Respek vir gesag—Waarom is dit noodsaaklik?
WIE is nie dankbaar dat die polisie die gesag het om misdadigers in hegtenis te neem wat ons besittings steel of ons gesin bedreig nie? En waardeer ons nie die feit dat howe die gesag het om misdadigers te straf om die gemeenskap te beskerm nie?
’n Mens dink moontlik ook aan ander nuttige openbare dienste, soos die instandhouding van paaie, sanitasie en onderwys—waarvoor daar gewoonlik betaal word met belasting wat deur die regeringsowerheid gehef word. Ware Christene is onder die eerstes wat erken dat respek vir behoorlik aangestelde gesag noodsaaklik is. Maar in watter mate moet sulke respek betoon word? En op watter lewensterreine word respek vir gesag vereis?
Gesag in die gemeenskap
Die Bybel sê vir alle mense, ongeag of hulle gelowiges of ongelowiges is, om respek te hê vir burgerlike gesag, wat tot voordeel van die gemeenskap werk. Die Christenapostel Paulus het aan sy medegelowiges in Rome hieroor geskryf, en dit is nuttig om te kyk na wat hy gesê het, soos in Romeine 13:1-7 opgeteken is.
Paulus was ’n Romeinse burger, en Rome was destyds die wêreldmoondheid. Paulus se brief, wat omstreeks 56 G.J. geskryf is, het Christene die raad gegee om voorbeeldige burgers te wees. Hy het geskryf: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag behalwe deur God nie; die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas.”
Paulus verduidelik hier dat daar geen mensegesag sou wees as God dit nie toegelaat het nie. In daardie sin het die hoër owerhede ’n relatiewe posisie in die raamwerk van God se voorneme. Dit beteken derhalwe dat “hy wat die owerheid teëstaan teen die reëling van God stelling ingeneem [het]”.
Terwyl burgers wat goed doen moontlik lof van die hoër owerhede sal ontvang, het hierdie owerhede ook die mag om oortreders te straf. Diegene wat slegte dinge beoefen, het oorgenoeg rede om die owerhede se reg te vrees om as “’n wreker” op te tree, aangesien die regerings dit as “God se dienaar” doen.
Paulus sluit sy redenasie af deur te sê: “Daar is dus dwingende rede vir julle om onderdanig te wees, nie net weens dié gramskap nie, maar ook weens julle gewete. Want dit is waarom julle ook belastings betaal; want hulle is God se openbare dienaars wat voortdurend juis met dié doel dien.”
Die verantwoordelikheid vir die verdeling van belasting berus by die hoër owerhede, nie by die belastingbetaler nie. As ’n eerlike burger behou ’n Christen ’n goeie gewete. Hy weet dat hy, deur hom aan die hoër owerhede te onderwerp en verskuldigde belasting te betaal, nie net die standaard handhaaf van die gemeenskap waarin hy lewe nie, maar dat hy ook in ooreenstemming met Goddelike vereistes lewe.
Die gesin en gesag
Wat van gesag in die gesin? In die vroeë dae van ’n baba se lewe sal hy dikwels aandring op aandag deur te huil of selfs te skreeu. Maar ’n verstandige ouer sal onderskei wat die baba werklik nodig het sonder om net aan ’n skreeubui toe te gee. Namate party kinders ouer word, word hulle vrye teuels gegee en toegelaat om hulle eie standaarde te stel. Aangesien hulle onervare is, kan hulle by misdaad of ander oortredings betrokke raak en die gesin sowel as die gemeenskap oor die algemeen ontwrig, soos talle plaaslike owerhede alte goed weet.
“Ouers dissiplineer kinders te laat”, sê Rosalind Miles, skrywer van Children We Deserve. “Die tyd om te begin, is die oomblik wanneer ’n kind gebore word.” As ouers van die begin af met vriendelike, liefdevolle gesag praat en konsekwent in hulle optrede is, sal hulle kinders gou leer om daardie gesag en die liefdevolle dissipline wat daaruit voortspruit te aanvaar.
Die Bybel bevat baie inligting aangaande gesag in die gesin. In die boek Spreuke vestig die wyse man Salomo die aandag op die eenheid van godvresende ouers voor hulle kinders deur te sê: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (Spreuke 1:8). Wanneer ouers hierdie soort redelike eensgesindheid voor hulle kinders handhaaf, weet die kinders waar hulle staan. Hulle sal dalk die een ouer teen die ander probeer uitspeel in ’n poging om hulle sin te kry, maar verenigde ouerlike gesag is ’n beskerming vir die kinders.
Die Bybel verduidelik dat die man hoofsaaklik verantwoordelik is vir die geestelike welstand van nie net sy kinders nie, maar ook van sy vrou. Dit word beskryf as hoofskap. Hoe moet hierdie hoofskap uitgeoefen word? Paulus wys daarop dat die man die hoof van sy vrou is net soos Christus die Hoof van die gemeente is. Paulus voeg dan by: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente [sy geestelike bruid] liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). Wanneer ’n man die voorbeeld van Jesus navolg en hoofskap op ’n liefdevolle manier uitoefen, sal hy die “diep respek” van sy vrou verdien (Efesiërs 5:33). Kinders in so ’n huisgesin sal ook die waarde van godgegewe gesag sien en aangespoor word om dit te aanvaar.—Efesiërs 6:1-3.
Hoe kan enkelouers, insluitende dié wat ’n huweliksmaat aan die dood afgestaan het, hierdie kwessie die hoof bied? Ongeag of dit die vader of die moeder is, hulle kan direk beroep doen op die gesag van Jehovah God en Jesus Christus. Jesus het altyd met gesag gepraat—dié van sy Vader en dié van die geïnspireerde Skrif.—Matteus 4:1-10; 7:29; Johannes 5:19, 30; 8:28.
Die Bybel voorsien ’n oorvloed van waardevolle beginsels wat betrekking het op probleme waarvoor kinders te staan kom. Deur hierdie beginsels te vind en dit te volg, sal ’n ouer liefdevolle en nuttige raad vir die kinders kan gee (Genesis 6:22; Spreuke 13:20; Matteus 6:33; 1 Korintiërs 15:33; Filippense 4:8, 9). Ouers kan ook Bybellektuur raadpleeg wat spesifiek bedoel is om hulle te help om hulle kinders te leer hoe voordelig dit is om die gesag van die Skrif te respekteer.a
Die Christengemeente en gesag
“Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het; luister na hom” (Matteus 17:5). Hierdie woorde, wat deur Jehovah God self geuiter is, het bevestig dat Jesus die een is wat met Goddelike gesag praat. Wat hy gesê het, staan in die vier Evangelieverslae opgeteken, wat ons maklik kan raadpleeg.
Net voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy dissipels gesê: “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee” (Matteus 28:18). As Hoof van sy gemeente het Jesus nie net ’n waaksame oog oor sy gesalfde voetstapnavolgers op aarde gehou nie, maar sedert die uitgieting van die heilige gees op Pinkster 33 G.J. het hy hulle ook gebruik as ’n kanaal van waarheid, as ’n “getroue en verstandige slaaf” (Matteus 24:45-47; Handelinge 2:1-36). Wat het hy gedoen om dit alles teweeg te bring sodat die Christengemeente versterk kon word? “Toe hy na bo opgevaar het, het hy . . . gawes in die vorm van mense gegee” (Efesiërs 4:8). Hierdie “gawes in die vorm van mense” is Christen- ouer manne, wat deur die heilige gees aangestel word en die gesag gegee word om na die geestelike belange van medegelowiges om te sien.—Handelinge 20:28.
Om hierdie rede gee Paulus die raad: “Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem, wat die woord van God tot julle gespreek het, en namate julle die uiteinde van hulle gedrag aanskou, moet julle hulle geloof navolg.” Aangesien hierdie getroue manne Jesus se voetstappe noukeurig volg, is dit beslis verstandig om hulle geloof na te volg. Dan voeg Paulus by: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, [“erken voortdurend hulle gesag oor julle”, The Amplified Bible] want hulle waak oor julle siele as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees.”—Hebreërs 13:7, 17.
Wat gebeur wanneer sulke riglyne verontagsaam word? Dit is presies wat party lede van die vroeë Christengemeente gedoen het, en hulle het afvalliges geword. Daar word van Himeneus en Filetus gepraat as manne wat die geloof van party ondermyn het en wie se leë praatjies ‘geskend het wat heilig is’. Een van die dinge wat hulle beweer het, was dat die opstanding reeds plaasgevind het, blykbaar ’n geestelike of ’n simboliese opstanding, en dat daar derhalwe in die toekoms geen verdere opstanding onder God se Koninkryk sou wees nie.—2 Timoteus 2:16-18.
Die aangestelde gesag het die situasie gered. Christen- ouer manne kon hierdie argumente weerlê omdat hulle as verteenwoordigers van Jesus Christus die gesag van die Skrif gebruik het (2 Timoteus 3:16, 17). Dieselfde geld vandag in die Christengemeente, wat beskryf word as “’n pilaar en stut van die waarheid” (1 Timoteus 3:15). Daar sal nooit toegelaat word dat valse leerstellings “die patroon van gesonde woorde” bederf nie, wat vir ons as ’n voortreflike pand in die Bybel bewaar is.—2 Timoteus 1:13, 14.
Hoewel respek vir gesag in die wêreld vinnig afneem, erken ons as Christene dat behoorlike gesag in die gemeenskap, in die gesin en in die Christengemeente tot ons voordeel daargestel is. Respek vir gesag is noodsaaklik vir ons fisiese, emosionele en geestelike welsyn. As ons hierdie godgegewe gesag aanvaar en respekteer, sal ons beskerm word deur die grootste owerhede—Jehovah God en Jesus Christus—tot ons ewige voordeel.—Psalm 119:165; Hebreërs 12:9.
[Voetnoot]
a Sien die boeke Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk en Die geheim van gesinsgeluk, wat albei uitgegee word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Lokteks op bladsy 5]
Die Bybel bevat baie inligting aangaande gesag in die gesin
[Prent op bladsy 6]
Enkelouers kan direk beroep doen op die gesag van Jehovah God en Jesus Christus
[Prente op bladsy 7]
Christene erken dat behoorlike gesag in die gesin, in die Christengemeente en in die gemeenskap tot hulle voordeel daargestel is
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Photo by Josh Mathes, Collection of the Supreme Court of the United States