HOOFSTUK 9
‘God is nie partydig nie’
Die predikingswerk bereik onbesnede nie-Jode Gebaseer op
Gebaseer op Handelinge 10:1–11:30
1-3. Watter visioen ontvang Petrus, en waarom moet ons die sin daarvan begryp?
DIT is die jaar 36 HJ. Die herfsson skyn op Petrus terwyl hy op die plat dak van ’n huis naby die see in die hawestad Joppe bid. Hy is al ’n paar dae lank ’n gas in hierdie huis. Sy bereidwilligheid om hier te bly, toon in sekere mate ’n onbevooroordeelde gesindheid. Die eienaar, ’n sekere Simon, is ’n leerlooier van beroep, en daar is min Jode wat by so ’n man sal bly.a Nogtans sal Petrus binnekort ’n belangrike les aangaande Jehovah se onpartydigheid leer.
2 Terwyl Petrus bid, kom daar ’n verrukking oor hom. Wat hy in ’n visioen sien, sou enige Jood ontstel. Uit die hemel daal ’n voorwerp neer wat soos ’n laken lyk, waarin daar diere is wat volgens die Wet onrein is. Petrus word gesê om te slag en te eet, en hy antwoord: “Ek het nog nooit iets geëet wat onrein of onheilig is nie”. Nie een keer nie, maar drie keer word daar vir hom gesê: “Hou op om die dinge wat God gereinig het, onrein te noem” (Hand. 10:14-16). Ná die visioen is Petrus verward, maar nie vir lank nie.
3 Wat het Petrus se visioen beteken? Dit is belangrik dat ons die sin daarvan begryp, want aan die kern van hierdie visioen lê ’n diep waarheid oor die manier waarop Jehovah mense beskou. As ware Christene kan ons nie deeglik oor God se Koninkryk getuig tensy ons leer om God se beskouing van mense te hê nie. Om die betekenis van Petrus se visioen te ontsluit, kom ons ondersoek die dramatiese gebeure wat daarmee gepaardgegaan het.
“Hy het . . . voortdurend smeekgebede tot God gedoen” (Handelinge 10:1-8)
4, 5. Wie was Kornelius, en wat het gebeur terwyl hy gebid het?
4 Min het Petrus geweet dat ’n man met die naam Kornelius die vorige dag in Sesarea, ongeveer 50 kilometer noord daarvandaan, ook ’n goddelike visioen ontvang het. Kornelius, ’n bevelvoerder oor 100 soldate in die Romeinse leër, was “’n godvresende man”.b Hy was ook ’n voorbeeldige gesinsman “en hy en almal in sy huis het God aanbid”. Kornelius was nie ’n Joodse proseliet nie; hy was ’n onbesnede nie-Jood. Maar hy het medelye betoon aan behoeftige Jode en materiële hulp aan hulle voorsien. Hierdie opregte man het “voortdurend smeekgebede tot God gedoen”. – Hand. 10:2.
5 Kornelius was ongeveer drie-uur die middag besig om te bid toe hy ’n visioen sien waarin ’n engel vir hom sê: “God het jou gebede gehoor en gesien dat jy geskenke aan die armes gee” (Hand. 10:4). In opdrag van die engel het Kornelius manne gestuur om die apostel Petrus te laat haal. Kornelius het op die punt gestaan om iets te ondervind wat voorheen vir hom as ’n onbesnede nie-Jood onmoontlik was. Hy sou kort daarna die boodskap van redding ontvang.
6, 7. (a) Vertel ’n ondervinding wat toon dat God die gebede verhoor van opregte mense wat die waarheid oor hom wil leer. (b) Wat kan ons uit sulke ondervindinge aflei?
6 Verhoor God vandag die gebede van opregte mense wat die waarheid oor hom wil leer? Kyk na ’n ondervinding. ’n Vrou in Albanië het ’n eksemplaar van Die Wagtoring met ’n artikel oor die grootmaak van kinders aanvaar.c Sy het vir die Getuie wat haar besoek het, gesê: “Sal jy glo dat ek nou net tot God gebid het vir hulp om my dogters groot te maak? Hy het jou gestuur! Jy het my gegee presies wat ek nodig het!” Die vrou en haar dogters het begin studeer, en haar man het later by die studie aangesluit.
7 Is dit ’n alleenstaande geval? Geensins! Wêreldwyd het mense al keer op keer hierdie soort ondervinding gehad – heeltemal te dikwels om blote toeval te wees. Wat kan ons dus hieruit aflei? Eerstens, Jehovah verhoor die gebede van opregte mense wat na hom soek (1 Kon. 8:41-43; Ps. 65:2). Tweedens, ons het die ondersteuning van die engele in ons predikingswerk. – Op. 14:6, 7.
Petrus was “dronkgeslaan” (Handelinge 10:9-23a)
8, 9. Wat het die gees aan Petrus bekend gemaak, en hoe het hy gereageer?
8 Petrus was nog op die dak en was “dronkgeslaan” oor die betekenis van die visioen toe boodskappers van Kornelius by die huis aankom (Hand. 10:17). Sou Petrus, wat drie keer gesê het dat hy sou weier om kos te eet wat volgens die Wet onrein is, bereid wees om hierdie manne te vergesel en in die huis van ’n nie-Jood in te gaan? Op die een of ander manier het die heilige gees God se wil in hierdie saak bekend gemaak. Daar is vir Petrus gesê: “Kyk! Drie mans soek jou. Staan dus op, gaan ondertoe en gaan saam met hulle, en moet glad nie twyfel nie, want ek het hulle gestuur” (Hand. 10:19, 20). Die visioen van die voorwerp soos ’n laken wat Petrus ontvang het, het hom ongetwyfeld voorberei om hom aan die leiding van die heilige gees te onderwerp.
9 Toe Petrus uitvind dat Kornelius ’n goddelike opdrag ontvang het om hom te laat haal, het Petrus die nie-Joodse boodskappers in die huis ingenooi “en hulle as sy gaste by hom laat bly” (Hand. 10:23a). Die gehoorsame apostel het hom reeds begin aanpas by die nuwe verwikkelinge in die uitvoering van God se wil.
10. Hoe lei Jehovah sy volk, en watter vrae moet ons ons dalk afvra?
10 Jehovah gee vandag nog steeds progressiewe leiding aan sy volk (Spr. 4:18). Deur middel van sy heilige gees rig hy “die getroue en verstandige slaaf” (Matt. 24:45). Soms word ons begrip van God se Woord verhelder of word sekere organisatoriese prosedures verander. Ons kan ons gerus afvra: ‘Hoe reageer ek op sulke verfynings? Onderwerp ek my aan die leiding van God se gees hierin?’
Petrus het “beveel dat hulle . . . gedoop moet word” (Handelinge 10:23b-48)
11, 12. Wat het Petrus gedoen toe hy in Sesarea aankom, en wat het hy geleer?
11 Die dag ná sy visioen het Petrus en nege ander – die drie boodskappers wat deur Kornelius gestuur is en “ses [Joodse] broers” uit Joppe – na Sesarea vertrek (Hand. 11:12). Omdat Kornelius Petrus verwag het, het hy “sy familielede en goeie vriende” – klaarblyklik almal nie-Jode – bymekaargeroep (Hand. 10:24). Toe Petrus daar aankom, het hy iets gedoen wat voorheen vir hom ondenkbaar was: Hy het in die huis van ’n onbesnede nie-Jood ingegaan! Petrus het verduidelik: “Julle weet dat dit teen die wet is vir ’n Jood om met iemand van ’n ander ras te assosieer of na hom toe te gaan, maar God het vir my gewys dat ek geen mens onrein of onheilig moet noem nie” (Hand. 10:28). Teen dié tyd het Petrus tot die besef gekom dat die les wat hy uit die visioen moes leer, nie beperk was tot die soort kos wat ’n mens mag eet nie. Hy moes “geen mens [nie eens ’n nie-Jood] onrein . . . noem nie”.
12 ’n Ontvanklike gehoor het op Petrus gewag. “Ons [is] almal hier voor God teenwoordig om alles te hoor wat Jehovah u beveel het om te sê”, het Kornelius verduidelik (Hand. 10:33). Stel jou voor hoe jy sou voel as ’n belangstellende vir jou so iets sê! Petrus het met hierdie kragtige stelling begin: “Nou verstaan ek werklik dat God nie partydig is nie. In elke nasie is die mens wat hom vrees en doen wat reg is, vir hom aanvaarbaar” (Hand. 10:34, 35). Petrus het geleer dat God se beskouing van mense nie afhang van hulle ras, nasionaliteit of enige ander eksterne faktor nie. Petrus het toe oor Jesus se bediening, dood en opstanding getuig.
13, 14. (a) Wat was betekenisvol omtrent die bekering van Kornelius en ander nie-Jode in 36 HJ? (b) Waarom moet ons mense nie op grond van hulle uiterlike oordeel nie?
13 Iets ongekends het toe gebeur: “Terwyl Petrus nog . . . gepraat het”, is die heilige gees op daardie “mense van die nasies” uitgestort (Hand. 10:44, 45). Dit is die enigste opgetekende geval in die Skrif waar die gees op mense uitgestort is voordat hulle gedoop is. Petrus het dit as ’n teken van God se goedkeuring herken en het “beveel dat hulle [die groep nie-Jode] . . . gedoop moet word” (Hand. 10:48). Die bekering van hierdie nie-Jode in 36 HJ het aangedui dat die tydperk van spesiale guns aan die Jode tot ’n einde gekom het (Dan. 9:24-27). Petrus, wat by hierdie geleentheid die leiding geneem het, het sodoende die derde en laaste ‘sleutel van die Koninkryk’ gebruik (Matt. 16:19). Hierdie sleutel het vir onbesnede nie-Jode die weg geopen om geesgesalfde Christene te word.
14 As Koninkryksverkondigers besef ons vandag dat ‘God nie partydig is nie’ (Rom. 2:11). Dit is sy wil dat “alle soorte mense gered moet word” (1 Tim. 2:4). Ons moet mense dus nooit op grond van hulle uiterlike oordeel nie. Ons opdrag is om deeglik oor God se Koninkryk te getuig, en dit behels dat ons vir alle mense preek, ongeag hulle ras, nasionaliteit, voorkoms of godsdiensagtergrond.
Hulle het “nie meer beswaar gemaak nie, en hulle het God verheerlik” (Handelinge 11:1-18)
15, 16. Waarom het party Joodse Christene Petrus gekritiseer, en hoe het hy sy optrede verduidelik?
15 Petrus, wat ongetwyfeld gretig was om te vertel wat gebeur het, het na Jerusalem gegaan. Maar die nuus dat onbesnede nie-Jode “die woord van God aanvaar het”, het blykbaar voor hom daar aangekom. Kort ná Petrus se aankoms “het dié wat wou hê dat mense besny moet word, hom begin kritiseer”. Hulle was ontsteld omdat hy “in die huis van mans ingegaan [het] wat nie besny is nie en saam met hulle geëet” het (Hand. 11:1-3). Die kwessie was nie of nie-Jode volgelinge van Christus kon word of nie. Daardie Joodse dissipels het eerder daarop aangedring dat nie-Jode die Wet – insluitende die besnydenis – moet onderhou as hulle Jehovah op aanneemlike wyse wil dien. Dit was waarskynlik vir party Joodse dissipels moeilik om te aanvaar dat die Mosaïese Wet tot ’n einde gekom het.
16 Hoe het Petrus sy optrede verduidelik? Volgens Handelinge 11:4-16 het hy na vier bewyse van hemelse leiding verwys: (1) die goddelike visioen wat hy ontvang het (Vers 4-10); (2) die gees se opdrag (Vers 11, 12); (3) die engel se besoek aan Kornelius (Vers 13, 14) en (4) die uitstorting van die heilige gees op die nie-Jode (Vers 15, 16). Petrus het afgesluit: “God het dieselfde vrye gawe [die heilige gees] aan hulle [gelowige nie-Jode] gegee wat hy aan ons [Jode] gegee het wat in die Here Jesus Christus geglo het.” Toe het hy ’n kragtige vraag gevra: “Wie is ek dan om in God se pad te staan?” – Hand. 11:17.
17, 18. (a) Voor watter toets het Petrus se getuienis Joodse Christene gestel? (b) Waarom kan dit ’n uitdaging wees om die eenheid van die gemeente te bewaar, en watter vrae kan ons ons gerus afvra?
17 Petrus se getuienis het daardie Joodse Christene voor ’n uiters belangrike toets gestel. Sou hulle van selfs die geringste vooroordeel ontslae kon raak en die pas gedoopte nie-Jode as hulle mede-Christene aanvaar? Die verslag vertel ons: “Toe hulle [die apostels en ander Joodse Christene] hierdie dinge hoor, het hulle nie meer beswaar gemaak nie, en hulle het God verheerlik en gesê: ‘So het God dan ook mense van die nasies die kans gegee om berou te toon sodat hulle die lewe kan ontvang’” (Hand. 11:18). Hierdie positiewe gesindheid het die eenheid van die gemeente bewaar.
18 Dit kan vandag ’n uitdaging wees om eenheid te bewaar, want ware aanbidders kom “uit alle nasies en stamme en volke en tale” (Op. 7:9). Gevolglik vind ons in baie gemeentes ’n groot verskeidenheid rasse, kulture en agtergronde. Ons kan ons gerus afvra: ‘Het ek selfs die geringste vooroordeel heeltemal uit my hart verwyder? Is ek vasbeslote om nooit toe te laat dat hierdie wêreld se verdelende elemente – insluitende nasionalisme, stamtrots, kultuurtrots en rassisme – die manier beïnvloed waarop ek my Christenbroers behandel nie?’ Onthou wat ’n paar jaar ná die bekering van die eerste nie-Jode met Petrus (Sefas) gebeur het. Hy het voor die vooroordeel van ander geswig en “hom onttrek” van nie-Joodse Christene, en hy moes deur Paulus tereggewys word (Gal. 2:11-14). Laat ons altyd waak teen die strik van vooroordeel.
“Baie van hulle het gelowiges geword” (Handelinge 11:19-26a)
19. Vir wie het Joodse Christene in Antiogië begin preek, en met watter resultaat?
19 Het Jesus se volgelinge vir die onbesnede nie-Jode begin preek? Let op wat later in Antiogië van Sirië gebeur het.d Hierdie stad het ’n groot Joodse gemeenskap gehad, maar daar was oor die algemeen nie vyandigheid tussen Jode en nie-Jode nie. Die omstandighede in Antiogië was dus gunstig vir die predikingswerk onder nie-Jode. Dit was hier dat ’n paar Joodse dissipels die goeie nuus aan “die Griekssprekendes” begin bekend maak het (Hand. 11:20). Hulle het nie net vir Griekssprekende Jode gepreek nie, maar ook vir onbesnede nie-Jode. Jehovah het die werk geseën, en “baie van hulle het gelowiges geword”. – Hand. 11:21.
20, 21. Hoe het Barnabas die nodige beskeidenheid aan die dag gelê, en hoe kan ons in ons bediening soortgelyke beskeidenheid aan die dag lê?
20 Om om te sien na hierdie veld wat gereed was om geoes te word, het die gemeente in Jerusalem vir Barnabas na Antiogië gestuur. Die immer toenemende belangstelling was klaarblyklik te veel vir hom alleen. Wie sou hom beter kon help as Saulus, wat die apostel vir die nasies sou word? (Hand. 9:15; Rom. 1:5). Sou Barnabas Saulus as ’n mededinger beskou? Inteendeel, Barnabas het die nodige beskeidenheid aan die dag gelê. Hy het die inisiatief geneem om na Tarsus te gaan, na Saulus te soek en hom na Antiogië te bring om te help. Hulle het ’n jaar lank saam gewerk om die dissipels in die gemeente daar op te bou. – Hand. 11:22-26a.
21 Hoe kan ons in ons bediening beskeidenheid aan die dag lê? Hierdie eienskap behels dat ons ons beperkings erken. Ons het almal verskillende sterk punte en vermoëns. Byvoorbeeld, party is dalk goed daarmee om informeel of van huis-tot huis te getuig, maar vind dit moeilik om herbesoeke te doen of Bybelstudies te begin. As jy in ’n sekere aspek van die bediening wil verbeter, vra gerus hulp. Deur sodoende die inisiatief te neem, kan jy produktiewer word en groter vreugde uit die bediening put. – 1 Kor. 9:26.
Noodleniging ‘word gestuur om die broers te help’ (Handelinge 11:26b-30)
22, 23. Hoe het die broers in Antiogië hulle broederliefde getoon, en hoe doen God se volk vandag iets soortgelyks?
22 Dit was in Antiogië dat “die dissipels volgens God se wil vir die eerste keer Christene genoem is” (Hand. 11:26b). Hierdie goddelik goedgekeurde naam is ’n gepaste beskrywing van diegene wat hulle lewenswyse gevorm het na dié van Christus. Het daar, toe mense van die nasies Christene geword het, ’n band van broederskap tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges ontwikkel? Dink aan wat gebeur het toe ’n groot hongersnood omstreeks 46 HJ plaasgevind het.e In antieke tye het hongersnode armes swaar getref, want hulle het nie ekstra geld of kos gehad nie. Gedurende hierdie hongersnood het die Joodse Christene in Judea, van wie baie blykbaar arm was, ’n behoefte aan lewensmiddele gehad. Toe die broers in Antiogië – insluitende nie-Joodse Christene – hiervan te hore kom, het hulle “besluit om iets te stuur om die broers in Judea te help” (Hand. 11:29). Wat ’n opregte blyk van broederliefde!
23 Dit is vandag presies dieselfde onder God se volk. Wanneer ons uitvind dat ons broers – in ’n ander land of in ons eie omgewing – hulp nodig het, help ons hulle graag. Takkomitees reël sonder versuim dat noodlenigingskomitees gevorm word om na ons broers om te sien wat dalk slagoffers is van natuurrampe soos orkane, aardbewings en tsoenami’s. Al hierdie noodlenigingspogings toon dat ons ’n ware broederskap geniet. – Joh. 13:34, 35; 1 Joh. 3:17.
24. Hoe kan ons toon dat ons besef hoe betekenisvol die visioen is wat Petrus ontvang het?
24 As ware Christene besef ons hoe betekenisvol die visioen is wat Petrus in die eerste eeu op die dak in Joppe ontvang het. Ons aanbid ’n onpartydige God. Dit is sy wil dat ons deeglik oor sy Koninkryk getuig, wat behels dat ons vir ander preek ongeag hulle ras, nasionaliteit of sosiale stand. Laat ons dus vasbeslote wees om aan almal wat wil luister, die geleentheid te gee om op die goeie nuus te reageer. – Rom. 10:11-13.
a Party Jode het neergesien op ’n leerlooier omdat sy beroep hom in aanraking gebring het met die velle en karkasse van diere en met die weersinwekkende materiale wat hy vir sy werk nodig gehad het. Leerlooiers is as onwaardig beskou om by die tempel teenwoordig te wees, en hulle onderneming moes ten minste 50 el, of ’n bietjie meer as 22 meter, buite ’n dorp wees. Dit kan een van die redes wees waarom Simon se huis “by die see” was. – Hand. 10:6.
b Sien die venster “Kornelius en die Romeinse leër”.
c Die artikel “Betroubare raad oor die grootmaak van kinders” het verskyn in Die Wagtoring van 1 November 2006, bladsye 4 tot 7.
d Sien die venster “Antiogië van Sirië”.
e Die Joodse geskiedskrywer Josefus verwys na hierdie “groot hongersnood” gedurende die bewind van keiser Claudius (41-54 HJ).