“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is”
“hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig.”—1 PET. 5:2.
1. Wat was Christene se situasie toe Petrus sy eerste brief geskryf het?
DIE een of ander tyd voordat Nero die Christene in Rome begin vervolg het, het die apostel Petrus sy eerste brief geskryf. Hy wou sy medegelowiges versterk. Die Duiwel het ‘rondgeloop’ en was daarop uit om Christene te verslind. Om teen hom vas te staan, moes hulle ‘nugter van verstand bly’ en ‘hulle verneder onder die magtige hand van God’ (1 Pet. 5:6, 8). Hulle moes ook verenig bly. Hulle kon nie bekostig om “mekaar te byt en te verslind” nie, want dit kon daartoe lei dat hulle “deur mekaar verdelg word”.—Gal. 5:15.
2, 3. Teen wie moet ons stry, en wat gaan ons in hierdie reeks bespreek?
2 Ons bevind ons vandag in ’n soortgelyke situasie. Die Duiwel soek na geleenthede om ons te verslind (Op. 12:12). En voor ons lê ’n “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld . . . nie plaasgevind het nie” (Matt. 24:21). Net soos eerste-eeuse Christene, moet ons daarteen waak dat ons onder mekaar twis. Om dit te doen, het ons soms die hulp van bekwame ouer manne nodig.
3 Kom ons bespreek hoe ouer manne hulle waardering kan vergroot vir die voorreg om as herders toesig te hou oor ‘die kudde van God wat onder hulle sorg is’ (1 Pet. 5:2). Daarna sal ons kyk wat die regte manier is om die herderswerk te doen. In die volgende artikel sal ons ondersoek hoe die gemeente ‘respek kan hê vir dié wat hard werk en die leiding neem’ onder die kudde (1 Tess. 5:12). ’n Bespreking van hierdie sake sal ons help om ferm standpunt teen ons Hoofteenstander in te neem, in die besef dat hy die een is teen wie ons ’n worstelstryd het.—Ef. 6:12.
Hou as herders toesig oor die kudde van God
4, 5. Hoe moet die ouer manne die kudde beskou? Lig toe.
4 Petrus het die ouer manne onder die eerste-eeuse Christene aangespoor om ’n goddelike beskouing te hê van die kudde wat aan hulle toevertrou is. (Lees 1 Petrus 5:1, 2.) Hoewel Petrus as ’n steunpilaar in die gemeente beskou is, het hy nie op ’n neerbuigende wyse met die ouer manne gepraat nie. Hy het hulle eerder as mede- ouer manne vermaan (Gal. 2:9). Met ’n soortgelyke gees as Petrus maan die hedendaagse Bestuursliggaam gemeentelike ouer manne om daarna te streef om die groot verantwoordelikheid om as herders toesig te hou oor God se kudde, na te kom.
5 Die apostel het geskryf dat die ouer manne ‘as herders toesig moet hou oor die kudde van God wat onder hulle sorg is’. Dit was baie belangrik dat hulle besef dat die kudde aan Jehovah en Jesus Christus behoort. Die ouer manne moes rekenskap gee van hoe hulle oor God se skape waak. Gestel ’n goeie vriend vra jou om na sy kinders te kyk terwyl hy weg is. Sal jy hulle nie goed oppas en kos gee nie? Sal jy nie, as een van die kinders siek word, seker maak dat hy die nodige mediese sorg ontvang nie? Net so moet die ouer manne in die gemeente “as herders toesig . . . hou oor die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het” (Hand. 20:28). Hulle hou in gedagte dat elke skaap met die kosbare bloed van Christus Jesus gekoop is. Omdat die ouer manne aanspreeklik is, voed, beskerm en sorg hulle vir die kudde.
6. Watter verantwoordelikhede het eertydse herders gehad?
6 Dink aan die verantwoordelikhede wat letterlike herders in Bybeltye gehad het. Hulle moes die hitte van die dag en die koue van die nag verduur om die kudde op te pas (Gen. 31:40). Hulle het selfs hulle lewe ter wille van die skape gewaag. Die herderseun Dawid het sy kudde teen wilde diere beskerm, insluitende ’n leeu en ’n beer. Dawid het gesê dat hy in albei gevalle die dier se “baard gegryp en hom neergeslaan en hom doodgemaak” het (1 Sam. 17:34, 35). Hoe dapper! Hoe naby het hy tog aan die dier se kake gekom! Dit het hom nogtans nie gekeer om die skaap te red nie.
7. Hoe ruk ouer manne moontlik die skape in figuurlike sin uit Satan se kake?
7 Vandag moet ouer manne op hulle hoede wees teen die leeuagtige aanvalle van die Duiwel. Dit beteken dalk dat hulle moedig moet optree om die skape in figuurlike sin uit die Duiwel se kake te ruk. Deur as ’t ware die baard van die wilde dier te gryp, kan ouer manne die skape red. Hulle redeneer moontlik met onbehoedsame broers wat weens Satan se strikke in die versoeking kom. (Lees Judas 22, 23.) Ouer manne doen dit natuurlik nie sonder Jehovah se hulp nie. Hulle behandel ’n beseerde skaap met teerheid en verbind sy wond en wend die strelende salf van God se Woord aan.
8. Waarheen lei ouer manne die kudde, en hoe?
8 ’n Letterlike herder het die kudde ook na ’n gepaste wei- en drinkplek gelei. So ook rig ouer manne die kudde na die gemeente deur hulle aan te spoor om vergaderinge gereeld by te woon sodat die kudde goed gevoed kan wees en “hulle voedsel op die regte tyd” kan ontvang (Matt. 24:45). Die ouer manne moet moontlik ekstra tyd daaraan bestee om diegene wat geestelik siek is, te help om voeding uit God se Woord te aanvaar. ’n Afgedwaalde skaap probeer dalk om na die kudde terug te keer. Die ouer manne intimideer nie hulle broer nie, maar verduidelik eerder op tere wyse skriftuurlike beginsels en wys hom hoe hy dit in sy lewe kan toepas.
9, 10. Hoe moet ouer manne omsien na dié wat geestelik siek is?
9 Watter soort dokter verkies jy wanneer jy siek is? Een wat skaars na jou luister en dan gou medisyne voorskryf sodat hy die volgende pasiënt kan ontvang? Of sou jy eerder ’n dokter raadpleeg wat na jou luister, verduidelik wat dalk fout is met jou en moontlike behandelings uiteensit?
10 So ook kan die ouer manne luister na die een wat geestelik siek is en help om die wond te genees en hom sodoende in figuurlike sin “in die naam van Jehovah met olie salf”. (Lees Jakobus 5:14, 15.) Soos die balsem van Gilead, kan God se Woord die sieke streel (Jer. 8:22; Eseg. 34:16). Wanneer Bybelbeginsels toegepas word, kan dit die een wat wankel, help om sy geestelike balans te herwin. Ja, die ouer manne help grootliks wanneer hulle luister na wat die siek skaap kwel en dan saam met hom bid.
Nie onder dwang nie, maar gewillig
11. Wat beweeg ouer manne om gewillig as herders toesig te hou oor die kudde van God?
11 Petrus het die ouer manne vervolgens herinner aan hoe die herderswerk gedoen moet word en nie gedoen moet word nie. Ouer manne moet as herders toesig hou oor die kudde van God, “nie onder dwang nie, maar gewillig”. Wat beweeg ouer manne om hulle broers gewillig te dien? Wel, wat het Petrus beweeg om ’n herder vir Jesus se skape te wees en hulle te voed? ’n Sleutel was sy liefde en geneentheid vir die Here (Joh. 21:15-17). Liefde beweeg ouer manne om “nie langer vir hulleself [te] lewe nie, maar vir hom wat vir hulle gesterf het” (2 Kor. 5:14, 15). Hierdie liefde, tesame met hulle liefde vir God en hulle broers, dring ouer manne om die kudde te dien deur hulle energie, middele en tyd hiervoor te gebruik (Matt. 22:37-39). Hulle gee van hulleself, nie teësinnig nie, maar gewillig.
12. In watter mate het die apostel Paulus van homself gegee?
12 In watter mate moet die ouer manne van hulleself gee? In hulle werk om na die skape om te sien, volg hulle die apostel Paulus na, net soos hy Jesus nagevolg het (1 Kor. 11:1). Omdat hulle tere geneentheid vir die broers in Tessalonika gehad het, het Paulus en sy metgeselle hulle met graagte ‘nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook hulle eie siele’. Sodoende het hulle teergevoelig geword, “soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester” (1 Tess. 2:7, 8). Paulus het verstaan hoe ’n sogende moeder oor haar kinders voel. Sy sal enigiets vir hulle doen, selfs in die middel van die nag opstaan om hulle te voed.
13. Watter balans moet ouer manne handhaaf?
13 Die ouer manne moet sorg dat hulle ’n balans handhaaf tussen herdersverantwoordelikhede en verpligtinge teenoor hulle eie gesin (1 Tim. 5:8). Die tyd wat ouer manne aan die gemeente bestee, is kosbare tyd wat hulle met hulle gesin kon bestee het. Een manier om ’n balans tussen die twee verantwoordelikhede te handhaaf, is om ander soms na hulle aand vir Gesinsaanbidding te nooi. Deur die jare heen het Masanao, ’n ouer man in Japan, ongetroudes en gesinne wat in geestelike sin vaderloos is, na sy gesin se studie genooi. Mettertyd het party wat gehelp is, self ouer manne geword en Masanao se goeie voorbeeld gevolg.
Vermy oneerlike gewin—Hou gretig toesig oor die kudde
14, 15. Waarom moet ouer manne waak teen die “liefde vir oneerlike gewin”, en hoe kan hulle Paulus in hierdie opsig navolg?
14 Petrus het ouer manne ook aangespoor om as herders toesig oor die kudde te hou, “nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig”. Die werk van die ouer manne neem baie tyd in beslag, maar hulle verwag nie geldelike vergoeding nie. Petrus het gesien dat dit nodig is om sy mede- ouer manne te waarsku teen die gevaar om “uit liefde vir oneerlike gewin” oor die kudde toesig te hou. Hierdie gevaar blyk duidelik uit die weelderige lewe wat godsdiensleiers van “Babilon die Grote” lei terwyl baie mense noodgedwonge in armoede lewe (Op. 18:2, 3). Hedendaagse ouer manne het goeie rede om te waak teen enige neiging in hierdie rigting.
15 Paulus het ’n goeie voorbeeld vir Christen- ouer manne gestel. Hoewel hy ’n apostel was en Christene in Tessalonika “’n duur las” kon opgelê het, het hy “nie by enigeen verniet voedsel geëet nie”. Hy het eerder ‘nag en dag geswoeg en gearbei’ (2 Tess. 3:8). Baie hedendaagse ouer manne, insluitende dié in die reisende werk, stel ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig. Hoewel hulle gebruik maak van medegelowiges se gasvryheid, lê hulle niemand “’n duur las” op nie.—1 Tess. 2:9.
16. Wat beteken dit om “gretig” toesig te hou oor die kudde?
16 Die ouer manne hou “gretig” toesig oor die kudde. Hulle gretigheid kan gesien word in die selfopofferende gesindheid waarmee hulle die kudde help. Dit beteken egter nie dat hulle die kudde dwing om Jehovah te dien nie; ook spoor liefdevolle ouer manne ander nie aan om God met ’n gees van wedywering te dien nie (Gal. 5:26). Ouer manne besef dat elke skaap uniek is. Hulle is gretig om hulle broers te help om Jehovah met vreugde te dien.
Moenie baasspeel oor die kudde nie—Wees eerder voorbeelde
17, 18. (a) Waarom was dit soms vir die apostels moeilik om Jesus se lering oor nederigheid te begryp? (b) In watter soortgelyke situasie bevind ons ons dalk?
17 Soos ons bespreek het, moet die ouer manne in gedagte hou dat die kudde waaroor hulle toesig hou, God s’n is, nie hulle s’n nie. Hulle sorg dat hulle nie “baasspeel oor dié wat God se erfenis is” nie. (Lees 1 Petrus 5:3.) Jesus se apostels het soms voorregte met die verkeerde beweegrede nagestreef. Soos dié wat oor die nasies heers, wou hulle ’n vername posisie hê.—Lees Markus 10:42-45.
18 Dit sal goed wees as broers wat vandag “na ’n opsienersamp streef”, hulleself ondersoek om vas te stel waarom hulle daarna streef (1 Tim. 3:1). Dié wat nou ouer manne is, kan hulle eerlik afvra of hulle gesag of vernaamheid begeer soos party van die apostels gedoen het. Aangesien die apostels ’n probleem in hierdie opsig gehad het, moet ouer manne besef dat hulle hulle kragtig moet inspan om weerstand te bied teen enige wêreldse neiging om dit te geniet om gesag oor ander te voer.
19. Wat moet ouer manne onthou wanneer hulle optree om die kudde te beskerm?
19 Daar is weliswaar tye wanneer die ouer manne ferm moet optree, soos wanneer hulle die kudde teen “onderdrukkende wolwe” beskerm (Hand. 20:28-30). Paulus het vir Titus gesê om aan te hou “om te vermaan en tereg te wys met volle gesag” (Tit. 2:15). Maar selfs wanneer die ouer manne so moet optree, probeer hulle die betrokkenes met respek behandel. Hulle besef dat dit gewoonlik doeltreffender is om iemand vriendelik aan te moedig eerder as om skerp kritiek te lewer as hulle harte wil bereik en iemand wil beweeg om die regte weg te volg.
20. Hoe kan ouer manne Jesus navolg deur ’n goeie voorbeeld te stel?
20 Christus se goeie voorbeeld beweeg ouer manne om die kudde lief te hê (Joh. 13:12-15). Dit verbly ons harte wanneer ons lees hoe hy sy dissipels in die predikings- en dissipelmaakwerk onderrig het. Sy voorbeeld van nederigheid het die harte van sy dissipels geraak en hulle beweeg om ’n weg te volg wat getoon het dat hulle ‘met ootmoed die ander hoër as hulleself ag’ (Fil. 2:3). Hedendaagse ouer manne word eweneens beweeg om Jesus se voorbeeld te volg, en op hulle beurt wil hulle “voorbeelde vir die kudde” wees.
21. Na watter beloning kan ouer manne uitsien?
21 Petrus het sy vermaning aan die ouer manne afgesluit deur na ’n belofte vir die toekoms te verwys. (Lees 1 Petrus 5:4.) Die gesalfde opsieners sal “die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang” saam met Christus in die hemel. Die onderherders wat “ander skape” is, sal die voorreg hê om op die aarde onder die heerskappy van “die hoofherder” as herders toesig te hou oor die kudde van God (Joh. 10:16). Die volgende artikel sal maniere bespreek waarop gemeentelede dié kan ondersteun wat aangestel is om die leiding te neem.
Ter hersiening
• Waarom was dit gepas dat Petrus mede- ouer manne vermaan het om as herders toesig te hou oor die kudde van God wat onder hulle sorg is?
• Hoe moet ouer manne as herders omsien na dié wat geestelik siek is?
• Wat beweeg ouer manne om as herders toesig te hou oor die kudde van God wat onder hulle sorg is?
[Prent op bladsy 21]
Soos eertydse herders, moet hedendaagse ouer manne die “skape” beskerm wat onder hulle sorg is