente op bladsy 7]
◼ Jesus was onpartydig en het almal met respek behandel
◼ Hy was ’n ware vriend, selfs tot die einde toe
◼ Hy was moedig
Probeer jy Jesus se voetstappe so noukeurig moontlik volg?
[Prente op bladsy 5]
Jesus was gebalanseerd . . .
genaakbaar . . .
medelydend