‘Wees vreedsaam teenoor alle mense’
“Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—ROM. 12:18.
1, 2. (a) Watter waarskuwing het Jesus sy volgelinge gegee? (b) Waar kan ons raad vind oor hoe om op teenstand te reageer?
JESUS het sy volgelinge gewaarsku dat die nasies van die wêreld hulle sou teëstaan, en op die aand voor sy dood het hy verduidelik waarom. Hy het vir sy apostels gesê: “As julle ’n deel van die wêreld was, sou die wêreld lief wees vir wat syne is. En omdat julle geen deel van die wêreld is nie, maar ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle.”—Joh. 15:19.
2 Die apostel Paulus het die waarheid van Jesus se woorde ondervind. In sy tweede brief aan sy jong metgesel Timoteus het Paulus geskryf: “Jy het my leer nougeset gevolg, my lewenswandel, my voorneme, my geloof, my lankmoedigheid, my liefde, my volharding, my vervolginge, my lyding.” Toe het Paulus bygevoeg: “Trouens, almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Tim. 3:10-12). In hoofstuk 12 van sy brief aan die Christene in Rome het Paulus wyse raad gegee oor hoe hulle op teenstand moet reageer. Sy woorde kan ons van leiding voorsien in hierdie tyd van die einde.
“Verskaf goeie dinge”
3, 4. Hoe kan die raad in Romeine 12:17 toegepas word (a) in ’n godsdienstig verdeelde gesin? (b) in ons handelinge met bure?
3 Lees Romeine 12:17. Paulus het verduidelik dat ons nie met gelyke munt moet betaal wanneer ons voor vyandigheid te staan kom nie. Sy raad is veral in godsdienstig verdeelde gesinne belangrik. Die Christenhuweliksmaat weerstaan die versoeking om ’n onvriendelike woord of daad met iets onvriendeliks te vergeld. Dit hou geen voordeel in om “kwaad vir kwaad [te] vergeld nie”. Inteendeel, so ’n gesindheid kan die situasie net vererger.
4 Paulus beveel iets beters aan: “Verskaf goeie dinge voor die oë van alle mense.” ’n Vrou wat opregte goedhartigheid teenoor haar man betoon nadat hy iets onaangenaams oor haar godsdiensoortuigings gesê het, kan heel moontlik ’n potensieel plofbare situasie in die huis ontlont (Spr. 31:12). Carlos, wat nou ’n lid van ’n Bethelgesin is, vertel hoe sy ma die sterk teenstand van sy pa die hoof gebied het deur liefdevol te bly en goed na die huis om te sien. “Sy het ons as kinders aangemoedig om hom altyd te respekteer. Sy het daarop aangedring dat ek boules (Franse rolbal) saam met hom speel, al het ek nie baie daarvan gehou nie. Maar dit het hom wel in ’n goeie gemoedstemming gebring.” Hy het uiteindelik die Bybel begin studeer en is gedoop. Jehovah se Getuies het al dikwels vooroordeel te bowe gekom deur “goeie dinge voor die oë van alle mense” te verskaf en praktiese hulp aan hulle bure te gee wanneer ’n ramp die gebied tref.
Versag teenstand met “vurige kole”
5, 6. (a) In watter sin word “vurige kole” op die hoof van ’n vyand gehoop? (b) Vertel ’n plaaslike ondervinding wat toon hoe dit goeie resultate kan oplewer as die raad in Romeine 12:20 toegepas word.
5 Lees Romeine 12:20. Toe Paulus die woorde in hierdie vers gekies het, het hy ongetwyfeld gedink aan wat ons in Spreuke 25:21, 22 lees: “As die een wat jou haat, honger is, gee hom brood om te eet; en as hy dors is, gee hom water om te drink. Want jy hoop gloeiende kole op sy hoof, en Jehovah sal jou beloon.” Met die oog op sy raad in Romeine hoofstuk 12 kon Paulus nouliks bedoel het dat die figuurlike kole ’n teenstander moet straf of hom in die verleentheid moet stel. Die spreuk—sowel as Paulus se soortgelyke woorde aan die Romeine—verwys blykbaar eerder na ’n eertydse metode wat gebruik is om metaalerts te smelt. Die 19de-eeuse Engelse geleerde Charles Bridges het geskryf: “Verhit die onsmeebare metaal van onder en bo deur dit nie net oor die vuur te plaas nie, maar ook vurige kole daarop te hoop. Min harte is so verstok dat dit nie onder die geweldige krag van geduldige, onselfsugtige, vurige liefde sal smelt nie.”
6 Soos “vurige kole” kan goedhartige dade teenstanders se hart warm laat word en hulle vyandigheid dalk laat wegsmelt. Goedhartigheid kan mense oorhaal om ’n gunstiger gesindheid te hê teenoor Jehovah se volk en die Bybelse boodskap wat hulle verkondig. Die apostel Petrus het geskryf: “Handhaaf goeie gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle praat as kwaaddoeners, as gevolg van julle goeie werke waarvan hulle ooggetuies is, God in die dag van sy inspeksie sal verheerlik.”—1 Pet. 2:12.
“Wees . . . vreedsaam teenoor alle mense”
7. Wat is die vrede wat Christus vir sy dissipels nalaat, en wat moet dit ons beweeg om te doen?
7 Lees Romeine 12:18. Gedurende die laaste aand wat Jesus saam met sy apostels deurgebring het, het hy vir hulle gesê: “Ek laat vir julle vrede na, ek gee julle my vrede” (Joh. 14:27). Die vrede wat Christus vir sy dissipels nalaat, is die innerlike kalmte wat hulle ondervind wanneer hulle voel dat Jehovah God en sy geliefde Seun hulle liefhet en goedkeur. Hierdie innerlike vrede moet ons beweeg om in vrede met ander te lewe. Ware Christene is liefhebbers van vrede en is vredemakers.—Matt. 5:9, vtn. in NW.
8. Hoe kan ons vredemakers by die huis en in ons gemeente wees?
8 Een manier om ’n vredemaker in die gesin te wees, is om meningsverskille eerder so gou as moontlik uit die weg te ruim as om toe te laat dat die situasie vererger (Spr. 15:18; Ef. 4:26). Dit is ook waar in die Christengemeente. Die apostel Petrus verbind die strewe na vrede met beheer oor die tong (1 Pet. 3:10, 11). Nadat Jakobus streng raad gegee het oor die gepaste gebruik van die tong en die belangrikheid daarvan om jaloesie en twisgierigheid te vermy, het hy eweneens geskryf: “Die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend, redelik, bereid om te gehoorsaam, vol barmhartigheid en goeie vrugte, maak nie partydige onderskeid nie, is nie huigelagtig nie. En die saad van die vrug van regverdigheid word onder vreedsame toestande gesaai vir diegene wat vrede maak.”—Jak. 3:17, 18.
9. Wat moet ons in gedagte hou terwyl ons “vreedsaam teenoor alle mense” probeer wees?
9 In Paulus se stelling in Romeine 12:18 neem hy die saak verder deur te sê dat ons nie net in die gesin en in die gemeente vreedsaam moet wees nie. Hy sê dat ons “teenoor alle mense” vreedsaam moet wees. Dit sluit bure, werksmaats en skoolmaats in, asook mense wat ons in ons openbare bediening teëkom. Maar die apostel kwalifiseer sy raad deur te sê: “Indien moontlik, sover dit van julle afhang.” Dit beteken dat ons redelikerwys alles in ons vermoë doen om “vreedsaam teenoor alle mense” te wees, maar nie tot die mate dat ons God se regverdige beginsels prysgee nie.
Wraak kom Jehovah toe
10, 11. Hoe “gee [ons] plek vir die gramskap”, en waarom is dit gepas?
10 Lees Romeine 12:19. Selfs met “dié wat nie gunstiggesind is” teenoor ons werk en ons boodskap nie, insluitende openlike teenstanders, sal ons ons “onder die kwaad in bedwang hou” en “met sagmoedigheid” optree (2 Tim. 2:23-25). Paulus maan Christene om hulle nie te wreek nie, maar om “plek [te gee] vir die gramskap”. Na wie se gramskap verwys Paulus? Hy kon nouliks bedoel het dat ons vrye uiting aan ons eie gramskap moet gee. Dit is duidelik dat ons plek moet gee vir God se gramskap. As Christene weet ons dat dit ons nie toekom om wraak te neem nie. Die psalmis het geskryf: “Laat staan die toorn en laat vaar die woede; moenie driftig wees nie; dit is net om kwaad te doen” (Ps. 37:8). En Salomo het vermaan: “Moenie sê: ‘Ek sal die kwaad vergeld!’ nie. Hoop op Jehovah, en hy sal jou red.”—Spr. 20:22.
11 As teenstanders ons leed aandoen, is dit wys om dit aan Jehovah oor te laat om hulle te straf, as en wanneer hy goeddink om dit te doen. Paulus het getoon dat hy aan Jehovah se gramskap gedink het deur by te voeg: “Daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah.’” (Vergelyk Deuteronomium 32:35.) As ons ons probeer wreek, sou ons vermetel optree en ons aanmatig om iets te doen wat Jehovah bepaal het sy reg is. Daarbenewens sal ons ’n gebrek aan geloof toon in Jehovah se belofte: “Ek sal vergeld.”
12. Wanneer sal Jehovah se gramskap geopenbaar word, en hoe?
12 Vroeër in sy brief aan die Romeine het Paulus gesê: “God se gramskap word vanuit die hemel geopenbaar teen alle goddeloosheid en onregverdigheid van die mense wat die waarheid op onregverdige wyse onderdruk” (Rom. 1:18). Jehovah se gramskap sal tydens “die groot verdrukking” deur middel van sy Seun vanuit die hemel geopenbaar word (Op. 7:14). Dit sal “’n bewys [wees] van die regverdige oordeel van God”, soos Paulus in een van sy ander geïnspireerde briewe verduidelik het: “Hierby word in aanmerking geneem dat dit regverdig is van God om verdrukking te vergeld aan dié wat vir julle verdrukking veroorsaak, maar aan julle wat verdrukking ly, verligting saam met ons by die openbaring van die Here Jesus vanuit die hemel met sy magtige engele in ’n vlammende vuur, wanneer hy wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie.”—2 Tess. 1:5-8.
Oorwin die kwaad met die goeie
13, 14. (a) Waarom is ons nie verbaas wanneer ons voor teenstand te staan kom nie? (b) Hoe kan ons dié seën wat ons vervolg?
13 Lees Romeine 12:14, 21. Omdat ons die volste vertroue het dat Jehovah sy voornemens sal vervul, kan ons met gerustheid al ons kragte toespits op die werk wat hy ons gegee het om te doen—om die “goeie nuus van die koninkryk . . . in die hele bewoonde aarde [te] verkondig” (Matt. 24:14). Ons weet dat hierdie Christelike werk ons vyande woedend sal maak, want Jesus het ons gewaarsku: “Julle sal weens my naam vir al die nasies voorwerpe van haat wees” (Matt. 24:9). Gevolglik is ons nie verbaas of ontmoedig wanneer ons voor teenstand te staan kom nie. Die apostel Petrus het geskryf: “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die brand onder julle, wat as ’n beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie. Inteendeel, hou aan om julle te verbly, aangesien julle deelgenote in die lyding van die Christus is.”—1 Pet. 4:12, 13.
14 Ons voel nie verbitterd teenoor ons vervolgers nie, maar probeer hulle eerder inlig omdat ons besef dat party van hulle dalk uit onkunde optree (2 Kor. 4:4). Ons streef daarna om ag te slaan op Paulus se raad: “Hou aan om dié te seën wat julle vervolg; seën en moenie vervloek nie” (Rom. 12:14). Een manier waarop ons ons teenstanders kan seën, is deur vir hulle te bid. Jesus het in sy Bergpredikasie gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê, om goed te doen aan dié wat julle haat, om dié te seën wat julle vervloek, om te bid vir dié wat julle beledig” (Luk. 6:27, 28). Die apostel Paulus het uit eie ondervinding geweet dat ’n vervolger ’n getroue dissipel van Christus en ’n ywerige kneg van Jehovah kan word (Gal. 1:13-16, 23). In ’n ander brief het Paulus gesê: “Wanneer ons uitgeskel word, seën ons; wanneer ons vervolg word, hou ons uit; wanneer ons beswadder word, smeek ons.”—1 Kor. 4:12, 13.
15. Wat is die beste manier waarop ons die kwaad met die goeie kan oorwin?
15 ’n Ware Christen gehoorsaam dus die slotvers van Romeine hoofstuk 12: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin.” Die bron van alle kwaad is Satan die Duiwel (Joh. 8:44; 1 Joh. 5:19). In die openbaring wat aan die apostel Johannes gegee is, het Jesus geopenbaar dat sy gesalfde broers “[Satan] oorwin [het] weens die bloed van die Lam en weens die woord van hulle getuienis” (Op. 12:11). Dit toon dat die beste manier waarop ons Satan en sy bose invloed op die huidige stelsel van dinge kan oorwin, is om goed te doen deur ons getuieniswerk, die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk.
Verbly julle in die hoop
16, 17. Wat het ons in Romeine hoofstuk 12 geleer oor (a) hoe ons ons lewe moet gebruik? (b) hoe ons in die gemeente moet optree? (c) hoe ons diegene moet behandel wat ons geloof teëstaan?
16 Ons kort bespreking van hoofstuk 12 van Paulus se brief aan die Christene in Rome het ons aan baie dinge herinner. Ons het geleer dat ons, as toegewyde knegte van Jehovah, bereid moet wees om opofferings te maak. God se gees beweeg ons om opofferings gewilliglik te maak omdat ons denkvermoë ons oortuig het dat dit die wil van God is. Ons gloei van die gees en gebruik ons verskillende gawes ywerig. Ons dien in alle nederigheid en beskeidenheid en doen ons bes om ons Christelike eenheid te bewaar. Ons volg die weg van gasvryheid en toon opregte meegevoel.
17 Romeine hoofstuk 12 gee ons ook oorvloedige raad oor hoe ons op teenstand moet reageer. Ons moenie met gelyke munt betaal nie. Ons moet teenstand met goedhartige dade probeer te bowe kom. Sover moontlik en sonder om Bybelbeginsels prys te gee, moet ons vreedsaam met alle mense probeer lewe. Dit is van toepassing op die gesin, in die gemeente, met bure, by die werk, by die skool en in ons openbare bediening. Selfs wanneer ons voor openlike vyandigheid te staan kom, doen ons ons bes om die kwaad met die goeie te oorwin en onthou ons dat wraak Jehovah toekom.
18. Watter drie vermanings word in Romeine 12:12 gegee?
18 Lees Romeine 12:12. Benewens al hierdie wyse, praktiese raad gee Paulus drie vermanings. Aangesien ons nooit al hierdie dinge sonder Jehovah se hulp sou kon doen nie, spoor die apostel ons aan: “Hou vol met gebed.” Dit sal ons in staat stel om sy verdere raad te volg om te “volhard onder verdrukking”. Ten slotte moet ons ons gedagtes gerig hou op die toekoms wat Jehovah ons voorhou, en ons “verbly . . . in die hoop” op die ewige lewe, hetsy in die hemel of op die aarde.
Ter hersiening
• Hoe moet ons op teenstand reageer?
• Op watter gebiede moet ons vredemakers probeer wees, en hoe?
• Waarom moet ons ons nie probeer wreek nie?
[Prent op bladsy 8]
Praktiese hulp aan ons bure kan help om vooroordeel te bowe te kom
[Prent op bladsy 9]
Streef jy daarna om ’n vredemaker in die gemeente te wees?