Laat die gemeente opgebou word
“Die gemeente [het] ’n tydperk van vrede ingegaan en is . . . opgebou.”—HANDELINGE 9:31.
1. Watter vrae kan oor “die gemeente van God” gevra word?
OP Pinksterdag 33 G.J. het Jehovah ’n groep van Christus se dissipels as ’n nuwe nasie, “die Israel van God”, erken (Galasiërs 6:16). Hierdie geesgesalfde Christene het ook “die gemeente van God” geword, soos die Bybel hulle noem (1 Korintiërs 11:22). Maar wat was hierby betrokke? Hoe sou “die gemeente van God” georganiseer wees? Hoe sou dit op aarde funksioneer, ongeag waar die lede hulle bevind? En hoe raak dit ons lewe en geluk?
2, 3. Hoe het Jesus getoon dat daar organisasie in die gemeente sou wees?
2 Soos in die vorige artikel genoem is, het Jesus die bestaan van hierdie gemeente van gesalfde volgelinge voorspel en vir die apostel Petrus gesê: “Op hierdie rots [Jesus Christus] sal ek my gemeente bou, en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie” (Matteus 16:18). Verder het Jesus, terwyl hy nog saam met die apostels was, inligting verstrek oor die funksie van en reëlings binne daardie gemeente wat weldra gestig sou word.
3 Jesus het deur woord en daad getoon dat party in die gemeente die leiding sou neem. Hulle sou dit doen deur ander in hulle groep te dien. Christus het gesê: “Julle weet dat dié wat skynbaar oor die nasies heers, oor hulle baasspeel en dat hulle grotes oor hulle gesag uitoefen. Onder julle is dit nie so nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet almal se slaaf wees” (Markus 10:42-44). Dit is duidelik dat “die gemeente van God” nie bloot verspreide, afgesonderde individue sou wees wat ’n struktuurlose gemeente uitmaak nie. Inteendeel, daar sou organisasie wees, met interaksie tussen die individue in die gemeente.
4, 5. Hoe weet ons dat die gemeente geestelike onderrigting nodig sou hê?
4 Die Een wat die Hoof van daardie “gemeente van God” sou wees, het te kenne gegee dat sy apostels en ander wat by hom geleer het, spesifieke verantwoordelikhede teenoor die res sou hê. Om wat te doen? ’n Belangrike toewysing sou wees om geestelike onderrigting aan diegene in die gemeente te gee. Onthou dat die verrese Jesus vir Petrus in die teenwoordigheid van party van die ander apostels gesê het: “Simon, seun van Johannes, het jy my lief?” Petrus het geantwoord: “Ja, Here, u weet dat ek geneentheid vir u het.” Jesus het vir hom gesê: “Voed my lammers. . . . Hou as herder toesig oor my skapies. . . . Voed my skapies” (Johannes 21:15-17). Wat ’n toewysing!
5 Uit Jesus se woorde kan ons sien dat diegene wat in die gemeente byeengebring word, met skape in ’n kraal vergelyk word. Hierdie skape—Christenmans, -vroue en -kinders—sal geestelik gevoed en behoorlik versorg moet word. En aangesien Jesus al sy volgelinge beveel het om ander te leer en dissipels te maak, sal enige nuweling wat een van sy skape word, geleer moet word hoe om daardie goddelike opdrag uit te voer.—Matteus 28:19, 20.
6. Watter reëlings is in die nuutgestigte “gemeente van God” getref?
6 Toe “die gemeente van God” gestig is, het diegene waaruit dit bestaan het, gereeld bymekaargekom vir onderrigting en wedersydse aanmoediging: “Hulle het voortgegaan om hulle toe te lê op die leer van die apostels en op mededeelsaamheid, op die eet van maaltye en op gebede” (Handelinge 2:42, 46, 47). Nog ’n belangrike besonderheid in die geskiedkundige verslag is dat sommige bekwame manne aangestel is om na sekere praktiese aangeleenthede te help omsien. Hulle is nie gekies weens groot geleerdheid of tegniese vaardighede nie. Hulle was manne “vol gees en wysheid”. Een van hulle was Stefanus, en die verslag sê dat hy “’n man vol geloof en heilige gees” was. Deur middel van die gemeentereëling het “die woord van God aangehou groei, en die aantal dissipels het in Jerusalem geweldig bly toeneem”.—Handelinge 6:1-7.
Manne deur God gebruik
7, 8. (a) As wat het die apostels en ouer manne in Jerusalem onder vroeë Christene gedien? (b) Wat was die gevolg toe onderrigting deur middel van die gemeentes voorsien is?
7 In die vroeë gemeentereëling het die apostels natuurlik die leiding geneem, maar hulle was nie alleen nie. Op een stadium het Paulus en sy metgeselle na Siriese Antiogië teruggekeer. Handelinge 14:27 sê: “Toe hulle daar aangekom en die gemeente bymekaargeroep het, het hulle begin vertel van die baie dinge wat God deur middel van hulle gedoen het.” Terwyl hulle nog saam met daardie plaaslike gemeente was, het die vraag ontstaan of nie-Joodse gelowiges besny moes word. Om die saak op te klaar, is Paulus en Barnabas “na die apostels en ouer manne in Jerusalem” gestuur, wat klaarblyklik as ’n bestuursliggaam gedien het.—Handelinge 15:1-3.
8 Die Christen- ouer man Jakobus, Jesus se halfbroer maar nie ’n apostel nie, het die leiding geneem toe “die apostels en die ouer manne . . . bymekaargekom [het] om op hierdie aangeleentheid in te gaan” (Handelinge 15:6). Ná beraadslaging en met die hulp van die heilige gees het hulle ’n besluit in ooreenstemming met die Skrif geneem. Hulle het dit op skrif gestel en aan die plaaslike gemeentes gestuur (Handelinge 15:22-32). Diegene wat hierdie inligting ontvang het, het dit aanvaar en toegepas. Met watter gevolg? Die broers en susters is opgebou en aangemoedig. Die Bybel sê: “Daarom is die gemeentes inderdaad voortdurend standvastig gemaak in die geloof en het hulle van dag tot dag in getal bly toeneem.”—Handelinge 16:5.
9. Watter rolle word in die Bybel uiteengesit vir bekwame Christenmanne?
9 Maar hoe het die plaaslike gemeentes van dag tot dag gefunksioneer? Neem byvoorbeeld die gemeentes op die eiland Kreta. Hoewel baie mense wat daar gewoon het, ’n slegte reputasie gehad het, het party verander en ware Christene geword (Titus 1:10-12; 2:2, 3). Hulle het in verskillende stede gewoon, en hulle was almal ver van die bestuursliggaam in Jerusalem af. Dit was egter nie ’n groot probleem nie, aangesien geestelike “ouer manne” in elk van die plaaslike gemeentes op Kreta, soos op ander plekke, aangestel is. Hierdie manne het aan die vereistes voldoen wat ons in die Bybel vind. Hulle is aangestel as ouer manne, of opsieners, wat ‘deur die gesonde leer kon vermaan sowel as die teësprekers kon teregwys’ (Titus 1:5-9; 1 Timoteus 3:1-7). Ander geestelike manne het aan die vereistes voldoen om die gemeentes as bedieningsknegte, of diakens, te help.—1 Timoteus 3:8-10, 12, 13.
10. Hoe moes ernstige probleme volgens Matteus 18:15-17 opgelos word?
10 Jesus het daarop gewys dat so ’n reëling sou bestaan. Dink aan die verslag in Matteus 18:15-17 waar hy gesê het dat probleme soms tussen twee van God se knegte kan ontstaan, wanneer die een teen die ander sondig. Die persoon wat te na gekom is, moes die ander een nader en privaat ‘sy fout blootlê’, tussen net die twee van hulle. As daardie stap nie die saak opgelos het nie, kon die hulp van een of twee ander wat die feite geken het, ingeroep word. Sê nou die probleem was nog steeds nie opgelos nie? Jesus het gesê: “As hy na hulle nie luister nie, praat met die gemeente. As hy selfs na die gemeente nie luister nie, laat hom vir jou net soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder wees.” Toe Jesus dit gesê het, het die Jode nog “die gemeente van God” uitgemaak; sy woorde was dus aanvanklik op hulle van toepassing.a Maar nadat die Christengemeente gestig is, sou Jesus se riglyne daarop van toepassing wees. Dit is nog ’n aanduiding dat God se knegte ’n gemeentereëling sou hê waardeur elke individuele Christen opgebou sou word en leiding sou ontvang.
11. Hoe moes ouer manne betrokke wees by die oplossing van probleme?
11 Die ouer manne, of opsieners, sou heel gepas die plaaslike gemeente verteenwoordig deur probleme te hanteer of op te los of deur oortredings te ondersoek. Dit strook met die vereistes vir ouer manne wat in Titus 1:9 gemeld word. Die plaaslike ouer manne was wel onvolmaak, soos Titus, wat deur Paulus na gemeentes gestuur is om ‘die dinge wat gebrekkig was, reg te stel’ (Titus 1:4, 5). Vandag moet diegene wat as ouer manne aanbeveel word, hulle geloof en toegewydheid oor ’n tydperk bewys het. Ander in die gemeente het dan rede om vertroue te stel in die riglyne en leierskap wat deur middel van hierdie reëling voorsien word.
12. Watter verantwoordelikheid het ouer manne teenoor die gemeente?
12 Vir ouer manne in die gemeente in Efese het Paulus gesê: “Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het” (Handelinge 20:28). Ook vandag word gemeentelike opsieners aangestel om “as herders toesig te hou oor die gemeente van God”. Hulle moet dit op ’n liefdevolle wyse doen en nie oor die kudde baasspeel nie (1 Petrus 5:2, 3). Die opsieners moet daarna streef om “die hele kudde” op te bou en te help.
Bly na aan die gemeente
13. Wat kan soms in ’n gemeente ontstaan, en waarom?
13 Die ouer manne en al die ander gemeentelede is onvolmaak; daarom ontstaan daar van tyd tot tyd misverstande of probleme, soos in die eerste eeu terwyl party van die apostels nog gelewe het (Filippense 4:2, 3). ’n Opsiener of iemand anders sê miskien iets wat onbeleef, onvriendelik of na ’n halwe waarheid klink. Of ons dink dalk dat iets onskriftuurliks aan die gang is, maar dit lyk of die plaaslike ouer manne, hoewel hulle daarvan bewus is, niks daaromtrent doen nie. Dit kan natuurlik wees dat die saak reeds hanteer is of hanteer word in ooreenstemming met die Skrif en in die lig van feite waarvan ons nie bewus is nie. Maar selfs as ons reg is oor die situasie, dink hieroor na: ’n Ernstige sonde het ’n ruk lank in die Korintiese gemeente bestaan, ’n gemeente waarvoor Jehovah gesorg het. Na verloop van tyd het hy toegesien dat die oortreding hanteer word, op ’n regverdige en ferm wyse (1 Korintiërs 5:1, 5, 9-11). Ons kan ons afvra: ‘Hoe sou ek, as ek destyds in Korinte gewoon het, in die tussentyd gereageer het?’
14, 15. Waarom het party opgehou om Jesus te volg, en watter les leer ons daaruit?
14 Kyk na nog ’n moontlike situasie wat in die gemeente kan ontstaan. Dalk vind iemand dit moeilik om ’n skriftuurlike lering te verstaan en te aanvaar. Hy het moontlik navorsing gedoen in die Bybel en in publikasies wat deur middel van die gemeente beskikbaar is en by ryp mede-Christene, selfs ouer manne, hulp gesoek. Nogtans sukkel hy om die punt te snap of te aanvaar. Wat kan hy doen? ’n Soortgelyke situasie het ongeveer ’n jaar voor Jesus se dood ontstaan. Hy het gesê dat hy “die brood van die lewe” is en dat iemand wat vir ewig wil lewe, “die vlees van die Seun van die mens [moet] eet en sy bloed [moet] drink”. Dit het party van sy dissipels geskok. Pleks van ’n verduideliking te soek of bloot in geloof te wag, het baie dissipels “nie meer saam met [Jesus] gewandel nie” (Johannes 6:35, 41-66). Ons kan ons weer eens afvra: ‘Wat sou ons gedoen het as ons daar was?’
15 In hedendaagse tye het party opgehou om met die plaaslike gemeente om te gaan en gevoel dat hulle God op hulle eie sal dien. Hulle sê dalk dit is omdat hulle gevoelens seergemaak is, omdat daar niks aan ’n verkeerde situasie gedoen word nie of omdat hulle nie die een of ander lering kan aanvaar nie. Hoe redelik is hulle handelswyse? Hoewel dit waar is dat elke Christen ’n persoonlike verhouding met God moet hê, kan ons nie ontken dat hy, soos in die apostels se dag, ’n wêreldwye gemeente gebruik nie. Daarbenewens het Jehovah plaaslike gemeentes in die eerste eeu gebruik en geseën, en hy het gereël dat bekwame ouer manne en bedieningsknegte die gemeentes help. Dit is ook vandag die geval.
16. Waaroor moet iemand nadink as hy in die versoeking kom om die gemeente te verlaat?
16 As ’n Christen voel dat hy bloot op sy eie verhouding met God kan staatmaak, verwerp hy ’n godgegewe reëling—die wêreldwye gemeente asook die plaaslike gemeentes van God se volk. Die persoon slaan dalk sy eie koers in of assosieer met net ’n paar ander, maar wat van die reëling vir gemeentelike ouer manne en die voorsiening van bedieningsknegte? Dit is betekenisvol dat Paulus, toe hy aan die gemeente in Kolosse geskryf het en beveel het dat die brief ook in Laodisea gelees moet word, gesê het dat hulle ‘in Christus gewortel en opgebou moet word’. Diegene in die gemeentes, nie individue wat hulle daarvan afgesonder het nie, sou hierby baat vind.—Kolossense 2:6, 7; 4:16.
’n Pilaar en stut van die waarheid
17. Wat toon 1 Timoteus 3:15 oor die gemeente?
17 In sy eerste brief aan die Christen- ouer man Timoteus het die apostel Paulus die vereistes uiteengesit vir ouer manne en bedieningsknegte in plaaslike gemeentes. Onmiddellik daarna het Paulus melding gemaak van “die gemeente van die lewende God” en gesê dat dit “’n pilaar en stut van die waarheid” is (1 Timoteus 3:15). In die eerste eeu was die hele gemeente van gesalfde Christene beslis so ’n pilaar. En daar bestaan geen twyfel nie dat die plaaslike gemeente die vernaamste reëling was waardeur individuele Christene hierdie waarheid ontvang het. Dit is waar hulle kon hoor hoe die waarheid bekend gemaak en verdedig word, waar hulle opgebou kon word.
18. Waarom is gemeentelike vergaderinge noodsaaklik?
18 Die wêreldwye Christengemeente is eweneens God se huisgesin, “’n pilaar en stut van die waarheid”. Gereelde bywoning van en deelname aan die vergaderinge van ons plaaslike gemeente is ’n belangrike manier waarop ons opgebou word, ons verhouding met God versterk word en ons voorberei word om sy wil te doen. Paulus het aan die gemeente in Korinte geskryf en die aandag gevestig op wat tydens sulke vergaderinge gesê word. Hy het geskryf dat hy wou hê dat wat tydens hulle vergaderinge gesê word, duidelik en verstaanbaar moes wees sodat diegene wat dit bywoon, “opgebou” kon word (1 Korintiërs 14:12, 17-19). Ons kan ook vandag opgebou word as ons erken dat Jehovah God die reëling vir plaaslike gemeentes gemagtig het en dat hy dit ondersteun.
19. Waarom voel jy dat jy dank aan jou gemeente verskuldig is?
19 Ja, as ons as Christene opgebou wil word, is ons plek binne die gemeente. Dit dien lank reeds as ’n beskerming teen valse leringe, en God gebruik dit om die goeie nuus van sy Messiaanse Koninkryk regoor die aarde bekend te laat maak. God het beslis baie bereik deur middel van die Christengemeente.—Efesiërs 3:9, 10.
[Voetnoot]
a Volgens die Bybelgeleerde Albert Barnes kan Jesus se raad om te “praat met die gemeente”, verwys na “diegene wat die gesag het om sulke sake te verhoor—die verteenwoordigers van die kerk, of diegene wat namens hulle optree. In die Joodse sinagoge was daar ’n regbank van ouer manne wat sulke verhore behartig het.”
Kan jy onthou?
• Waarom moet ons verwag dat God gemeentes op aarde sal gebruik?
• Wat doen ouer manne, al is hulle onvolmaak, vir die gemeente?
• Hoe word jy deur die plaaslike gemeente opgebou?
[Prent op bladsy 26]
Die apostels en ouer manne in Jerusalem het as ’n bestuursliggaam gedien
[Prent op bladsy 28]
Ouer manne en bedieningsknegte ontvang onderrigting sodat hulle hulle verantwoordelikhede teenoor die gemeente kan nakom