Vertroos die bedroefdes, soos Jesus gedoen het
LASARUS, ’n inwoner van Betanië, het baie siek geword. Sy susters, Marta en Maria, het boodskappers na hulle goeie vriend Jesus gestuur. Maar Lasarus het weens die siekte gesterf. Terwyl hy in ’n graf gelê het, het vriende en bure Marta en Maria besoek ‘om hulle te troos’ (Johannes 11:19). Uiteindelik het Jesus in Betanië aangekom en na sy dierbare vriendinne toe gegaan. As ons kyk na wat hy gesê en gedoen het, kan ons iets leer oor hoe om die bedroefdes te vertroos.
Jou teenwoordigheid toon dat jy omgee
Om Betanië te bereik, moes Jesus ’n reis van ongeveer twee dae aflê, waartydens hy die Jordaanrivier moes oorsteek en teen die steil kronkelpad vanaf Jerigo moes oploop. Marta is haastig na die buitewyke van die dorpie om Jesus te gaan groet. Later het Maria, toe sy hoor dat Jesus daar is, haar ook gehaas om na hom toe te gaan (Johannes 10:40-42; 11:6, 17-20, 28, 29). Jesus se teenwoordigheid was beslis vir die bedroefde susters ’n bron van vertroosting.
Vandag kan ons teenwoordigheid ook vir dié wat treur, ’n bron van vertroosting wees. Scott en Lydia, wie se sesjarige seuntjie, Theo, in ’n ongeluk dood is, vertel: “Ons het die ondersteuning van familie en vriende nodig gehad. Hulle het in die middel van die nag gekom, reguit hospitaal toe.” Wat het hierdie vriende gesê? “Op daardie oomblik het ons nie woorde nodig gehad nie. Hulle teenwoordigheid het alles gesê—hulle het omgegee.”
Volgens die Bybel het Jesus, toe hy die mense oor die dood van Lasarus sien huil het, “verontrus geword” en “trane gestort” (Johannes 11:33-35, 38). Jesus het dit nie as onmanlik beskou om voor ander te huil nie. Hy het in hulle pyn gedeel en empatie met hulle verlies gehad. Die les vir ons? Wanneer ons bedroefdes besoek, hoef ons nie verleë te voel om te huil saam met dié wat huil nie (Romeine 12:15). Daarenteen moet ’n mens nie voel dat jy die bedroefde persoon moet kry om te huil nie. Party verkies moontlik om dit te doen wanneer hulle alleen is.
Luister met medelye
Jesus het dalk bemoedigende woorde vir Marta en Maria in gedagte gehad, maar hy het hulle klaarblyklik eers laat praat (Johannes 11:20, 21, 32). Toe hy wel met Marta gepraat het, het hy ’n vraag gevra, en toe het hy geluister.—Johannes 11:25-27.
Deur goeie luisteraars te wees, toon ons opregte besorgdheid. As ons bedroefdes wil vertroos, moet ons goed luister. Ons kan toon dat ons goeie luisteraars is deur vrae te vra wat die bedroefdes aanmoedig om hulle gevoelens verder uit te spreek. Maar ons moet versigtig wees dat ons hulle nie probeer dwing om te praat as hulle nie wil nie. Dalk is hulle eenvoudig uitgeput en het hulle bloot rus nodig.
Bedroefdes voel miskien verlam en herhaal soms dieselfde dinge oor en oor. Party huiwer nie om te sê hoe hulle voel nie. Maria en Marta het albei vir Jesus gesê: “Here, as u hier was, sou my broer nie gesterf het nie” (Johannes 11:21, 32). Wat het Jesus gedoen? Hy het geduldig en met medelye geluister. Hy het nie vir hulle gesê hoe hulle moet voel nie. Hy het ongetwyfeld verstaan dat intense en pynlike gevoelens kan opwel.
As jy onseker is oor wat om te sê wanneer jy bedroefdes besoek, kan jy die gesprek begin deur te vra: “Wil jy daaroor praat?” Gee hulle dan jou volle aandag. Hoor wat hulle sê. Kyk die persoon in die oë en probeer sy of haar gevoelens verstaan.
Dit is ’n uitdaging om die gevoelens van die bedroefdes te verstaan. “Ons behoeftes het verander”, verduidelik Lydia. “Ons kon soms nie anders as om onbeheersd voor besoekers te huil nie. Ons wou net hê dat ander positief moet wees. Ons vriende het hulle bes gedoen om ons gevoelens te verstaan.”
Jesus het dit in volmaakte sin gedoen. Hy het geweet dat elkeen “sy eie plaag en sy eie pyn” het (2 Kronieke 6:29). Jesus het verskillend gereageer toe die twee susters hom gegroet het. Marta het aangehou praat, en daarom het Jesus met haar ’n gesprek gevoer. Omdat Maria gehuil het, het Jesus nie lank gepraat nie (Johannes 11:20-28, 32-35). Wat kan ons uit sy voorbeeld leer? Dit is moontlik die beste om die bedroefdes die rigting van die gesprek te laat bepaal. Jou bereidwilligheid om te luister terwyl hulle uiting gee aan hulle smart, kan hulle grootliks vertroos.
Woorde wat genees
Toe Maria en Marta vir Jesus gesê het: “As u hier was”, het hy nie skuld uitgedeel of aanstoot geneem aan wat hulle gesê het nie. Sy gerusstellende antwoord aan Marta was: “Jou broer sal opstaan” (Johannes 11:23). Met hierdie paar woorde het Jesus haar gehelp om vorentoe te kyk en haar liefdevol daaraan herinner dat daar hoop is.
Wanneer jy met bedroefdes praat, moet jy onthou dat opregte, positiewe woorde baie kan beteken, al is hulle min. Vertroostende woorde kan uitgespreek of geskryf word. Aangesien briewe of kaartjies weer gelees kan word, kan dit lank vertroosting bied. Nege maande nadat haar man, Bob, gesterf het, het Kath al die kaartjies wat sy ontvang het, weer gelees. “Ek het gevind dat hulle my toe selfs meer gehelp het”, het sy gesê. “Toe het hulle my werklik vertroos.”
Wat kan jy in ’n briefie van simpatie insluit? Jy kan oor die oorledene skryf—’n ondervinding wat julle saam gehad het of ’n gewaardeerde eienskap van die persoon. Kath sê: “Vriendelike woorde oor Bob en sy karakter het gemaak dat ek terselfdertyd wou glimlag en huil. Staaltjies oor hom het my laat lag en my laat dink aan die gelukkige lewe wat ons saam gehad het. Baie kaartjies wat nou vir my kosbaar is, bevat Bybelverse.”
Bied praktiese hulp
Om Lasarus se familie te help, het Jesus gedoen wat ons nie kan doen nie. Hy het Lasarus opgewek (Johannes 11:43, 44). Maar ons kan wel praktiese dinge doen wat binne ons vermoë is, soos om ’n ete voor te berei, huisvesting vir besoekers aan te bied, die wasgoed te doen, na jong kinders te kyk, inkopies te doen, takies te verrig of vervoer te voorsien. Eenvoudige dade wat getuig van ware liefde, sal ongetwyfeld diep waardeer word deur die bedroefdes.
Dit is te verstane dat persone wat treur, soms tyd nodig het om alleen te wees. Jy kan nietemin die gepaste inisiatief neem om met hulle in aanraking te bly. “Daar is geen spesifieke tydperk om te treur nie, geen datum waarop jy beter moet voel nie”, sê ’n bedroefde moeder. Party probeer om die bedroefde op belangrike herdenkings, soos die huweliksherdenking of die sterfdatum, te onthou. Deur op sulke tye beskikbaar te wees, kan jy gedurende moeilike oomblikke ’n gewaardeerde metgesel wees.—Spreuke 17:17.
Die vertroosting wat Jesus gebied het, het die hoop ingesluit waarvan hy sy dissipels vertel het: “Lasarus, ons vriend, het gaan rus, maar ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak” (Johannes 11:11). Jesus het sy volgelinge verseker dat daar ’n opstanding van die dooies sal wees. Hy het vir Marta gevra: “Glo jy dit?” Sy het geantwoord: “Ja, Here.”—Johannes 11:24-27.
Glo jy dat Jesus die dooies sal opwek? Vertel bedroefdes dan van hierdie kosbare hoop. Gee hulle praktiese ondersteuning. Jou woorde en dade sal hulle ’n mate van vertroosting bied.—1 Johannes 3:18.
[Kaart op bladsy 9]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
PEREA
Jordaanrivier
Jerigo
Betanië
Soutsee
Jerusalem
SAMARIA