-
‘Hy het ons eerste liefgehad’Kom nader aan Jehovah
-
-
Die grootste daad van liefde
4. Wat het ’n Romeinse soldaat laat besef dat Jesus nie ’n gewone mens was nie, en tot watter slotsom het daardie soldaat gekom?
4 Die Romeinse bevelvoerder oor honderd wat toesig gehou het oor Jesus se teregstelling, het hom verwonder oor die donkerte wat Jesus se dood voorafgegaan het, asook oor die geweldige aardbewing wat daarop gevolg het. “Hy was beslis God se Seun”, het hy gesê (Matteus 27:54). Dit was duidelik dat Jesus nie ’n gewone mens was nie. Daardie soldaat het gehelp om die eniggebore Seun van die Allerhoogste God tereg te stel! Presies hoe kosbaar was hierdie Seun vir sy Vader?
5. Hoe kan die ontsaglike lang tyd wat Jehovah en sy Seun saam in die hemel deurgebring het, toegelig word?
5 Die Bybel noem Jesus “die eersgeborene van die hele skepping” (Kolossense 1:15). Dink net – Jehovah se Seun het voor die fisiese heelal bestaan. Hoe lank was Vader en Seun dan saam? Party wetenskaplikes skat dat die heelal 13 miljard jaar oud is. Kan jy jou selfs voorstel hoe lank dit is? Om mense te help verstaan hoe oud die heelal volgens die skatting van wetenskaplikes is, het een planetarium ’n 110 meter lange tydkaart vertoon. Wanneer besoekers al langs dié tydkaart loop, verteenwoordig elke tree wat hulle gee, ongeveer 75 miljoen jaar in die bestaan van die heelal. Aan die einde van die tydkaart word die hele mensegeskiedenis deur ’n strepie so dik soos ’n mensehaar verteenwoordig! Maar selfs al is hierdie skatting reg, sou daardie hele tydkaart nie lank genoeg wees om die lewensduur van Jehovah se Seun te verteenwoordig nie! Waarmee was hy gedurende al daardie eeue besig?
6. (a) Waarmee was Jehovah se Seun gedurende sy voormenslike bestaan besig? (b) Watter soort band bestaan daar tussen Jehovah en sy Seun?
6 Die Seun het vreugdevol as sy Vader se “meesterwerker” gedien (Spreuke 8:30). Die Bybel sê: “sonder [die Seun] het nie ’n enkele ding ontstaan nie” (Johannes 1:3). Jehovah en sy Seun het dus saam gewerk om alle ander dinge te skep. Watter opwindende, vreugdevolle tye het hulle tog geniet! Baie sal saamstem dat die liefde tussen ouer en kind verbasend sterk is. En liefde “is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Wie van ons kan ons dan enigsins voorstel hoe sterk ’n band is wat so ontsettend lank bestaan het? Dit is duidelik dat Jehovah God en sy Seun verenig is deur die sterkste band van liefde wat nog ooit gesmee is.
7. Hoe het Jehovah sy gevoelens oor sy Seun uitgedruk toe Jesus gedoop is?
7 Nietemin het die Vader sy Seun aarde toe gestuur om as ’n mensebaba gebore te word. Dit het beteken dat Jehovah intieme assosiasie met sy geliefde Seun in die hemel vir ’n paar dekades moes prysgee. Hy het met groot belangstelling vanuit die hemel toegekyk terwyl Jesus opgegroei en ’n volmaakte man geword het. Jesus is gedoop toe hy omtrent 30 jaar oud was. Ons hoef nie te raai hoe Jehovah oor hom gevoel het nie. Die Vader het self vanuit die hemel gepraat: “Dit is my geliefde Seun, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Dit moes die Vader baie bly gemaak het om te sien dat Jesus getrou alles doen wat voorspel is, alles wat van hom verwag is! – Johannes 5:36; 17:4.
8, 9. (a) Wat het Jesus op 14 Nisan 33 HJ deurgemaak, en hoe het dit sy hemelse Vader geraak? (b) Waarom het Jehovah toegelaat dat sy Seun ly en sterf?
8 Maar hoe het Jehovah op 14 Nisan 33 HJ gevoel? Hoe het hy gevoel toe Jesus verraai en daarna in die nag deur ’n oproerige skare in hegtenis geneem is? Toe Jesus se vriende hom in die steek gelaat het en hy aan ’n onwettige verhoor onderwerp is? Toe hy bespot, daar op hom gespoeg en hy met vuiste geslaan is? Toe hy met ’n gésel geslaan is totdat sy rug die ene skeurwonde was? Toe hy aan sy hande en voete aan ’n houtpaal genael is en daar gehang het terwyl mense hom beledig het? Hoe het die Vader gevoel toe sy geliefde Seun hom aangeroep het terwyl hy in hewige pyn verkeer het? Hoe het Jehovah gevoel toe Jesus sy laaste asem uitgeblaas het en sy dierbare Seun vir die eerste keer van die begin van die hele skepping af nie bestaan het nie? – Matteus 26:14-16, 46, 47, 56, 59, 67; 27:38-44, 46; Johannes 19:1.
9 Woorde ontbreek ons. Aangesien Jehovah gevoelens het, kan ons die pyn wat hy oor die dood van sy Seun verduur het, nie in woorde uitdruk nie. Wat uitgedruk kan word, is watter beweegrede Jehovah gehad het om toe te laat dat dit gebeur. Waarom het die Vader homself aan hierdie gevoelens onderwerp? Jehovah openbaar iets wonderliks aan ons in Johannes 3:16 – ’n Bybelvers wat so belangrik is dat dit al die klein Evangelie genoem is. Dit sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie, maar die ewige lewe kan hê.” Jehovah se beweegrede het dus hierop neergekom: liefde. Jehovah se gawe – die feit dat hy sy Seun gestuur het om vir ons te ly en te sterf – was die grootste daad van liefde van alle tye.
“God het . . . sy eniggebore Seun gegee”
-
-
‘Hy het ons eerste liefgehad’Kom nader aan Jehovah
-
-
12 Soos dit in die Bybel gebruik word, dra a·gaʹpe dikwels die gedagte oor van liefde wat deur beginsels gerig word. Dit is dus meer as net ’n emosionele reaksie op ’n ander persoon. Dit is breër in omvang, meer deurdag en berus op doelbewuste oorweging. Bowenal is Christelike liefde heeltemal onselfsugtig. Kyk byvoorbeeld weer na Johannes 3:16. Wat is “die wêreld” wat God so liefgehad het dat hy sy eniggebore Seun gegee het? Dit is die wêreld van loskoopbare mense. Dit sluit baie mense in wat ’n sondige lewe lei. Het Jehovah elkeen as ’n persoonlike vriend lief, soos hy getroue Abraham liefgehad het? (Jakobus 2:23). Nee, maar uit liefde bewys Jehovah goedheid aan almal, al verg dit ’n groot opoffering van hom. Hy wil hê dat almal berou moet toon en hulle weë moet verander (2 Petrus 3:9). Baie doen dit. Hy neem hulle met vreugde as sy vriende aan.
-