Die goeie nuus word voor hoë amptenare verdedig
“HIERDIE man is vir my ’n uitverkore vat om my naam na die nasies sowel as na konings . . . te dra” (Hand. 9:15). Dit is wat die Here Jesus gesê het oor ’n nuwe bekeerling tot die Christelike godsdiens, die Joodse man wat later die apostel Paulus genoem is.
Een van hierdie “konings” was die Romeinse keiser Nero. Hoe sou jy voel as jy jou geloof voor so ’n heerser moes verdedig? As Christene word ons aangespoor om Paulus na te volg (1 Kor. 11:1). Een manier waarop ons dit kan doen, hou verband met Paulus se ondervindinge met die regstelsels van sy dag.
Die Mosaïese Wet was die landswet in Israel, en getroue Jode het hierdie wet gevolg ongeag waar hulle gewoon het. Ná Pinkster 33 HJ is daar nie van ware aanbidders verwag om die Mosaïese Wet te onderhou nie (Hand. 15:28, 29; Gal. 4:9-11). En tog het Paulus en ander Christene steeds respek vir die Wet getoon, en daarom kon hulle sonder teenstand in baie Joodse gemeenskappe getuig (1 Kor. 9:20). Trouens, Paulus het sinagoges dikwels besoek, waar hy met mense wat die God van Abraham geken het, uit die Hebreeuse Geskrifte kon redeneer.—Hand. 9:19, 20; 13:5, 14-16; 14:1; 17:1, 2.
Die apostels het Jerusalem gekies as die eerste sentrum van waar die predikingswerk georganiseer sou word. Hulle het gereeld by die tempel onderrig (Hand. 1:4; 2:46; 5:20). Paulus het nou en dan na Jerusalem gereis, en hy is uiteindelik daar in hegtenis geneem. Dit was die begin van ’n regsproses wat hom uiteindelik in Rome laat beland het.
PAULUS EN DIE ROMEINSE REG
Hoe het die Romeinse owerheid die opvattings beskou wat Paulus verkondig het? Om die antwoord hierop te kry, sal dit goed wees om te kyk watter beskouing die Romeine van godsdiens oor die algemeen gehad het. Hulle het nie die verskillende etniese groepe in die ryk gedwing om hulle godsdiens op te gee nie, tensy daar gemeen is dat dit ’n gevaar vir die Staat of sedes inhou.
Die Jode het baie regte in die Romeinse Ryk geniet. Die boek Backgrounds of Early Christianity sê: “Judaïsme het ’n bevoorregte posisie in die Romeinse Ryk geniet. . . . Die Jode kon hulle godsdiens vryelik beoefen, en daar is nie van hulle vereis om die gode van die Romeinse staat te aanbid nie. Hulle kon in hulle gemeenskappe volgens hulle eie wet lewe.” Daar is ook nie van hulle verwag om militêre diens te doen nie.a Paulus het die beskerming wat die Romeinse reg aan die Joodse godsdiens verleen het, gebruik wanneer hy die Christelike godsdiens voor die Romeinse owerheid verdedig het.
Paulus se teenstanders het op verskeie maniere probeer om die gewone mense en die owerheid teen die apostel te laat draai (Hand. 13:50; 14:2, 19; 18:12, 13). Kyk na een geval. Die Christen- ouer manne van die gemeente in Jerusalem het ’n gerug gehoor wat onder die Jode versprei is dat Paulus die volk leer “om van Moses afvallig te word”. Hierdie stories kon party pas bekeerde Joodse Christene laat dink het dat Paulus nie God se reëlings respekteer nie. Ook kon die Sanhedrin verklaar dat die Christelike godsdiens ’n afvallige godsdiens is wat van Judaïsme afgewyk het. As dit gebeur het, kon Jode wat met Christene assosieer, gestraf word. Hulle sou uitgeworpenes in die samelewing word en verbied word om in die tempel of in sinagoges te preek. Gevolglik het die gemeentelike ouer manne Paulus aangeraai om hierdie gerugte vals te bewys deur na die tempel te gaan en iets te doen wat God nie van hom verwag het nie, maar waarteen daar nie beswaar was nie.—Hand. 21:18-27.
Paulus het dit gedoen, en dit het geleenthede geskep om ‘die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig’ (Fil. 1:7). By die tempel het die Jode oproerig geraak en wou hulle Paulus doodmaak. Die Romeinse militêre bevelvoerder het Paulus in hegtenis geneem. Toe hulle Paulus wou gesel, het hy vir hulle gesê dat hy ’n Romeinse burger is. Dit het daartoe gelei dat hy na Sesarea geneem is, van waar die Romeine Judea bestuur het. Dit sou hom ongewone geleenthede bied om moedig voor hoë amptenare te getuig. Dit het waarskynlik tot gevolg gehad dat mense wat nie veel van die Christelike godsdiens geweet het nie, meer daarvan te wete gekom het.
Handelinge hoofstuk 24 beskryf Paulus se verhoor voor Feliks, die Romeinse goewerneur van Judea, wat reeds iets geweet het omtrent die Christene se opvattings. Die Jode het Paulus daarvan aangekla dat hy die Romeinse wet op ten minste drie maniere gebreek het. Hulle het gesê dat hy opstande onder al die Jode in die ryk verwek; dat hy ’n gevaarlike sekte lei; en dat hy die tempel probeer ontheilig het, wat destyds onder Romeinse beskerming was (Hand. 24:5, 6). Hierdie aanklagte kon tot die doodstraf lei.
Christene kan vandag baie leer uit hoe Paulus op die aanklagte gereageer het. Hy het kalm en respekvol gebly. Paulus het na die Wet en die Profete verwys, en hy het gesê dat hy die reg het om ‘die God van sy voorvaders’ te aanbid. Dit was ’n reg wat ander Jode onder die Romeinse regstelsel gehad het (Hand. 24:14). Later kon Paulus sy geloof voor die volgende goewerneur, Porcius Festus, sowel as koning Herodes Agrippa verdedig en bekend maak.
Paulus wou ’n regverdige verhoor hê, en daarom het hy uiteindelik gesê: “Ek beroep my op die keiser!”—die magtigste heerser van daardie tyd.—Hand. 25:11.
PAULUS SE VERHOOR VOOR DIE KEISER
“Jy moet voor die keiser staan”, het ’n engel later vir Paulus gesê (Hand. 27:24). Die Romeinse keiser Nero het aan die begin van sy bewind gesê dat hy nie alle sake self sal verhoor nie. Gedurende die eerste agt jaar van sy bewind het hy die taak gewoonlik aan ander gegee. Die boek The Life and Epistles of Saint Paul berig dat Nero die sake wat hy verhoor het, in sy eie paleis verhoor het, waar hy bygestaan is deur ’n groep raadgewers met baie ondervinding en invloed.
Die Bybel sê nie of Nero Paulus se saak self verhoor en uitspraak gelewer het en of hy iemand anders aangestel het om dit te doen en aan hom verslag te lewer nie. Hoe dit ook al sy, Paulus het waarskynlik verduidelik dat hy die God van die Jode aanbid en dat hy alle mense aanspoor om die regering die eer te gee wat dit toekom (Rom. 13:1-7; Tit. 3:1, 2). Dit lyk of Paulus se verdediging van die goeie nuus voor hoë amptenare suksesvol was, want die keiser se hof het Paulus vrygelaat.—Fil. 2:24; Filem. 22.
ONS OPDRAG OM DIE GOEIE NUUS TE VERDEDIG
Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies” (Matt. 10:18). Dit is ’n voorreg om Jesus op hierdie manier te verteenwoordig. Ons pogings om die goeie nuus te verdedig, kan regsoorwinnings tot gevolg hê. Die beslissings van onvolmaakte mense kan natuurlik nie die goeie nuus in die volle sin van die woord ‘wetlik bevestig’ nie. Slegs God se Koninkryk sal permanente verligting bring van onderdrukking en ongeregtigheid.—Pred. 8:9; Jer. 10:23.
Vandag kan Jehovah se naam ook verheerlik word wanneer Christene hulle geloof verdedig. Soos Paulus moet ons kalm, opreg en oortuigend probeer wees. Jesus het vir sy volgelinge gesê dat hulle nie ‘vooraf [hoef] te oefen hoe hulle hulle gaan verdedig nie, want hy sal aan hulle ’n mond en wysheid gee, wat al hulle teenstanders tesame nie sal kan weerstaan of betwis nie’.—Luk. 21:14, 15; 2 Tim. 3:12; 1 Pet. 3:15.
Wanneer Christene hulle geloof voor konings, goewerneurs of ander amptenare verdedig, kan hulle ’n getuienis gee vir mense wat andersins nie maklik met die Christelike boodskap bereik sou kon word nie. Party gunstige hofbeslissings het wette verbeter en sodoende godsdiensvryheid en vryheid van spraak beskerm. Maar ongeag hoe sulke sake afloop, die moed wat God se knegte tydens beproewinge openbaar, maak God se hart bly.
a Die skrywer James Parkes sê: “Die Jode . . . het die reg gehad om hulle feeste te vier. Dit was nie ongewoon vir die Romeine om hierdie voorregte toe te staan nie, want sodoende het hulle maar net hulle gewone gebruik gevolg om die grootste mate van selfbestuur moontlik aan die verskillende dele van hulle ryk toe te staan.”