Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Handelinge
DIE Bybelboek Handelinge voorsien ’n breedvoerige geskiedenis van die stigting van die Christengemeente en die uitbreiding wat daarop gevolg het. Dit is geskryf deur die geneesheer Lukas en bevat ’n dinamiese verslag van Christelike bedrywighede oor ’n tydperk van 28 jaar—vanaf 33 G.J. tot 61 G.J.
Die eerste deel van Handelinge beskryf hoofsaaklik die bedrywighede van die apostel Petrus, en die laaste deel handel oor dié van die apostel Paulus. Deur die voornaamwoord “ons” te gebruik, dui Lukas aan dat hy teenwoordig was toe sekere gebeurtenisse plaasgevind het. As ons aandag skenk aan die boodskap van die boek Handelinge, sal dit ons waardering vergroot vir die krag van God se geskrewe Woord en sy heilige gees (Heb. 4:12). Dit sal ons ook beweeg om selfopofferend te wees en sal ons geloof in die Koninkrykshoop versterk.
PETRUS GEBRUIK “DIE SLEUTELS VAN DIE KONINKRYK”
Nadat die apostels die heilige gees ontvang het, lewer hulle ’n moedige getuienis. Petrus gebruik die eerste van “die sleutels van die koninkryk van die hemele” om die deur van kennis en geleentheid te ontsluit vir Jode en proseliete wat “sy woord . . . aangeneem het” om in die Koninkryk in te gaan (Matt. 16:19; Hand. 2:5, 41). ’n Vlaag van vervolging verstrooi van die dissipels, maar dit lei tot die uitbreiding van die predikingswerk.
Wanneer die apostels in Jerusalem hoor dat Samaria die woord van God aangeneem het, stuur hulle Petrus en Johannes na hulle toe. Petrus gebruik die tweede sleutel wanneer hy vir die Samaritane die geleentheid ontsluit om in die Koninkryk in te gaan (Hand. 8:14-17). Moontlik binne ’n jaar ná Jesus se opstanding vind ’n verbasende verandering in Saulus van Tarsus plaas. In 36 G.J. gebruik Petrus die derde sleutel, en die vrye gawe van die heilige gees word op onbesnede mense van die nasies uitgestort.—Hand. 10:45.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:44-47; 4:34, 35—Waarom het gelowiges hulle besittings verkoop en die opbrengs verdeel? Baie wat gelowiges geword het, het van vergeleë plekke gekom en het nie genoeg middele gehad om hulle verblyf in Jerusalem te verleng nie. Maar hulle wou langer bly sodat hulle meer omtrent hulle nuwe geloof kon leer en vir ander kon getuig. Om hierdie mense te help, het party Christene hulle eiendom verkoop, en die opbrengs is verdeel onder dié wat dit nodig gehad het.
4:13—Was Petrus en Johannes ongeletterd of ongeleerd? Nee, hulle was nie. Hulle is “ongeleerde en gewone mense” genoem omdat hulle nie die rabbynse skole vir godsdiensopleiding bygewoon het nie.
5:34-39—Hoe het Lukas geweet wat Gamaliël in ’n geslote sessie van die Sanhedrin gesê het? Daar is ten minste drie moontlikhede: (1) Paulus, ’n voormalige student van Gamaliël, het vir Lukas vertel; (2) Lukas het ’n goedgesinde lid van die Sanhedrin, soos Nikodemus, geraadpleeg; (3) Lukas het hierdie inligting deur goddelike inspirasie ontvang.
7:59—Het Stefanus tot Jesus gebid? Nee, hy het nie. Aanbidding—en derhalwe gebede—moet slegs tot Jehovah God gerig word (Luk. 4:8; 6:12). Onder gewone omstandighede sou Stefanus tot Jehovah gebid het in die naam van Jesus (Joh. 15:16). Maar in hierdie geval het Stefanus ’n visioen gehad van “die Seun van die mens wat aan God se regterhand staan” (Hand. 7:56). Omdat Stefanus ten volle daarvan bewus was dat Jesus die mag gegee is om die dooies op te wek, het hy regstreeks met Jesus gepraat—nie tot hom gebid nie—en hom gevra om sy gees te bewaar.—Joh. 5:27-29.
Lesse vir ons:
1:8. Die wêreldwye getuieniswerk wat deur Jehovah se aanbidders gedoen word, kan nie sonder die hulp van die heilige gees verrig word nie.
4:36–5:11. Josef van Siprus is die bynaam Barnabas gegee, wat “Seun van Vertroosting” beteken. Die apostels het hom moontlik Barnabas genoem omdat hy goedhartig, vriendelik en behulpsaam teenoor ander was. Ons moet soos hy wees en nie soos Ananias en Saffira nie, wat ’n valse indruk probeer skep het en huigelagtig en onderduims was.
9:23-25. Om ons vyande te ontwyk sodat ons die predikingswerk kan voortsit, is nie lafhartig nie.
9:28-30. As dit fisies, sedelik of geestelik gevaarlik word om in sekere buurte of vir sekere mense te getuig, moet ons versigtig en selektief wees ten opsigte van waar en wanneer ons getuig.
9:31. Gedurende betreklik vreedsame tye moet ons daarna streef om ons geloof deur studie en bepeinsing te versterk. Dit sal ons help om in die vrees van Jehovah te wandel as ons toepas wat ons leer en ywerig in die bediening is.
PAULUS SE YWERIGE BEDIENING
In 44 G.J. kom Agabus na Antiogië, waar Barnabas en Saulus “’n hele jaar lank” onderrig het. Agabus voorspel “’n groot hongersnood”, wat twee jaar later plaasvind (Hand. 11:26-28). “Nadat hulle die noodleniging in Jerusalem ten volle uitgevoer het”, keer Barnabas en Saulus terug na Antiogië (Hand. 12:25). In 47 G.J.—omtrent 12 jaar ná Saulus se bekering—word Barnabas en Saulus deur die heilige gees op ’n sendingreis gestuur (Hand. 13:1-4). In 48 G.J. keer hulle terug na Antiogië, “waar hulle vroeër aan die onverdiende goedhartigheid van God toevertrou is”.—Hand. 14:26.
Ongeveer nege maande later kies Paulus (ook bekend as Saulus) Silas as sy metgesel en vertrek hy op sy tweede sendingreis (Hand. 15:40). Timoteus en Lukas sluit gedurende hierdie reis by Paulus aan. Lukas bly in Filippi terwyl Paulus voortreis na Atene en dan na Korinte, waar hy Aquila en Priscilla ontmoet en ’n jaar en ses maande deurbring (Hand. 18:11). Paulus laat Timoteus en Silas in Korinte agter en neem Aquila en Priscilla saam met hom wanneer hy vroeg in 52 G.J. na Sirië wegseil (Hand. 18:18). Aquila en Priscilla vergesel hom tot by Efese, waar hulle agterbly.
Nadat Paulus ’n ruk lank in Siriese Antiogië gebly het, vertrek hy in 52 G.J. op sy derde sendingreis (Hand. 18:23). In Efese bly “die woord van Jehovah op ’n magtige wyse . . . groei en seëvier” (Hand. 19:20). Paulus bring sowat drie jaar hier deur (Hand. 20:31). Teen Pinkster van 56 G.J. is Paulus in Jerusalem. Nadat hy in hegtenis geneem is, getuig hy onbevrees voor die owerheid. In Rome word die apostel vir twee jaar (ca. 59-61 G.J.) onder huisarres geplaas, en hier vind hy maniere om van die Koninkryk te getuig en “die dinge aangaande die Here Jesus Christus” aan ander te leer.—Hand. 28:30, 31.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
14:8-13—Waarom het mense in Listra “Barnabas Zeus begin noem, maar Paulus Hermes”? In Griekse mitologie was Zeus die heerser van die gode en was sy seun Hermes bekend vir sy welsprekendheid. Aangesien Paulus hoofsaaklik die praatwerk gedoen het, het die mense van Listra hom Hermes en Barnabas Zeus genoem.
16:6, 7—Waarom het die heilige gees Paulus en sy metgeselle verbied om in die landstreek Asië en Bitinië te preek? Daar was net ’n paar werkers. Daarom het die heilige gees hulle na vrugbaarder velde gerig.
18:12-17—Waarom het prokonsul Gallio nie ingegryp toe omstanders Sostenes begin slaan het nie? Gallio het miskien gedink dat die man wat skynbaar die opstoker van die oproer teen Paulus was, sy verdiende loon ontvang het. Maar hierdie voorval het klaarblyklik ’n goeie gevolg gehad omdat dit daartoe gelei het dat Sostenes hom tot die Christelike geloof bekeer het. Later praat Paulus van Sostenes as “ons broer”.—1 Kor. 1:1.
18:18—Watter gelofte het Paulus gemaak? Party geleerdes is van mening dat Paulus ’n Nasireërgelofte afgelê het (Num. 6:1-21). Maar die Bybel sê nie wat Paulus se gelofte was nie. Wat meer is, die Skrif sê ook nie of die gelofte voor of ná Paulus se bekering gemaak is en of dit die begin of einde van die gelofte was nie. Hoe dit ook al sy, dit was nie ’n sonde om so ’n gelofte af te lê nie.
Lesse vir ons:
12:5-11. Ons kan en moet vir ons broers bid.
12:21-23; 14:14-18. Herodes het met graagte heerlikheid aanvaar wat slegs God toegekom het. Wat ’n teenstelling vorm dit tog met hoe vinnig en nadruklik Paulus en Barnabas ongepaste lof en eer verwerp het! Ons moenie heerlikheid begeer vir enigiets wat ons dalk in Jehovah se diens bereik nie.
14:5-7. As ons versigtigheid aan die dag lê, kan dit ons help om bedrywig in die diens te bly.—Matt. 10:23.
14:22. Christene verwag verdrukking. Hulle probeer dit nie ontduik deur hulle geloof prys te gee nie.—2 Tim. 3:12.
16:1, 2. Jong Christene moet hulle op geestelike gebied inspan en Jehovah se hulp vra om ’n goeie reputasie op te bou.
16:3. Ons moet alles moontlik binne skriftuurlike perke doen om die goeie nuus vir ander aanneemlik te maak.—1 Kor. 9:19-23.
20:20, 21. Getuieniswerk van huis-tot-huis is ’n baie belangrike aspek van ons bediening.
20:24; 21:13. Dit is belangriker om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf as om ons lewe te bewaar.
21:21-26. Ons moet bereid en gretig wees om goeie raad te aanvaar.
25:8-12. Christene kan en moet vandag gebruik maak van beskikbare regsmiddele “in die verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus”.—Fil. 1:7.
26:24, 25. Ons moet “woorde van waarheid en van gesonde verstand” bekend maak, al is dit dwaasheid vir “’n fisiese mens”.—1 Kor. 2:14.
[Prent op bladsy 30]
Wanneer het Petrus “die sleutels van die koninkryk” gebruik?
[Prent op bladsy 31]
Die wêreldwye getuieniswerk kan nie sonder die hulp van die heilige gees verrig word nie