Tatianus—Apologeet of ketter?
TEEN die einde van sy derde sendingreis het die apostel Paulus met die ouer manne van die gemeente in Efese vergader. Hy het vir hulle gesê: “Ek weet dat onderdrukkende wolwe ná my vertrek onder julle sal inkom en die kudde nie met teerheid sal behandel nie, en uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek.”—Handelinge 20:29, 30.
In ooreenstemming met Paulus se woorde was die tweede eeu G.J. ’n tydperk van verandering sowel as die voorspelde afvalligheid. Gnostisisme, ’n wydverspreide godsdiens- en filosofiese beweging wat die geloof van sommige gelowiges besoedel het, was besig om veld te wen. Gnostici het geglo dat geestelike dinge goed is en dat alle fisiese dinge boos is. Omdat hulle geredeneer het dat alle vlees boos is, het hulle die huwelik en voortplanting verwerp en beweer dat dit van Satan afkomstig is. Party van hulle het geglo dat dit nie saak maak wat ’n mens met jou fisiese liggaam doen nie, aangesien net dinge wat met die gees verband hou, goed is. Sulke beskouings het uiterste lewenswyses tot gevolg gehad—óf asketisme óf losbandige gedrag. Die Gnostiese bewering dat redding slegs moontlik is deur mistieke Gnostisisme, of selfkennis, het geen ruimte vir die waarheid van God se Woord gelaat nie.
Hoe het verklaarde Christene op die bedreiging van Gnostisisme gereageer? Sommige geleerde manne het hulle teen die valse leringe daarvan uitgespreek, terwyl ander voor die invloed daarvan geswig het. Ireneus het byvoorbeeld ’n lewenslange stryd teen kettery aangepak. Hy is onderrig deur Polikarpus, ’n man wat ’n lewende skakel met die apostels was. Polikarpus het aanbeveel dat persone getrou bly by die leringe van Jesus Christus en sy apostels. Ten spyte van die feit dat Ireneus se vriend Florinus dieselfde leermeester gehad het, het hy die leringe van Valentinus, die vernaamste leier van die Gnostiese beweging, begin aanneem. Dit was inderdaad stormagtige tye.
Die werke van Tatianus, ’n vername skrywer van die tweede eeu, werp lig op die klimaat van daardie tydperk. Watter soort man was Tatianus? Hoe het hy ’n verklaarde Christen geword? En hoe het Tatianus gevaar onder die invloed van die Gnostiese kettery? Sy boeiende antwoorde en sy eie voorbeeld voorsien waardevolle lesse vir waarheidsoekers van vandag.
Hy kom “sekere vreemde geskrifte” teë
Tatianus is in Sirië gebore. Sy uitgebreide reise en sy belesenheid het hom sy kundigheid in die Grieks-Romeinse kultuur van sy dag besorg. Tatianus het na Rome toe gekom as ’n reisende redenaar. Maar terwyl hy in Rome was, het hy in die Christelike godsdiens begin belangstel. Hy het met Justinus die Martelaar begin assosieer, en dalk sy leerling geword.
In ’n insiggewende verslag oor sy bekering tot die sogenaamde Christelike godsdiens sê Tatianus: “Ek het na maniere gesoek waarop ek die waarheid kon ontdek.” Hy vertel hoe hy gevoel het toe hy aan die Skrif blootgestel is: “Ek het sekere vreemde geskrifte teëgekom, te oud om met die opvattings van die Grieke vergelyk te word, en te verhewe om met die foute daarin vergelyk te word; en ek is beweeg om geloof hierin te stel weens die eenvoud van die taal, die openhartigheid van die skrywers, die voorkennis wat getoon word van toekomstige gebeure, die uitstekende gehalte van die voorskrifte en die verklaring dat een Wese die ganse heelal regeer.”
Tatianus het nie geskroom om sy tydgenote te nooi om die Christelike godsdiens van sy dag te ondersoek en te sien hoe eenvoudig en duidelik dit in teenstelling met die duisternis van die heidendom is nie. Wat kan ons uit sy geskrifte leer?
Wat bring sy geskrifte aan die lig?
Tatianus se geskrifte beeld hom uit as ’n apologeet, ’n skrywer wat sy geloof verdedig. Hy het ’n streng en vyandige houding teen heidense filosofie ingeneem. In sy werk Rede gerig tot die Grieke beklemtoon Tatianus die nutteloosheid van die heidendom en die redelikheid van die Christelike godsdiens, soos hy dit geken het. Dit is met ’n baie kras styl dat hy sy minagting vir die Griekse weë uitspreek. Hy sê byvoorbeeld met verwysing na die filosoof Heraklitus: “Die dood het egter getoon hoe dwaas hierdie man was; want toe hy aan watersug gely het, het hy, aangesien hy medisyne en filosofie gestudeer het, hom met beesmis besmeer wat, namate dit hard geword het, die vlees van sy hele liggaam laat saamtrek het, sodat hy stukkend geskeur is en dus gesterf het.”
Tatianus het geloof in een God, die Skepper van alles, hoog aangeskryf (Hebreërs 3:4). In Rede gerig tot die Grieke verwys hy na God as “’n Gees” en sê: “Hy alleen is sonder begin, en Hyself is die begin van alles” (Johannes 4:24; 1 Timoteus 1:17). Waar Tatianus die gebruik van beelde in aanbidding verwerp, skryf hy: “Hoe kan ek van stompe en klippe praat as gode?” (1 Korintiërs 10:14). Hy het geglo dat die Woord, of die Logos, geskep is as die eersgeborene van die hemelse Vader se werke en daarna gebruik is in die skepping van die fisiese heelal (Johannes 1:1-3; Kolossense 1:13-17). Wat die opstanding op die vasgestelde tyd betref, sê Tatianus: “Ons glo dat daar ’n opstanding van liggame sal wees ná die voleinding van alle dinge.” Oor die rede waarom ons sterf, skryf Tatianus: “Ons is nie geskep om te sterf nie, maar dit is ons eie skuld dat ons sterf. Ons wilsvryheid het ons vernietig; ons wat vry was, het slawe geword; ons is deur sonde verkoop.”
Die verduideliking wat Tatianus oor die siel gee, is verwarrend. Hy sê: “Die siel op sigself is nie onsterflik nie, o Grieke, maar sterflik. Tog is dit moontlik vir die siel om nie te sterf nie. As dit inderdaad nie die waarheid ken nie, sterf dit, en vergaan dit saam met die liggaam, maar dit word uiteindelik aan die einde van die wêreld saam met die liggaam opgewek en ontvang die dood deur vir ewig gestraf te word.” Presies wat Tatianus met hierdie stellings bedoel het, is onduidelik. Kan dit wees dat hy, hoewel hy by sekere Bybelleerstellings gehou het, ook probeer het om in sy tydgenote se guns te bly en derhalwe skriftuurlike waarhede met heidense filosofieë vermeng het?
Nog ’n belangrike werk van Tatianus is die Diatessaron, of Harmonie van die vier Evangelies. Tatianus was die eerste persoon wat aan die gemeentes in Sirië die Evangelies in hulle eie taal gegee het. Dit was ’n hoogaangeskrewe werk waarin die vier Evangelies in ’n enkele verhaal saamgeweef is. Dit is deur die Siriese Kerk gebruik.
’n Christen of ’n ketter?
’n Noukeurige ondersoek van Tatianus se geskrifte toon dat hy bekend was met die Skrif en groot respek daarvoor gehad het. Hy skryf oor die invloed wat dit op hom gehad het: “Ek begeer nie rykdom nie; ek wys militêre gesag van die hand; ek verafsku hoerery; ek word nie gedring deur ’n onversadigbare liefde vir gewin om op see te gaan nie; . . . Ek is vry van ’n oordrewe sug na roem . . . Dieselfde son is vir almal, en daar is een dood vir almal, of hulle in weelde of armoede lewe.” Tatianus maan: “Sterf ten opsigte van die wêreld en verwerp die dwaasheid daarin. Lewe vir God, en lê deur ’n begrip van Hom jou ou natuur af.”—Matteus 5:45; 1 Korintiërs 6:18; 1 Timoteus 6:10.
Beskou egter Tatianus se werk met die titel Oor volmaaktheid volgens die leer van die Verlosser. In hierdie werk beweer hy dat die huwelik sy oorsprong by die Duiwel het. Tatianus het aangevoer dat mense deur die huwelik hulle vlees aan die verganklike wêreld verbind en veroordeel dit gevolglik ten sterkste.
Dit wil voorkom of Tatianus omstreeks 166 G.J., ná die dood van Justinus die Martelaar, ’n asketiese sekte bekend as die Enkratiete óf gestig óf by hulle aangesluit het. Die aanhangers daarvan het streng selfbeheersing en beheer oor die liggaam beklemtoon. Hulle het ’n asketisme beoefen wat onthouding van wyn, die huwelik en besittings vereis het.
’n Les wat ons kan leer
Waarom het Tatianus so ver van die Skrif afgewyk? Het hy “’n vergeetagtige hoorder” geword? (Jakobus 1:23-25). Het Tatianus versuim om valse stories te verwerp en sodoende in die strik van mensefilosofie getrap? (Kolossense 2:8; 1 Timoteus 4:7). Kan ’n geestesversteuring dalk ’n faktor wees, aangesien die dwalinge wat hy ondersteun het, so groot was?
Wat ook al die geval was, Tatianus se geskrifte en voorbeeld gee ons ’n kykie in die godsdiensklimaat van sy dag. Dit toon hoe skadelik die invloed van wêreldse filosofie kan wees. Mag ons die apostel Paulus se waarskuwing ter harte neem om ons af te keer “van die leë praatjies wat skend wat heilig is en van die teenstrydighede van die sogenaamde ‘kennis’”.—1 Timoteus 6:20.