Drie 16de-eeuse waarheidsoekers—Wat het hulle gevind?
“WAT is waarheid?” Dit is die vraag wat Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur van Judea in die eerste eeu, gestel het aan Jesus, wat deur die goewerneur verhoor is (Johannes 18:38). Pilatus was natuurlik nie werklik op soek na die waarheid nie. Sy vraag het eerder sy skeptiese of siniese gesindheid geopenbaar. Vir Pilatus was waarheid blykbaar wat ook al iemand kies, of geleer is, om te glo; daar was in werklikheid geen manier om vas te stel wat waarheid is nie. Baie mense dink vandag ook so.
Kerkgangers in 16de-eeuse Europa het nie meer geweet wat hulle moet glo die waarheid is nie. Hulle is grootgemaak om aan die oppergesag van die Pous en ander leringe van die kerk te glo, maar hulle het nou voor nuwe idees te staan gekom as gevolg van die Hervorming, wat op daardie tydstip deur Europa versprei het. Wat moes hulle glo? Hoe sou hulle besluit wat die waarheid is?
Gedurende hierdie tydperk was onder andere drie manne vasbeslote om die waarheid te vind.a Wat het hulle gedoen om vas te stel wat waar en wat onwaar is? En wat het hulle gevind? Kom ons kyk.
“LAAT DIE BYBEL . . . ALTYD DIE HOOGSTE GESAG WEES”
Wolfgang Capito was ’n jong man met sterk godsdiensoortuigings. Capito het medisyne, regte en teologie gestudeer, in 1512 ’n plaaslike priester geword en later as kapelaan gedien vir die aartsbiskop van Mainz.
Capito het aanvanklik die ywer probeer demp van die Hervormers wat ’n boodskap verkondig het wat in stryd was met Katolieke leerstellings. Maar kort voor lank het Capito self hervorming begin voorstaan. Wat het hy gedoen? Wanneer dit by verskillende leringe gekom het, het Capito geglo dat “die beste bron waarvolgens hulle prediking beoordeel kan word, die Bybel is, want slegs dit is seker”, skryf die geskiedkundige James M. Kittelson. Capito het dus tot die slotsom gekom dat die kerkleringe oor transsubstansiasie en die verering van heiliges onskriftuurlik is. (Sien die venster “Ondersoek of hierdie dinge so was”.) Nadat Capito in 1523 sy belangrike pos by die aartsbiskop verlaat het, het hy hom gevestig in die stad Straatsburg, wat destyds ’n sentrum van godsdienshervorming was.
Die Capito-tuiste in Straatsburg het ’n vergaderplek vir godsdienstige andersdenkendes geword, waar hulle ongetwyfeld baie godsdienssake en Bybelleringe bespreek het. Hoewel party Hervormers steeds die Drie-eenheidsleer voorgestaan het, sê die boek The Radical Reformation dat Capito se geskrifte “swyg oor die Drie-eenheidsleer”. Waarom? Capito was beïndruk met die manier waarop die Spaanse teoloog Michael Servetus Bybeltekste gebruik het om die Drie-eenheid te weerlê.b
Die verloëning van die Drie-eenheid kon noodlottige gevolge hê, en daarom was Capito versigtig en het hy nie sy mening in die openbaar bekend gemaak nie. Maar sy geskrifte dui daarop dat hy die Drie-eenheidsleer in die geheim bevraagteken het nog voordat hy Servetus ontmoet het. ’n Katolieke priester het later geskryf dat Capito en sy metgeselle “die diepste verborgenhede van godsdiens privaat en sonder ophef bespreek het; [en] die allerheiligste Drie-eenheid verwerp het”. ’n Eeu later was Capito se naam bo-aan ’n lys van vooraanstaande anti-Trinitariese skrywers.
Capito het geglo dat die Bybel die bron van waarheid is. “Laat die Bybel en die wet van Christus altyd die hoogste gesag wees in die teologie”, het hy gesê. Volgens dr. Kittelson het Capito “volgehou dat die teologiese geleerdes se grootste tekortkoming is dat hulle die Skrif verwaarloos”.
Nog iemand wat die opregte begeerte gehad het om die waarheid uit God se Woord te leer, was Martin Cellarius (ook bekend as Martin Borrhaus), ’n jong man wat in 1526 in die Capito-tuiste gebly het.
“KENNIS VAN DIE WARE GOD”
Cellarius is in 1499 gebore en was ’n ywerige teologie- en filosofiestudent. Hy het ’n onderwyspos in Wittenberg, Duitsland, aanvaar. Aangesien Wittenberg die beginpunt van die Hervorming was, het Cellarius kort voor lank Martin Luther en ander ontmoet wat kerkleringe wou hervorm. Hoe kon Cellarius tussen blote menslike idees en skriftuurlike waarheid onderskei?
Volgens die boek Teaching the Reformation het Cellarius gemeen dat ’n mens ware begrip verkry as jy “die Skrif ywerig lees, Bybeltekste dikwels met mekaar vergelyk en met ’n berouvolle gesindheid bid”. Wat het Cellarius gevind toe hy die Bybel ondersoek het?
In Julie 1527 het Cellarius sy bevindings in ’n boek met die titel On the Works of God gepubliseer. Hy het geskryf dat die kerk se sakramente, soos transsubstansiasie, net simbolies is. Volgens professor Robin Barnes het Cellarius se boek ook “’n uitlegging voorsien van skriftuurlike profesieë waarin ’n komende tydperk van algemene rampspoed en lyding gevolg sou word deur die volkome herstel van die heelal”.—2 Petrus 3:10-13.
Cellarius se kort opmerkings oor die aard van Jesus Christus was van besondere belang. Hoewel Cellarius die Drie-eenheid nie regstreeks weerspreek het nie, het hy ’n onderskeid getref tussen die “Hemelse Vader” en “sy Seun Jesus Christus” en geskryf dat Jesus een van baie gode en een van baie seuns van die almagtige God is.—Johannes 10:34, 35.
In sy boek Antitrinitarian Biography (1850) het Robert Wallace gesê dat Cellarius se geskrifte nie die verknogtheid aan die Drie-eenheidsleer openbaar wat in die 16de eeu algemeen was nie.c Etlike geleerdes het dus tot die slotsom gekom dat Cellarius die Drie-eenheid verwerp het. Hy is al beskryf as een van God se werktuie “om kennis van die ware God en van Christus in te skerp”.
HOOP OP REGSTELLING
Omstreeks 1527 het Wittenberg ook die tuiste geword van die teoloog Johannes Campanus, wat as een van die grootste geleerdes van sy dag beskou is. Hoewel Campanus in die sentrum van godsdienshervorming was, het hy nie meer met die leringe van Martin Luther saamgestem nie. Waarom nie?
Campanus het beswaar gemaak teen die idee van transsubstansiasie sowel as konsubstansiasie.d Volgens die skrywer André Séguenny het Campanus geglo dat “die Brood in wese altyd brood bly, maar dat dit as ’n sakrament ’n simbool van die vlees van die Christus is”. By die Marburg-samespreking in 1529, ’n vergadering wat gehou is om hierdie kwessies te bespreek, is Campanus nie toegelaat om te sê wat hy uit die Skrif geleer het nie. Daarna is hy deur sy mede-Hervormers in Wittenberg verstoot.
Die Hervormers was veral ontsteld oor Campanus se opvattings oor die Vader, die Seun en die heilige gees. In sy boek Restitution, wat in 1532 uitgegee is, het Campanus getoon dat Jesus en sy Vader twee afsonderlike persone is. Die Vader en Seun “is een”, het hy verduidelik, in dieselfde sin as wat ’n man en vrou “een vlees” is—verenig, maar nog steeds twee persone (Johannes 10:30; Matteus 19:5). Campanus het gesê dat die Skrif dieselfde illustrasie gebruik om te toon dat die Vader gesag oor die Seun het: “Die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus.”—1 Korintiërs 11:3.
Wat van die heilige gees? Campanus het weer na die Bybel verwys en geskryf: “Daar is geen bewyse in die Skrif dat die Heilige Gees die derde persoon is nie . . . Die gees van God word voorgestel as ’n werkende krag, in die sin dat Hy alles deur middel van sy geestelike krag en bedrywigheid voorberei en uitvoer.”—Genesis 1:2.
Luther het Campanus ’n lasteraar en ’n teenstander van God se Seun genoem. ’n Ander Hervormer wou hê dat Campanus tereggestel moet word. Maar Campanus is nie afgeskrik nie. Volgens The Radical Reformation “was Campanus oortuig dat die Kerk misluk het omdat dit nie gebly het by die oorspronklike apostoliese en Bybelse begrip van die Godheid en die mens nie”.
Dit was nooit Campanus se bedoeling om ’n godsdiensgroep te stig nie. Hy het gesê dat hy tevergeefs na waarheid gesoek het “onder die sektes en al die ketters”. Hy het dus gehoop dat die Katolieke Kerk, deur middel van regstelling, ware Christelike leringe sou herstel. Maar die Katolieke owerheid het Campanus uiteindelik in hegtenis geneem, en hy was dalk meer as 20 jaar in die tronk. Geskiedkundiges meen dat hy omstreeks 1575 gesterf het.
“MAAK SEKER VAN ALLES”
’n Ywerige studie van die Bybel het dit vir Capito, Cellarius, Campanus en ander moontlik gemaak om waarheid van onwaarheid te onderskei. Hoewel nie al die gevolgtrekkings wat hierdie waarheidsoekers gemaak het, heeltemal in ooreenstemming met die Bybel was nie, het hierdie manne die Skrif nederig ondersoek en die waarheid wat hulle geleer het, gekoester.
Die apostel Paulus het sy mede-Christene aangespoor: “Maak seker van alles; hou vas aan wat goed is” (1 Tessalonisense 5:21). Om jou te help in jou soeke na waarheid, het Jehovah se Getuies ’n boek uitgegee met die gepaste titel Wat leer die Bybel werklik?
a Sien die venster “Laat altwee saam groei tot die oes toe”, op bladsy 44 van die boek Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Sien die artikel “Michael Servetus—’n Man wat op sy eie na die waarheid gesoek het”, in die Ontwaak! van Mei 2006, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
c Die boek sê aangaande Cellarius se gebruik van die woord “god” wanneer dit op Christus van toepassing is: “Dit word gedruk as deus en nie as Deus nie, aangesien laasgenoemde net gebruik word om na die Allerhoogste God te verwys.”
d Konsubstansiasie is Luther se lering dat Christus se liggaam tydens die Here se Aandmaal in die brood en die wyn “aanwesig” is.