Markus—“Nuttig om diens te verrig”
DIE gemeente in Antiogië het al probleme gehad, maar die meningsverskil tussen die apostels Paulus en Barnabas was heeltemal anders. Die manne het ’n sendingreis beplan; maar toe hulle moes besluit wie hulle sou saamneem, was daar “’n skerp uitbarsting van toorn” tussen hulle (Hand. 15:39). Die twee het uitmekaar gegaan, elkeen in sy eie rigting. Hulle onenigheid was oor ’n derde sendeling—Markus.
Wie was Markus? Wat het veroorsaak dat twee apostels oor hom gestry het? Waarom het hulle sulke sterk menings gehad? Het daardie menings ooit verander? En wat kan jy uit die verhaal van Markus leer?
Jerusalem—Sy tuiste
Markus, wat blykbaar uit ’n welgestelde Joodse gesin gekom het, het in Jerusalem grootgeword. Die eerste direkte verwysing na hom is in verband met die geskiedenis van die vroeë Christengemeente. Toe Jehovah se engel die apostel Petrus omstreeks 44 HJ wonderdadig uit die tronk van Herodes Agrippa I bevry het, het Petrus “na die huis van Maria gegaan, die moeder van Johannes wat die bynaam Markus gehad het, waar ’n hele paar bymekaar was en gebid het”.—Hand. 12:1-12.a
Dit wil dus voorkom of die gemeente in Jerusalem die huis van Markus se moeder vir vergaderinge gebruik het. Die feit dat “’n hele paar” daar vergader het, gee te kenne dat die huis groot was. Maria het ’n diensmeisie met die naam Rode gehad, wat die “poortdeur” oopgemaak het toe Petrus geklop het. Hierdie besonderhede dui daarop dat Maria ’n welgestelde vrou was. En omdat die huis haar huis genoem word en nie haar man s’n nie, is dit moontlik dat sy ’n weduwee was en dat Markus nog redelik jonk was.—Hand. 12:13.
Markus was waarskynlik onder dié wat vergader het om te bid. Hy het ongetwyfeld Jesus se dissipels en ander wat ooggetuies van die gebeure in Jesus se bediening was, goed geken. Trouens, Markus was dalk die skraps geklede jong man wat Jesus probeer volg het kort nadat Hy in hegtenis geneem is, maar wat gevlug het toe hulle hom probeer gryp het.—Mark. 14:51, 52.
Voorregte in die gemeente
Assosiasie met ryp Christene het ongetwyfeld ’n positiewe uitwerking op Markus gehad. Hy het geestelik gegroei, en verantwoordelike broers het dit raakgesien. Omstreeks 46 HJ, toe Paulus en Barnabas “noodleniging” van Antiogië na Jerusalem geneem het om die gevolge van ’n hongersnood te verlig, het hulle belangstelling in Markus getoon. Toe Paulus en Barnabas na Antiogië teruggekeer het, het hulle Markus saam met hulle geneem.—Hand. 11:27-30; 12:25.
Iemand wat die verslag net vlugtig lees, neem dalk aan dat daar geen spesifieke band—behalwe die geestelike band—tussen hierdie drie was nie, en dat Paulus en Barnabas vir Markus bloot weens sy vermoëns gekies het. Maar een van Paulus se briewe openbaar dat Markus Barnabas se neef was (Kol. 4:10). Dit help dalk om die daaropvolgende gebeure waarby Markus betrokke was, te verklaar.
’n Jaar of wat het verbygegaan, en heilige gees het Paulus en Barnabas gerig om ’n sendingreis te onderneem. Hulle het van Antiogië na Siprus vertrek. Johannes Markus het saam met hulle gegaan “as helper” (Hand. 13:2-5). Dalk moes Markus na die praktiese behoeftes gedurende die reis omsien sodat die apostels op geestelike sake kon konsentreer.
Paulus, Barnabas en Markus het Siprus deurkruis en gepreek waar hulle ook al gegaan het; toe het hulle na Klein-Asië gegaan. Daar het Johannes Markus ’n besluit geneem wat Paulus teleurgestel het. Die verslag sê dat “Johannes . . . hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer” het toe die groep in Perge aangekom het (Hand. 13:13). Daar word nie gesê waarom hy dit gedoen het nie.
’n Paar jaar later was Paulus, Barnabas en Markus terug in Antiogië. Die twee apostels het ’n tweede sendingreis bespreek om op die sukses van die eerste voort te bou. Barnabas wou sy neef saamneem, maar Paulus wou niks daarvan hoor nie omdat Markus hulle die vorige keer in die steek gelaat het. Dit is wat aanleiding gegee het tot die toneel wat aan die begin geskets is. Barnabas het Markus saamgeneem en in sy tuiseiland Siprus gaan werk, terwyl Paulus na Sirië gegaan het (Hand. 15:36-41). Dit is duidelik dat Paulus en Barnabas verskillende menings gehad het oor die besluit wat Markus vroeër geneem het.
Versoening
Hierdie ondervinding het Markus ongetwyfeld erg ontstel. Nogtans het hy ’n getroue bedienaar gebly. Ongeveer 11 of 12 jaar ná hierdie voorval met Paulus verskyn Markus weer in die geskiedenis van die vroeë Christelike godsdiens. Waar? Waar ’n mens hom dalk die minste sou verwag—saam met Paulus!
In 60-61 HJ, terwyl Paulus in die tronk in Rome was, het hy ’n aantal briewe uitgestuur wat nou deel van die Heilige Skrif is. In die brief aan die Kolossense het hy geskryf: “Aristargus, my medegevangene, stuur vir julle groete, en so ook Markus, die neef van Barnabas (aangaande wie julle opdragte ontvang het om hom te verwelkom as hy ooit na julle toe kom) . . . Net hulle is my medewerkers vir die koninkryk van God, en juis hulle het vir my ’n versterkende hulp geword.”—Kol. 4:10, 11.
Wat ’n ommekeer! Markus was dus nie meer die voorwerp van Paulus se intense misnoeë nie, maar weer eens ’n gewaardeerde medewerker. Paulus het die Kolossense blykbaar ingelig dat Markus hulle dalk sal besoek. As dit sou gebeur, sou Markus as Paulus se verteenwoordiger optree.
Was Paulus jare tevore te krities teenoor Markus? Het Markus baat gevind by die nodige dissipline? Of was dit dalk ’n bietjie van albei? Hoe dit ook al sy, hulle versoening getuig dat Paulus sowel as Markus geestelik volwasse was. Hulle het vergewe en vergeet en weer saam gewerk. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir enigiemand wat ’n meningsverskil met ’n mede-Christen gehad het!
Markus, die reisiger
Wanneer ’n mens oor die verskillende reise lees wat Markus onderneem het, besef jy dat hy baie gereis het. Hy het van Jerusalem gekom, na Antiogië getrek en daarvandaan na Siprus en Perge gevaar. Toe het hy na Rome gegaan. Van daar af wou Paulus hom na Kolosse gestuur het. Maar dit is nie al nie!
Die apostel Petrus het sy eerste brief omstreeks 62 tot 64 HJ geskryf. Hy het geskryf: “Sy wat in Babilon is, . . . stuur vir julle groete, en so ook Markus, my seun” (1 Pet. 5:13). Markus het dus na Babilon gereis om saam met die apostel te dien wat jare tevore Christelike vergaderinge in sy moeder se huis bygewoon het.
Toe Paulus in ongeveer 65 HJ ’n tweede keer in die tronk in Rome was, het hy aan Timoteus geskryf, hom gevra om uit Efese te kom en bygevoeg: “Neem Markus en bring hom saam met jou” (2 Tim. 4:11). Markus was dus toe in Efese. En het ons enige rede om te twyfel dat hy gehoor gegee het aan Paulus se versoek om saam met Timoteus na Rome terug te keer? Destyds was dit nie maklik om te reis nie, maar Markus het hierdie reise gewillig onderneem.
Nog ’n groot voorreg
’n Groot voorreg wat Markus geniet het, was dat hy deur Jehovah geïnspireer is om een van die Evangelies te skryf. Hoewel die tweede Evangelie nêrens die naam van die skrywer meld nie, dui die vroegste oorleweringe aan dat dit Markus was en dat Petrus die bron van sy inligting was. Trouens, Petrus was ’n ooggetuie van feitlik alles wat Markus opgeteken het.
Ontleders van Markus se Evangelie glo dat hy dit vir nie-Joodse lesers geskryf het; hy het nuttige verduidelikings van Joodse gebruike voorsien (Mark. 7:3; 14:12; 15:42). Markus vertaal Aramese terme wat nie-Joodse lesers andersins nie sou verstaan het nie (Mark. 3:17; 5:41; 7:11, 34; 15:22, 34). Hy gebruik baie Latynse terme en verduidelik selfs algemene Griekse woorde deur Latynse woorde te gebruik. Hy gee die waarde van Joodse geldstukke aan in Romeinse geldeenhede (Mark. 12:42, vtn. in NW). Dit wil voorkom of dit alles ooreenstem met die ou oorlewering dat Markus sy Evangelie in Rome geskryf het.
“Hy is vir my nuttig om diens te verrig”
Terwyl Markus in Rome was, het hy nie net sy Evangelie geskryf nie. Onthou wat Paulus vir Timoteus gesê het: “Neem Markus en bring hom saam met jou.” Wat was Paulus se rede? “Want hy is vir my nuttig om diens te verrig.”—2 Tim. 4:11.
Hierdie verwysing na Markus—wat chronologies die laaste in die Skrif is—sê baie oor hom. Markus word nêrens in sy teokratiese loopbaan beskryf as ’n apostel, ’n leier of ’n profeet nie. Hy was ’n bedienaar, dit wil sê iemand wat ander bedien het. En op hierdie stadium, kort voor Paulus se dood, kon die apostel beslis baat vind by Markus se hulp.
Wanneer ons die verskillende brokkies inligting oor Markus bymekaarsit, sien ons die beeld van ’n man wat ywerig was om die goeie nuus in verskeie dele van die wêreldveld te bevorder, ’n man wat bly was om ander te dien. Ja, watter lonende voorregte het Markus tog geniet omdat hy nie moed opgegee het nie!
Soos Markus, toon ons as God se hedendaagse knegte dieselfde vasbeslotenheid om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Soos in die geval van Markus, kan party van ons na ander gebiede verhuis, selfs na ander lande, om die goeie nuus daar te bevorder. Hoewel die meeste van ons dit dalk nie kan doen nie, is daar ’n ander manier waarop ons almal Markus kan navolg. Net soos hy alles in sy vermoë gedoen het om sy Christenbroers te dien, is ons ook bereid om ons in te span om ons medegelowiges op praktiese maniere te help om hulle diens aan God uit te voer. Terwyl ons dit doen, kan ons seker wees dat ons sal aanhou om Jehovah se seën te ontvang.—Spr. 3:27; 10:22; Gal. 6:2.
[Voetnoot]
a Dit was algemeen vir Markus se tydgenote om ’n tweede naam van Hebreeuse of buitelandse oorsprong aan te neem. Markus se Joodse naam was Johanan—Johannes in Afrikaans. Sy Latynse bynaam was Marcus, of Markus.—Hand. 12:25.
[Kaart/Prent op bladsy 8, 9]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Party van die stede wat Markus besoek het
Rome
Efese
Kolosse
Perge
Antiogië (van Sirië)
Siprus
MIDDELLANDSE SEE
Jerusalem
Babilon