Bybelboek nommer 45—Romeine
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Korinthe
Geskrif voltooi: ca. 56 G.J.
1. Wat bespreek Paulus in sy brief aan die Romeine?
IN Handelinge het ons gesien hoe Paulus, voorheen ’n heftige vervolger van Joodse Christene, Christus se ywerige apostel vir die nie-Joodse nasies word. Met Romeine begin ons die 14 boeke van die Bybel wat die heilige gees hierdie voormalige Fariseër, nou ’n getroue kneg van God, geïnspireer het om te skryf. Teen die tyd dat Paulus Romeine geskryf het, het hy reeds twee lang predikingsreise voltooi en het hy ver gevorder op die derde. Hy het reeds vyf ander geïnspireerde briewe geskryf: Eerste en Tweede Thessalonicense, Galasiërs en Eerste en Tweede Korinthiërs. Dit lyk nietemin gepas dat Romeine die ander in ons hedendaagse Bybels voorafgaan, aangesien dit die nuwe gelykheid tussen Jode en nie-Jode, die twee klasse vir wie Paulus gepreek het, breedvoerig bespreek. Dit verklaar ’n keerpunt in God se handelinge met sy volk en toon dat die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte lank gelede voorspel het dat die goeie nuus ook aan die nie-Jode verkondig sou word.
2. (a) Watter probleme bespreek Paulus in Romeine? (b) Wat word duidelik deur hierdie brief bewys?
2 Met Tertius as sekretaris ryg Paulus die een argument na die ander en ’n verbasende aantal aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte aaneen tot een van die kragtigste boeke van die Christelike Griekse Geskrifte. Met merkwaardige skoonheid van taal bespreek hy die probleme wat ontstaan het toe eerste-eeuse Christengemeentes uit sowel Jode as Grieke begin bestaan het. Het die Jode voorkeur geniet omdat hulle Abraham se nakomelinge was? Het ryp Christene, wat hulle vryheid van die Mosaïese Wet benut het, die reg gehad om swakker Joodse broers wat nog aan ou gebruike vasgehou het, te laat struikel? In hierdie brief het Paulus duidelik bewys dat Jode en nie-Jode voor God gelyk is en dat mense nie deur die Mosaïese Wet regverdig verklaar word nie, maar deur geloof in Jesus Christus en deur God se onverdiende goedheid. Terselfdertyd vereis God dat Christene gepaste onderworpenheid toon aan die verskillende owerhede waaronder hulle staan.
3. Hoe het die gemeente in Rome ontstaan, en waarom het Paulus moontlik so baie daar geken?
3 Hoe het die Romeinse gemeente ontstaan? Daar was ’n aansienlike Joodse gemeenskap in Rome, ten minste sedert Pompejus Jerusalem in 63 v.G.J. ingeneem het. In Handelinge 2:10 word daar spesifiek gemeld dat party van daardie Jode op Pinkster 33 G.J. in Jerusalem, was waar hulle die goeie nuus gehoor het. Die bekeerde besoekers het in Jerusalem gebly om van die apostels te leer, en later het diegene uit Rome ongetwyfeld daarheen teruggekeer, party waarskynlik toe die vervolging in Jerusalem uitgebreek het (Hand. 2:41-47; 8:1, 4). Daarbenewens was die mense van daardie tyd groot reisigers, en dit verklaar moontlik waarom Paulus so baie lede van die Romeinse gemeente persoonlik geken het; party van hulle het dalk die goeie nuus in Griekeland of Asië gehoor as gevolg van Paulus se prediking.
4 .(a) Watter inligting verstrek Romeine oor die gemeente in daardie stad? (b) Wat word deur die teenwoordigheid van Aquila en Priscilla in Rome aangedui?
4 Die eerste betroubare inligting oor hierdie gemeente word in Paulus se brief gevind. Dit blyk hieruit dat die gemeente uit Joodse sowel as nie-Joodse Christene bestaan het en dat hulle ywer prysenswaardig was. Hy sê vir hulle: ‘Julle geloof word in die hele wêreld verkondig’ en “Julle gehoorsaamheid het algemeen bekend geword” (Rom. 1:8; 16:19). Suetonius, wat in die tweede eeu geskryf het, berig dat die Jode gedurende die heerskappy van Claudius (41-54 G.J.) uit Rome geban is. Hulle het egter later teruggekeer, soos blyk uit die teenwoordigheid van Aquila en Priscilla in Rome. Hulle was Jode vir wie Paulus in Korinthe ontmoet het en wat Rome ten tyde van Claudius se bevel verlaat het, maar wat weer terug was in Rome toe Paulus aan die gemeente aldaar geskryf het.—Hand. 18:2; Rom. 16:3.
5. Deur watter feite word die egtheid van Romeine gestaaf?
5 Die brief se egtheid staan vas. Dit is, soos die inleiding daarvan sê, van “Paulus, ’n dienskneg van Jesus Christus, ’n geroepe apostel, . . . aan al die geliefdes van God, geroepe heiliges wat in Rome is” (Rom. 1:1, 7). Die boek se eksterne dokumentasie is van die vroegste wat vir die Christelike Griekse Geskrifte te vinde is. Petrus gebruik soveel soortgelyke uitdrukkings in sy eerste brief, wat waarskynlik ses tot agt jaar later geskryf is, dat baie geleerdes meen dat hy reeds ’n eksemplaar van Romeine moes gesien het. Romeine is onteenseglik as ’n deel van Paulus se geskrifte beskou en is as sodanig aangehaal deur Clemens van Rome, Polycarpus van Smirna en Ignatius van Antiochië, wat almal aan die einde van die eerste en die begin van die tweede eeu G.J. gelewe het.
6. Hoe getuig ’n ou papirus van Romeine se kanonisiteit?
6 Die boek Romeine kom saam met agt van Paulus se ander briewe in ’n kodeks voor wat die Chester Beatty-papirus nr. 2 (P46) genoem word. Sir Frederic Kenyon het betreffende hierdie vroeë kodeks geskryf: “Hier het ons dan ’n feitlik volledige manuskrip van die Pauliniese Briewe, wat blykbaar omstreeks die begin van die derde eeu geskryf is.”a Die Griekse Chester Beatty-Bybelpapiri is ouer as die bekende Codex Sinaiticus en Codex Vaticanus nr. 1209, wat albei uit die vierde eeu G.J. dateer. Hulle bevat ook die boek Romeine.
7. Wat dui aan waar en wanneer Romeine geskryf is?
7 Wanneer en waar is Romeine geskryf? Bybelkommentators is dit almal eens dat hierdie brief in Griekeland geskryf is, heel waarskynlik in Korinthe, toe Paulus aan die einde van sy derde sendingreis etlike maande daar deurgebring het. Die getuienis in die boek self dui op Korinthe. Paulus het die brief van Gajus se huis af geskryf, wat ’n lid van die gemeente daar was, en hy beveel Febe van die nabygeleë gemeente in Kenchreë, Korinthe se seehawe, by hulle aan. Dit was blykbaar Febe wat hierdie brief na Rome geneem het (Rom. 16:1, 23; 1 Kor. 1:14). In Romeine 15:23 (NW) het Paulus geskryf: “Nou het ek het geen onaangeraakte gebied meer in hierdie streke nie”, en hy gee in die volgende vers te kenne dat hy van plan is om sy sendingwerk weswaarts, na Spanje, uit te brei. Hy kon dit tereg aan die einde van sy derde reis, aan die begin van 56 G.J., geskryf het.
INHOUD VAN ROMEINE
8. (a) Wat sê Paulus oor sy roeping? (b) Hoe toon hy dat Jode sowel as Grieke God se toorn verdien?
8 God se onpartydigheid teenoor Jood en nie-Jood (1:1–2:29). Wat sê die geïnspireerde Paulus vir die Romeine? In sy openingswoorde identifiseer hy homself as ’n apostel wat deur Christus gekies is om “geloofsgehoorsaamheid” onder die nasies te verkondig. Hy spreek sy vurige begeerte uit om die heiliges in Rome te besoek, om onderlinge ‘bemoediging’ saam met hulle te geniet en om die goeie nuus, wat “’n krag van God tot redding [is] vir elkeen wat glo”, onder hulle bekend te maak. Soos lank gelede geskryf is, sal die regverdige “uit die geloof lewe” (1:5, 12, 16, 17). Hy toon dat Jode sowel as Grieke God se toorn verdien. Die mens se goddeloosheid is onverskoonbaar, want God se ‘onsigbare eienskappe kan van die skepping van die wêreld af duidelik gesien word’ (1:20, vgl. NW). Tog maak die nasies dwaaslik gode van geskape dinge. Die Jode moet die nasies egter nie kras oordeel nie, want hulle is ook skuldig aan sondes. Albei klasse sal volgens hulle dade geoordeel word, want God is nie partydig nie. Die besnydenis van die vlees is nie die beslissende faktor nie; “hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart”.—2:29.
9. (a) Waarin het die Jode die voordeel, maar watter tekste haal Paulus aan om te toon dat almal onder die sonde is? (b) Hoe sal ’n mens dan regverdig verklaar word, en watter voorbeeld staaf hierdie argument?
9 Deur geloof word almal regverdig verklaar (3:1–4:25). “Wat is dan die voordeel van die Jood?” Dit is groot, want God se heilige woorde is aan die Jode toevertrou. Tog is “Jode sowel as Grieke . . . almal onder die sonde”, en niemand is in God se oë “regverdig” nie. Sewe aanhalings word uit die Hebreeuse Geskrifte gemaak om hierdie punt te staaf (Rom. 3:1, 9-18; Ps. 14:1-3; 5:10; 140:4; 10:7; Spr. 1:16; Jes. 59:7, 8; Ps. 36:2). Die Wet bring die sondigheid van die mens aan die lig; dus ‘sal geen vlees uit die werke van die wet geregverdig word nie’. Maar deur God se onverdiende goedheid en die verlossing deur die losprys word sowel Jode as Grieke “deur die geloof sonder die werke van die wet” regverdig verklaar (Rom. 3:20, 28). Paulus staaf hierdie argument deur die voorbeeld van Abraham aan te haal, wat nie weens werke of die besnydenis regverdig gereken is nie, maar weens sy voorbeeldige geloof. So het Abraham nie net die vader van die Jode geword nie, maar van “almal wat glo”.—4:11.
10. (a) Hoe het dit gekom dat die dood as koning heers? (b) Waartoe het Christus se gehoorsaamheid gelei, maar watter waarskuwing word met betrekking tot die sonde gegee?
10 Nie meer slawe van die sonde nie, maar van regverdigheid deur Christus (5:1–6:23). Deur die een mens, Adam, het die sonde in die wêreld ingekom en die sonde het die dood gebring, “en so [het] die dood tot alle mense deurgedring . . . , omdat almal gesondig het” (5:12). Die dood het van Adam tot op Moses as koning geheers. Toe die Wet deur Moses gegee is, was die sonde oorvloedig, en die dood het bly regeer. Maar God se onverdiende goedheid is nou selfs oorvloediger, en deur Christus se gehoorsaamheid word baie vir die ewige lewe regverdig verklaar. Dit is egter geen vergunning om in sonde te lewe nie. Mense wat in Christus gedoop is, moet dood wees ten opsigte van sonde. Hulle ou persoonlikheid word aan die paal gehang, en hulle lewe met betrekking tot God. Die sonde heers nie meer oor hulle nie, maar hulle word slawe van regverdigheid, met heiligheid in die vooruitsig. “Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.”—6:23.
11. (a) Hoe illustreer Paulus Joodse Christene se bevryding van die Wet? (b) Wat is deur die Wet duidelik gemaak, en watter dinge stry dus in die Christen teen mekaar?
11 Dood ten opsigte van die Wet, lewend deur die gees in eendrag met Christus (7:1–8:39). Paulus gebruik die voorbeeld van ’n vrou, wat aan haar man gebonde is solank hy lewe maar wat vry is om met ’n ander te trou indien hy sterf, om te toon hoe Joodse Christene deur Christus se offer gedood is ten opsigte van die Wet en vry was om Christus s’n te word en vrugte vir God te dra. Die heilige Wet het die sonde duideliker gemaak, en die sonde het die dood gebring. Die sonde, wat in ons vleeslike liggame woon, stry teen ons goeie bedoelinge. Soos Paulus sê: “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.” Gevolglik “doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon”.—7:19, 20.
12. Hoe word party saam met Christus mede-erfgename, en waarin is hulle meer as oorwinnaars?
12 Wat kan die mens uit hierdie ellendige toestand red? God kan diegene wat aan Christus behoort lewend maak deur Sy gees! Hulle word aangeneem as seuns, word regverdig verklaar, word erfgename van God en mede-erfgename saam met Christus en word verheerlik. Paulus sê aan hulle: “As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Wie sal ons skei van die liefde van Christus?” Niemand! Seëvierend verklaar hy: “Ons [is] meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”—8:31, 35, 37-39.
13. (a) Wie is volgens die profesie in die ware Israel van God ingesluit, en met watter goddelike beginsel stem dit ooreen? (b) Waarom het vleeslike Israel te kort geskiet, maar wat is nodig vir redding?
13 “Israel” deur geloof en deur God se barmhartigheid gered (9:1–10:21). Paulus spreek “groot droefheid” oor sy mede-Israeliete uit, maar hy besef dat nie die hele vleeslike Israel werklik “Israel” is nie, want God het die gesag om wie hy ook al wil as kinders te kies. Soos blyk uit God se handelinge met Farao en uit die illustrasie van die pottebakker “hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is” (9:2, 6, 16). Hy roep kinders “nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene”, soos Hosea lank gelede voorspel het (Hos. 2:22, vgl. NW [v. 23]). Israel het te kort geskiet omdat hulle God se guns ‘nie uit die geloof nie, maar asof uit die werke’ probeer verwerf het en omdat hulle oor Christus, die “steen van aanstoot”, gestruikel het (Rom. 9:24, 32, 33). Hulle het “’n ywer vir God” gehad, maar nie ooreenkomstig juiste “kennis” nie. Christus is die einde van die Wet vir diegene wat geloof tot geregtigheid beoefen, en om redding te verkry, moet ’n mens in die openbaar bekend maak ‘dat Jesus die Here is’ en glo “dat God Hom uit die dode opgewek het” (10:2, 9, vgl. NW). Predikers word uitgestuur om mense van al die nasies in staat te stel om te hoor, geloof te hê en die naam van Jehovah aan te roep ten einde gered te word.
14. Wat illustreer Paulus met die olyfboom?
14 Prent van die olyfboom (11:1-36). Uit onverdiende goedheid is ’n oorblyfsel van natuurlike Israel gekies, maar omdat die meerderheid gestruikel het, “het die saligheid tot die heidene gekom” (11:11). Met behulp van die illustrasie van ’n olyfboom toon Paulus hoe nie-Jode, as gevolg van vleeslike Israel se gebrek aan geloof, ingeënt is. Nie-Jode moet hulle nietemin nie verheug oor die verwerping van Israel nie, want as God die ontroue natuurlike takke nie gespaar het nie, sal hy ook nie die takke van die wilde olyf wat vanuit die nasies ingeënt is, spaar nie.
15. Wat behels dit om God lewende offers aan te bied?
15 Vernuwing van die gemoed; die hoër owerhede (12:1–13:14). Bied julle liggame as lewende offers aan God, maan Paulus. Moenie meer “aan hierdie wêreld gelykvormig” wees nie, maar “word verander deur die vernuwing van julle gemoed”. Moenie hoogmoedig wees nie. Die liggaam van Christus het, soos ’n menseliggaam, baie lede, wat verskillende funksies het maar eensgesind saamwerk. Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie. Laat die wraak aan Jehovah oor. “Oorwin die kwaad deur die goeie.”—12:2, 21.
16. Hoe moet Christene hulle teenoor owerhede en ander gedra?
16 Wees onderworpe aan die magte, of hoër owerhede; dit is God se reëling. Bly die goeie doen en wees niemand iets verskuldig nie behalwe om mekaar lief te hê. Redding kom nader en daarom moet “die werke van die duisternis” afgelê word en “die wapens van die lig” aangegord word (13:12). Gedra jou goed, nie ooreenkomstig die begeerlikhede van die vlees nie.
17. Watter raad word oor oordele en die opbouing van die swakkes gegee?
17 Neem almal onpartydig aan sonder om te oordeel (14:1–15:33). Verdra diegene wat, omdat hulle geloof swak is, sekere voedsel nie eet nie of wat feesdae hou. Moet ook nie jou broer oordeel nie en laat hom nie struikel deur wat jy eet en drink nie, want God oordeel almal. Streef vrede en opbouende dinge na, en dra die swakhede van ander.
18. (a) Watter verdere aanhalings maak Paulus om te wys dat God die nie-Jode aanvaar? (b) Hoe benut Paulus self God se onverdiende goedheid?
18 Die apostel skryf: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe”, en hy haal nog vier keer uit die Hebreeuse Geskrifte aan as finale bewys dat die geïnspireerde profete lank tevore voorspel het dat God se beloftes na die nie-Joodse nasies sou uitbrei (Rom. 15:4, 9-12; Ps. 18:50; Deut. 32:43; Ps. 117:1; Jes. 11:1, 10). “Neem daarom mekaar aan”, vermaan Paulus, “soos Christus ons ook aangeneem het, tot heerlikheid van God” (Rom. 15:7). Paulus spreek waardering uit vir die onverdiende goedheid wat God hom geskenk het om ’n openbare dienaar vir die nasies te wees en te kan deelneem aan die heilige werk van “die evangelie van God”. Hy probeer altyd om nuwe gebiede oop te stel pleks van “op die fondament van ’n ander te bou”. En hy is nog nie klaar nie, want hy beplan om, nadat hy bydraes na Jerusalem geneem het, ’n selfs groter predikingsreis na vergeleë Spanje te onderneem en om op pad daarheen ‘’n volle mate van seën van Christus’ aan sy geestelike broers in Rome te bring.—15:16, 20, 29, vgl. NW.
19. Met watter groete en vermaning eindig die brief?
19 Slotgroete (16:1-27). Paulus stuur persoonlike groete aan 26 lede van die Romeinse gemeente wat hy by name noem, asook aan ander, en hy vermaan hulle om mense te vermy wat verdeeldheid veroorsaak en om “wys [te] wees teenoor wat goed is, maar onskuldig teenoor wat sleg is”. Alles is tot heerlikheid van God “deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen.”—16:19, 27.
WAAROM NUTTIG
20. (a) Watter logiese rede gee Romeine vir geloof in God? (b) Hoe word God se regverdigheid en barmhartigheid geïllustreer, en wat laat dit Paulus uitroep?
20 Die boek Romeine verskaf ’n logiese grondslag vir geloof in God deur te sê dat ‘sy onsigbare eienskappe van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien kan word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid’. Maar dit is nie al nie. Dit verheerlik ook sy regverdigheid en maak sy groot barmhartigheid en onverdiende goedheid bekend. Dit word pragtig onder ons aandag gebring deur die illustrasie van die olyfboom, waarin die wilde takke ingeënt word wanneer die natuurlike takke afgekap word. Wanneer Paulus hierdie strengheid en goedheid van God bepeins, roep hy uit: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!”—1:20, vgl. NW; 11:33.
21. Hoe toon Romeine die verdere ontwikkeling van God se heilige geheim?
21 Dit is in hierdie verband dat die boek Romeine die verdere ontwikkeling van God se heilige geheim verklaar. In die Christengemeente is daar nie meer ’n onderskeid tussen Jood en nie-Jood nie, want mense uit alle nasies kan in Jehovah se onverdiende goedheid deur middel van Jesus Christus deel. “Daar is geen aanneming van die persoon by God nie.” “Hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie.” “Daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.” Vir hulle almal is dit geloof, en nie werke nie, wat hulle as regverdigheid toegereken word.—2:11, 29; 10:12; 3:28.
22. Watter praktiese raad verskaf Romeine oor verhoudinge met diegene buite die gemeente?
22 Die praktiese raad wat in hierdie brief aan die Christene in Rome vervat is, is net so nuttig vir hedendaagse Christene, wat soortgelyke probleme in ’n vyandige wêreld die hoof moet bied. Die Christen word vermaan om ‘in vrede met alle mense te leef ’, ook met diegene buite die gemeente. Elke siel moet “hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is”, want hulle vorm ’n reëling van God en is ’n voorwerp van vrees, nie vir die wetsgehoorsames nie, maar vir diegene wat slegte dinge doen. Christene moenie net uit vrees vir straf nie, maar as gevolg van hulle Christelike gewete wetsgehoorsaam en onderworpe wees en daarom hulle belasting betaal, eer gee aan dié wat eer toekom, hulle verpligtinge nakom en niemand iets skuld “behalwe om mekaar lief te hê” nie. Die liefde vervul die Wet.—12:17-21; 13:1-10.
23. Hoe benadruk Paulus die belangrikheid van openbare belydenis, en watter voorbeeld stel hy ten opsigte van voorbereiding vir die bediening?
23 Paulus benadruk dat ’n openbare getuienis gegee moet word. Terwyl ’n mens met die hart geloof beoefen tot geregtigheid, is dit met die mond wat jy openbare belydenis tot redding doen. “Elkeen wat die Naam van [Jehovah] aanroep, sal gered word.” Maar dit sal slegs gebeur as predikers uitgaan en “die evangelie van die goeie verkondig”. Gelukkig is ons as ons onder daardie predikers is wie se stem nou “tot by die eindes van die wêreld” uitgegaan het! (10:13, 15, 18, vgl. NW). En laat ons ter voorbereiding van hierdie predikingswerk so vertroud raak met die geïnspireerde Skrif soos Paulus was, want in hierdie een gedeelte (10:11-21) maak hy die een aanhaling na die ander uit die Hebreeuse Geskrifte (Jes. 28:16; Joël 2:32; Jes. 52:7; 53:1; Ps. 19:5; Deut. 32:21; Jes. 65:1, 2). Hy kon tereg sê: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.”—Rom. 15:4.
24. Watter raad gee Paulus met die oog daarop om ywer en gelukkige verhoudinge in die gemeente op te bou?
24 Besonder praktiese raad word oor verhoudinge in die Christengemeente gegee. Almal moet, ongeag hulle vorige nasionale, rasse- of maatskaplike agtergrond, hulle gemoed vernuwe om aan God heilige diens ooreenkomstig sy “goeie en welgevallige en volmaakte wil” te verrig (11:17-22; 12:1, 2). Al Paulus se raad in Romeine 12:3-16 adem inderdaad praktiese redelikheid! Hier is gewis ’n uitstekende vermaning vir almal in die Christengemeente om ywer, nederigheid en tere geneentheid aan te kweek. In die laaste hoofstukke gee Paulus ’n kragtige vermaning dat diegene wat verdeeldheid veroorsaak, dopgehou en vermy moet word, maar hy praat ook van die wedersydse vreugde en verkwikking wat uit rein omgang in die gemeente voortspruit.—16:17-19; 15:7, 32.
25. (a) Watter regte beskouing en verdere begrip verskaf Romeine oor God se Koninkryk? (b) In watter opsigte behoort die bestudering van Romeine ons tot nut te strek?
25 As Christene moet ons voortdurend op ons verhoudinge met mekaar let. “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees” (14:17). Hierdie geregtigheid, vrede en blydskap is veral die deel van die “mede-erfgename van Christus”, wat “saam met Hom verheerlik” sal word in die hemelse Koninkryk. Let ook op hoe Romeine wys op ’n verdere stap in die vervulling van die Koninkryksbelofte wat in Eden gegee is deur te sê: “Die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel” (Rom. 8:17; 16:20; Gen. 3:15). Laat ons, daar ons hierdie groot waarhede glo, steeds vervul wees met alle blydskap en vrede en oorvloedig wees in hoop. Laat ons vasbeslote wees om saam met die Koninkryksaad oorwinnaars te wees, want ons is daarvan oortuig dat niks bo in die hemel of onder op die aarde “of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie”.—Rom. 8:39; 15:13.
[Voetnoot]
a Our Bible and the Ancient Manuscripts, 1958, bladsy 188.