Neutrale Christene in die laaste dae
“Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.”—JOHANNES 17:16.
1, 2. Wat het Jesus gesê oor sy volgelinge se verhouding met die wêreld, en watter vrae laat sy woorde ontstaan?
OP DIE laaste aand van sy lewe as ’n volmaakte mens het Jesus ’n lang gebed in die teenwoordigheid van sy dissipels gedoen. In daardie gebed het hy iets gesê wat die lewe van alle ware Christene beskryf. Hy het van sy volgelinge gepraat en gesê: “Ek het u woord aan hulle gegee, maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle geen deel van die wêreld is nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie. Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.”—Johannes 17:14-16.
2 Jesus het twee keer gesê dat sy volgelinge geen deel van die wêreld sou wees nie. En daardie afgeskeidenheid sou tot spanning lei—die wêreld sou hulle haat. Nietemin hoef Christene nie mismoedig te voel nie; Jehovah sal oor hulle waak (Spreuke 18:10; Matteus 24:9, 13). In die lig van Jesus se woorde vra ons dalk: ‘Waarom is ware Christene geen deel van die wêreld nie? Wat beteken dit om geen deel van die wêreld te wees nie? As Christene deur die wêreld gehaat word, hoe beskou hulle die wêreld? En hoe beskou hulle die wêreld se regerings in die besonder?’ Die skriftuurlike antwoorde op hierdie vrae is belangrik omdat dit ons almal raak.
‘Ons het ons oorsprong by God’
3. (a) Wat maak ons afgeskeie van die wêreld? (b) Watter bewyse is daar dat die wêreld “in die mag van die bose” lê?
3 Ons hegte verhouding met Jehovah is een rede waarom ons geen deel van die wêreld is nie. Die apostel Johannes het geskryf: “Ons weet dat ons ons oorsprong by God het, maar die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Johannes se woorde oor die wêreld is beslis waar. Die oorloë, misdaad, wreedheid, onderdrukking, oneerlikheid en onsedelikheid wat vandag so algemeen is, getuig van Satan se invloed, nie God s’n nie (Johannes 12:31; 2 Korintiërs 4:4; Efesiërs 6:12). Wanneer iemand een van Jehovah se Getuies word, sal hy nie sulke verkeerde dinge beoefen of goedkeur nie, en dít maak dat hy geen deel van die wêreld is nie.—Romeine 12:2; 13:12-14; 1 Korintiërs 6:9-11; 1 Johannes 3:10-12.
4. Op watter maniere toon ons dat ons aan Jehovah behoort?
4 Johannes het gesê dat Christene, in teenstelling met die wêreld, hulle “oorsprong by God het”. Almal wat hulle aan Jehovah toewy, behoort aan hom. Die apostel Paulus het gesê: “As ons lewe, lewe ons vir Jehovah, en ook as ons sterf, sterf ons vir Jehovah. Of ons dan lewe en of ons sterf, ons behoort aan Jehovah” (Romeine 14:8; Psalm 116:15). Omdat ons aan Jehovah behoort, gee ons hom uitsluitlike toegewydheid (Eksodus 20:4-6). Gevolglik wy ’n ware Christen nie sy lewe aan die een of ander sekulêre saak nie. En hoewel hy nasionale embleme respekteer, vereer hy dit nie, nie in daad of in gees nie. Hy sal beslis nie sportsterre of ander hedendaagse afgode aanbid nie. Hy respekteer natuurlik ander se reg om te doen wat hulle wil, maar hy aanbid net die Skepper (Matteus 4:10; Openbaring 19:10). Ook dít maak hom afgeskeie van die wêreld.
“My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”
5, 6. Hoe maak onderdanigheid aan God se Koninkryk ons afgeskeie van die wêreld?
5 Christene is volgelinge van Christus Jesus en onderdane van God se Koninkryk, nog ’n rede waarom hulle geen deel van die wêreld is nie. Toe Jesus deur Pontius Pilatus verhoor is, het hy gesê: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Johannes 18:36). Die Koninkryk is die middel wat Jehovah gaan gebruik om sy naam te heilig, sy soewereiniteit te regverdig en sy wil op die aarde te laat geskied soos in die hemel (Matteus 6:9, 10). Jesus het regdeur sy bediening die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en gesê dat sy volgelinge dit tot aan die einde van die stelsel van dinge sou verkondig (Matteus 4:23; 24:14). In 1914 is die profetiese woorde van Openbaring 11:15 vervul: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Here en van sy Christus geword, en hy sal vir ewig en altyd as koning heers.” Daardie hemelse Koninkryk sal binnekort die enigste regering oor die mensdom wees (Daniël 2:44). Die tyd sal aanbreek wanneer selfs die wêreld se heersers verplig sal wees om die gesag daarvan te erken.—Psalm 2:6-12.
6 Ware Christene hou dit alles in gedagte as onderdane van God se Koninkryk, en hulle gehoorsaam Jesus se raad om ‘aan te hou om eers die koninkryk en God se regverdigheid te soek’ (Matteus 6:33). Dit beteken nie dat hulle dislojaal is teenoor die land waarin hulle woon nie, maar dit maak hulle in geestelike sin afgeskeie van die wêreld. Vandag, soos in die eerste eeu, is dit die hooftaak van Christene om “deeglik aangaande die koninkryk van God te getuig” (Handelinge 28:23). Geen menseregering het die reg om daardie godgegewe werk stop te sit nie.
7. Waarom is ware Christene neutraal, en hoe het hulle dit getoon?
7 Omdat hulle aan Jehovah behoort en volgelinge van Jesus asook onderdane van God se Koninkryk is, het Jehovah se Getuies neutraal gebly in die nasionale en internasionale konflikte van die 20ste en 21ste eeu. Hulle het geen kant gekies nie, geen wapens teen enigiemand opgeneem nie en geen propaganda versprei om enige sekulêre saak te bevorder nie. Ten spyte van skynbaar oorweldigende teenstand het hulle merkwaardige geloof geopenbaar en die beginsels gevolg wat hulle in 1934 aan die Nazi-heersers van Duitsland bekend gemaak het: “Ons het geen belange in politieke aangeleenthede nie, maar is ten volle toegewy aan God se koninkryk onder Christus sy Koning. Ons sal niemand seermaak of kwaad aandoen nie. Ons sal ons daarin verheug om in vrede te wandel en goed te doen aan alle mense soos die geleentheid hom voordoen.”
Ambassadeurs en gesante vir Christus
8, 9. In watter opsig is Jehovah se Getuies vandag ambassadeurs en gesante, en hoe raak dit hulle verhouding met die nasies?
8 Paulus het homself en gesalfde mede-Christene beskryf as “ambassadeurs wat as plaasvervangers vir Christus optree, asof God ’n dringende versoek deur ons doen” (2 Korintiërs 5:20; Efesiërs 6:20). Sedert 1914 kan daar tereg van geesgesalfde Christene gepraat word as ambassadeurs vir God se Koninkryk, waarvan hulle “kinders” is (Matteus 13:38; Filippense 3:20; Openbaring 5:9, 10). Verder het Jehovah “’n groot menigte” “ander skape”, Christene met ’n aardse hoop, uit die nasies gebring om die gesalfde kinders met hulle ambassadeurswerk te help (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Hierdie “ander skape” kan “gesante” van God se Koninkryk genoem word.
9 ’n Ambassadeur en sy personeel sal hulle nie inmeng in die sake van die land waar hulle dien nie. Net so ook bly Christene neutraal in die politieke aangeleenthede van die nasies van die wêreld. Hulle kies nie kant vir of teen enige volks-, rasse-, sosiale of ekonomiese groep nie (Handelinge 10:34, 35). Hulle ‘doen eerder goed aan almal’ (Galasiërs 6:10). Weens die neutraliteit van Jehovah se Getuies kan niemand dus met reg hulle boodskap verwerp deur te sê dat hulle aan die kant van die ander party in ’n rasse-, nasionale of stamgeskil is nie.
Uitgeken aan liefde
10. Hoe belangrik is liefde vir ’n Christen?
10 Benewens die voorgaande, is Christene neutraal in die wêreld se aangeleenthede weens hulle verhouding met ander Christene. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Broederliefde is ’n vername eienskap van ’n Christen (1 Johannes 3:14). Aangesien broederliefde verband hou met ’n Christen se verhouding met Jehovah en Jesus, sal sy verhouding met ander Christene ook baie intiem wees. Sy liefde is nie beperk tot diegene in die plaaslike gemeente nie. Dit sluit “die hele gemeenskap van [sy] broers in die wêreld” in.—1 Petrus 5:9.
11. Watter invloed het die liefde wat Jehovah se Getuies vir mekaar het, op hulle gedrag?
11 Vandag bewys Jehovah se Getuies hulle broederliefde deur die woorde van Jesaja 2:4 te vervul: “Hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie.” Aangesien ware Christene deur Jehovah onderrig word, geniet hulle vrede met God en met mekaar (Jesaja 54:13). Omdat hulle God en hulle broers liefhet, sou dit vir hulle ondenkbaar wees om wapens op te neem teen mede-Christene—of enigiemand anders—in ander lande. Hulle vrede en eenheid is ’n belangrike deel van hulle aanbidding, ’n bewys dat hulle waarlik God se gees het (Psalm 133:1; Miga 2:12; Matteus 22:37-39; Kolossense 3:14). Hulle “soek vrede en streef dit na”, in die wete dat ‘die oë van Jehovah op die regverdiges is’.—Psalm 34:14, 15.
Hoe Christene die wêreld beskou
12. Watter gesindheid van Jehovah teenoor mense in die wêreld volg Jehovah se Getuies na, en hoe?
12 Jehovah het ’n ongunstige oordeel oor hierdie wêreld uitgespreek, maar hy het nog nie al die individue in die wêreld geoordeel nie. Hy sal dit op sy bestemde tyd deur Jesus doen (Psalm 67:3, 4; Matteus 25:31-46; 2 Petrus 3:10). Intussen betoon hy groot liefde aan die mensdom. Hy het selfs sy enigverwekte Seun gegee sodat almal die geleentheid kan hê om die ewige lewe te beërf (Johannes 3:16). As Christene volg ons God se liefde na deur ander van God se voorsienings vir redding te vertel, selfs al weier mense dikwels om te luister.
13. Hoe moet ons sekulêre heersers beskou?
13 Hoe moet ons die sekulêre heersers in die wêreld beskou? Paulus het daardie vraag beantwoord toe hy geskryf het: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag behalwe deur God nie; die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas” (Romeine 13:1, 2). Mense beklee “relatiewe” gesagsposisies (party het meer of minder gesag as ander, maar is altyd ondergeskik aan Jehovah) omdat die Almagtige dit toelaat. ’n Christen onderwerp hom aan sekulêre gesag omdat dit ’n aspek van sy gehoorsaamheid aan Jehovah is. Maar sê nou daar ontstaan ’n konflik tussen wat God vereis en wat ’n menseregering vereis?
God se wet en die keiser s’n
14, 15. (a) Wat het Daniël gedoen om ’n konflik oor gehoorsaamheid te vermy? (b) Watter standpunt het die drie Hebreërs ingeneem toe ’n konflik oor gehoorsaamheid nie vermy kon word nie?
14 Daniël en sy drie vriende het ’n goeie voorbeeld gestel wat toon hoe ’n balans gehandhaaf kan word tussen onderdanigheid aan menseregerings en onderdanigheid aan God se gesag. Toe die vier jong Hebreërs in ballingskap in Babilon was, het hulle die wette van daardie land gehoorsaam en is hulle kort voor lank gekies vir spesiale opleiding. Daniël, wat besef het dat die opleiding heel waarskynlik met Jehovah se Wet kon bots, het die saak bespreek met die beampte wat oor hulle aangestel is. Gevolglik is spesiale reëlings getref om die gewetens van die vier Hebreërs in ag te neem (Daniël 1:8-17). Jehovah se Getuies volg Daniël se voorbeeld wanneer hulle taktvol hulle standpunt aan beamptes verduidelik om onnodige probleme te voorkom.
15 By ’n latere geleentheid kon ’n konflik oor die kwessie van onderdanigheid egter nie vermy word nie. Die koning van Babilon het ’n groot afgodsbeeld in die vlakte Dura opgerig en hoë amptenare, waaronder die administrateurs van regsgebiede, beveel om vir die inwyding daarvan bymekaar te kom. Teen dié tyd was die drie vriende van Daniël as administrateurs van die regsgebied van Babilon aangestel, en daarom het die bevel ook vir hulle gegeld. Op ’n sekere oomblik tydens die verrigtinge moes almal wat daar was, voor die beeld neerbuig. Maar die Hebreërs het geweet dat dit teen God se wet is (Deuteronomium 5:8-10). Toe almal dus neerbuig, het hulle bly staan. ’n Verskriklike dood het gewag op dié wat die koning se bevel verontagsaam het, en hulle lewe is net deur ’n wonderwerk gered; maar hulle het gekies om eerder te sterf as om ongehoorsaam aan Jehovah te wees.—Daniël 2:49–3:29.
16, 17. Hoe het die apostels gereageer toe hulle beveel is om op te hou preek, en waarom?
16 In die eerste eeu is die apostels van Jesus Christus voor die Joodse leiers in Jerusalem gedaag en beveel om op te hou preek in Jesus se naam. Hoe het hulle gereageer? Jesus het hulle die opdrag gegee om dissipels in al die nasies te maak, wat Judea ingesluit het. Hy het ook vir hulle gesê dat hulle sy getuies moes wees in Jerusalem sowel as in die res van die wêreld (Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:8). Die apostels het geweet dat Jesus se opdragte God se wil vir hulle verteenwoordig het (Johannes 5:30; 8:28). Daarom het hulle gesê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 4:19, 20; 5:29.
17 Die apostels was nie opstandig nie (Spreuke 24:21). Toe menseheersers hulle egter verbied het om God se wil te doen, kon hulle nie anders as om te sê: ‘Ons moet aan God gehoorsaam wees, nie aan mense nie.’ Jesus het vir ons gesê: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Markus 12:17). As ons ongehoorsaam is aan ’n Goddelike opdrag omdat ’n mens vir ons sê om dit te doen, gee ons aan ’n mens dit wat aan God behoort. In teenstelling hiermee betaal ons alles terug wat ons aan die keiser verskuldig is, terwyl ons Jehovah se oppergesag erken. Hy is die Universele Soewerein, die Skepper, die absolute Bron van gesag.—Openbaring 4:11.
Ons sal standvastig bly
18, 19. Watter voorbeeldige standpunt het baie van ons broers ingeneem, en hoe kan ons hulle voorbeeld navolg?
18 Tans erken die meeste sekulêre regerings die neutrale standpunt van Jehovah se Getuies, en daarvoor is ons dankbaar. In party lande het die Getuies egter hewige teenstand verduur. Deur die 20ste eeu heen en tot vandag toe is daar van ons broers en susters wat baie moeilike tye deurmaak en in geestelike sin “die goeie stryd van die geloof” stry.—1 Timoteus 6:12.
19 Hoe kan ons soos hulle standvastig bly? Eerstens hou ons in gedagte dat ons teenstand moet verwag. Ons moenie geskok of selfs verbaas wees as ons dit teëkom nie. Paulus het Timoteus gewaarsku: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12; 1 Petrus 4:12). Waarom sou ons nie teenstand ondervind in ’n wêreld waar Satan se invloed heers nie? (Openbaring 12:17). Solank ons getrou is, sal daar altyd mense wees wat ‘dit vreemd vind en aanhou om ons te smaad’.—1 Petrus 4:4.
20. Aan watter bemoedigende waarhede word ons herinner?
20 Tweedens is ons daarvan oortuig dat Jehovah en sy engele ons sal ondersteun. Soos Elisa van die ou tyd gesê het: “Dié wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is” (2 Konings 6:16; Psalm 34:7). Dit kan wees dat Jehovah, om sy eie goeie redes, toelaat dat druk van teenstanders ’n tyd lank voortduur. Nietemin sal hy ons altyd die nodige krag gee om te volhard (Jesaja 41:9, 10). Party het al hulle lewe verloor, maar dit ontmoedig ons nie. Jesus het gesê: “Moenie bevrees word vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees hom eerder wat siel sowel as liggaam in Gehenna kan vernietig” (Matteus 10:16-23, 28). Ons is net “tydelike inwoners” in hierdie stelsel van dinge. Ons gebruik ons tyd hier om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry”, ewige lewe in God se nuwe wêreld (1 Petrus 2:11; 1 Timoteus 6:19). Geen mens kan ons van daardie beloning beroof solank ons aan God getrou bly nie.
21. Wat moet ons altyd in gedagte hou?
21 Laat ons dus altyd dink aan die bevoorregte verhouding wat ons met Jehovah God het. Laat ons te alle tye die seëning waardeer om volgelinge van Christus en onderdane van die Koninkryk te wees. Laat ons ons broers liefhê met ons hele hart en altyd behae skep in die liefde wat ons van hulle ontvang. En laat ons bowenal ag gee op die psalmis se woorde: “Hoop op Jehovah; wees moedig en laat jou hart sterk wees. Ja, hoop op Jehovah” (Psalm 27:14; Jesaja 54:17). Dan sal ons, soos tallose Christene voor ons, standvastig bly met ’n onwankelbare hoop—ja, as getroue, neutrale Christene wat geen deel van die wêreld is nie.
Kan jy verduidelik?
• Hoe maak ons verhouding met Jehovah ons afgeskeie van hierdie wêreld?
• Hoe bly ons as onderdane van God se Koninkryk neutraal in hierdie wêreld?
• In watter opsigte laat liefde vir ons broers ons neutraal, afgeskeie van die wêreld, bly?
[Prent op bladsy 15]
Hoe raak ons onderdanigheid aan God se Koninkryk ons verhouding met die wêreld?
[Prent op bladsy 16]
’n Hutu en ’n Tutsi werk vreugdevol saam
[Prent op bladsy 17]
Joodse en Arabiese Christenbroers
[Prent op bladsy 17]
Serwiese, Bosniese en Kroatiese Christene geniet mekaar se geselskap
[Prent op bladsy 18]
Wat is die regte weg om te volg wanneer heersers ons beveel om God se wet te verbreek?