Word progressiewe en aanpasbare bedienaars
“Ek het alles vir alle soorte mense geword om op elke moontlike manier sommige te red.”—1 KORINTIËRS 9:22.
1, 2. (a) In watter opsigte was die apostel Paulus ’n bekwame bedienaar? (b) Hoe het Paulus sy gesindheid teenoor sy toewysing beskryf?
HY WAS op sy gemak by gesofistikeerde intellektuele en by nederige tentmakers. Hy het oorredend geredeneer met Romeinse hooggeplaastes en met Frigiese plattelanders. Sy geskrifte het liberale Grieke en konserwatiewe Jode gemotiveer. Sy logika was onweerlegbaar en die manier waarop hy harte bereik het, was uiters doeltreffend. Hy het ’n gemeenskaplike grondslag met almal probeer vind sodat hy party na Christus kon lei.—Handelinge 20:21.
2 Die man was die apostel Paulus, ongetwyfeld ’n bekwame en progressiewe bedienaar (1 Timoteus 1:12). Jesus het hom die opdrag gegee om “[Christus se] naam na die nasies sowel as na konings en die kinders van Israel te dra” (Handelinge 9:15). Wat was sy gesindheid teenoor hierdie toewysing? Hy het gesê: “Ek het alles vir alle soorte mense geword om op elke moontlike manier sommige te red. Maar ek doen alles ter wille van die goeie nuus, sodat ek met ander ’n deelgenoot daarvan kan word” (1 Korintiërs 9:19-23). Wat kan ons uit Paulus se voorbeeld leer wat ons kan help om doeltreffender in ons predikings- en onderrigtingswerk te wees?
’n Veranderde man was opgewasse vir die uitdaging
3. Hoe het Paulus voor sy bekering oor Christene gevoel?
3 Was Paulus maar altyd ’n lankmoedige, bedagsame persoon wat geskik was vir die toewysing wat hy ontvang het? Geensins! Godsdiensfanatisme het Saulus (soos Paulus vroeër bekend gestaan het) ’n gewelddadige vervolger van Christus se volgelinge laat word. As ’n jong man het hy die moord op Stefanus goedgekeur. Daarna het Paulus meedoënloos jag gemaak op Christene (Handelinge 7:58; 8:1, 3; 1 Timoteus 1:13). Hy het voortgegaan om “dreiging en moord teen die dissipels van die Here” te blaas. Dit was nie vir hom genoeg om gelowiges net in Jerusalem te vervolg nie, en daarom het hy sy haatveldtog sover noord as Damaskus uitgebrei.—Handelinge 9:1, 2.
4. Watter aanpassing moes Paulus maak om sy toewysing uit te voer?
4 Die rede waarom Paulus die Christelike godsdiens so intens gehaat het, was heel moontlik omdat hy geglo het dat die nuwe geloof Judaïsme sou verderf deur dit met vreemde, ongewenste idees te vermeng. Paulus was immers “’n Fariseër”, ’n benaming wat juis “afgesonderde” beteken (Handelinge 23:6). Stel jou voor hoe geskok Paulus moes gewees het toe hy hoor dat God hom uitgekies het om Christus te verkondig aan die nie-Jode van alle mense! (Handelinge 22:14, 15; 26:16-18). Die Fariseërs het immers geweier om selfs te eet saam met diegene wat hulle as sondaars beskou het! (Lukas 7:36-39). Dit het ongetwyfeld groot inspanning van sy kant geverg om sy beskouing te verander en dit in ooreenstemming te bring met God se wil dat alle soorte mense gered moet word.—Galasiërs 1:13-17.
5. Hoe kan ons Paulus in ons bediening navolg?
5 Ons moet dalk dieselfde doen. Namate ons ’n al hoe groter verskeidenheid mense in ons internasionale, veeltalige veld ontmoet, moet ons ’n meer doelbewuste poging aanwend om ons gesindheid te ondersoek en van enige vooroordeel ontslae te raak (Efesiërs 4:22-24). Of ons dit besef of nie, ons word gevorm deur ons maatskaplike en opvoedkundige agtergrond. Dit kan bevooroordeelde, onbuigsame beskouings en gesindhede by ons inprent. Ons moet hierdie gevoelens oorkom as ons daarin wil slaag om skaapgeaardes te vind en te help (Romeine 15:7). Dit is wat Paulus gedoen het. Hy het die uitdaging aanvaar om sy bediening uit te brei. Aangespoor deur liefde, het hy navolgenswaardige onderrigvermoëns ontwikkel. Ja, ’n studie van die bediening van die “apostel vir die nasies” toon dat hy oplettend, aanpasbaar en vindingryk was in die predikings- en onderrigtingswerk.a—Romeine 11:13.
’n Progressiewe bedienaar in aksie
6. Hoe het Paulus getoon dat hy op die agtergrond van sy toehoorders let, en met watter resultaat?
6 Paulus het gelet op die opvattings en agtergrond van sy toehoorders. Toe hy met koning Agrippa II gepraat het, het Paulus erken dat die koning “baie goed op hoogte is van al die gebruike sowel as die geskille onder Jode”. Daarna het Paulus sy kennis van Agrippa se oortuigings op vaardige wyse gebruik en sake wat die koning baie goed verstaan het, met hom bespreek. Paulus het so duidelik en oortuigend geredeneer dat Agrippa gesê het: “Jy sal my in ’n kort tydjie oorreed om ’n Christen te word.”—Handelinge 26:2, 3, 27, 28.
7. Hoe het Paulus aanpasbaarheid getoon toe hy vir ’n skare in Listra getuig het?
7 Paulus was ook aanpasbaar. Let op hoe anders sy benadering was toe hy ’n skare in die stad Listra probeer afraai het om hom en Barnabas as gode te aanbid. Daar is al gesê dat hierdie mense, wat Likaonies gepraat het, van die minder geleerde en meer bygelowige mense onder die bevolking was. Volgens Handelinge 14:14-18 het Paulus verwys na die skepping en die oorvloed in die natuur as bewys van die voortreflikheid van die ware God. Dit was maklik om die argument te volg, en dit het blykbaar die ‘skare verhinder om offerandes te bring’ aan Paulus en Barnabas.
8. Hoe het Paulus getoon dat hy aanpasbaar was ondanks die sterk gevoelens wat hy soms gehad het?
8 Paulus was natuurlik nie volmaak nie en het soms sterk gevoelens oor sekere dinge gehad. Byvoorbeeld, toe hy by een geleentheid op vernederende en onregverdige wyse aangeval is, het hy uitgevaar teen ’n Jood met die naam Ananias. Maar toe daar vir Paulus gesê is dat hy onwetend die hoëpriester beledig het, het hy dadelik om verskoning gevra (Handelinge 23:1-5). In Atene was hy aanvanklik “geïrriteerd . . . toe hy sien dat die stad vol afgode is”. Maar in sy toespraak op Marsheuwel het Paulus glad nie sy irritasie laat deurskemer nie. Hy het eerder die Ateners op hulle forum toegespreek en op ’n gemeenskaplike grondslag voortgebou deur te verwys na hulle altaar “Aan ’n Onbekende God” en een van hulle digters aan te haal.—Handelinge 17:16-28.
9. Hoe het Paulus vindingrykheid aan die dag gelê wanneer hy met verskillende gehore te doen gekry het?
9 Paulus het buitengewone vindingrykheid aan die dag gelê wanneer hy met verskillende gehore te doen gekry het. Hy het in ag geneem deur watter kultuur en milieu die denke van sy gehoor gevorm is. Toe hy aan die Christene in Rome geskryf het, was hy goed bewus daarvan dat hulle in die hoofstad gewoon het van die grootste ryk wat destyds bestaan het. ’n Vername punt van Paulus se brief aan die Christene in Rome was dat die krag wat Adam se sonde het om te verderf, oorwin word deur Christus se krag om los te koop. Hy het met die Romeinse Christene en dié wat met hulle omgegaan het, gepraat in taal wat hulle hart sou bereik.—Romeine 1:4; 5:14, 15.
10, 11. Hoe het Paulus sy illustrasies by sy toehoorders aangepas? (Sien ook voetnoot.)
10 Wat het Paulus gedoen wanneer hy diep Bybelwaarhede aan sy toehoorders wou verduidelik? Die apostel was bedrewe daarin om gewone, maklik verstaanbare illustrasies te gebruik om ingewikkelde geestelike gedagtes te verduidelik. Paulus het byvoorbeeld geweet dat die mense in Rome bekend was met die stelsel van slawerny wat oral in die Romeinse Ryk in werking was. Trouens, baie van die mense aan wie hy geskryf het, was waarskynlik slawe. Paulus het slawerny dus as ’n illustrasie gebruik ter ondersteuning van sy kragtige argument oor ’n mens se keuse of jy jou aan sonde of aan regverdigheid wil onderwerp.—Romeine 6:16-20.
11 “Onder die Romeine”, sê ’n naslaanwerk, “kon ’n eienaar ’n slaaf onvoorwaardelik vrystel, of die slaaf kon sy vryheid koop deur sy eienaar te betaal. Vryheid kon ook gereël word as die eienaarskap aan ’n god oorgedra is.” ’n Bevryde slaaf kon aanhou om vir sy meester te werk, maar teen vergoeding. Paulus het blykbaar op hierdie gebruik gesinspeel toe hy geskryf het van die individu se keuse van watter meester om te gehoorsaam—die sonde of regverdigheid. Christene in Rome is van sonde bevry en het nou aan God behoort. Hulle was vry om God te dien, maar hulle kon nog steeds kies om die sonde—die vorige meester—te dien as hulle wou. Hierdie eenvoudige, verstaanbare illustrasie sou daardie Christene in Rome aanspoor om hulle af te vra: ‘Watter meester dien ek?’b
Leer uit Paulus se voorbeeld
12, 13. (a) Watter inspanning is vandag nodig om die hart van ons gemengde gehoor te bereik? (b) Wat het jy doeltreffend gevind wanneer jy vir mense uit verskillende agtergronde getuig?
12 Soos Paulus, moet ons oplettend, aanpasbaar en vindingryk wees om die hart van ons gemengde gehoor te bereik. Om ons toehoorders te help om die sin van die goeie nuus te begryp, wil ons meer doen as om net vlugtig kennis te maak, ’n voorbereide boodskap oor te dra of Bybellektuur by hulle te laat. Ons probeer eerder onderskei wat hulle behoeftes en bekommernisse is, waarvan hulle hou en nie hou nie en watter vrese en vooroordele hulle het. Hoewel dit diepe nadenke en groot inspanning verg, is Koninkryksverkondigers regoor die wêreld gretig om dit te doen. Byvoorbeeld, die takkantoor van Jehovah se Getuies in Hongarye berig: “Die broers toon respek vir die gebruike en lewenswyse van mense van ander nasies en verwag nie dat hulle hulle by plaaslike gebruike moet aanpas nie.” Getuies op ander plekke probeer dieselfde doen.
13 In een land in die Verre-Ooste is die meeste mense besorg oor gesondheid, kinderopvoeding en geleerdheid. Koninkryksverkondigers daar probeer die aandag eerder op hierdie onderwerpe vestig as om sake soos verslegtende wêreldtoestande of komplekse maatskaplike kwessies te bespreek. Verkondigers in ’n groot stad in die Verenigde State het eweneens opgemerk dat mense in ’n spesifieke buurt in hulle gebied besorg is oor sake soos korrupsie, verkeersopeenhopings en misdaad. Die Getuies gebruik hierdie onderwerpe met welslae om Bybelbesprekings te begin. Bekwame Bybelonderrigters maak seker dat hulle positief en aanmoedigend bly, ongeag watter onderwerp hulle kies, en hulle beklemtoon die praktiese waarde daarvan om Bybelbeginsels nou toe te pas sowel as die wonderlike toekomsvooruitsigte wat God ons bied.—Jesaja 48:17, 18; 52:7.
14. Beskryf maniere waarop ons ons kan aanpas by mense se verskillende behoeftes en omstandighede.
14 Dit is ook nuttig om ons benadering in die bediening af te wissel, aangesien daar ’n hemelsbreë verskil tussen mense se kulturele, opvoedkundige en godsdiensagtergronde bestaan. Ons sal mense wat in ’n Skepper glo maar nie in die Bybel nie, anders benader as mense wat glo dat God nie bestaan nie. Vir iemand wat voel dat alle godsdienslektuur ’n middel is om mense te indoktrineer, sal ons ’n ander aanbieding gebruik as vir iemand wat aanvaar wat die Bybel leer. Aanpasbaarheid is ook nodig omdat die opvoedingsvlakke van die mense met wie ons praat, grootliks verskil. Bekwame onderrigters sal redenasies en illustrasies gebruik wat pas by die betrokke situasie.—1 Johannes 5:20.
Hulp vir nuwe bedienaars
15, 16. Waarom is dit nodig om nuwe bedienaars op te lei?
15 Dit was nie net vir Paulus belangrik om sy eie onderrigmetodes te verbeter nie. Hy het besef dat dit nodig was om lede van ’n jonger geslag, soos Timoteus en Titus, op te lei en voor te berei om bekwame bedienaars te word (2 Timoteus 2:2; 3:10, 14; Titus 1:4). Net so is dit vandag dringend nodig dat opleiding voorsien en ontvang word.
16 In 1914 was daar ongeveer 5 000 Koninkryksverkondigers regoor die aarde; vandag word omtrent 5 000 nuwelinge elke week gedoop! (Jesaja 54:2, 3; Handelinge 11:21). Wanneer nuwelinge met die Christengemeente begin omgaan en graag aan die bediening wil deelneem, het hulle opleiding en riglyne nodig (Galasiërs 6:6). Dit is noodsaaklik dat ons die metodes van die Heer, Jesus, gebruik om dissipels te onderrig en op te lei.c
17, 18. Hoe kan ons nuwelinge help om selfvertroue in die bediening op te bou?
17 Jesus het nie net ’n skare gevind en vir sy apostels gesê om te begin praat nie. Hy het eers die belangrikheid van die predikingswerk beklemtoon en ’n biddende gesindheid aangemoedig. Toe het hy hulle van drie basiese dinge voorsien: ’n metgesel, ’n gebiedstoewysing en ’n boodskap (Matteus 9:35-38; 10:5-7; Markus 6:7; Lukas 9:2, 6). Ons kan dieselfde doen. Hetsy ons ons eie kind help, ’n nuwe student of iemand wat ’n tyd lank nie aan die predikingswerk deelgeneem het nie, dit is gepas dat ons ons inspan om op hierdie manier opleiding te voorsien.
18 Nuwelinge het baie hulp nodig om selfvertroue op te bou om die Koninkryksboodskap aan te bied. Kan jy hulle help om ’n eenvoudige aanbieding wat by ’n huisbewoner byval sal vind, voor te berei en te oefen? Laat hulle in die veld uit jou voorbeeld leer terwyl jy die eerste paar besoeke hanteer. Jy kan die voorbeeld van Gideon navolg, wat vir sy medestryders gesê het: “Julle moet leer deur my dop te hou, en julle moet net so maak” (Rigters 7:17). Gee die nuweling dan die geleentheid om deel te neem. Prys nuwelinge hartlik vir hulle pogings en gee kortliks, wanneer dit gepas is, wenke vir verbetering.
19. Wat is jy vasbeslote om te doen terwyl jy daarna streef om ‘jou bediening ten volle uit te voer’?
19 Ten einde ‘ons bediening ten volle uit te voer’, is ons vasbeslote om meer aanpasbaar te word in ons benadering, en ons wil nuwe bedienaars oplei om dieselfde te doen. Wanneer ons dink aan die belangrikheid van ons doelwit—om die kennis van God oor te dra wat tot redding lei—is ons oortuig dat dit al die inspanning werd is wat dit van ons verg om “alles vir alle soorte mense [te word] om op elke moontlike manier sommige te red”.—2 Timoteus 4:5; 1 Korintiërs 9:22.
[Voetnote]
a Vir voorbeelde van hierdie eienskappe in Paulus se bediening, sien Handelinge 13:9, 16-42; 17:2-4; 18:1-4; 19:11-20; 20:34; Romeine 10:11-15; 2 Korintiërs 6:11-13.
b Paulus het ook gebruik gemaak van ’n wetlike konsep waarmee sy lesers in die Romeinse Ryk goed vertroud was om die nuwe verhouding tussen God en sy geesgesalfde “kinders” te verduidelik (Romeine 8:14-17). “Aanneming was hoofsaaklik ’n Romeinse gebruik en het ten nouste verband gehou met die Romeinse idees oor die gesin”, sê die boek St. Paul at Rome.
c Tans is die “Pioniers help ander”-program beskikbaar in alle gemeentes van Jehovah se Getuies. Die program benut die ondervinding en opleiding van voltydse bedienaars om minder ervare verkondigers te help.
Onthou jy?
• Op watter maniere kan ons Paulus in ons bediening navolg?
• Watter veranderinge in ons denke is waarskynlik nodig?
• Hoe kan ons ons boodskap positief hou?
• Wat het nuwe bedienaars nodig sodat hulle selfvertroue kan opbou?
[Lokteks op bladsy 29]
Die apostel Paulus was oplettend, aanpasbaar en vindingryk in die predikings- en onderrigtingswerk
[Lokteks op bladsy 31]
Jesus het sy dissipels van drie basiese dinge voorsien: ’n metgesel, ’n gebiedstoewysing en ’n boodskap
[Prente op bladsy 28]
Paulus het daarin geslaag om verskillende gehore te bereik deur aanpasbaar te wees
[Prent op bladsy 30]
Bekwame bedienaars neem die kulturele agtergrond van hulle toehoorders in ag
[Prent op bladsy 31]
Progressiewe bedienaars help nuwelinge om vir die bediening voor te berei