Bybelboek nommer 48—Galasiërs
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Korinthe of Siriese Antiochië
Geskrif voltooi: ca. 50–52 G.J.
1. Aan watter gemeentes word Galasiërs gerig, en hoe en wanneer is hulle gestig?
DIE gemeentes van Galasië tot wie Paulus hom in Galasiërs 1:2 gerig het, het blykbaar Pisidiese Antiochië, Ikonium, Listre en Derbe ingesluit—plekke in verskillende distrikte, maar almal in hierdie Romeinse provinsie. Handelinge hoofstukke 13 en 14 vertel van Paulus se eerste sendingreis saam met Barnabas deur hierdie gebied, wat tot die stigting van die Galatiese gemeentes gelei het. Hulle het bestaan uit Jode en nie-Jode, wat ongetwyfeld Kelte, of Galliërs, ingesluit het. Dit was kort na Paulus se besoek aan Jerusalem omstreeks 46 G.J.—Hand. 12:25.
2. (a) Wat was die gevolg van Paulus se tweede reis in Galasië, maar wat het daarna gebeur? (b) Hoe het Paulus intussen sy reis voortgesit?
2 In 49 G.J. het Paulus en Silas op Paulus se tweede sendingreis na die Galatiese gebied vertrek, met die gevolg dat ‘die gemeentes in die geloof versterk is en elke dag in getal vermeerder het’ (Hand. 16:5; 15:40, 41; 16:1, 2). Maar kort op hulle hakke het valse leraars, Judaïseerders, gekom, wat daarin geslaag het om party in die Galatiese gemeentes te laat glo dat die besnydenis en die onderhouding van die Wet van Moses ’n noodsaaklike deel van die ware Christelike godsdiens uitmaak. Intussen het Paulus by Misië verby na Macedonië en Griekeland gereis en uiteindelik in Korinthe aangekom, waar hy meer as 18 maande saam met die broers deurgebring het. Daarna het hy in 52 G.J. weer via Efese na Siriese Antiochië, sy tuisbasis, vertrek en in dieselfde jaar daar aangekom.—Hand. 16:8, 11, 12; 17:15; 18:1, 11, 18-22.
3. Waar en wanneer is Galasiërs moontlik geskryf?
3 Waar en wanneer het Paulus die brief aan die Galasiërs geskryf? Hy het dit ongetwyfeld geskryf onmiddellik nadat hy van die bedrywigheid van die Judaïseerders te hore gekom het. Dit kon in Korinthe, Efese of Siriese Antiochië gewees het. Heel moontlik was dit gedurende sy 18 maande lange verblyf in Korinthe, 50-52 G.J., aangesien daar tyd was vir die inligting om hom van Galasië te bereik. Efese is onwaarskynlik, aangesien hy op sy terugreis slegs vlugtig daar aangedoen het. Hy het egter “’n tyd lank vertoef” in sy tuisbasis, Siriese Antiochië, waarskynlik in die somer van 52 G.J., en aangesien daar goeie verbinding tussen hierdie stad en Klein-Asië was, is dit moontlik dat hy op hierdie tydstip die berig oor die Judaïseerders ontvang en sy brief aan die Galasiërs vanuit Siriese Antiochië geskryf het.—Hand. 18:23.
4. Wat onthul Galasiërs oor Paulus se apostelskap?
4 Die brief beskryf Paulus as “’n apostel nie vanweë mense of deur ’n mens nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader”. Dit onthul ook baie feite oor Paulus se lewe en apostelskap, wat bewys dat hy, as ’n apostel, in harmonie met die apostels in Jerusalem gewerk het en dat hy selfs sy gesag uitgeoefen het deur ’n ander apostel, Petrus, reg te help.—Gal. 1:1, 13-24; 2:1-14.
5. Watter feite getuig van die egtheid en kanonisiteit van Galasiërs?
5 Watter feite getuig van die egtheid en kanonisiteit van Galasiërs? Dit word by name genoem in die geskrifte van Ireneus, Clemens van Alexandrië, Tertullianus en Origines. Dit is boonop opgeneem in die volgende belangrike en vername Bybelmanuskripte: Sinaiticus, Alexandrinus, Vaticanus nr. 1209, Codex Ephraemi Syri rescriptus, Codex Bezae en Chester Beatty-papirus nr. 2 (P46). Daarbenewens is dit volkome in harmonie met die ander Griekse Bybelgeskrifte en ook met die Hebreeuse Geskrifte, waarna dit dikwels verwys.
6. (a) Watter twee punte word in die brief aan die Galasiërs bewys? (b) Wat was buitengewoon omtrent die skrywe van hierdie brief, en wat beklemtoon dit?
6 In Paulus se kragtige en reguit brief “aan die gemeentes van Galasië” bewys hy (1) dat hy ’n ware apostel is (’n feit wat die Judaïseerders probeer diskrediteer het) en (2) dat iemand op grond van geloof in Christus Jesus, nie deur die werke van die Wet nie, regverdig verklaar word, en dat die besnydenis derhalwe vir Christene onnodig is. Hoewel dit Paulus se gewoonte was om ’n sekretaris sy briewe te laat skryf, het hy Galasiërs self in ‘groot letters met sy eie hand’ geskryf (6:11). Die inhoud van die boek was van die allergrootste belang, vir Paulus sowel as vir die Galasiërs. Die boek benadruk waardering vir die vryheid wat ware Christene deur Jesus Christus het.
INHOUD VAN GALASIËRS
7, 8. (a) Wat betoog Paulus oor die goeie nuus? (b) Hoe is daar bevestig dat Paulus ’n apostel vir die onbesnedenes was, en hoe het hy sy gesag uitgeoefen in die geval van Cefas?
7 Paulus verdedig sy apostelskap (1:1–2:14). Nadat Paulus die gemeentes in Galasië gegroet het, verwonder hy hom dat hulle so gou afvallig raak na ’n ander soort goeie nuus toe, en hy verklaar onomwonde: “Al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!” Die goeie nuus wat hy verkondig het, was nie van mense nie, en hy is dit ook nie deur iets anders geleer nie as “deur ’n openbaring van Jesus Christus”. Voorheen het Paulus, as ’n vurige verteenwoordiger van Judaïsme, die gemeente van God vervolg, maar toe het God hom deur Sy onverdiende goedheid geroep om die goeie nuus oor sy Seun aan die nasies bekend te maak. Hy het eers drie jaar ná sy bekering na Jerusalem opgegaan, en die enigste apostel wat hy toe gesien het, was Petrus, sowel as Jakobus, die broer van die Here. Die gemeentes van Judea het hom nie persoonlik geken nie, ofskoon hulle van hom gehoor het en ‘God verheerlik het’ oor hom.—1:8, 12, 24.
8 Ná 14 jaar het Paulus weer na Jerusalem opgegaan en die goeie nuus wat hy verkondig het privaat verduidelik. Daar is nie eers vereis dat sy metgesel Titus besny word nie, hoewel hy ’n Griek was. Toe Jakobus en Cefas en Johannes sien dat die goeie nuus vir die onbesnedenes aan Paulus toevertrou is, net soos Petrus die goeie nuus vir die besnedenes gehad het, het hulle Paulus en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee sodat hulle na die nasies kon gaan, terwyl húlle na die besnedenes gegaan het. Toe Cefas na Antiochië gekom en uit vrees vir die besnede klas nie reguit geloop het “volgens die waarheid van die evangelie” nie, het Paulus hom voor almal bestraf.—2:14.
9. Op grond waarvan word die Christen regverdig verklaar?
9 Regverdig verklaar deur geloof, nie deur die wet nie (2:15–3:29). Ons as Jode weet, redeneer Paulus, “dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus”. Hy lewe nou in eendrag met Christus en is deur die geloof lewend om die wil van God te doen. “As daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.”—2:16, 21.
10. Wat is belangrik om God se seën te kry, en wat was derhalwe die doel van die Wet?
10 Is die Galasiërs so onverstandig dat hulle glo dat hulle, nadat hulle begin het deur die heilige gees weens geloof te ontvang, kan eindig deur God deur middel van die werke van die Wet te dien? Dit is die aanhoor deur geloof wat belangrik is, soos in die geval van Abraham, wat “in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken”. Nou word “die wat uit die geloof is” volgens God se belofte “saam met die gelowige Abraham” geseën. Hulle is deur Christus se dood aan die folterpaal bevry van die vloek van die Wet. Christus is die Saad van Abraham, en die Wet wat 430 jaar later gegee is, maak nie die belofte betreffende daardie Saad tot niet nie. Wat was die doel van die Wet dan? Dit was “ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof”. Nou is ons nie meer onder die tugmeester nie, en daar is nou ook nie meer ’n onderskeid tussen Jood en Griek nie, want almal is een in eendrag met Christus Jesus en is werklik “die [saad] van Abraham en volgens die belofte erfgename”.—3:6, 9, 24, 29, vgl. NW.
11. (a) Watter loskoping ignoreer die Galasiërs? (b) Hoe lig Paulus die Christen se vryheid toe?
11 Bly standvastig in Christelike vryheid (4:1–6:18). God het sy Seun uitgestuur om dié wat onder die Wet is, los te koop, sodat hulle “die aanneming tot kinders kan ontvang” (4:5). Waarom dan terugkeer tot slawerny aan die swak en armoedige eerste beginsels? Aangesien die Galasiërs nou dae en maande en seisoene en jare waarneem, is Paulus bevrees dat sy arbeid ten behoewe van hulle tevergeefs was. Met Paulus se eerste besoek aan hulle het hulle hom soos ’n engel van God ontvang. Het hy nou hulle vyand geword omdat hy hulle die waarheid vertel? Laat diegene wat onder die Wet wil wees, luister na wat die Wet sê: Abraham het twee seuns by twee vroue verkry. Die een vrou, die slavin Hagar, kom ooreen met die vleeslike nasie Israel, wat aan Jehovah verbind is deur die Mosaiese Wetsverbond, ’n verbond wat kinders vir slawerny voortbring. Die vry vrou Sara kom egter ooreen met die Jerusalem daarbo, en sy, sê Paulus, “is vry; en dit is die moeder van ons almal”. “Wat”, vra Paulus, “sê die Skrif?” Dit: “Nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie.” En ons is kinders, nie van ’n slavin nie, “maar van die vrye”.—4:30, 31.
12. (a) Waardeur moet die Galasiërs nou wandel? (b) Watter belangrike teenstelling tref Paulus?
12 Die besnydenis of die onbesnedenheid beteken niks nie, verduidelik Paulus, maar dit is geloof wat deur die liefde werk wat tel. Die hele Wet word vervul in die uitdrukking: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Bly wandel deur die gees, want “as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie”. Wat die werke van die vlees betref, waarsku Paulus “dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie”. In skerp teenstelling beskryf hy die vrug van die gees, waarteen daar geen wet is nie, en hy voeg by: “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” en egotisme en afguns aflê.—5:14, 18, 21, 25.
13. Hoe word die wet van die Christus vervul, en wat is noodsaaklik?
13 As iemand ’n misstap begaan voor hy daarvan bewus is, moet dié met geestelike kwalifikasies hom “met die gees van sagmoedigheid” probeer reghelp. Christene vervul die wet van die Christus deur mekaar se laste te dra, maar elkeen moet sy eie pak dra deur sy eie werk te beproef. ’n Persoon sal maai ooreenkomstig wat hy saai, òf verderf uit die vlees òf die ewige lewe uit die gees. Diegene wat wil hê dat die Galasiërs besny moet word, wil bloot mense behaag en vervolging vermy. Dit is nie die besnydenis of die onbesnedenheid wat noodsaaklik is nie, maar ’n nuwe skepping. Vrede en barmhartigheid sal oor diegene wees wat ordelik wandel volgens hierdie gedragsreël, ja, oor “die Israel van God”.—6:1, 16.
WAAROM NUTTIG
14. Watter voorbeeld stel Paulus vir opsieners?
14 Die brief aan die Galasiërs openbaar Paulus as die verwoede vervolger wat die waaksame apostel vir die nasies geword het en altyd bereid was om ten behoewe van sy broers te stry (1:13-16, 23; 5:7-12). Paulus het deur sy voorbeeld getoon dat ’n opsiener probleme gou moet hanteer en valse redenasies deur middel van logika en die Skrif die nek moet inslaan.—1:6-9; 3:1-6.
15. Hoe was die brief nuttig vir die Galatiese gemeentes, en watter wegwyser verskaf dit vir hedendaagse Christene?
15 Die brief was vir die gemeentes in Galasië nuttig deurdat dit hulle vryheid in Christus duidelik bevestig en die verdraaiers van die goeie nuus gediskrediteer het. Dit het dit duidelik gestel dat ’n mens deur die geloof regverdig verklaar word en dat die besnydenis nie meer nodig is om redding te verkry nie (2:16; 3:8; 5:6). Deur sulke vleeslike verskille uit die weg te ruim, het dit Jood en nie-Jood in die een gemeente verenig. Vryheid van die Wet moes nie ’n aanleiding tot die begeertes van die vlees wees nie, want die beginsel het nog steeds gegeld: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Dit is steeds ’n wegwyser vir hedendaagse Christene.—5:14.
16. Watter geloofversterkende verklarings van die Hebreeuse Geskrifte word in Galasiërs gevind?
16 Paulus se brief het die Galasiërs met talle leerstellige punte gehelp deur kragtige illustrasies uit die Hebreeuse Geskrifte te gebruik. Dit het die geïnspireerde uitleg van Jesaja 54:1-6 gegee, waar Jehovah se vrou as die “Jerusalem daarbo” geïdentifiseer word. Dit het die “sinnebeelde” van Hagar en Sara verklaar en getoon dat die erfgename van God se beloftes diegene is wat deur Christus vrygemaak is en nie diegene wat in slawerny aan die Wet bly nie (Gal. 4:21-26; Gen. 16:1-4, 15; 21:1-3, 8-13). Dit het duidelik verklaar dat die Wetsverbond nie die Abrahamitiese verbond tot niet gemaak het nie maar daarby gevoeg is. Dit het ook daarop gewys dat ’n tydperk van 430 jaar tussen die sluit van die twee verbonde verstryk het, iets wat belangrik is vir Bybelchronologie (Gal. 3:17, 18, 23, 24). Die verslag van hierdie dinge is bewaar om vandag Christelike geloof op te bou.
17. (a) Watter belangrike identifikasie bevat Galasiërs? (b) Watter uitstekende vermaning word aan die Koninkrykserfgename en hulle mede-arbeiders gegee?
17 Van die allergrootste belang is dat Galasiërs die Koninkryksaad, waarna al die profete uitgesien het, onmiskenbaar identifiseer. “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad . . . dit is Christus.” Daar word getoon dat diegene wat deur geloof in Christus Jesus kinders van God word in hierdie saad opgeneem word. “As julle aan Christus behoort, dan is julle die [saad] van Abraham en volgens die belofte erfgename” (3:16, 29, vgl. NW). Hierdie Koninkrykserfgename en diegene wat saam met hulle arbei, moet ag slaan op die uitstekende vermaning wat in Galasiërs gegee word: ‘Staan vas in die vryheid waarvoor Christus julle vrygemaak het!’ ‘Moenie moeg word om goed te doen nie, want ons sal op die regte tyd maai as ons nie verslap nie.’ ‘Doen goed, veral aan die huisgenote van die geloof.’—5:1; 6:9, 10.
18. Watter kragtige waarskuwing en vermaning word ten slotte in Galasiërs gegee?
18 Ten slotte is daar die kragtige waarskuwing dat diegene wat die werke van die vlees beoefen “die koninkryk van God nie sal beërwe nie”. Laat almal dan die wêreld se smerigheid en tweedrag heeltemal laat vaar en hulle hart ten volle daarop rig om die vrug van die gees voort te bring, wat “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” is.—5:19-23.