Wees ywerig vir ware aanbidding
“Die oes is groot, maar die werkers is min.”—MATT. 9:37.
1. Hoe sal jy dringendheid beskryf?
JY HET ’n dokument wat voor die einde van die dag ’n sekere persoon se aandag verg. Wat doen jy? Jy skryf “DRINGEND!” daarop. Jy is op pad na ’n belangrike afspraak, maar jy is laat. Wat doen jy? Jy sê vir die bestuurder: “Maak asseblief gou; dit is DRINGEND!” Ja, wanneer jy iets gedoen moet kry en daar min tyd oor is, raak jy gespanne en opgewen. Jou adrenalien begin vloei, en jy werk so vinnig en hard as wat jy kan. Dit is wat dringendheid is!
2. Wat is die dringendste werk vir ware Christene van vandag?
2 Vir ware Christene van vandag is niks dringender as die werk om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en dissipels van mense van al die nasies te maak nie (Matt. 24:14; 28:19, 20). Die dissipel Markus het Jesus aangehaal en geskryf dat hierdie werk “eers” gedoen moet word, dit wil sê voordat die einde kom (Mark. 13:10). Dit is natuurlik hoe dit moet wees. Jesus het gesê: “Die oes is groot, maar die werkers is min.” ’n Oes kan nie wag nie; dit moet ingesamel word voordat die seisoen verby is.—Matt. 9:37.
3. Hoe het baie al gereageer, aangesien die predikingswerk so dringend is?
3 Aangesien die predikingswerk vir ons so belangrik is, verdien dit dat ons soveel moontlik van ons tyd, energie en aandag daaraan wy. Dit is prysenswaardig dat baie juis dit doen. Party het hulle lewe vereenvoudig sodat hulle die voltydse bediening as pioniers of sendelinge kan betree of by een van die Bethelhuise in verskillende wêrelddele kan dien. Hulle lei baie besige lewens. Hulle het moontlik al baie opofferings gemaak en moet baie uitdagings die hoof bied. Tog seën Jehovah hulle ryklik. Ons is bly vir hulle. (Lees Lukas 18:28-30.) Ander kan miskien nie die voltydse diens betree nie, maar hulle wy soveel moontlik tyd aan hierdie lewensreddende werk, wat insluit dat hulle hulle kinders help om gered te word.—Deut. 6:6, 7.
4. Waarom het party moontlik nie hulle gevoel van dringendheid behou nie?
4 Soos ons gesien het, hou ’n gevoel van dringendheid gewoonlik verband met ’n tydgrens, ’n sperdatum, ’n einde. Ons lewe in die tyd van die einde, en daar is volop bewyse om dit te staaf—in die Bybel sowel as in die geskiedenis (Matt. 24:3, 33; 2 Tim. 3:1-5). Maar geen mens weet presies wanneer die einde sal kom nie. Toe Jesus die besonderhede gegee het oor “die teken” wat “die voleinding van die stelsel van dinge” sou aandui, het hy spesifiek gesê: “Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matt. 24:36). Omdat dit die geval is, vind party dit dalk moeilik om jaar ná jaar ’n gevoel van dringendheid te behou, veral as hulle dit al lank doen (Spr. 13:12). Is dit hoe jy soms voel? Wat kan ons help om ’n gevoel van dringendheid aan te kweek of te behou vir die werk wat Jehovah God en Jesus Christus wil hê ons vandag moet doen?
Beskou ons Voorbeeld, Jesus
5. Hoe het Jesus ’n gevoel van dringendheid in verband met die bediening geopenbaar?
5 Van almal wat ’n gevoel van dringendheid in hulle diens aan God geopenbaar het, is Jesus Christus ongetwyfeld die vernaamste voorbeeld. Een rede vir sy gevoel van dringendheid was dat hy baie gehad het om in ’n tydsbestek van slegs drie en ’n half jaar te doen. Jesus het nogtans meer vir ware aanbidding gedoen as enigiemand anders. Hy het sy Vader se naam en voorneme bekend gemaak, die goeie nuus van die Koninkryk verkondig, die skynheiligheid en valse leerstellings van die godsdiensleiers blootgelê en Jehovah se soewereiniteit selfs tot die dood toe ondersteun. Hy het groot moeite gedoen om die land te deurkruis—om die mense te onderrig, te help en te genees (Matt. 9:35). Niemand anders het al ooit in so ’n kort tydjie soveel bereik nie. Jesus het so hard gewerk as wat hy kon.—Joh. 18:37.
6. Waarop het Jesus hom in sy lewe toegespits?
6 Wat het Jesus beweeg om regdeur sy bediening onvermoeid te werk? Daniël se profesie het Jesus moontlik gehelp om te weet waar hy was met betrekking tot Jehovah se tydrooster (Dan. 9:27). Soos aangedui is, sou sy aardse bediening dus “teen die helfte van die week”, of ná drie en ’n half jaar, tot ’n einde kom. Jesus het kort ná sy triomfantlike intog in Jerusalem in die lente van 33 HJ gesê: “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word” (Joh. 12:23). Hoewel Jesus geweet het dat sy dood op hande was, het hy nie toegelaat dat dít die middelpunt van sy lewe, die hoofrede vir sy harde werk, word nie. Hy het hom eerder daarop toegespits om elke geleentheid te gebruik om sy Vader se wil te doen en liefde aan sy medemens te betoon. Hierdie liefde het hom beweeg om dissipels bymekaar te bring, op te lei en uit te stuur om die predikingswerk te doen. Hy het dit gedoen sodat hulle kon voortgaan met die werk waarmee hy begin het en selfs groter werke as hy kon doen.—Lees Johannes 14:12.
7, 8. Hoe het die dissipels gereageer toe Jesus die tempel gereinig het, en waarom het hy dit gereinig?
7 Een gebeurtenis in Jesus se lewe het kragtige bewys gelewer van sy ywer. Dit het vroeg in sy bediening gebeur, in die Pasgaseisoen van 30 HJ. Jesus en sy dissipels het na Jerusalem gegaan en in die tempel “dié gevind wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldmakelaars in hulle sitplekke”. Hoe het Jesus gereageer, en watter indruk het dit op sy dissipels gemaak?—Lees Johannes 2:13-17.
8 Wat Jesus by daardie geleentheid gedoen en gesê het, het die dissipels tereg laat dink aan die profetiese woorde van een van Dawid se psalms: “Louter ywer vir u huis het my verteer” (Ps. 69:9). Waarom? Want wat Jesus gedoen het, het hom aan groot gevaar blootgestel. Die gesagdraers by die tempel—die priesters, die skrifgeleerdes en ander—was immers in beheer van die skandelike geldmakery wat daar plaasgevind het. Toe Jesus hulle planne blootgelê en ontwrig het, het hy die gevestigde godsdiensstelsel van daardie tyd aangedurf. Die dissipels het die situasie reg opgesom; dit was ’n duidelike bewys van ‘ywer vir God se huis’, of ywer vir ware aanbidding. Maar wat is ywer? Verskil dit van dringendheid?
Die verskil tussen dringendheid en ywer
9. Hoe kan ywer beskryf word?
9 ’n Woordeboek omskryf “ywer” as “gretigheid en vurige belangstelling met betrekking tot die strewe na iets” en dit gee woorde soos passie, vurigheid en geesdrif as sinonieme. Jesus se bediening kan beslis deur al hierdie woorde beskryf word. Daarom gee Today’s English Version die vers as volg weer: “My toegewydheid aan u huis, o God, brand soos ’n vuur in my.” Dit is interessant dat die woord vir “ywer” in party Oosterse tale uit twee dele bestaan wat letterlik “’n vuurwarm hart” beteken, asof die hart aan die brand is. Dit is te verstane dat die dissipels aan Dawid se woorde gedink het toe hulle gesien het wat Jesus by die tempel doen. Maar wat het soos ’n vuur in Jesus se hart gebrand en hom beweeg om so op te tree?
10. Wat beteken “ywer” soos dit in die Bybel gebruik word?
10 Die woord “ywer” in Dawid se psalm is afkomstig van ’n Hebreeuse woord wat in ander dele van die Bybel dikwels as “jaloers” of “jaloesie” vertaal word. Die Nuwe Wêreld-vertaling gee dit soms weer as “wat uitsluitlike toegewydheid eis”. (Lees Eksodus 20:5; 34:14; Josua 24:19.) Een Bybelwoordeboek sê van hierdie woord: “Dit word dikwels in verband met die huweliksverhouding gebruik . . . Net soos jaloesie by ’n getroude man of vrou die sterk aandrang op ’n uitsluitlike reg is, dring God aan op, en handhaaf hy, Sy besitreg op dié wat Sy uitsluitlike eiendom is.” Ywer in die Bybelse sin is dus meer as net vurigheid of geesdrif vir ’n sekere strewe, soos baie ondersteuners vir hulle gunstelingsport toon. Dawid se ywer was jaloesie in ’n positiewe sin, dit wil sê hy het geen mededinging of smaad geduld nie en het ’n sterk begeerte gehad om ’n goeie naam te beskerm of om ’n onreg reg te stel.
11. Wat het Jesus beweeg om hom ywerig in te span?
11 Jesus se dissipels het nie ’n fout begaan toe hulle Dawid se woorde verbind het met wat hulle Jesus by die tempel sien doen het nie. Jesus het hom ingespan, nie bloot omdat hy ’n sperdatum gehad het nie, maar omdat hy ywerig—of jaloers—vir sy Vader se naam en vir rein aanbidding was. Toe hy sien hoe God se naam oneer aangedoen en belaster word, was hy tereg ywerig, of jaloers, en het hy opgetree om die situasie reg te stel. Toe Jesus sien dat die godsdiensleiers die nederige mense onderdruk en uitbuit, het sy ywer hom beweeg om vir die mense verligting te bring sowel as om kragtige veroordelings teen die onderdrukkende godsdiensleiers uit te spreek.—Matt. 9:36; 23:2, 4, 27, 28, 33.
Wees ywerig vir ware aanbidding
12, 13. Wat doen die Christendom se godsdiensleiers van vandag in verband met (a) God se naam? (b) God se Koninkryk?
12 Die hedendaagse godsdienstoneel om ons is soortgelyk aan hoe dit in Jesus se dag was—indien nie erger nie. Dink byvoorbeeld daaraan dat die eerste ding wat Jesus sy volgelinge geleer het om voor te bid, met God se naam verband hou: “Laat u naam geheilig word” (Matt. 6:9). Leer die godsdiensleiers, veral die geestelikes van die Christendom, mense om God by name te ken en hierdie naam te heilig, of te eer? Inteendeel, hulle stel God verkeerd voor deur valse leringe soos die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die mensesiel en die helse vuur, wat dit laat lyk of God geheimsinnig, ondeurgrondelik, wreed en selfs sadisties is. Hulle doen God ook oneer aan deur hulle skandale en skynheiligheid. (Lees Romeine 2:21-24.) Daarbenewens doen hulle alles moontlik om God se persoonlike naam te verberg deur dit selfs uit hulle vertalings van die Bybel te haal. Hulle verhinder mense dus om nader aan God te kom en ’n persoonlike verhouding met hom aan te kweek.—Jak. 4:7, 8.
13 Jesus het sy volgelinge ook geleer om vir God se Koninkryk te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matt. 6:10). Hoewel die godsdiensleiers van die Christendom hierdie gebed dikwels herhaal, spoor hulle mense aan om politieke en ander mensgemaakte instellings te ondersteun. En hulle verkleineer die mense wat probeer om te preek en van hierdie Koninkryk te getuig. Gevolglik praat baie verklaarde Christene glad nie meer oor God se Koninkryk nie, wat nog te sê dat hulle geloof daarin stel.
14. Hoe verwater die geestelikes van die Christendom God se Woord?
14 Jesus het in gebed tot God onomwonde gesê: “U woord is die waarheid” (Joh. 17:17). En voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy aangedui dat hy “die getroue en verstandige slaaf” sou aanstel om geestelike voedsel aan sy volk te voorsien (Matt. 24:45). Die geestelikes van die Christendom is gou om aanspraak te maak op bestuurderskap van God se Woord, maar doen hulle getrou die Heer se werk? Nee. Hulle is geneig om wat die Bybel sê, as fabels of mites te beskou. In plaas daarvan om hulle kudde met geestelike voedsel te voed en hulle sodoende te vertroos en geestelike lig aan hulle te voorsien, streel die geestelikes die ore van die gelowiges met die filosofieë van mense. Hulle verwater ook God se sedelike standaarde om plek te maak vir die sogenaamde nuwe moraliteit.—2 Tim. 4:3, 4.
15. Hoe voel jy oor alles wat die geestelikes in die naam van God doen?
15 Talle opregte mense is ontnugter of het hulle geloof in God en die Bybel heeltemal verloor weens alles wat al kwansuis in die naam van die God van die Bybel gedoen is. Hulle het die slagoffers van Satan en sy goddelose stelsel van dinge geword. Hoe voel jy wanneer jy sien en hoor dat hierdie dinge dag ná dag gebeur? Wanneer jy as ’n kneg van Jehovah sien hoe God se naam oneer aangedoen en belaster word, spoor dit jou dan nie aan om alles moontlik te doen om die onreg reg te stel nie? Word jy nie beweeg om die onderdrukte siele te vertroos wanneer jy sien dat opregtes van hart bedrieg en uitgebuit word nie? Toe Jesus gesien het hoe mense in sy dag “gestroop en rondgegooi [word] soos skape sonder ’n herder”, het hy nie net innig jammer gevoel vir hulle nie. “Hy het hulle baie dinge begin leer” (Matt. 9:36; Mark. 6:34). Ons het alle rede om, soos Jesus, ywerig vir ware aanbidding te wees.
16, 17. (a) Wat moet ons beweeg om ons in die bediening in te span? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
16 Wanneer ons hierdie beskouing van ons bediening het, neem die apostel Paulus se woorde in 1 Timoteus 2:3, 4 spesiale betekenis aan. (Lees.) Ons werk hard in die bediening, nie net omdat ons weet dat ons in die laaste dae lewe nie, maar ook omdat ons besef dat dit God se wil is. Hy wil hê dat mense tot ’n kennis van die waarheid moet kom sodat hulle ook kan leer om hom te aanbid en te dien en geseën kan word. Ons word beweeg om ons in die bediening in te span, nie net weens ’n tydgrens nie, maar omdat ons God se naam wil eer en mense wil help om te leer wat sy wil is. Ons is ywerig vir ware aanbidding.—1 Tim. 4:16.
17 As Jehovah se volk is ons geseën met die kennis van die waarheid oor God se voorneme met die mens en die aarde. Ons kan mense help om geluk en ’n vaste hoop vir die toekoms te vind. Ons kan vir hulle wys hoe hulle behoue kan bly wanneer Satan se stelsel van dinge vernietig word (2 Tess. 1:7-9). Ons moenie gefrustreerd of ontmoedig voel wanneer dit lyk of Jehovah se dag talm nie, maar ons moet eerder bly wees dat ons nog tyd het om ywerig vir ware aanbidding te wees (Miga 7:7; Hab. 2:3). Hoe kan ons hierdie ywer aankweek? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
Kan jy verduidelik?
• Wat het Jesus beweeg om regdeur sy bediening onvermoeid te werk?
• Wat beteken “ywer” in die Bybelse sin?
• Wat sien ons vandag wat ons moet beweeg om ywerig vir ware aanbidding te wees?
[Prent op bladsy 8]
Jesus het hom daarop toegespits om sy Vader se wil te doen en liefde aan sy medemens te betoon
[Prent op bladsy 10]
Ons het alle rede om ywerig vir ware aanbidding te wees