“Gloei van die gees”
“Moenie traag wees in julle bedrywighede nie. Gloei van die gees. Dien Jehovah as slawe.”—ROM. 12:11.
1. Waarom het die Israeliete diereoffers en ander offerandes gebring?
JEHOVAH waardeer sy knegte se gewillige opofferings om hulle liefde vir hom en hulle onderworpenheid aan sy wil te toon. In die ou tyd het hy verskeie diereoffers en ander offerandes aanvaar. Hulle is volgens die Mosaïese Wet deur Israeliete gebring wat vergifnis van sondes wou verkry en hulle dankbaarheid wou betoon. In die Christengemeente vereis Jehovah nie dat ons sulke formele, materiële offerandes bring nie. Maar in hoofstuk 12 van sy brief aan Christene in Rome toon die apostel Paulus dat daar nog steeds van ons verwag word om offerandes te bring. Kom ons kyk hoe.
’n Lewende offerande
2. Watter soort lewe lei ons as Christene, en wat behels dit?
2 Lees Romeine 12:1, 2. Vroeër in sy brief het Paulus duidelik getoon dat gesalfde Christene, hetsy Jood of nie-Jood, voor God regverdig verklaar word deur geloof, nie deur werke nie (Rom. 1:16; 3:20-24). In hoofstuk 12 verduidelik Paulus dat Christene hulle dankbaarheid moet toon deur ’n selfopofferende lewe te lei. Om dit te kan doen, moet ons ons verstand hervorm. Weens oorgeërfde onvolmaaktheid is ons onderworpe aan “die wet van die sonde en van die dood” (Rom. 8:2). Ons moet dus “vernuwe . . . word in die krag wat [ons] verstand aandryf”, deur ons neigings drasties te verander (Ef. 4:23). So ’n algehele verandering kan alleenlik aangebring word met die hulp van God en sy gees. Dit vereis ook dat ons ons ernstig inspan en ons “denkvermoë” gebruik. Dit beteken dat ons ons bes doen om nie “na hierdie stelsel van dinge gevorm [te] word” met sy verdorwe sedes, verderflike vermaak en verwronge denke nie.—Ef. 2:1-3.
3. Waarom neem ons aan Christelike bedrywighede deel?
3 Paulus nooi ons ook om ons “denkvermoë” te gebruik om seker te maak wat “die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is”. Waarom lees ons die Bybel elke dag, peins ons oor wat ons lees, bid ons, woon ons Christelike vergaderinge by en neem ons deel aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk? Is dit omdat die gemeentelike ouer manne ons aanspoor om dit te doen? Ons is weliswaar dankbaar vir die nuttige herinneringe wat die ouer manne ons gee. Maar ons neem aan Christelike bedrywighede deel omdat ons deur God se gees beweeg word om ons innige liefde vir Jehovah te toon. Verder is ons persoonlik oortuig dat dit God se wil vir ons is om sulke bedrywighede uit te voer (Sag. 4:6; Ef. 5:10). Dit verskaf ons groot vreugde en bevrediging om te besef dat ons vir God aanneemlik kan wees as ons ’n waarlik Christelike lewe lei.
Verskillende gawes
4, 5. Hoe moet Christen- ouer manne hulle gawes gebruik?
4 Lees Romeine 12:6-8, 11. Paulus verduidelik dat ons “gawes het wat verskil ooreenkomstig die onverdiende goedhartigheid wat aan ons gegee is”. Party van die gawes wat Paulus noem—om te vermaan en die leiding te neem—geld veral vir Christen- ouer manne, wat vermaan word om “in alle erns” die leiding te neem.
5 Dieselfde erns, sê Paulus, moet duidelik gesien kan word in die manier waarop opsieners as onderrigters dien en “’n bediening” uitvoer. Die konteks toon blykbaar dat Paulus hier verwys na “’n bediening” wat in die gemeente, of die “een liggaam”, uitgevoer word (Rom. 12:4, 5). Hierdie bediening is soortgelyk aan die een wat in Handelinge 6:4 gemeld word, waar die apostels sê: “Ons sal ons aan gebed en aan die bediening van die woord wy.” Wat behels so ’n bediening? Christen- ouer manne gebruik hulle gawes om die lede van die gemeente op te bou. Hulle toon dat hulle hulle “toelê op hierdie bediening” wanneer hulle in alle erns leiding en instruksies uit God se Woord aan die gemeente voorsien deur middel van hulle biddende studie, navorsing, onderrigting en herderswerk. Opsieners moet hulle gawes pligsgetrou gebruik en “met blymoedigheid” na die skape omsien.—Rom. 12:7, 8; 1 Pet. 5:1-3.
6. Hoe kan ons die raad in Romeine 12:11, die temateks van hierdie artikel, volg?
6 Paulus sê verder: “Moenie traag wees in julle bedrywighede nie. Gloei van die gees. Dien Jehovah as slawe.” As ons agterkom dat ons traag word in ons bediening, moet ons dalk weer kyk na ons studiegewoontes en ernstiger en meer dikwels vir Jehovah se gees bid, wat ons kan help om enige louwarm toestand teë te werk en ons ywer te hernieu (Luk. 11:9, 13; Op. 2:4; 3:14, 15, 19). Die heilige gees het die vroeë Christene die krag gegee om oor “die luisterryke dinge van God” te praat (Hand. 2:4, 11). Dit kan ons ook beweeg om ywerig in die bediening te wees, om te “gloei van die gees”.
Nederigheid en beskeidenheid
7. Waarom moet ons met nederigheid en beskeidenheid dien?
7 Lees Romeine 12:3, 16. Die gawes wat ons dalk het, is te danke aan Jehovah se “onverdiende goedhartigheid”. Paulus sê op ’n ander plek: “Die feit dat ons voldoende bekwaam is, kom van God” (2 Kor. 3:5). Daarom moet ons onsself nie verheerlik nie. Ons moet nederig erken dat enige sukses wat ons in ons bediening behaal, die gevolg is van God se seën, nie van ons eie bekwaamheid nie (1 Kor. 3:6, 7). In ooreenstemming hiermee sê Paulus: “Ek [sê] vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie.” Dit is noodsaaklik dat ons selfrespek het en vreugde en bevrediging uit ons Koninkryksdiens put. Maar as ons beskeie is, of bewus is van ons beperkings, sal dit ons help om nie eiesinnig te word nie. Ons wil eerder dink op ’n manier wat getuig van “’n gesonde verstand”.
8. Hoe kan ons voorkom dat ons “in [ons] eie oë verstandig word”?
8 Dit sou dwaas van ons wees om oor ons eie prestasies te spog. Dit is “God wat dit laat groei” (1 Kor. 3:7). Paulus sê dat God aan elke lid van die gemeente ’n “maat van geloof” toebedeel het. In plaas van verhewe bo ander te voel, moet ons erken wat ander bereik ooreenkomstig die maat van geloof wat hulle het. Paulus sê verder: “Julle moet dieselfde gesindheid teenoor ander hê as teenoor julleself.” In een van sy ander briewe sê die apostel vir ons om “niks uit twisgierigheid of uit egotisme [te] doen nie, maar [om] met ootmoed die ander hoër as [onsself te] ag” (Fil. 2:3). Dit verg ware nederigheid en doelbewuste inspanning om te erken dat elkeen van ons broers en susters in die een of ander opsig hoër is as ons. Nederigheid sal voorkom dat ons “in [ons] eie oë verstandig word”. Hoewel spesiale diensvoorregte party dalk in die kollig laat kom, sal ons almal groot vreugde daaruit put om “nederige dinge” of take te verrig wat mense dikwels nie sien nie.—1 Pet. 5:5.
Ons Christelike eenheid
9. Waarom vergelyk Paulus geesverwekte Christene met die lede van ’n liggaam?
9 Lees Romeine 12:4, 5, 9, 10. Paulus vergelyk gesalfde Christene met die lede van ’n liggaam wat in eenheid onder hulle Hoof, Christus, dien (Kol. 1:18). Hy herinner geesverwekte Christene daaraan dat ’n liggaam baie lede met verskillende funksies het en dat hulle, “hoewel baie, een liggaam in eenheid met Christus” is. Paulus het gesalfde Christene in Efese eweneens vermaan: “Laat ons . . . deur liefde in alles opgroei in hom wat die hoof is, Christus. Uit hom bevorder die hele liggaam die groei van die liggaam vir sy eie opbouing in liefde, deurdat dit harmonies saamgeheg is en tot samewerking gebring word deur middel van elke gewrig wat gee wat nodig is, volgens die werking van elke onderskeie lid in die regte mate.”—Ef. 4:15, 16.
10. Watter gesag moet die “ander skape” erken?
10 Hoewel die “ander skape” nie deel van die saamgestelde liggaam van Christus is nie, kan hulle baie uit hierdie illustrasie leer (Joh. 10:16). Paulus sê dat Jehovah “alles onder [Christus se] voete onderwerp [het] en hom hoof oor alles gemaak [het] met betrekking tot die gemeente” (Ef. 1:22). Vandag is die ander skape deel van “alles” wat Jehovah onder die hoofskap van sy Seun geplaas het. Hulle is ook deel van die “besittings” wat Christus aan sy “getroue en verstandige slaaf” toevertrou het (Matt. 24:45-47). Diegene met ’n aardse hoop moet Christus dus as hulle Hoof erken en onderdanig wees aan die getroue en verstandige slaaf en sy Bestuursliggaam asook die manne wat as opsieners in die gemeente aangestel is (Heb. 13:7, 17). Dit dra by tot Christelike eenheid.
11. Waarop is ons eenheid gegrond, en watter ander raad het Paulus gegee?
11 Sulke eenheid is gegrond op liefde, die “volmaakte band van eenheid” (Kol. 3:14). In Romeine hoofstuk 12 beklemtoon Paulus hierdie feit en sê dat ons liefde “sonder huigelary” moet wees en dat ons “in broederliefde . . . tere geneentheid vir mekaar [moet] hê”. Dit lei tot wedersydse respek. Die apostel sê: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.” Ons moet liefde natuurlik nie met sentimentaliteit verwar nie. Ons moet alles in ons vermoë doen om die gemeente rein te hou. Toe hy sy raad oor liefde gegee het, het Paulus bygevoeg: “Verafsku wat goddeloos is, hou vas aan wat goed is.”
Die weg van gasvryheid
12. Wat kan ons by Christene in eertydse Masedonië aangaande gasvryheid leer?
12 Lees Romeine 12:13. Ons liefde vir ons broers sal ons beweeg om “met die heiliges [te deel] na gelang van hulle behoeftes” en ooreenkomstig ons vermoë. Selfs al het ons min op materiële gebied, kan ons deel wat ons het. Paulus het aangaande Christene in Masedonië geskryf dat “hulle oorvloedige vreugde en hulle diep armoede gedurende ’n groot beproewing onder verdrukking die rykdom van hulle vrygewigheid oorvloedig laat word het. Want dit was na hulle ware vermoë, ja, ek getuig, bo hulle ware vermoë, terwyl hulle ons uit hulle eie met groot aandrang bly smeek het om die voorreg om goedgunstig te gee en om ’n aandeel te hê in die bediening wat vir die heiliges [in Judea] bestem is” (2 Kor. 8:2-4). Hoewel Christene in Masedonië arm was, was hulle baie vrygewig. Hulle het dit as ’n voorreg beskou om hulle behoeftige broers in Judea te help.
13. Wat beteken dit om “die weg van gasvryheid” te volg?
13 Die frase “volg die weg van gasvryheid” is ’n vertaling van ’n Griekse uitdrukking wat impliseer dat inisiatief aan die dag gelê word. The New Jerusalem Bible vertaal die uitdrukking as “wees op die uitkyk na geleenthede om gasvry te wees”. Gasvryheid word soms betoon deur iemand vir ’n ete te nooi, en wanneer dit uit liefde gedoen word, is dit prysenswaardig. Maar as ons inisiatief aan die dag lê, sal ons besef dat daar baie ander maniere is om gasvry te wees. Om maar een ding te noem, as ons nie finansieel of fisies in staat is om ander vir ’n ete te nooi nie, kan ons nog steeds gasvryheid betoon deur hulle te nooi om ’n koppie koffie, tee of iets anders by ons te kom drink.
14. (a) Uit watter woorde bestaan die Griekse woord vir “gasvryheid”? (b) Hoe kan ons in die bediening toon dat ons besorg is oor buitelanders?
14 Gasvryheid het te doen met ons beskouing. Die Griekse woord wat met “gasvryheid” vertaal word, bestaan uit twee grondwoorde wat “liefde” en “vreemdeling” beteken. Hoe voel ons oor vreemdelinge of buitelanders? Christene wat daarna streef om ’n ander taal aan te leer sodat hulle die goeie nuus kan verkondig aan buitelanders wat in hulle gemeente se gebied ingetrek het, is beslis onder diegene wat die weg van gasvryheid volg. Baie van ons is natuurlik nie in ’n posisie om ’n ander taal aan te leer nie. Nogtans kan ons almal ’n betekenisvolle aandeel daaraan hê om buitelanders te help deur goed gebruik te maak van ons boekie Good News for People of All Nations, wat ’n Bybelse boodskap in baie tale bevat. Het jy al goeie resultate gehad toe jy hierdie boekie in die bediening gebruik het?
Meegevoel
15. Hoe het Jesus die raad in Romeine 12:15 uitgeleef?
15 Lees Romeine 12:15. Paulus se raad in hierdie vers kan opgesom word in twee woorde: Betoon empatie. Ons moet leer om ’n ander persoon se gevoelens, hetsy vreugde of hartseer, te verstaan en ons selfs daarin in te leef. As ons gloei van die gees, sal ander duidelik kan sien dat ons in hulle vreugde deel of medelye met hulle het. Toe 70 dissipels van Christus vreugdevol teruggekeer het van ’n predikingsveldtog en die goeie resultate van hulle werk vertel het, het Jesus “begin oorloop van vreugde in die heilige gees” (Luk. 10:17-21). Hy het in hulle vreugde gedeel. Aan die ander kant het Jesus ‘gehuil saam met mense wat gehuil het’ toe sy vriend Lasarus gesterf het.—Joh. 11:32-35.
16. Hoe kan ons meegevoel betoon, en veral wie moet dit betoon?
16 Ons wil Jesus se voorbeeld navolg deur empatie te betoon. Wanneer ’n mede-Christen bly is, wil ons saam met hom of haar bly wees. Net so moet ons bewus wees van die pyn en hartseer van ons broers en susters. Ons kan dikwels groot verligting bring aan medegelowiges wat emosionele pyn ervaar as ons die tyd neem om met ’n ware simpatieke oor na hulle te luister. En soms word ons hart so diep geraak dat opregte empatie ons beweeg om saam met hulle huil (1 Pet. 1:22). Veral ouer manne moet die raad volg wat Paulus oor die betoning van empatie gee.
17. Wat het ons tot dusver uit Romeine hoofstuk 12 geleer, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?
17 Die verse in Romeine hoofstuk 12 wat ons tot dusver bespreek het, het ons raad gegee wat ons kan toepas in ons persoonlike lewe as Christene en in ons verhouding met ons broers. In die volgende artikel sal ons kyk na die res van die verse in hierdie hoofstuk, wat bespreek hoe ons mense buite die Christengemeente, insluitende teenstanders en vervolgers, moet beskou en behandel.
Ter hersiening
• Hoe toon ons dat ons “gloei van die gees”?
• Waarom moet ons God met nederigheid en beskeidenheid dien?
• Op watter maniere kan ons empatie en medelye aan medegelowiges betoon?
[Prente op bladsy 4]
Waarom neem ons aan hierdie Christelike bedrywighede deel?
[Prent op bladsy 6]
Hoe kan elkeen van ons buitelanders help om van die Koninkryk te leer?