Hoofstuk 124
Oorgelewer en weggelei
TOE Pilatus, getref deur die stille waardigheid van die gemartelde Jesus, hom weer probeer vrylaat, word die owerpriesters nog kwater. Hulle is vasbeslote dat niks hulle bose plan sal dwarsboom nie. Hulle skreeu dus opnuut: “Aan die paal met hom! Aan die paal met hom!”—NW.
“Neem julle Hom en [hang hom aan ’n paal]”, sê Pilatus. (In teenstelling met wat die Jode vroeër beweer het, hét hulle die mag om misdadigers tereg te stel vir godsdiensoortredings wat ernstig genoeg is.) Dan verklaar Pilatus, vir ten minste die vyfde keer, dat Jesus onskuldig is deur te sê: “Ek vind geen skuld in Hom nie.”
Toe die Jode sien dat hulle politieke aantygings geen resultate oplewer nie, beskuldig hulle Jesus weer van godslastering, soos hulle ure tevore by sy verhoor voor die Sanhedrin gedoen het. “Ons het ’n wet”, sê hulle, “en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.”
Hierdie beskuldiging is nuut vir Pilatus, en dit maak hom selfs meer bevrees. Teen hierdie tyd besef hy dat Jesus nie ’n gewone mens is nie, soos sy vrou se droom en Jesus se merkwaardige sterk persoonlikheid toon. Maar “die Seun van God”? Pilatus weet dat Jesus uit Galilea kom. Maar is dit moontlik dat hy voorheen kon gelewe het? Pilatus neem hom weer in die paleis in en vra: “Van waar is U?”
Jesus antwoord hom nie. Hy het vroeër vir Pilatus gesê dat hy ’n koning is, maar dat sy Koninkryk geen deel van hierdie wêreld is nie. Enige verdere verduideliking sal nou nutteloos wees. Maar Pilatus se eer is gekrenk omdat Jesus weier om te antwoord, en hy bars uit teenoor hom met hierdie woorde: “Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U [aan ’n paal te hang] en mag het om U los te laat nie?”
“U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie”, antwoord Jesus hom eerbiedig. Hy praat van die feit dat God menseheersers die mag gee om sake op aarde te bestuur. Jesus voeg by: “Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.” Die hoëpriester Kajafas en sy medepligtiges en Judas Iskariot het almal inderdaad groter skuld as Pilatus aan die onregverdige behandeling van Jesus.
Omdat Pilatus selfs meer beïndruk is deur Jesus en bang is dat Jesus van goddelike oorsprong is, probeer hy opnuut om hom vry te laat. Maar die Jode keer Pilatus. Hulle herhaal hulle politieke aantyging en dreig listig: “As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser.”
Ten spyte van die gevaar wat dit kan inhou, bring Pilatus Jesus nog ’n keer na buite. “Dáár is julle Koning!” sê hy weer eens.
“Weg met hom! Weg met hom! Aan die paal met hom!”—NW.
“Moet ek julle Koning [aan ’n paal hang]?” vra Pilatus desperaat.
Die Jode is ontevrede onder die Romeinse juk. Hulle verag inderdaad Rome se heerskappy! Tog sê die owerpriesters skynheilig: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie.”
Uit vrees vir sy politieke posisie en reputasie gee Pilatus eindelik toe aan die Jode se meedoënlose eise. Hy lewer Jesus oor. Die soldate trek die purperkleed uit en trek weer vir Jesus sy eie klere aan. Jesus word gedwing om sy eie folterpaal te dra wanneer hulle hom weglei om hom aan die paal te gaan nael.
Dit is nou al die middel van die voormiddag van Vrydag, 14 Nisan; miskien is dit al amper twaalfuur. Jesus is al van vroeg Donderdagoggend op, en hy het die een pynlike ondervinding na die ander deurgemaak. Dit is verstaanbaar dat sy krag sommer gou onder die gewig van die paal ingee. ’n Verbyganger, ’n sekere Simon van Cirene in Afrika, word dus gedwing om dit vir hom te dra. Terwyl hulle loop, word hulle gevolg deur baie mense, insluitende vroue, wat hulleself in droefheid slaan en oor Jesus weeklaag.
Jesus draai om na die vroue en sê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders; want daar kom dae wanneer hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie. . . . Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!”
Jesus praat van die boom van die Joodse nasie wat, soos groen hout, nog ’n bietjie lewensvog besit vanweë Jesus se teenwoordigheid en die bestaan van ’n oorblyfsel wat in hom glo. Maar wanneer hulle uit die nasie geneem word, sal daar net ’n geestelik dooie, droë boom oorbly, ja, ’n verdorde nasionale organisasie. O, watter rede om te ween sal daar tog wees wanneer die Romeinse leërs, wat as God se skerpregters sal dien, die Joodse nasie verwoes! Johannes 19:6-17; 18:31; Lukas 23:24-31; Mattheüs 27:31, 32; Markus 15:20, 21.
▪ Watter beskuldiging bring die godsdiensleiers teen Jesus in wanneer hulle politieke beskuldigings nie resultate oplewer nie?
▪ Waarom raak Pilatus meer bevrees?
▪ Wie het die grootste skuld aan wat met Jesus gebeur?
▪ Hoe kry die priesters dit reg dat Pilatus Jesus uiteindelik oorlewer om tereggestel te word?
▪ Wat sê Jesus vir die vroue wat oor hom ween, en wat bedoel hy wanneer hy praat van die “groen hout” en die “droë”?