Laat die gemeente Jehovah loof
“Ek sal u naam aan my broers bekend maak; in die midde van die gemeente sal ek u . . . loof.”—HEBREËRS 2:12.
1, 2. Waarom is die gemeentereëling so voordelig, en wat is die sleutelrol van die gemeente?
DEUR die geskiedenis heen het mense kameraadskap en geborgenheid binne die basiese gesinseenheid gevind. Maar die Bybel identifiseer ’n ander eenheid waarin tallose mense regoor die aarde vandag uitsonderlike kameraadskap en geborgenheid geniet. Dit is die Christengemeente. Of jy deel is van ’n hegte, ondersteunende gesin of nie, jy kan en moet waardeer wat God deur die gemeentereëling voorsien het. As jy natuurlik reeds met ’n gemeente van Jehovah se Getuies omgaan, kan jy waarskynlik getuig van die hartlike kameraadskap en die gevoel van geborgenheid wat jy daar geniet.
2 Die gemeente is nie bloot ’n sosiale groep nie. Dit is nie ’n gemeenskapsvereniging of ’n klub waar mense met ’n soortgelyke agtergrond of dieselfde belangstelling in ’n sport of ’n stokperdjie bymekaarkom nie. Die gemeentereëling is hoofsaaklik daar om Jehovah God te loof. Dit is lank reeds die geval, soos die boek Psalms duidelik toon. In Psalm 35:18 lees ons: “Ek sal u in die groot gemeente prys; onder ’n talryke volk sal ek u loof.” Psalm 107:31, 32 moedig ons eweneens aan: “Laat mense Jehovah dank vir sy liefderyke goedhartigheid en vir sy wonderlike werke teenoor die mensekinders. En laat hulle hom in die gemeente van die volk verhef.”
3. Wat doen die gemeente volgens Paulus?
3 Die Christenapostel Paulus het nog ’n noodsaaklike rol van die gemeente beklemtoon toe hy verwys het na “God se huisgesin . . . , wat die gemeente van die lewende God is, ’n pilaar en stut van die waarheid” (1 Timoteus 3:15). Van watter gemeente het Paulus gepraat? Hoe gebruik die Bybel die term “gemeente”? En watter uitwerking moet dit op ons lewe en vooruitsigte hê? Om uit te vind, kom ons kyk eers hoe die term “gemeente” in God se Woord gebruik word.
4. Hoe word die woord “gemeente” meestal in die Hebreeuse Geskrifte gebruik?
4 Die Hebreeuse woord wat dikwels met “gemeente” vertaal word, kom van ’n grondwoord wat “bymekaarroep” of “laat bymekaarkom” beteken (Deuteronomium 4:10; 9:10). Die psalmis het “gemeente” gebruik met verwysing na die engele in die hemel; dit kan ook gebruik word in verband met ’n groep kwaaddoeners (Psalm 26:5; 89:5-7). Maar in die Hebreeuse Geskrifte verwys dit meestal na die Israeliete. God het aangedui dat Jakob “’n versameling [of, gemeente] van volke” sou word, en dit het wel gebeur (Genesis 28:3; 35:11; 48:4). Die Israeliete is geroep, of gekies, om “Jehovah se gemeente”, “die gemeente van die ware God”, te wees.—Numeri 20:4; Nehemia 13:1; Josua 8:35; 1 Samuel 17:47; Miga 2:5.
5. Watter Griekse woord word gewoonlik as “gemeente” vertaal, en hoe kan hierdie woord toegepas word?
5 Die ooreenstemmende Griekse woord is ek·kle·siʹa, wat afkomstig is van twee Griekse woorde wat “uit” en “roep” beteken. Dit kan toegepas word op ’n sekulêre groep, soos “die vergadering” wat Demetrius in Efese teen Paulus opgestook het (Handelinge 19:32, 39, 41). Maar die Bybel gebruik dit oor die algemeen met verwysing na die Christengemeente. Party vertalings gee hierdie woord met “kerk” weer, maar The Imperial Bible-Dictionary sê dat dit “nooit . . . na die gebou self verwys waarin Christene vir openbare aanbidding vergader het nie”. Dit is egter interessant dat die woord “gemeente” in die Christelike Griekse Geskrifte op ten minste vier verskillende maniere toegepas word.
Die gesalfde gemeente van God
6. Wat het Dawid en Jesus in die gemeente gedoen?
6 Die apostel Paulus het Dawid se woorde in Psalm 22:22 op Jesus toegepas en geskryf: “‘Ek sal u naam aan my broers bekend maak; in die midde van die gemeente sal ek u met sang loof.’ Gevolglik was [Jesus] verplig om in alle opsigte soos sy ‘broers’ te word, sodat hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester in die dinge in verband met God kon word” (Hebreërs 2:12, 17). Dawid het God in die midde van die gemeente van eertydse Israel geloof (Psalm 40:9). Maar waarna het Paulus verwys toe hy gesê het dat Jesus God “in die midde van die gemeente” geloof het? Watter gemeente?
7. Hoe word die woord “gemeente” hoofsaaklik in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik?
7 Wat ons in Hebreërs 2:12, 17 lees, is betekenisvol. Dit toon dat Christus ingesluit is as ’n lid van ’n gemeente waar hy God se naam aan sy broers bekend gemaak het. Wie was hierdie broers? Diegene wat deel uitmaak van “Abraham se saad”, die geesgesalfde broers van Christus, “deelgenote van die hemelse roeping” (Hebreërs 2:16–3:1; Matteus 25:40). Ja, die hoofbetekenis van “gemeente” in die Christelike Griekse Geskrifte is die saamgestelde groep geesgesalfde volgelinge van Christus. Hierdie 144 000 gesalfdes maak “die gemeente van die eersgeborenes [uit], wat in die hemele opgeskryf is”.—Hebreërs 12:23.
8. Hoe het Jesus vooruitgewys na die vorming van die Christengemeente?
8 Jesus het aangedui dat hierdie Christen-“gemeente” gevorm sou word. Ongeveer ’n jaar voor sy dood het hy vir een van die apostels gesê: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal ek my gemeente bou, en die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie” (Matteus 16:18). Petrus sowel as Paulus het reg verstaan dat Jesus self die voorspelde rots was. Petrus het geskryf dat diegene wat as “lewende stene” van ’n geestelike huis op die rots, Christus, gebou word, “’n volk vir spesiale besit [is om] die voortreflikhede alom bekend [te] maak” van die Een wat hulle geroep het.—1 Petrus 2:4-9; Psalm 118:22; Jesaja 8:14; 1 Korintiërs 10:1-4.
9. Wanneer is daar begin om die gemeente van God te vorm?
9 Wanneer is daar begin om hierdie “volk vir spesiale besit” tot die Christengemeente te vorm? Dit was op Pinkster 33 G.J. toe God heilige gees uitgestort het op die dissipels wat in Jerusalem vergader het. Later daardie dag het Petrus ’n meesterlike toespraak vir ’n groep Jode en proseliete gehou. Baie is diep in die hart getref oor Jesus se dood; hulle het berou getoon en is gedoop. Ons vind in die geskiedkundige verslag dat drieduisend dit gedoen het, waarna hulle deel van die nuwe en groeiende gemeente van God geword het (Handelinge 2:1-4, 14, 37-47). Dit het gegroei omdat al hoe meer Jode en proseliete die feit aanvaar het dat vleeslike Israel nie meer die gemeente van God was nie. Gesalfde Christene wat die geestelike “Israel van God” uitgemaak het, het in die plek daarvan die ware gemeente van God geword.—Galasiërs 6:16; Handelinge 20:28.
10. Wat is Jesus se verhouding tot die gemeente van God?
10 Die Bybel tref dikwels ’n onderskeid tussen Jesus en die gesalfdes, soos in die frase “met betrekking tot Christus en die gemeente”. Jesus is die Hoof van hierdie gemeente van geesgesalfde Christene. Paulus het geskryf dat God Jesus “hoof oor alles gemaak [het] met betrekking tot die gemeente, wat sy liggaam is” (Efesiërs 1:22, 23; 5:23, 32; Kolossense 1:18, 24). Vandag is daar net ’n klein oorblyfsel van die gesalfde lede van hierdie gemeente op die aarde oor. Ons kan egter seker wees dat hulle Hoof, Jesus Christus, hulle liefhet. Sy gevoelens vir hulle word in Efesiërs 5:25 beskryf: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee.” Hy het hulle lief omdat hulle aan God “’n lofoffer bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak”, net soos Jesus gedoen het toe hy op die aarde was.—Hebreërs 13:15.
“Gemeente”—in ander betekenisse
11. Op watter tweede manier gebruik die Christelike Griekse Geskrifte “gemeente”?
11 Soms gebruik die Bybel die term “gemeente” in ’n meer beperkte of bepaalde sin, wat nie van toepassing is op die hele groep van 144 000 gesalfdes wat “die gemeente van God” uitmaak nie. Paulus het byvoorbeeld aan een groep Christene geskryf: “Sorg dat julle nie oorsake van struikeling vir Jode sowel as Grieke en vir die gemeente van God word nie” (1 Korintiërs 10:32). As ’n Christen in eertydse Korinte hom onbehoorlik gedra het, kon dit natuurlik vir party ’n oorsaak van struikeling gewees het. Maar sou dit alle Grieke, Jode of gesalfdes tot vandag toe kon laat struikel? Nouliks. Dit lyk dus of “die gemeente van God” in hierdie vers van toepassing is op Christene wat op ’n spesifieke tyd lewe. Gevolglik kan ’n mens sê God lei, sien om na of seën die gemeente, met verwysing na alle Christene op ’n gegewe tyd, waar hulle hulle ook al bevind. Of ons kan praat van die geluk en vrede wat vandag in God se gemeente heers, dit wil sê onder die hele Christenbroederskap.
12. Op watter derde manier word “gemeente” in die Bybel gebruik?
12 ’n Derde manier waarop die Bybel “gemeente” gebruik, is met verwysing na alle Christene in ’n geografiese gebied. Ons lees: “Die gemeente deur die hele Judea en Galilea en Samaria [het] ’n tydperk van vrede ingegaan” (Handelinge 9:31). Daar was meer as een groep Christene in daardie groot gebied, maar daar is na almal van hulle in Judea, Galilea en Samaria as “die gemeente” verwys. Met die oog op die aantal mense wat op Pinkster 33 G.J. en kort daarna gedoop is, kon daar selfs meer as een groep gereeld in die omgewing van Jerusalem vergader het (Handelinge 2:41, 46, 47; 4:4; 6:1, 7). Herodes Agrippa I het tot sy dood in 44 G.J. oor Judea geheers, en dit blyk duidelik uit 1 Tessalonisense 2:14 dat daar ten minste teen 50 G.J. etlike gemeentes in Judea was. Wanneer ons dus lees dat Herodes “party van die lede van die gemeente . . . mishandel” het, verwys dit moontlik na meer as net een groep wat in Jerusalem byeengekom het.—Handelinge 12:1.
13. Wat is ’n vierde en algemene manier waarop die Bybel “gemeente” gebruik?
13 ’n Vierde, selfs meer beperkte en algemene gebruik van die term “gemeente” verwys na Christene in net een plaaslike gemeente, soos dié in ’n huis. Paulus het “die gemeentes van Galasië” gemeld. Daar was meer as een sodanige gemeente in daardie groot Romeinse provinsie. Paulus het twee keer in verband met Galasië die meervoud “gemeentes” gebruik, wat dié in Antiogië, Derbe, Listra en Ikonium sou ingesluit het. Bekwame ouer manne, of opsieners, is in hierdie plaaslike gemeentes aangestel (1 Korintiërs 16:1; Galasiërs 1:2; Handelinge 14:19-23). Volgens die Bybel was hulle almal “gemeentes van God”.—1 Korintiërs 11:16; 2 Tessalonisense 1:4.
14. Wat kan ons aflei uit die gebruik van “gemeente” in ’n paar tekste?
14 In sommige gevalle was die groepe wat vir Christelike vergaderinge byeengekom het, klein genoeg om in ’n huis te vergader. Die woord “gemeente” is nogtans op party van hierdie groepe toegepas. Ons weet byvoorbeeld van gemeentes in die huis van Aquila en Prisca, Nimfa en Filemon (Romeine 16:3-5; Kolossense 4:15; Filemon 2). Dít behoort vandag ’n bron van aanmoediging te wees vir plaaslike gemeentes wat redelik klein is en wat dalk selfs gereeld in ’n huis vergader. Jehovah het in die eerste eeu sulke klein gemeentes erken, en hy doen dit beslis vandag—hy seën hulle deur middel van sy gees.
Gemeentes loof Jehovah
15. Hoe is die werking van die heilige gees in party van die vroeë gemeentes geopenbaar?
15 Ons het gesien dat Jesus, ter vervulling van Psalm 22:22, God in die midde van die gemeente geloof het (Hebreërs 2:12). Sy getroue volgelinge moes dit ook doen. In die eerste eeu, toe ware Christene met heilige gees gesalf is om seuns van God en sodoende Christus se broers te word, het party ’n bykomende, spesiale werking van die gees ontvang. Hulle het wonderdadige gawes van die gees ontvang. Van hierdie gawes was in die vorm van spesiale woorde van wysheid of kennis, die krag om te genees of te profeteer, of selfs die vermoë om in tale te praat wat hulle nie geken het nie.—1 Korintiërs 12:4-11.
16. Wat was een doel van wonderdadige gawes van die gees?
16 Paulus het aangaande talespraak gesê: “Ek sal met die gawe van die gees lofsing, maar ek sal ook met my verstand lofsing” (1 Korintiërs 14:15). Hy het besef hoe belangrik dit is dat ander sy woorde verstaan en daardeur onderrig word. Paulus het hom dit ten doel gestel om Jehovah in die gemeente te loof. Hy het ander wat die gawes van die gees gehad het, aangespoor: “Probeer om oorvloediger daarin te wees tot opbouing van die gemeente”, met ander woorde die plaaslike gemeente waar hulle die gawe geopenbaar het (1 Korintiërs 14:4, 5, 12, 23). Dit is duidelik dat Paulus in die plaaslike gemeentes belanggestel het en geweet het dat Christene in elk van hierdie gemeentes geleenthede sou hê om God te loof.
17. Waarvan kan ons seker wees wat plaaslike gemeentes van vandag betref?
17 Jehovah gebruik en ondersteun nog steeds sy gemeente. Hy seën die saamgestelde groep gesalfde Christene wat vandag op die aarde is. Dit kan gesien word uit die oorvloedige geestelike voedsel wat God se volk geniet (Lukas 12:42). Hy seën die wêreldwye broederskap as ’n geheel. En hy seën die plaaslike gemeentes, waar ons ons Skepper deur ons dade en opbouende geestelike kommentare loof. Ons ontvang onderrigting en opleiding daar sodat ons God kan loof by ander geleenthede, wanneer ons nie fisies in die midde van ons plaaslike gemeente is nie.
18, 19. Wat wil toegewyde Christene in enige plaaslike gemeente doen?
18 Onthou dat die apostel Paulus Christene in die plaaslike gemeente in Filippi, Masedonië, aangespoor het: “Dit is wat ek aanhou bid, dat julle . . . vervul kan word met regverdige vrugte, wat deur Jesus Christus is, tot heerlikheid en lof van God.” Dit sou insluit dat hulle met ander, met buitestanders, oor hulle geloof in Jesus en hulle wonderlike hoop praat (Filippense 1:9-11; 3:8-11). Paulus het mede-Christene dus aangespoor: “Laat ons deur [Jesus] altyd aan God ’n lofoffer bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak.”—Hebreërs 13:15.
19 Skep jy, soos Jesus, behae daarin om God “in die midde van die gemeente” te loof en jou lippe te gebruik om Jehovah voor diegene te loof wat hom nog moet leer ken en loof? (Hebreërs 2:12; Romeine 15:9-11). Ons persoonlike antwoord hang moontlik in sekere mate af van hoe ons voel oor die rol wat ons plaaslike gemeente in God se voorneme speel. Kom ons kyk in die volgende artikel hoe Jehovah ons plaaslike gemeente rig en gebruik en watter rol dit vandag in ons lewens moet speel.
Onthou jy?
• Hoe het “die gemeente van God”, wat uit gesalfde Christene bestaan, tot stand gekom?
• Op watter ander drie maniere gebruik die Bybel die term “gemeente”?
• Wat wou Dawid, Jesus en eerste-eeuse Christene doen met betrekking tot die gemeente, en watter uitwerking moet dit op ons hê?
[Prent op bladsy 21]
Van watter gemeente was Jesus die fondament?
[Prent op bladsy 23]
Plaaslike groepe Christene het as “gemeentes van God” vergader
[Prent op bladsy 24]
Soos Christene in Benin, kan ons Jehovah onder die versamelde menigtes loof