HOOFSTUK SEWE
Ware hoop vir jou geliefdes wat gesterf het
Hoe weet ons dat die opstanding werklik sal plaasvind?
Hoe voel Jehovah daaroor om die dooies op te wek?
Wie sal opgewek word?
1-3. Watter vyand agtervolg ons almal, en waarom sal dit vir ons verligting bring as ons kyk na wat die Bybel leer?
STEL jou voor dat jy van ’n boosaardige vyand af weghardloop. Hy is baie sterker en vinniger as jy. Jy weet dat hy genadeloos is, want jy het al gesien hoe hy van jou vriende doodmaak. Dit maak nie saak hoe vinnig jy probeer hardloop nie, hy kom al hoe nader. Dit lyk of daar geen wegkomkans is nie. Maar skielik verskyn ’n redder aan jou sy. Hy is baie sterker as jou vyand, en hy belowe om jou te help. Hoe verlig laat dit jou tog voel!
2 In ’n sekere sin is so ’n vyand wel op jou spoor. Hy agtervolg ons almal. Soos ons in die vorige hoofstuk geleer het, noem die Bybel die dood ’n vyand. Niemand van ons kan dit ontkom of dit afweer nie. Die meeste van ons het al gesien hoe hierdie vyand die lewe eis van mense wat vir ons dierbaar is. Maar Jehovah is baie magtiger as die dood. Hy is die liefdevolle Redder wat reeds getoon het dat hy hierdie vyand kan oorwin. En hy belowe om hierdie vyand, die dood, eens en vir altyd te vernietig. Die Bybel leer: “As die laaste vyand gaan die dood tot niet gemaak word” (1 Korintiërs 15:26). Dit is goeie nuus!
3 Kom ons kyk kortliks na die uitwerking wat hierdie vyand, die dood, op ons het wanneer dit toeslaan. Dit sal ons help om iets te besef wat ons gelukkig sal maak. Jy sien, Jehovah belowe dat die dooies weer sal lewe (Jesaja 26:19). Hulle sal weer lewend gemaak word. Dit is die hoop van die opstanding.
WANNEER ’N GELIEFDE STERF
4. (a) Waarom leer Jesus se reaksie op die dood van ’n geliefde vir ons hoe Jehovah daaroor voel? (b) Watter spesiale vriendskap het Jesus aangekweek?
4 Het jy al ’n geliefde aan die dood afgestaan? Die pyn, die droefheid en die gevoelens van hulpeloosheid kan ondraaglik voel. Op sulke tye moet ons in God se Woord vertroosting soek (2 Korintiërs 1:3, 4). Die Bybel help ons om te verstaan hoe Jehovah en Jesus oor die dood voel. Jesus, wat sy Vader volmaak weerspieël het, het geweet hoe pynlik dit is om iemand deur die dood te verloor (Johannes 14:9). Wanneer Jesus in Jerusalem was, het hy dikwels by Lasarus en sy susters, Maria en Marta, gekuier, wat in die dorp Betanië daar naby gewoon het. Hulle het goeie vriende geword. Die Bybel sê: “Jesus het Marta en haar suster en Lasarus liefgehad” (Johannes 11:5). Maar Lasarus het gesterf, soos ons in die vorige hoofstuk geleer het.
5, 6. (a) Hoe het Jesus gereageer toe hy by Lasarus se bedroefde familie en vriende was? (b) Waarom is Jesus se droefheid vir ons aanmoedigend?
5 Hoe het Jesus gevoel toe hy sy vriend verloor het? Die verslag vertel ons dat Jesus saam met Lasarus se familielede en vriende oor hierdie verlies gerou het. Toe Jesus hulle sien, was hy diep ontroer. Hy het “in die gees gekreun en verontrus geword”. Daarna, sê die verslag, het “Jesus . . . trane gestort” (Johannes 11:33, 35). Het Jesus se droefheid beteken dat hy geen hoop gehad het nie? Glad nie. Trouens, Jesus het geweet dat iets wonderliks binnekort sou gebeur (Johannes 11:3, 4). Hy het nogtans die pyn en smart gevoel wat deur die dood veroorsaak word.
6 In ’n sekere sin is Jesus se droefheid vir ons aanmoedigend. Dit leer ons dat Jesus en sy Vader, Jehovah, die dood haat. Maar Jehovah God kan teen daardie vyand veg en dit oorwin! Kom ons kyk wat God Jesus in staat gestel het om te doen.
“LASARUS, KOM UIT!”
7, 8. Waarom het die geval van Lasarus moontlik vir die mense hopeloos gelyk, maar wat het Jesus gedoen?
7 Lasarus is in ’n grot begrawe, en Jesus het gevra dat die klip voor die ingang weggeneem word. Marta het beswaar gemaak, want ná vier dae sou Lasarus se liggaam al begin ontbind het (Johannes 11:39). Watter hoop was daar uit ’n menslike oogpunt?
8 Die klip is weggerol, en Jesus het met ’n harde stem uitgeroep: “Lasarus, kom uit!” Wat het gebeur? “Die man wat dood was, het uitgekom” (Johannes 11:43, 44). Kan jy jou voorstel hoe verheug die mense daar was? Of Lasarus nou hulle broer, familielid, vriend of buurman was, hulle het geweet dat hy gesterf het. En tog, hier was hy—dieselfde dierbare man—weer in hulle midde. Hulle moes gedink het dat dit te goed is om te glo. Baie het Lasarus ongetwyfeld van vreugde omhels. Wat ’n oorwinning oor die dood!
9, 10. (a) Hoe het Jesus die Bron van sy krag om Lasarus op te wek, geopenbaar? (b) Waarom is dit goed om die verslae van opstandings in die Bybel te lees?
9 Jesus het nie voorgegee dat hy hierdie merkwaardige wonderwerk in sy eie krag gedoen het nie. In sy gebed net voordat hy Lasarus geroep het, het hy duidelik gesê dat Jehovah die Oorsprong van die opstanding is (Johannes 11:41, 42). Dit was nie die enigste keer dat Jehovah sy krag op hierdie manier gebruik het nie. Die opstanding van Lasarus is net een van nege van hierdie soort wonderwerke wat in God se Woord opgeteken is.a Ons geniet dit om hierdie verslae te lees en te bestudeer. Dit leer ons dat God nie partydig is nie, want dié wat opgewek is, het jongmense en bejaardes ingesluit, mans en vroue, Israeliete en nie-Israeliete. En watter vreugde word tog in hierdie Skrifgedeeltes beskryf! Byvoorbeeld, toe Jesus ’n jong meisie uit die dode opgewek het, was haar ouers “buite hulleself van groot ekstase” (Markus 5:42). Ja, Jehovah het hulle ’n rede tot vreugde gegee wat hulle nooit sou vergeet nie.
10 Die mense wat deur Jesus opgewek is, het natuurlik later weer gesterf. Beteken dit dat dit sinloos was om hulle op te wek? Glad nie. Hierdie Bybelverslae bevestig belangrike waarhede en gee ons hoop.
LEER UIT DIE VERSLAE VAN OPSTANDINGS
11. Hoe help die verslag van Lasarus se opstanding om die waarheid te bevestig wat in Prediker 9:5 opgeteken staan?
11 Die Bybel leer dat die dooies ‘bewus is van hoegenaamd niks’. Hulle lewe nie en voer nêrens ’n bewuste bestaan nie. Die verslag van Lasarus bevestig dit. Het Lasarus mense vermaak met beskrywings van die hemel toe hy weer lewend geword het? Of het hy hulle bang gepraat met verskriklike stories van ’n brandende hel? Nee. Die Bybel sê nie dat Lasarus enigsins so iets gesê het nie. Gedurende die vier dae dat hy dood was, was hy “bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). Lasarus het bloot in die dood geslaap.—Johannes 11:11.
12. Waarom kan ons seker wees dat die opstanding van Lasarus werklik gebeur het?
12 Die verslag van Lasarus leer ons ook dat die opstanding ’n werklikheid is, nie ’n blote mite nie. Jesus het Lasarus voor ’n skare ooggetuies opgewek. Selfs die godsdiensleiers, wat Jesus gehaat het, kon nie ontken dat hierdie wonderwerk gebeur het nie. Inteendeel, hulle het gesê: “Wat moet ons doen, want hierdie man [Jesus] doen baie tekens?” (Johannes 11:47). Baie mense het die man wat opgewek is, gaan besoek. Gevolglik het selfs meer van hulle geloof in Jesus gestel. Hulle het in Lasarus lewende bewys gesien dat Jesus deur God gestuur is. Hierdie bewys was so oortuigend dat party van die hardvogtige Joodse godsdiensleiers planne beraam het om Jesus sowel as Lasarus dood te maak.—Johannes 11:53; 12:9-11.
13. Watter grondslag het ons om te glo dat Jehovah die dooies werklik kan opwek?
13 Is dit onrealisties om die opstanding as ’n feit te aanvaar? Nee, want Jesus het geleer dat “almal wat in die gedenkgrafte is”, eendag opgewek sal word (Johannes 5:28). Jehovah is die Skepper van alle lewe. Behoort dit moeilik te wees om te glo dat hy lewe kan herskep? Dit sal natuurlik grootliks van Jehovah se geheue afhang. Kan hy ons geliefdes wat gesterf het, onthou? Daar is biljoene sterre in die heelal, en tog ken God elkeen se naam! (Jesaja 40:26). Jehovah God kan dus al die besonderhede omtrent ons geliefdes wat gesterf het, onthou, en hy is gereed om hulle weer lewend te maak.
14, 15. Soos Job se woorde toon, hoe voel Jehovah daaroor om die dooies weer lewend te maak?
14 Maar hoe voel Jehovah daaroor om die dooies op te wek? Die Bybel leer dat hy gretig is om die dooies weer lewend te maak. Die getroue man Job het gevra: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” Job het daarvan gepraat om in die graf te wag tot die tyd kom wanneer God hom weer sal onthou. Hy het vir Jehovah gesê: “U sal roep, en ek sal u antwoord. Na die werk van u hande sal u vurig verlang.”—Job 14:13-15.
15 Dink net daaraan! Jehovah verlang in werklikheid vurig daarna om die dooies weer lewend te maak. Maak dit ons harte nie bly om te leer dat Jehovah so voel nie? Maar wat van hierdie toekomstige opstanding? Wie sal opgewek word, en waar?
“ALMAL WAT IN DIE GEDENKGRAFTE IS”
16. In watter toestande sal die dooies opgewek word?
16 Die verslae van opstandings in die Bybel leer ons baie omtrent die komende opstanding. Mense wat hier op die aarde weer lewend gemaak is, is weer met hulle geliefdes verenig. Die toekomstige opstanding sal ook so wees—maar baie beter. Soos ons in Hoofstuk 3 geleer het, is God se voorneme dat die hele aarde in ’n paradys omskep moet word. Die dooies sal dus nie in ’n wêreld vol oorlog, misdaad en siekte opgewek word nie. Hulle sal die geleentheid hê om vir ewig in vrede en geluk op hierdie aarde te lewe.
17. Hoe omvattend sal die opstanding wees?
17 Wie sal opgewek word? Jesus het gesê dat “almal wat in die gedenkgrafte is, sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Openbaring 20:13 sê dan ook: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee.” “Hades” verwys na die gemeenskaplike graf van die mensdom. (Sien die Aanhangsel, bladsye 212-13.) Hierdie gesamentlike graf sal leeggemaak word. Al die miljarde mense wat daar rus, sal weer lewe. Die apostel Paulus het gesê: “Daar [sal] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees” (Handelinge 24:15). Wat beteken dit?
18. Wie word onder “die regverdiges” ingesluit wat opgewek gaan word, en hoe kan hierdie hoop jou persoonlik raak?
18 “Die regverdiges” sluit baie van die mense in van wie ons in die Bybel lees en wat gelewe het voordat Jesus na die aarde toe gekom het. Jy dink moontlik aan Noag, Abraham, Sara, Moses, Rut, Ester en baie ander. Party van hierdie manne en vroue van geloof word in die 11de hoofstuk van Hebreërs bespreek. Maar “die regverdiges” sluit ook Jehovah se knegte in wat in ons tyd sterf. Danksy die opstandingshoop kan ons bevry word van enige vrees vir die dood.—Hebreërs 2:15.
19. Wie is “die onregverdiges”, en watter geleentheid gee Jehovah hulle goedgunstiglik?
19 Wat van al die mense wat Jehovah nie gedien of gehoorsaam het nie omdat hulle nooit van hom geweet het nie? Hierdie miljarde “onregverdiges” sal nie vergeet word nie. Hulle sal ook opgewek word en tyd gegee word om van die ware God te leer en hom te dien. Gedurende ’n tydperk van duisend jaar sal die dooies opgewek word en die geleentheid gegee word om Jehovah saam met getroue mense op die aarde te dien. Dit sal ’n wonderlike tyd wees. Hierdie tydperk is wat die Bybel die Oordeelsdag noem.b
20. Wat is Gehenna, en wie gaan daarheen?
20 Beteken dit dat elke mens wat nog ooit gelewe het, opgewek sal word? Nee. Die Bybel sê dat party van die dooies in “Gehenna” is (Lukas 12:5). Gehenna het sy naam gekry van ’n vullishoop wat buite eertydse Jerusalem was. Dooie liggame en vullis is daar verbrand. Die Jode het gedink dat die dooies wie se liggame daar gegooi is, onwaardig was om begrawe of opgewek te word. Gehenna is dus ’n gepaste simbool van ewige vernietiging. Al sal Jesus ’n rol daarin speel om die lewendes en die dooies te oordeel, is Jehovah die finale Regter (Handelinge 10:42). Hy sal nooit diegene opwek wat volgens sy oordeel goddeloos is en wat nie wil verander nie.
DIE HEMELSE OPSTANDING
21, 22. (a) Watter ander soort opstanding is daar? (b) Wie was die heel eerste persoon wat ’n opstanding tot geeslewe ontvang het?
21 Die Bybel praat ook van ’n ander soort opstanding, ’n opstanding tot lewe as ’n geespersoon in die hemel. Daar is net een voorbeeld van hierdie soort opstanding in die Bybel opgeteken, dié van Jesus Christus.
22 Nadat Jesus as ’n mens doodgemaak is, het Jehovah nie Sy getroue Seun in die graf laat bly nie (Psalm 16:10; Handelinge 13:34, 35). God het Jesus opgewek, maar nie as ’n mens nie. Die apostel Petrus verduidelik dat Christus “doodgemaak is in die vlees, maar lewend gemaak is in die gees” (1 Petrus 3:18). Dit was werklik ’n groot wonderwerk. Jesus het weer as ’n magtige geespersoon gelewe! (1 Korintiërs 15:3-6). Jesus was die heel eerste persoon wat hierdie wonderlike soort opstanding ontvang het (Johannes 3:13). Maar hy sou nie die laaste een wees nie.
23, 24. Uit wie bestaan Jesus se “klein kuddetjie”, en hoeveel van hulle sal daar wees?
23 Jesus het geweet dat hy binnekort na die hemel sou teruggaan en het vir sy getroue volgelinge gesê dat hy vir hulle daar ‘’n plek sou berei’ (Johannes 14:2). Jesus het dié wat hemel toe gaan, sy “klein kuddetjie” genoem (Lukas 12:32). Uit hoeveel persone sal hierdie betreklike klein groepie getroue Christene bestaan? Volgens Openbaring 14:1 sê die apostel Johannes: “Ek het gesien, en kyk! die Lam [Jesus Christus] het op die berg Sion gestaan, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy naam en die naam van sy Vader op hulle voorkoppe geskrywe.”
24 Hierdie 144 000 Christene, wat Jesus se getroue apostels insluit, word tot lewe in die hemel opgewek. Wanneer vind hulle opstanding plaas? Die apostel Paulus het geskryf dat dit gedurende die tyd van Christus se teenwoordigheid sou wees (1 Korintiërs 15:23). Soos jy in Hoofstuk 9 sal leer, lewe ons nou in daardie tyd. Die paar oorblywende lede van die 144 000 wat in ons dag sterf, word dus oombliklik tot lewe in die hemel opgewek (1 Korintiërs 15:51-55). Die oorgrote meerderheid van die mensdom het egter die vooruitsig om in die toekoms tot lewe in die Paradys op aarde opgewek te word.
25. Wat sal in die volgende hoofstuk bespreek word?
25 Ja, Jehovah sal werklik ons vyand, die dood, vernietig, en dit sal vir ewig nie meer bestaan nie! (Jesaja 25:8). Nogtans wonder jy dalk: ‘Wat sal dié wat tot lewe in die hemel opgewek word, daar doen?’ Hulle sal deel uitmaak van ’n wonderlike Koninkryksregering in die hemel. Ons sal in die volgende hoofstuk meer van hierdie regering leer.
a Die ander verslae is opgeteken in 1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37; 13:20, 21; Matteus 28:5-7; Lukas 7:11-17; 8:40-56; Handelinge 9:36-42 en 20:7-12.
b Vir meer inligting oor die Oordeelsdag en die grondslag vir die oordeel, sien asseblief die Aanhangsel, bladsye 213-15.