Saulus ontmoet ou vriende en voormalige vyande
DIT was ongetwyfeld met ’n mate van benoudheid dat Saulus, wat later as die apostel Paulus bekend gestaan het, vir die eerste keer sedert sy bekering tot die Christelike godsdiens na Jerusalem teruggekeer het.a Hy het die stad drie jaar vroeër verlaat, terwyl hy dreiging en moord teen Jesus se dissipels geblaas het. Hy het magtiging gehad om enige Christen wat hy in Damaskus vind, in hegtenis te neem.—Handelinge 9:1, 2; Galasiërs 1:18.
Nadat hy self ’n Christen geword het, het Saulus sy geloof in die verrese Messias met vrymoedigheid bekend gemaak. Gevolglik wou die Jode in Damaskus hom doodmaak (Handelinge 9:19-25). Kon hy werklik verwag dat sy voormalige Joodse vriende in Jerusalem hom hartlik sou verwelkom? Wat egter vir Saulus belangriker was, was om in aanraking te kom met Christus se volgelinge in Jerusalem. Dit sou nie maklik wees nie.
“Toe hy in Jerusalem aankom, het hy pogings aangewend om by die dissipels aan te sluit; maar hulle was almal bang vir hom, omdat hulle nie geglo het dat hy ’n dissipel is nie” (Handelinge 9:26). ’n Mens kan dit verstaan. Laas toe hulle gehoor het, was hy nog ’n genadelose vervolger. Sy bewering dat hy ’n Christen is, het dalk geklink na ’n slenter om die gemeente binne te dring. Die Christene in Jerusalem wou hom dus op ’n afstand hou.
Maar een van hulle het Saulus wel gehelp. Die Bybel sê dat Barnabas die voormalige vervolger “na die apostels toe” gelei het, blykbaar met verwysing na Petrus (Sefas) en Jakobus, die broer van die Here, en hulle ingelig het omtrent Saulus se bekering en sy predikingswerk in Damaskus (Handelinge 9:27; Galasiërs 1:18, 19). Daar word nie gesê waarom Barnabas Saulus vertrou het nie. Het die twee mekaar dalk geken, sodat Barnabas beweeg is om Saulus deeglik uit te vra en toe vir sy opregtheid in te staan? Was Barnabas in aanraking met Christene in Damaskus, sodat hy geweet het van Saulus se ommeswaai? Hoe dit ook al sy, Barnabas het agterdog oor Saulus uit die weg geruim. Gevolglik het Saulus 15 dae by die apostel Petrus gebly.
Vyftien dae by Petrus
Aangesien Saulus sy opdrag regstreeks van Jesus ontvang het, was dit nie nodig dat enige mens dit goedkeur nie, soos hy vir die Galasiërs beklemtoon het (Galasiërs 1:11, 12). Maar Saulus het ongetwyfeld besef hoe belangrik dit is om goed ingelig te wees omtrent Jesus se bediening. Sy verblyf by Petrus sou Saulus voldoende geleentheid daarvoor gee (Lukas 24:12; 1 Korintiërs 15:3-8). Saulus sou Petrus en Jakobus baie dinge kon vra, en hulle sou Saulus kon uitvra oor sy visioen en sy opdrag.
Gered van voormalige vriende?
Stefanus is al die eerste Christenmartelaar genoem. Diegene met wie Stefanus vroeër geredeneer het, was van “die sogenaamde Sinagoge van die Vrygelatenes . . . , en van die Sireneërs en Aleksandryne en van dié wat uit Silisië en Asië was”. Nou het Saulus “met die Griekssprekende Jode”, of “die Helleniste”, geredeneer en vrymoedig vir hulle getuig. Die reaksie? Hulle wou hom doodmaak.—Handelinge 6:9; 9:28, 29, voetnoot in NW.
Saulus sou natuurlik die drastiese verandering in sy lewe wou verduidelik en sy voormalige vriende oor die Messias wou inlig. Maar hierdie Joodse Helleniste het venynig gereageer teenoor die man wat hulle as ’n verraaier beskou het.
Het Saulus besef in watter gevaar hy verkeer? Ons lees dat daar ’n verrukking oor hom gekom het terwyl hy in die tempel gebid het en dat hy Jesus gesien het, wat vir hom gesê het: “Maak gou en gaan sonder versuim uit Jerusalem uit, want hulle sal nie jou getuienis omtrent my aanvaar nie.” Saulus het geantwoord: “Here, hulle weet self goed dat ek dié wat in u glo, in die gevangenis gegooi en in die een sinagoge na die ander geslaan het; en toe die bloed van Stefanus, u getuie, vergiet is, het ek self ook daar gestaan en dit goedgekeur.”—Handelinge 22:17-20.
Party meen dat Saulus se antwoord beteken dat hy die gevaar erken het. Ander dink dat hy gesê het: ‘Ek was ’n vervolger soos hulle, en hulle weet dit. Hulle moet tog sekerlik my bekering ernstig opneem. Miskien kan ek tot hulle deurdring.’ Maar Jesus het geweet dat daardie Jode nie na die getuienis van ’n “afvallige” sou luister nie. Hy het vir Saulus gesê: “Gaan, want ek sal jou na verafgeleë nasies uitstuur.”—Handelinge 22:21, 22.
Toe mede-Christene die gevaar besef, het hulle Saulus haastig na die hawestad Sesarea geneem en hom op die 500 kilometer lange reis na Tarsus, sy tuisstad, gestuur (Handelinge 9:30). ’n Hele paar jaar het verloop voordat Saulus na Jerusalem teruggekeer het.
Hierdie haastige vertrek het moontlik die Christengemeente beskerm. Die voormalige vervolger se teenwoordigheid kon groot probleme veroorsaak het. Ná Saulus se vertrek “het die gemeente deur die hele Judea en Galilea en Samaria . . . ’n tydperk van vrede ingegaan en is dit opgebou; en terwyl dit in die vrees van Jehovah en in die vertroosting van die heilige gees gewandel het, het dit bly vermeerder”.—Handelinge 9:31.
Lesse wat ons leer om versigtig te wees
Soos in die eerste eeu, kan situasies vandag ontstaan waarin dit gepas is om versigtig te wees. Ons het geen rede om uitermate agterdogtig teenoor vreemdelinge te wees nie. Maar gewetenlose mense het Jehovah se volk al soms probeer uitbuit, hetsy vir persoonlike gewin of met die doel om die gemeente leed aan te doen. Ons lê dus onderskeidingsvermoë aan die dag sodat ons nie slagoffers van die misleiding van bedrieërs word nie.—Spreuke 3:27; 2 Timoteus 3:13.
Saulus se optrede toe hy in Jerusalem gepreek het, dui op nog ’n manier waarop Christene versigtig kan wees. Dit kan gevaarlik wees—fisies, geestelik of selfs sedelik—om in sekere omgewings of vir sommige mense te getuig, insluitende voormalige vriende. Dit is goed om gepaste voorsorg te tref, soos om selektief te wees wat die tyd en plek betref.—Spreuke 22:3; Matteus 10:16.
Ons kan seker wees dat die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig sal word voordat die einde van hierdie goddelose stelsel aanbreek. Wat ’n goeie voorbeeld het Saulus tog in hierdie opsig gestel deurdat hy selfs met ou vriende en voormalige vyande “vrymoedig in die naam van die Here gespreek het”!—Handelinge 9:28.
[Voetnoot]
a Saulus is vandag beter bekend as die apostel Paulus. Maar in die meeste Bybelverse wat in hierdie artikel aangegee word, word hy by sy Joodse naam, Saulus, genoem.—Handelinge 13:9.
[Prent op bladsy 16]
Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy vrymoedig vir die Griekssprekende Jode getuig