Die goeie nuus van die Koninkryk—Wat is dit?
Verlede jaar het 6 035 564 mense, oud en jonk, in 235 lande regoor die wêreld 1 171 270 425 uur daaraan bestee om met ander hieroor te praat. Buiten dat hulle dit mondelings oorgedra het, het hulle meer as 700 miljoen stukke gedrukte materiaal by die publiek gelaat om dit te adverteer en te verduidelik. Hulle het ook duisende oudiokassette en videokassette versprei om dit bekend te maak. Wat is “dit”?
“DIT” is die goeie nuus van God se Koninkryk. Een ding is seker, nog nooit in die mensegeskiedenis is “hierdie goeie nuus van die koninkryk” verkondig op die skaal wat ons vandag sien nie.—Matteus 24:14.
Diegene wat hierdie wêreldwye predikings- en onderrigtingswerk doen, is almal vrywilligers. Uit ’n sekulêre oogpunt lyk hulle dalk onbevoeg vir die taak. Maar hoe verklaar ’n mens dan hulle moed en hulle sukses? Die krag van die goeie nuus van die Koninkryk is ’n vername faktor, want dit is nuus oor seëninge wat die mensdom sal ontvang. Dit is seëninge waarna alle mense smag—geluk, vryheid van ekonomiese probleme, goeie regering, vrede en veiligheid en iets waaraan die meeste mense nie eers durf dink nie—ewige lewe! Dit is beslis goeie nuus vir mense wat na die sin en doel van die lewe soek. Ja, jy kan al hierdie seëninge en nog meer ontvang as jy gunstig reageer op die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk.
Wat is die Koninkryk?
Maar wat is die Koninkryk wat as goeie nuus verkondig word? Dit is die Koninkryk waarvoor miljoene geleer is om te bid met hierdie bekende woorde: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:9, 10.
Dit is die Koninkryk waarvan die Hebreeuse profeet Daniël meer as 25 eeue gelede gepraat het toe hy geskryf het: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.
Die goeie nuus is dus aangaande die Koninkryk, of regering, deur God wat alle goddeloosheid sal verwyder en dan in vrede oor die hele aarde sal regeer. Dit sal die Skepper se oorspronklike voorneme met die mensdom en met die aarde verwesenlik.—Genesis 1:28.
“Die koninkryk van die hemele het naby gekom”
Byna 2 000 jaar gelede is die goeie nuus van die Koninkryk die eerste keer in die openbaar verkondig deur ’n toegewyde man wie se voorkoms en optrede baie aandag getrek het. Daardie man was Johannes die Doper, seun van die Joodse priester Sagaria en sy vrou, Elisabet. Johannes het ’n kleed van kameelhaar gedra, met ’n leergordel om sy lendene, soos die profeet Elia wat hom voorafgeskadu het. Maar dit was sy boodskap wat baie mense se aandag getrek het. “Toon berou”, het hy uitgeroep, “want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”—Matteus 3:1-6.
Johannes se toehoorders was Jode, wat bely het dat hulle aanbidders van die ware God, Jehovah, is. As ’n nasie het hulle die Wetsverbond ongeveer 1 500 jaar tevore deur Moses ontvang. In Jerusalem het die luisterryke tempel nog gestaan, waar offerandes in ooreenstemming met die Wet geoffer is. Die Jode was seker dat hulle aanbidding in God se oë reg was.
Maar toe mense na Johannes luister, het party van hulle begin besef dat hulle godsdiens nie is wat hulle gedink het dit is nie. Griekse kultuur en filosofie het geleidelik ’n deel van Joodse godsdiensleringe geword. Die wet wat Moses van God ontvang het, was nou besoedel, selfs kragteloos gemaak, deur die oortuigings en oorleweringe van mense (Matteus 15:6). Die meeste mense is deur hulle hardvogtige en onbarmhartige godsdiensleiers mislei en het God dus nie meer op aanneemlike wyse aanbid nie (Jakobus 1:27). Vir hulle was dit nodig om berou te toon oor hulle sondes teen God en teen die Wetsverbond.
Op daardie stadium het baie Jode die verskyning van die beloofde Messias, of Christus, verwag, en party het oor Johannes gewonder: “Is hy miskien die Christus?” Johannes het egter getoon dat dit nie die geval was nie en eerder hulle aandag op iemand anders gevestig, van wie hy gesê het: “Ek is nie werd om die riem van sy sandale los te maak nie” (Lukas 3:15, 16). Toe Johannes Jesus aan sy dissipels voorstel, het hy gesê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”—Johannes 1:29.
Dit was inderdaad goeie nuus, want Johannes het in werklikheid vir alle mense die weg na lewe en geluk gewys—naamlik Jesus, die een wat “die sonde van die wêreld wegneem”. As nakomelinge van Adam en Eva word alle mense onder die oorheersing van sonde en die dood gebore. Romeine 5:19 verduidelik: “Net soos baie deur die ongehoorsaamheid van die een mens [Adam] tot sondaars gestel is, so sal ook baie deur die gehoorsaamheid van die een persoon [Jesus] tot regverdiges gestel word.” Jesus sou, soos ’n offerlam, ‘die sonde wegneem’ en die droewige toestand verander waarin die mens hom bevind. “Die loon wat die sonde betaal, is die dood,” verduidelik die Bybel, “maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here.”—Romeine 6:23.
As ’n volmaakte mens—trouens, die grootste mens wat nog geleef het—het Jesus die goeie nuus begin verkondig. Die Bybelverslag in Markus 1:14, 15 sê vir ons: “En nadat Johannes gearresteer is, het Jesus na Galilea gegaan en die goeie nuus van God verkondig en gesê: ‘Die vasgestelde tyd is vervul, en die koninkryk van God het naby gekom. Wees berouvol en stel geloof in die goeie nuus.’”
Diegene wat op Jesus se boodskap gereageer het en geloof in die goeie nuus beoefen het, is ryklik geseën. Johannes 1:12 sê: “Aan almal wat [Jesus] wel aangeneem het, het hy . . . die reg gegee om God se kinders te word, omdat hulle geloof in sy naam beoefen het.” Omdat hulle kinders, of seuns, van God was, het hulle in aanmerking gekom om die beloning van die ewige lewe te ontvang.—1 Johannes 2:25.
Maar die voorreg om Koninkrykseëninge te ontvang, is nie beperk tot mense wat in die eerste eeu gelewe het nie. Soos vroeër gemeld is, word die goeie nuus van God se Koninkryk vandag in die hele bewoonde aarde verkondig en geleer. Koninkrykseëninge is dus nog steeds beskikbaar. Wat moet jy doen om hierdie seëninge te ontvang? Die volgende artikel sal verduidelik.