HOOFSTUK 2
“Julle sal getuies van my wees”
Hoe Jesus sy apostels voorberei het om die voortou te neem met die predikingswerk
Gebaseer op Handelinge 1:1-26
1-3. Hoe neem Jesus afskeid van sy apostels, en watter vrae ontstaan?
HULLE wil nie hê dit moet tot ’n einde kom nie. Vir die apostels was die afgelope paar weke opwindend! Die opstanding van Jesus het hulle uit die diepste wanhoop gelig en hulle die grootste vreugde verskaf. Gedurende die afgelope 40 dae het Jesus herhaaldelik verskyn en sy volgelinge verder onderrig en aangemoedig. Maar op dié dag verskyn hy vir die laaste keer.
2 Die apostels hang aan Jesus se lippe terwyl hulle almal saam op die Olyfberg staan. Wanneer hy klaar is – alte gou na hulle sin – lig hy sy hande op en seën hy hulle. Dan begin hy van die aarde af opvaar! Sy volgelinge staar hom agterna terwyl hy in die lug opgaan. Uiteindelik verberg ’n wolk hom. Hy is weg, maar hulle kyk nog steeds op na die hemel. – Luk. 24:50; Hand. 1:9, 10.
3 Hierdie toneel dui ’n keerpunt in die lewe van Jesus se apostels aan. Wat sal hulle doen noudat hulle Heer, Jesus Christus, na die hemel opgevaar het? Wees daarvan verseker dat hulle Heer hulle voorberei het om voort te gaan met die werk waarmee hy begin het. Hoe het hy hulle toegerus vir hierdie belangrike toewysing, en hoe het hulle gereageer? En hoe raak dit Christene van vandag? Die eerste hoofstuk van Handelinge bevat die bemoedigende antwoorde.
Bewyse “dat hy regtig lewe” (Handelinge 1:1-5)
4. Hoe begin Lukas sy verslag wat in die boek Handelinge opgeteken staan?
4 Lukas begin sy verslag deur Teofilus aan te spreek, dieselfde man aan wie hy vroeër sy Evangelie geskryf het.a Lukas stel dit duidelik dat hierdie verslag ’n voortsetting van die eerste is en begin met ’n opsomming van die gebeure wat aan die einde van sy Evangelie opgeteken is, maar hy gebruik ander bewoording en verskaf ’n paar nuwe besonderhede.
5, 6. (a) Wat sal Jesus se volgelinge help om hulle geloof sterk te hou? (b) Hoe is die geloof van Christene vandag op bewyse gegrond?
5 Wat sal die geloof van Jesus se volgelinge sterk hou? In Handelinge 1:3 lees ons oor Jesus: “Hy [het] baie kere aan hulle verskyn op maniere wat bewys het dat hy regtig lewe.” Jesus het etlike kere aan sy volgelinge verskyn, soms aan een of twee, soms aan al die apostels en by een geleentheid aan meer as 500 gelowiges (1 Kor. 15:3-6). Op hierdie manier het Jesus die geloof van sy volgelinge versterk!
6 Vandag is die geloof van ware Christene eweneens gegrond op bewyse. Is daar getuienis dat Jesus op aarde gelewe het, vir ons sondes gesterf het en opgewek is? Ongetwyfeld! Betroubare verslae van ooggetuies in God se geïnspireerde Woord voorsien al die bewyse wat ons nodig het. As ons hierdie verslae biddend bestudeer, kan dit ons geloof grootliks versterk. Onthou, gegronde bewyse kan die verskil maak tussen ware geloof en blote liggelowigheid. Ware geloof is noodsaaklik om die ewige lewe te verkry. – Joh. 3:16.
7. Watter voorbeeld het Jesus vir sy volgelinge gestel in sy onderrigtings- en predikingswerk?
7 Jesus het ook “oor die Koninkryk van God gepraat”. Hy het byvoorbeeld profesieë verduidelik wat getoon het dat die Messias moes ly en sterf (Luk. 24:13-32, 46, 47). Wanneer Jesus sy rol as die Messias verduidelik het, het hy die aandag op God se Koninkryk gevestig, want hy was die aangewese Koning daarvan. Die Koninkryk was altyd die tema van Jesus se predikingswerk, en sy volgelinge bly vandag by dieselfde tema in hulle predikingswerk. – Matt. 24:14; Luk. 4:43.
“Tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:6-12)
8, 9. (a) Watter twee verkeerde idees het Jesus se apostels gehad? (b) Hoe het Jesus die apostels se denke reggestel, en watter les leer Christene vandag daaruit?
8 Toe die apostels op die Olyfberg bymekaargekom het, was dit die laaste keer dat hulle Jesus op die aarde gesien het. Hulle het gretig gevra: “Here, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” (Hand. 1:6). Deur hierdie een vraag het die apostels getoon dat hulle twee verkeerde idees gehad het. Eerstens het hulle aangeneem dat God se Koninkryk vir vleeslike Israel herstel sou word. Tweedens het hulle verwag dat die beloofde Koninkryk onmiddellik, “in hierdie tyd”, sou begin regeer. Hoe het Jesus hulle gehelp om hulle denke reg te stel?
9 Jesus het waarskynlik geweet dat die eerste idee kort daarna reggestel sou word. Trouens, sy volgelinge sou net tien dae later die geboorte van ’n nuwe nasie, geestelike Israel, sien! God se handelinge met vleeslike Israel was byna op ’n einde. Wat die tweede idee betref, het Jesus hulle liefdevol herinner: “Die Vader het tye en tydperke volgens sy wil vasgestel, en dit is nie vir julle om daarvan te weet nie” (Hand. 1:7). Jehovah is die Groot Tydhouer. Voordat Jesus gesterf het, het hy gesê dat nie eens die Seun destyds geweet het op watter “dag en uur” die einde sou kom nie, maar “net die Vader” (Matt. 24:36). Dit geld vandag nog; as Christene uitermatig besorg raak oor wanneer die einde van hierdie stelsel van dinge gaan kom, bekommer hulle hulle in werklikheid oor iets wat nie ‘vir hulle’ is nie.
10. Watter gesindheid van die apostels moet ons aankweek, en waarom?
10 Ons moet nietemin versigtig wees dat ons nie neersien op Jesus se apostels, wat manne met groot geloof was nie. Hulle het die raad nederig aanvaar. Wat meer is, al het hulle vraag uit foutiewe denke gespruit, het dit ook ’n goeie gesindheid geopenbaar. Jesus het sy volgelinge herhaaldelik aangespoor: “Hou . . . aan waak” (Matt. 24:42; 25:13; 26:41). Hulle was geestelik waaksaam, gretig op die uitkyk na bewyse dat Jehovah gereed was om op te tree. Dit is die gesindheid wat ons vandag moet aankweek. Trouens, hierdie kritieke “laaste dae” maak dit al hoe dringender dat ons dit doen. – 2 Tim. 3:1-5.
11, 12. (a) Watter opdrag het Jesus sy volgelinge gegee? (b) Waarom was dit gepas dat Jesus melding gemaak het van die heilige gees toe hy die predikingsopdrag gegee het?
11 Jesus het die apostels herinner aan wat vir hulle die belangrikste moet wees. Hy het gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die heilige gees op julle kom, en julle sal getuies van my wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Hand. 1:8). Die nuus oor Jesus se opstanding sou heel eerste verkondig word in Jerusalem, waar mense Jesus doodgemaak het. Daarvandaan sou die boodskap versprei deur die hele Judea, dan na Samaria en daarna selfs verder.
12 Dit is gepas dat Jesus die predikingsopdrag eers gegee het nadat hy sy belofte herhaal het om die heilige gees te stuur om hulle te help. Dit is een van die meer as 40 keer dat die uitdrukking “heilige gees” in die boek Handelinge voorkom. Keer op keer stel hierdie opwindende Bybelboek dit duidelik dat ons nie Jehovah se wil sonder die hulp van die heilige gees kan doen nie. Hoe belangrik is dit dan tog dat ons gereeld vir daardie gees bid! (Luk. 11:13). Ons het dit nou nodiger as ooit.
13. Hoe omvattend is die predikingstoewysing wat God se hedendaagse volk ontvang het, en waarom moet ons dit heelhartig aanvaar?
13 Die betekenis van die woorde “die mees afgeleë deel van die aarde” het sedert daardie tyd verander. Maar soos die vorige hoofstuk getoon het, het Jehovah se Getuies hierdie predikingstoewysing heelhartig aanvaar, in die wete dat God wil hê dat alle soorte mense die goeie nuus van sy Koninkryk moet hoor (1 Tim. 2:3, 4). Is jy ten volle betrokke by hierdie lewensreddende werk? Jy sal nêrens ’n werk vind wat jou groter bevrediging en vervulling sal verskaf nie! Jehovah sal jou die nodige krag gee om dit te doen. In die boek Handelinge sal jy baie leer oor die regte metodes om te gebruik en die gesindheid wat jy moet aankweek om doeltreffend te wees.
14, 15. (a) Wat het die engele oor Christus se terugkeer gesê, en wat het hulle bedoel? (Sien ook voetnoot.) (b) In watter opsig het Christus “op dieselfde manier” teruggekeer as wat hy weggegaan het?
14 Soos aan die begin van hierdie hoofstuk genoem is, het Jesus van die aarde af opgevaar en kon hy nie meer gesien word nie. Nietemin het die 11 apostels daar bly staan en in die lug opgekyk. Uiteindelik het twee engele verskyn en hierdie ligte vermaning gegee: “Manne van Galilea, hoekom staan en kyk julle in die lug in? Hierdie Jesus wat van julle af in die lug opgeneem is, sal op dieselfde manier kom as wat julle hom na die hemel sien gaan het” (Hand. 1:11). Het die engele bedoel dat Jesus met dieselfde liggaam sou terugkeer, soos party geestelikes leer? Nee, hulle het nie. Hoe weet ons dit?
15 Die engele het gesê dat Jesus sou terugkeer, nie in dieselfde vorm nie, maar “op dieselfde manier”.b Op watter manier het hy weggegaan? Toe die engele daardie woorde gesê het, kon hy nie meer gesien word nie. Net daardie paar manne, die apostels, het besef dat Jesus die omgewing van die aarde verlaat het en op pad was na sy Vader in die hemel. Christus se terugkeer sou soortgelyk wees. En dit is wat gebeur het. Vandag besef net dié met geestelike onderskeidingsvermoë dat Jesus in koninklike mag teenwoordig is (Luk. 17:20). Ons moet die bewyse van sy teenwoordigheid onderskei en ander daarvan vertel sodat hulle ook kan besef hoe dringend ons tye is.
“Wys watter een . . . u gekies het” (Handelinge 1:13-26)
16-18. (a) Wat leer ons uit Handelinge 1:13, 14 omtrent Christelike samekomste vir aanbidding? (b) Wat kan ons leer uit die voorbeeld van Jesus se ma, Maria? (c) Waarom is Christelike vergaderinge vandag noodsaaklik?
16 Dit is geen wonder dat die apostels “met groot vreugde na Jerusalem teruggekeer” het nie (Luk. 24:52). Maar hoe sou hulle reageer op Christus se leiding en opdrag? In verse 13 en 14 van Handelinge hoofstuk 1 vind ons hulle saam in ’n “bo-kamer”, en ons leer ’n paar interessante besonderhede omtrent sulke samekomste. Destyds het huise in Palestina dikwels ’n bo-kamer gehad wat met trappe aan die buitekant bereik kon word. Was hierdie “bo-kamer” dalk bo-op die huis wat in Handelinge 12:12 genoem word en aan Markus se ma behoort het? Hoe dit ook al sy, dit was waarskynlik ’n eenvoudige, praktiese vertrek waar Christus se volgelinge kon bymekaarkom. Maar wie het bymekaargekom, en wat het hulle daar gedoen?
17 Let op dat nie net die apostels by die samekoms teenwoordig was nie, en ook nie net mans nie. “’n Aantal vrouens” was ook daar, insluitende Jesus se ma, Maria. Dit is die laaste keer dat daar direk na haar verwys word in die Bybel. Dit is gepas om in hierdie konteks aan haar te dink, waar sy nie aansien probeer verwerf nie, maar nederig saam met haar geestelike broers en susters vir aanbidding vergader. Sy is waarskynlik vertroos deur die feit dat haar vier ander seuns, wat gedurende Jesus se leeftyd nie gelowiges was nie, nou saam met haar was (Matt. 13:55; Joh. 7:5). Hulle halfbroer se dood en opstanding het ’n groot verandering in hulle teweeggebring. – 1 Kor. 15:7.
18 Let ook op waarom hierdie dissipels bymekaargekom het: “Hulle almal het met een doel aanhou bid” (Hand. 1:14). Vergaderinge was nog altyd ’n baie belangrike deel van Christelike aanbidding. Ons kom bymekaar om mekaar aan te moedig, om onderrigting en raad te ontvang en bowenal om ons hemelse Vader, Jehovah, saam te aanbid. Ons gebede en lofliedere by sulke geleenthede maak sy hart baie bly en is noodsaaklik vir ons. Mag ons nooit hierdie heilige en opbouende samekomste nalaat nie! – Heb. 10:24, 25.
19-21. (a) Wat leer ons uit die aktiewe rol wat Petrus in die gemeente gespeel het? (b) Waarom moes Judas vervang word, en wat kan ons leer uit die manier waarop die saak hanteer is?
19 Daardie volgelinge van Christus moes nou ’n belangrike organisatoriese besluit neem, en die apostel Petrus het die bespreking ingelei (Verse 15-26). Is dit nie bemoedigend om te sien watter vordering Petrus gemaak het in die paar weke sedert hy sy Here drie keer verloën het nie? (Mark. 14:72). Ons is almal geneig tot sonde, en ons moet daaraan herinner word dat Jehovah ‘goed is’ en diegene ‘vryelik vergewe’ wat opregte berou het. – Ps. 86:5.
20 Petrus het onderskei dat Judas, die apostel wat Jesus verraai het, vervang moet word. Maar deur wie? Die nuwe apostel moet iemand wees wat Jesus deur sy hele bediening heen gevolg het en ’n getuie van sy opstanding was (Hand. 1:21, 22). Dit was in ooreenstemming met Jesus se eie belofte: “Julle wat my gevolg het, [sal] op 12 trone sit en die 12 stamme van Israel oordeel” (Matt. 19:28). Jehovah se voorneme was klaarblyklik dat 12 apostels wat Jesus gedurende sy aardse bediening gevolg het, die toekomstige “12 fondamentstene” van Nuwe Jerusalem moet uitmaak (Op. 21:2, 14). God het Petrus dus help besef dat die profesie, “laat iemand anders sy opsienersamp neem”, op Judas van toepassing was. – Ps. 109:8.
21 Hoe is die keuse gedoen? Die lot is gewerp, ’n algemene gebruik in Bybeltye (Spr. 16:33). Maar dit is die laaste keer dat die Bybel daarvan melding maak dat die lot op dié manier gebruik is. Weens die latere uitstorting van die heilige gees is hierdie metode blykbaar nie meer gebruik nie. Let egter op die rede waarom die lot gewerp is. Die apostels het gebid: “U, o Jehovah, wat die harte van almal ken, wys watter een van hierdie twee manne u gekies het” (Hand. 1:23, 24). Hulle wou hê dat Jehovah die keuse moet maak. Mattias, waarskynlik een van die 70 dissipels wat Jesus uitgestuur het om te preek, is gekies. Mattias het dus een van “die Twaalf” geword.c – Hand. 6:2.
22, 23. Waarom moet ons onderdanig en gehoorsaam wees aan dié wat vandag die leiding neem in die gemeente?
22 Hierdie gebeurtenis laat ons dink aan die belangrikheid van organisasie onder God se volk. Tot vandag toe word verantwoordelike manne gekies om as opsieners in die gemeente te dien. Die ouermanne gee noukeurige oorweging aan die skriftuurlike vereistes waaraan hierdie opsieners moet voldoen, en hulle bid vir die leiding van die heilige gees. Die gemeente beskou hulle dus as manne wat deur die heilige gees aangestel is. Wat ons betref, ons bly onderdanig en gehoorsaam aan hulle leiding en bevorder ’n gees van samewerking in die gemeente. – Heb. 13:17.
23 Versterk deur Jesus se verskynings ná sy opstanding sowel as organisatoriese verfynings, was die dissipels nou heeltemal gereed vir wat voorgelê het. Die volgende hoofstuk sal daardie betekenisvolle gebeurtenis bespreek.
a In sy Evangelie spreek Lukas hierdie man aan as “geagte Teofilus”, wat vir sommige daarop dui dat Teofilus moontlik ’n vooraanstaande persoon was wat op daardie stadium nie ’n gelowige was nie (Luk. 1:3). Maar hier in Handelinge spreek Lukas hom eenvoudig aan as “o Teofilus”. Party geleerdes beweer dat Teofilus ’n gelowige geword het nadat hy Lukas se Evangelie gelees het; gevolglik, sê hulle, gebruik Lukas nie die eretitel nie, maar skryf hy aan die man as ’n geestelike broer.
b Hier gebruik die Bybel die Griekse woord troʹpos, wat dui op “manier”, en nie mor·feʹ, wat “vorm” beteken nie.
c Paulus is later aangestel as “’n apostel vir die nasies”, maar hy is nooit onder die 12 getel nie (Rom. 11:13; 1 Kor. 15:4-8). Hy het nie vir daardie spesiale voorreg gekwalifiseer nie omdat hy Jesus nie gedurende sy aardse bediening gevolg het nie.