HOOFSTUK 6
‘Stefanus het God se goedkeuring en krag gehad’
Lesse uit Stefanus se moedige getuienis voor die Sanhedrin
Gebaseer op Handelinge 6:8–8:3
1-3. (a) In watter skrikwekkende situasie bevind Stefanus hom, maar hoe reageer hy? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?
STEFANUS staan voor die hof. In ’n indrukwekkende saal, waarskynlik naby die tempel in Jerusalem, sit 71 manne in ’n groot halfmaan. Hierdie hof, die Sanhedrin, sit vandag om Stefanus te verhoor. Die regters is magtige, invloedryke manne, waarvan die meeste ’n lae dunk het van hierdie dissipel van Jesus. Trouens, die man wat die hof byeengeroep het, is die hoëpriester Kajafas, wat die voorsitter was toe die Sanhedrin Jesus Christus ’n paar maande vroeër ter dood veroordeel het. Is Stefanus bang?
2 Op hierdie oomblik is daar iets merkwaardigs omtrent Stefanus se gesigsuitdrukking. Die regters staar na hom en sien dat sy gesig “soos die gesig van ’n engel” is (Hand. 6:15). Engele dra boodskappe van Jehovah God oor en het dus rede om onbevrees, kalm en bedaard te wees. Dit is die geval met Stefanus – selfs hierdie hatige regters kan dit sien. Hoe kan hy so kalm wees?
3 Christene van vandag kan baie leer uit die antwoord op hierdie vraag. Ons moet ook weet wat daartoe gelei het dat Stefanus hom in hierdie kritieke situasie bevind. Hoe het hy vroeër sy geloof verdedig? En hoe kan ons hom navolg?
‘Hulle het die volk opgesteek’ (Handelinge 6:8-15)
4, 5. (a) Waarom was Stefanus ’n groot aanwins vir die gemeente? (b) In watter opsig het Stefanus “God se goedkeuring en krag gehad”?
4 Ons het reeds uitgevind dat Stefanus ’n groot aanwins vir die jong Christengemeente was. In die vorige hoofstuk van hierdie boek het ons gesien dat hy onder die sewe nederige manne was wat gewillig was om te help toe die apostels hulp gevra het. Sy nederigheid is nog merkwaardiger as ons in ag neem met watter gawes hierdie man geseën is. In Handelinge 6:8 lees ons dat hy, soos party van die apostels, die vermoë gegee is om “groot wonderwerke en tekens” te doen. Ons lees ook dat hy “God se goedkeuring en krag” gehad het. Wat het dit beteken?
5 Die Griekse woord wat weergegee word as “God se goedkeuring” kan ook vertaal word as “guns”. Stefanus het klaarblyklik ’n vriendelike, sagte geaardheid gehad wat mense aangetrek het. Hy het op so ’n manier gepraat dat baie van sy toehoorders oorreed is om te glo en oortuig geraak het van die opregtheid van sy hart en die voordele wat die waarhede wat hy bespreek het, vir hulle kon inhou. Hy was vol krag omdat Jehovah se gees in hom werksaam was, aangesien hy hom nederig aan die leiding daarvan onderwerp het. Hy het nie opgeblase geraak oor sy eie gawes en vermoëns nie, maar het eerder alle lof aan Jehovah gegee en liefdevolle besorgdheid getoon oor die mense met wie hy gepraat het. Dit is dus geen wonder dat sy teenstanders hom as ’n bedreiging beskou het nie!
6-8. (a) Watter tweeledige beskuldiging het Stefanus se teenstanders teen hom ingebring, en waarom? (b) Waarom kan Stefanus se voorbeeld vandag vir Christene nuttig wees?
6 Verskeie manne het opgestaan om met Stefanus te redeneer, maar “hulle kon niks teen hom sê nie, want hy het met wysheid en gees gepraat”.a Uit frustrasie het hulle “in die geheim manne oorreed” om aantygings teen hierdie onskuldige volgeling van Christus te maak. Hulle het ook “die volk . . . opgesteek”, sowel as die ouermanne en die skrifgeleerdes, sodat Stefanus met geweld voor die Sanhedrin gebring is (Hand. 6:9-12). Die teenstanders het hierdie tweeledige beskuldiging teen hom ingebring: Hy het God sowel as Moses beledig. Hoe?
7 Die valse beskuldigers het gesê dat Stefanus God beledig het omdat hy dinge teen “hierdie heilige plek” – die tempel in Jerusalem – gesê het (Hand. 6:13). Hy het Moses beledig, het hulle beweer, omdat hy dinge teen die Mosaïese Wet gesê het en gebruike verander het wat Moses aan hulle gegee het. Dit was ’n baie ernstige beskuldiging, want die Jode het destyds groot nadruk gelê op die tempel, die besonderhede van die Mosaïese Wet en die talle mondelinge tradisies wat hulle by daardie Wet gevoeg het. Die beskuldiging het dus beteken dat Stefanus ’n gevaarlike man was wat die dood verdien het!
8 Ongelukkig is dit niks ongewoons dat godsdienstige mense hierdie soort taktiek gebruik om moeilikheid te maak vir knegte van God nie. Vandag nog steek godsdiensteenstanders sekulêre leiers soms op om Jehovah se Getuies te vervolg. Hoe moet ons op verdraaide of valse aantygings reageer? Ons kan baie uit Stefanus se voorbeeld leer.
Moedige getuienis oor “die glorieryke God” (Handelinge 7:1-53)
9, 10. Watter bewering het kritici gemaak omtrent Stefanus se toespraak voor die Sanhedrin, en wat moet ons in gedagte hou?
9 Soos aan die begin genoem is, was Stefanus se gesigsuitdrukking kalm, soos dié van ’n engel, terwyl hy na die aantygings teen hom geluister het. Nou draai Kajafas na hom toe en sê: “Is hierdie dinge so?” (Hand. 7:1). Dit is Stefanus se beurt om te praat. En het hy gepraat!
10 Party kritici het Stefanus se toespraak aangeval en beweer dat dit nie eens die aantyging teen hom weerlê het nie, al was dit so lank. Maar Stefanus het in werklikheid vir ons ’n uitstekende voorbeeld gestel van hoe om die goeie nuus “te verdedig” (1 Pet. 3:15). Hou in gedagte dat Stefanus daarvan beskuldig is dat hy God beledig het omdat hy die tempel kleineer het en dat hy Moses beledig het omdat hy dinge teen die Wet gesê het. Stefanus se antwoord is ’n opsomming van drie tydperke in Israel se geskiedenis, waarin sekere punte sorgvuldig beklemtoon is. Kom ons bespreek hierdie drie tydperke in die geskiedenis een vir een.
11, 12. (a) Hoe het Stefanus Abraham se voorbeeld doeltreffend gebruik? (b) Waarom het Stefanus Josef in sy toespraak genoem?
11 Die tydperk van die aartsvaders (Hand. 7:1-16). Stefanus het begin deur van Abraham te praat, wat deur die Jode gerespekteer is vir sy geloof. Hoewel hy op hierdie belangrike gemeenskaplike grondslag begin het, het Stefanus beklemtoon dat Jehovah, “die glorieryke God”, hom vir die eerste keer in Mesopotamië aan Abraham geopenbaar het (Hand. 7:2). Trouens, daardie man was ’n uitlander in die Beloofde Land. Abraham het nie ’n tempel of die Mosaïese Wet gehad nie. Hoe kon enigiemand daarop aandring dat getrouheid aan God altyd van sulke reëlings afhanklik is?
12 Abraham se nakomeling Josef is ook deur Stefanus se gehoor hooggeag, maar Stefanus het hulle daaraan herinner dat Josef se eie broers, die vaders van die stamme van Israel, daardie regverdige man vervolg en hom in slawerny verkoop het. En tog het hy God se instrument geword om Israel tydens ’n hongersnood te red. Stefanus het ongetwyfeld die duidelike ooreenkomste tussen Josef en Jesus Christus gesien, maar hy het daardie vergelyking verswyg sodat hy sy gehoor se aandag so lank as moontlik kon hou.
13. Hoe het die bespreking oor Moses ’n antwoord op die aantygings teen Stefanus voorsien, en watter tema het dit help ontwikkel?
13 Die tyd van Moses (Hand. 7:17-43). Aangesien baie lede van die Sanhedrin Sadduseërs was, wat alle Bybelboeke verwerp het behalwe dié wat deur Moses geskryf is, het Stefanus wyslik baie oor Moses gesê. Onthou ook dat Stefanus daarvan aangekla is dat hy Moses beledig het. Stefanus se woorde het ’n direkte antwoord op daardie aantyging voorsien, want hy het getoon dat hy die grootste respek vir Moses en die Wet het (Hand. 7:38). Hy het gemeld dat Moses ook verwerp is deur diegene wat hy probeer red het. Hulle het hom verwerp toe hy 40 jaar oud was. Meer as 40 jaar later het hulle sy leierskap by etlike geleenthede betwis.b Sodoende het Stefanus stelselmatig ’n belangrike tema ontwikkel: God se volk het diegene wat Jehovah aangestel het om hulle te lei, keer op keer verwerp.
14. Watter punte in sy toespraak het Stefanus gestaaf deur Moses se voorbeeld te gebruik?
14 Stefanus het sy gehoor daaraan herinner dat Moses voorspel het dat ’n profeet soos Moses uit Israel sou kom. Wie sou dit wees, en hoe sou hy ontvang word? Stefanus het die antwoorde eers in sy slot gegee. Hy het nog ’n belangrike punt genoem: Moses het uitgevind dat enige grond heilig gemaak kan word, soos in die geval van die grond om die brandende bos, waar Jehovah met hom gepraat het. Kan aanbidding van Jehovah dan beperk word tot ’n enkele gebou, soos die tempel in Jerusalem? Kom ons kyk.
15, 16. (a) Waarom was die tabernakel belangrik vir die redenasie wat Stefanus ontwikkel het? (b) Hoe het Stefanus Salomo se tempel in sy bespreking gebruik?
15 Die tabernakel en die tempel (Hand. 7:44-50). Stefanus het die hof daaraan herinner dat God, voordat daar enige tempel in Jerusalem was, vir Moses gesê het om ’n tabernakel op te rig – ’n verskuifbare, tentagtige struktuur vir aanbidding. Wie sou dit waag om te sê dat die tabernakel minder belangrik was as die tempel, aangesien Moses self daar aanbid het?
16 Later, toe Salomo die tempel in Jerusalem gebou het, is hy geïnspireer om ’n baie belangrike les in sy gebed oor te dra. Soos Stefanus dit gestel het, ‘woon die Allerhoogste nie in huise wat met hande gemaak is nie’ (Hand. 7:48; 2 Kron. 6:18). Jehovah gebruik dalk ’n tempel om sy voornemens te bevorder, maar hy word nie daardeur beperk nie. Waarom sou sy aanbidders dan voel dat rein aanbidding afhanklik is van ’n gebou wat deur mensehande gemaak is? Stefanus het hierdie redenasie kragtig afgesluit deur uit die boek Jesaja aan te haal: “Die hemel is my troon en die aarde is my voetbank. Watter soort huis sal julle vir my bou? sê Jehovah. Of waar is my rusplek? My hand het al hierdie dinge gemaak, nie waar nie?” – Hand. 7:49, 50; Jes. 66:1, 2.
17. Hoe het Stefanus se toespraak (a) die gesindheid van sy toehoorders blootgelê en (b) die aantygings teen hom weerlê?
17 Stem jy nie saam dat hierdie deel van Stefanus se toespraak voor die Sanhedrin alreeds die gesindheid van sy beskuldigers op bedrewe wyse blootgelê het nie? Hy het getoon dat Jehovah se voorneme progressief en dinamies is, nie staties en tradisiegebonde nie. Diegene wat verblind is deur bewondering vir daardie pragtige gebou in Jerusalem en verstrik is deur die gebruike en tradisies wat om die Mosaïese Wet ontwikkel het, het die werklike doel van die Wet en die tempel heeltemal uit die oog verloor! Stefanus se toespraak het by implikasie die belangrike vraag laat ontstaan: Is die beste manier om die Wet en die tempel te eer nie deur aan Jehovah gehoorsaam te wees nie? Stefanus se woorde het inderdaad ’n uitstekende verdediging van sy dade voorsien, aangesien hy tot die beste van sy vermoë aan Jehovah gehoorsaam was.
18. Op watter maniere moet ons Stefanus probeer navolg?
18 Wat kan ons uit Stefanus se toespraak leer? Hy het die Skrif goed geken. Ons moet ook ernstige studente van God se Woord wees as ons “die woord van die waarheid reg [wil] hanteer” (2 Tim. 2:15). Uit Stefanus se voorbeeld kan ons ook leer hoe om aangename woorde te gebruik en taktvol te wees. Sy gehoor kon nouliks meer vyandiggesind gewees het! En tog het hy so lank as moontlik ’n gemeenskaplike grondslag met hulle behou deur dinge te bespreek waarvoor daardie manne hoë agting gehad het. Hy het hulle ook met respek aangespreek en die ouermanne “vaders” genoem (Hand. 7:2). Ons moet ook die waarhede in God se Woord met “sagmoedigheid en diep respek” oordra. – 1 Pet. 3:15.
19. Hoe het Stefanus Jehovah se oordeelsboodskap moedig aan die Sanhedrin oorgedra?
19 Maar ons huiwer nie om die waarhede van God se Woord te verkondig uit vrees dat ons mense kan aanstoot gee nie; ons water ook nie Jehovah se oordeelsboodskappe af nie. Stefanus is ’n goeie voorbeeld hiervan. Hy kon ongetwyfeld sien dat al die getuienis wat hy aan die Sanhedrin voorgelê het, nie juis ’n uitwerking op daardie hardvogtige regters gehad het nie. Onder die invloed van die heilige gees het hy dus sy toespraak afgesluit deur onbevrees vir hulle te sê dat hulle net soos hulle voorvaders is wat Josef, Moses en al die profete verwerp het (Hand. 7:51-53). Trouens, hierdie regters van die Sanhedrin het die Messias vermoor, wie se koms deur Moses en al die profete voorspel is. Hulle het in werklikheid die Mosaïese Wet op die ergste denkbare manier geskend!
“Here Jesus, ontvang my gees” (Handelinge 7:54–8:3)
20, 21. Hoe het die Sanhedrin op Stefanus se woorde gereageer, en hoe het Jehovah hom versterk?
20 Die onweerlegbare waarheid van Stefanus se woorde het daardie regters woedend gemaak. Hulle het hulle selfbeheersing heeltemal verloor en op hulle tande begin kners. Daardie getroue man het sekerlik besef dat hulle geen genade vir hom sou hê nie, net soos dit die geval was met sy Heer, Jesus.
21 Stefanus het moed nodig gehad om te verduur wat vir hom voorgelê het, en hy het ongetwyfeld groot aanmoediging geput uit die visioen wat Jehovah hom toe goedgunstig gegee het. Stefanus het God se heerlikheid gesien, en hy het Jesus aan Jehovah se regterhand sien staan! Toe Stefanus die visioen beskryf, het die regters hulle ore toegedruk. Waarom? Vroeër het Jesus vir hierdie selfde hof gesê dat hy die Messias is en dat hy binnekort aan sy Vader se regterhand sal wees (Mark. 14:62). Stefanus se visioen het bewys dat Jesus die waarheid gepraat het. Daardie Sanhedrin het in werklikheid die Messias verraai en vermoor! Soos een man het hulle op Stefanus afgestorm en hom laat stenig.c
22, 23. In watter opsigte het die dood van Stefanus ooreengekom met dié van sy Heer, en hoe kan Christene van vandag net so vol vertroue soos Stefanus wees?
22 Stefanus se dood het in baie opsigte met dié van sy Heer ooreengekom – met ’n kalm hart, vol vertroue in Jehovah en vergifnis vir sy moordenaars. Hy het gesê: “Here Jesus, ontvang my gees”, moontlik omdat hy nog steeds die Seun van die mens by Jehovah in die visioen kon sien. Stefanus was ongetwyfeld vertroud met Jesus se bemoedigende woorde: “Ek is die opstanding en die lewe” (Joh. 11:25). Laastens het Stefanus met ’n harde stem direk tot God gebid: “Jehovah, moet hulle nie vir hierdie sonde verantwoordelik hou nie.” Nadat hy dit gesê het, het hy gesterf. – Hand. 7:59, 60.
23 Stefanus het dus die eerste opgetekende martelaar onder Christus se volgelinge geword. (Sien die venster “In watter sin ’n ‘martelaar’?”) Maar ongelukkig sou hy beslis nie die laaste wees nie. Vandag nog word party getroue knegte van Jehovah deur godsdiensfanatici, politieke yweraars en ander wrede teenstanders om die lewe gebring. Ons het egter rede om net so vol vertroue soos Stefanus te wees. Jesus heers nou as Koning en oefen die ontsagwekkende mag uit wat sy Vader aan hom gegee het. Niks sal hom keer om sy getroue volgelinge op te wek nie. – Joh. 5:28, 29.
24. Watter aandeel het Saulus aan Stefanus se marteldood gehad, en wat was die langtermynuitwerking van daardie getroue man se dood?
24 ’n Jong man met die naam Saulus het al hierdie gebeure aanskou. Hy het Stefanus se moord goedgekeur en selfs die klere opgepas van dié wat hom gestenig het. Kort daarna het hy aan die spits gestaan van ’n vlaag van wrede vervolging. Maar die dood van Stefanus sou ’n verreikende uitwerking hê. Sy voorbeeld sou ander Christene nog vasbeslotener maak om getrou te bly en ook so te oorwin. Wat meer is, Saulus – wat in latere jare meestal Paulus genoem is – sou uiteindelik met innige spyt terugkyk op sy aandeel aan Stefanus se dood (Hand. 22:20). Hy het gehelp om Stefanus om die lewe te bring, maar hy het later besef: “Ek [was] ’n lasteraar en ’n vervolger en ’n trotse man” (1 Tim. 1:13). Paulus het Stefanus en die kragtige toespraak wat hy daardie dag gehou het, klaarblyklik nooit vergeet nie. Trouens, party van Paulus se toesprake en geskrifte het temas ontwikkel wat in Stefanus se toespraak aangeroer is (Hand. 7:48; 17:24; Heb. 9:24). Mettertyd het Paulus ten volle geleer om die voorbeeld van geloof en moed te volg wat gestel was deur Stefanus, ’n man “wat God se goedkeuring en krag gehad het”. Die vraag is: Sal ons?
a Party van hierdie teenstanders het aan die “Sinagoge van die Vrygelatenes” behoort. Hulle is dalk vroeër deur die Romeine gevange geneem en later vrygelaat, of hulle was moontlik vrygelate slawe wat Joodse proseliete geword het. Party het van Silisië af gekom, net soos Saulus van Tarsus. Die verslag sê nie of Saulus onder daardie Silisiërs was wat niks teen Stefanus se redenering kon sê nie.
b Stefanus se toespraak bevat inligting wat ons nêrens anders in die Bybel kan vind nie, soos feite oor Moses se Egiptiese opvoeding, sy ouderdom toe hy uit Egipte gevlug het en die lengte van sy verblyf in Midian.
c Dit is te betwyfel dat die Sanhedrin onder die Romeinse reg die gesag gehad het om ’n teregstellingsbevel te gee (Joh. 18:31). Hoe dit ook al sy, dit lyk of Stefanus se dood eerder ’n moord deur ’n woedende skare was as ’n geregtelike daad.