Het jy geweet?
Waarom het die Jode hulle Sabbatsviering in die aand begin?
Toe Jehovah vir sy volk die wet aangaande die Versoendag gegee het, het hy gesê: “Op dié dag mag julle géén werk doen nie . . . Dit is vir julle ’n sabbat van volkome rus . . . Van aand tot aand moet julle julle sabbat hou” (Levitikus 23:28, 32). Hierdie gebod het die beskouing weerspieël dat elke dag in die aand ná sononder begin het, en met die volgende sonsondergang geëindig het. Vir die Jode het die dag dus van aand tot aand gestrek.
Hierdie metode om dae te tel, het die patroon gevolg wat God self vasgestel het. Die verslag aangaande die eerste figuurlike skeppingsdag sê: “Dit was aand en dit was oggend, ’n eerste dag.” Die daaropvolgende “dae” word op dieselfde manier getel en begin ook in die “aand”.—Genesis 1:5, 8, 13, 19, 23, 31.
Die Jode was nie die enigstes wat hulle dae op hierdie wyse getel het nie. Die Ateners, die Numidiërs en die Fenisiërs het dieselfde gedoen. Die Babiloniërs daarenteen het die sonsopkoms as die begin van elke nuwe dag beskou, terwyl die Egiptenare en die Romeine hulle dae van middernag tot middernag gereken het, soos vandag gedoen word. Maar hedendaagse Jode begin en eindig nog steeds hulle Sabbatsviering met sononder.
Wat was ’n “sabbatsreis”?
Nadat hulle gesien het hoe Jesus van die Olyfberg af in die hemel opvaar, het sy dissipels na Jerusalem teruggekeer, wat “’n sabbatsreis daarvandaan” was (Handelinge 1:12). ’n Reisiger kan moontlik 30 kilometer of meer in ’n dag loop. Maar die Olyfberg is naby Jerusalem. Wat beteken ’n “sabbatsreis” dan?
Die Sabbat was ’n dag waarop die Israeliete van hulle normale bedrywighede moes rus. Hulle moes nie eers op daardie dag ’n vuur in hulle huis aangesteek het nie (Eksodus 20:10; 35:2, 3). “Elkeen moet op sy plek bly”, het Jehovah gesê. “Laat niemand op die sewende dag sy woonplek verlaat nie” (Eksodus 16:29). Hierdie wet sou die Israeliete die geleentheid bied om van hulle normale bedrywighede te rus en meer aandag aan die geestelike aspekte van die lewe te skenk.
Wettiese rabbi’s, wat nie tevrede was met die beginsels wat in Jehovah se Wet neergelê is nie, het op ietwat arbitrêre wyse begin voorskryf presies hoe ver ’n mens op die Sabbat kon loop om, byvoorbeeld, te gaan aanbid. In hierdie verband sê die Cyclopedia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature: “Ingevolge die streng wette oor die onderhouding van die Sabbat . . . is daar bepaal dat geen Israeliet op die Sabbat verder as ’n sekere afstand, ’n sabbatsreis, mag loop nie.” Daardie afstand was 2 000 el, wat tussen 0,8 en 1,1 kilometer ver is.
[Prent op bladsy 11]
Jerusalem soos gesien van die Olyfberg