HOOFSTUK 39
God onthou sy Seun
JESUS het gehuil toe sy vriend Lasarus doodgegaan het. Dink jy dit het Jehovah seergemaak toe Jesus gely en doodgegaan het?— Die Bybel sê dat dinge wat gebeur God kan ‘krenk’, of seermaak, en hom selfs kan “bedroef”, of hartseer maak.—Psalm 78:40, 41; Johannes 11:35.
Kan jy dink hoe hartseer Jehovah moes gewees het terwyl hy gekyk het hoe sy geliefde Seun doodgaan?— Jesus was seker dat God hom nie sou vergeet nie. Daarom was sy laaste woorde voordat hy doodgegaan het: “Vader, in u hande vertrou ek my [lewe] toe.”—Lukas 23:46.
Jesus was seker dat hy opgewek sou word, dat hy nie “in die doderyk”, of die graf, gelos sou word nie. Nadat Jesus opgewek is, het die apostel Petrus aangehaal wat in die Bybel oor Jesus geskryf is en gesê dat “sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie” (Handelinge 2:31, Die Bybel, 1953; Psalm 16:10). Nee, Jesus se liggaam het nooit tyd gehad om in die graf te verderf, dit wil sê te ontbind en sleg te ruik nie.
Toe Jesus op die aarde was, het hy selfs vir sy dissipels gesê hy sou nie baie lank dood wees nie. Hy het vir hulle verduidelik dat hy ‘doodgemaak en op die derde dag opgewek sou word’ (Lukas 9:22). Die dissipels moes dan eintlik glad nie verbaas gewees het toe Jesus opgewek is nie. Maar was hulle?— Kom ons kyk.
Dit was omtrent drie-uur Vrydagmiddag toe die Groot Onderwyser aan die folterpaal dood is. Josef was ’n ryk lid van die Sanhedrin wat ook in die geheim in Jesus geglo het. Toe hy hoor dat Jesus dood is, het hy na Pilatus, die Romeinse goewerneur, toe gegaan. Hy het gevra of hy Jesus se liggaam van die paal mag afhaal om dit te begrawe. Daarna het Josef Jesus se liggaam na ’n tuin gedra waar daar ’n graf was.
Nadat die liggaam in die graf gesit is, is ’n groot klip voor die ingang gerol. So is die graf toegemaak. En toe was dit die derde dag, wat Sondag was. Dit was voor sonop en daarom was dit nog donker. Manne het die graf bewaak. Die hoofpriesters het hulle gestuur om dit te doen. Weet jy hoekom?—
Die priesters het ook gehoor dat Jesus gesê het dat hy opgewek sou word. Daarom het die priesters wagte daar gesit om te keer dat sy dissipels die liggaam steel en dan sê dat Jesus opgewek is. Skielik het die grond begin bewe. In die donker het daar ’n helder lig geflits. Dit was ’n engel van Jehovah! Die soldate was so bang dat hulle nie kon beweeg nie. Die engel het na die graf gegaan en die klip weggerol. Die graf was leeg!
Ja, dit was soos die apostel Petrus later gesê het: “Hierdie Jesus het God opgewek” (Handelinge 2:32). God het Jesus opgewek met ’n liggaam soos die een wat Jesus gehad het voordat hy aarde toe gekom het. Hy is opgewek met ’n geesliggaam soos wat die engele het (1 Petrus 3:18). As Jesus dan wou hê dat mense hom moes sien, moes hy vir homself ’n vleeslike liggaam maak. Is dit wat hy gedoen het?— Kom ons kyk.
Die son was besig om op te kom. Die soldate was nie meer daar nie. Maria Magdalena en ander vroue wat dissipels van Jesus was, was op pad na die graf toe. Hulle het vir mekaar gesê: ‘Wie sal vir ons daardie swaar klip wegrol?’ (Markus 16:3). Maar toe hulle by die graf kom, was die klip al klaar weggerol. En die graf was leeg! Jesus se dooie vleeslike liggaam was weg! Maria Magdalena het dadelik gehardloop om van Jesus se apostels te gaan soek.
Die ander vroue het by die graf gebly. Hulle het gewonder: ‘Waar kan Jesus se liggaam tog wees?’ Skielik het twee mans in glinsterende klere verskyn. Hulle was engele! Hulle het vir die vroue gesê: ‘Hoekom soek julle Jesus hier? Hy is opgewek. Gaan gou en vertel vir sy dissipels.’ Wel, jy kan dink hoe vinnig daardie vroue gehardloop het! Op pad het ’n man hulle ontmoet. Weet jy wie hy was?—
Dit was Jesus, wat vir homself ’n vleeslike liggaam gemaak het! Hy het ook vir die vroue gesê: ‘Gaan vertel vir my dissipels.’ Die vroue was opgewonde. Hulle het die dissipels gekry en vir hulle gesê: ‘Jesus lewe! Ons het hom gesien!’ Maria het alreeds vir Petrus en Johannes van die leë graf vertel. Toe het hulle daarheen gegaan, soos jy hier kan sien. Hulle het na die linnedoeke gekyk waarin Jesus toegedraai was, maar hulle het nie geweet wat om te dink nie. Hulle wou glo dat Jesus weer lewe, maar dit het te goed gelyk om waar te wees.
Later daardie Sondag het Jesus aan twee van sy dissipels verskyn wat op die pad na die dorpie Emmaus geloop het. Jesus het saam met hulle geloop en met hulle gesels, maar hulle het hom nie herken nie, want hy het nie dieselfde vleeslike liggaam as vroeër gehad nie. Dit was eers toe Jesus saam met hulle geëet en ’n gebed gedoen het dat hulle hom herken het. Die dissipels was so opgewonde dat hulle kilometers ver teruggedraf het na Jerusalem toe! Dit was moontlik kort hierna dat Jesus aan Petrus verskyn het om vir hom te wys dat Hy lewe.
Toe, later daardie Sondagaand, het baie dissipels in ’n kamer bymekaargekom. Die deure was gesluit. Skielik was Jesus daar in die kamer by hulle! Toe het hulle geweet dat die Groot Onderwyser regtig weer lewe. Dink net hoe bly was hulle!—Matteus 28:1-15; Lukas 24:1-49; Johannes 19:38–20:21.
Oor ’n tydperk van 40 dae het Jesus in verskillende vleeslike liggame verskyn om vir sy dissipels te wys dat hy lewe. Toe het hy die aarde verlaat en teruggegaan na sy Vader in die hemel (Handelinge 1:9-11). Die dissipels het gou vir almal begin vertel dat God Jesus uit die dode opgewek het. Selfs toe die priesters hulle geslaan en party van hulle laat doodmaak het, het hulle aangehou preek. Hulle het geweet dat as hulle doodgaan, God hulle sal onthou net soos hy sy Seun onthou het.
Hoe anders was daardie vroeë volgelinge van Jesus tog as baie mense wat vandag lewe! Hierdie mense dink net aan Paashase en gekleurde Paaseiers gedurende die tyd van die jaar wanneer Jesus opgewek is. Maar die Bybel sê niks van Paashase en -eiers nie. Dit praat oor hoe ons God moet dien.
Ons kan soos Jesus se dissipels wees deur mense te vertel dat God iets wonderliks gedoen het toe hy sy Seun opgewek het. Ons hoef nooit bang te wees nie, al sê mense dat hulle ons sal doodmaak. Al gaan ons dood, Jehovah sal ons onthou en ons opwek, net soos hy met Jesus gedoen het.
Is ons nie bly dat God die mense onthou wat hom dien en hulle selfs uit die dode sal opwek nie?— Die feit dat ons hierdie dinge weet, moet maak dat ons wil weet hoe ons God gelukkig kan maak. Het jy geweet dat ons dit regtig kan doen?— Kom ons praat volgende hieroor.
Geloof in Jesus se opstanding moet ons ’n vaste hoop en sterk geloof gee. Lees asseblief Handelinge 2:22-36; 4:18-20 en 1 Korintiërs 15:3-8, 20-23.