Verheerlik God “uit een mond”
“[Verheerlik] die God en Vader van ons Here Jesus Christus . . . uit een mond.”—ROMEINE 15:6.
1. Watter les oor verskillende beskouings het Paulus onder medegelowiges se aandag gebring?
NIE alle Christene maak dieselfde keuses of het dieselfde voorkeure nie. En tog moet alle Christene eendragtig op die weg na die lewe wandel. Is dit moontlik? Ja, as ons nie groot geskille van klein verskille maak nie. Dit is ’n les wat die apostel Paulus in die eerste eeu onder medegelowiges se aandag gebring het. Hoe het hy hierdie belangrike gedagte verduidelik? En hoe kan ons sy geïnspireerde raad vandag toepas?
Die belangrikheid van Christelike eenheid
2. Hoe het Paulus die belangrikheid van eenheid beklemtoon?
2 Paulus het geweet dat Christelike eenheid noodsaaklik is, en hy het goeie raad gegee om Christene te help om mekaar in liefde te verdra (Efesiërs 4:1-3; Kolossense 3:12-14). Nadat hy baie gemeentes gestig en ander oor ’n tydperk van meer as 20 jaar besoek het, het hy egter geweet dat dit moeilik kan wees om eenheid te bewaar (1 Korintiërs 1:11-13; Galasiërs 2:11-14). Gevolglik het hy medegelowiges in Rome aangespoor: “Mag die God wat volharding en vertroosting verskaf, gee dat julle . . . die God en Vader van ons Here Jesus Christus eendragtig uit een mond kan verheerlik” (Romeine 15:5, 6). Vandag moet ons Jehovah God eweneens “uit een mond” verheerlik as ’n verenigde groep van sy knegte. Hoe vaar ons in hierdie opsig?
3, 4. (a) Watter verskillende agtergronde het die Christene in Rome gehad? (b) Hoe kon Christene in Rome Jehovah ten spyte van hulle verskille “uit een mond” verheerlik?
3 Baie Christene in Rome was persoonlike vriende van Paulus (Romeine 16:3-16). Hoewel hulle agtergronde verskil het, het Paulus al sy broers as “God se geliefdes” aanvaar. Hy het geskryf: “Ek [dank] my God deur Jesus Christus oor julle almal, omdat daar in die hele wêreld oor julle geloof gepraat word.” Die Romeine was ongetwyfeld in baie opsigte voorbeeldig (Romeine 1:7, 8; 15:14). Terselfdertyd het sekere lede van die gemeente verskillende beskouings oor party sake gehad. Aangesien Christene van vandag uit ’n verskeidenheid agtergronde en kulture kom, kan ’n bespreking van Paulus se geïnspireerde raad oor hoe om verskille te hanteer, hulle help om “uit een mond” te praat.
4 In Rome was daar Joodse sowel as nie-Joodse gelowiges (Romeine 4:1; 11:13). Party Joodse Christene kon hulleself blykbaar nie sover kry om sekere gebruike te laat vaar wat hulle onder die Mosaïese Wet onderhou het nie, maar hulle moes besef het dat sulke gebruike nie noodsaaklik vir redding was nie. Aan die ander kant het ’n aantal Joodse Christene aanvaar dat Christus se offerande hulle bevry het van beperkings wat hulle nagekom het voordat hulle Christene geword het. Gevolglik het hulle van hulle persoonlike gewoontes en gebruike verander (Galasiërs 4:8-11). Nogtans was hulle almal, soos Paulus getoon het, “God se geliefdes”. Almal kon God “uit een mond” loof as hulle die regte geestesgesindheid teenoor mekaar behou het. Vandag het ons moontlik ook verskillende beskouings oor sekere sake, en daarom sal dit goed wees as ons noukeurig let op hoe Paulus hierdie belangrike beginsel verduidelik.—Romeine 15:4.
“Verwelkom mekaar”
5, 6. Waarom was daar verskillende beskouings in die gemeente in Rome?
5 In sy brief aan die Romeine praat Paulus van ’n situasie waaroor daar verskillende menings was. Hy skryf: “Een persoon het geloof om alles te eet, maar die persoon wat swak is, eet groente.” Waarom was dit die geval? Wel, onder die Mosaïese Wet was dit verkeerd om varkvleis te eet (Romeine 14:2; Levitikus 11:7). Maar daardie Wet was nie meer bindend nadat Jesus gesterf het nie (Efesiërs 2:15). En drie en ’n half jaar ná Jesus se dood het ’n engel vir die apostel Petrus gesê dat geen voedsel vanuit God se standpunt as onrein beskou moet word nie (Handelinge 11:7-12). Weens hierdie faktore het party Joodse Christene moontlik gemeen dat hulle varkvleis kon eet—of enige ander voedsel wat onder die Wet verbied is.
6 Maar die blote gedagte om voedsel te eet wat voorheen as onrein beskou is, was waarskynlik vir ander Joodse Christene afstootlik. Sulke sensitiewe persone het dalk instinktief aanstoot geneem as hulle hulle Joodse broers in Christus sulke voedsel sien eet het. Wat meer is, sekere nie-Joodse Christene, wie se godsdiensagtergrond miskien nooit beperkings op voedsel ingesluit het nie, kon dalk nie verstaan hoe enigiemand ’n geskilpunt van voedsel kon maak nie. Dit was natuurlik nie verkeerd as iemand hom van sekere voedselsoorte onthou het nie, solank hy nie daarop aangedring het dat hierdie onthouding nodig was vir redding nie. Nietemin kon die verskillende beskouings maklik tot geskille in die gemeente aanleiding gegee het. Die Christene in Rome moes daarteen waak dat sulke verskille hulle daarvan weerhou om God “uit een mond” te verheerlik.
7. Watter verskillende beskouings was daar oor die onderhouding van ’n spesiale dag elke week?
7 Paulus gee ’n tweede voorbeeld: “Die een persoon oordeel dat die een dag bo die ander is; ’n ander oordeel dat die een dag gelyk aan al die ander is” (Romeine 14:5a). Onder die Mosaïese Wet moes geen werk op die Sabbat gedoen word nie. Daar was selfs streng beperkings op die afstand wat iemand op daardie dag kon reis (Eksodus 20:8-10; Matteus 24:20; Handelinge 1:12). Maar toe die Wet ter syde gestel is, was hierdie bepalings nie meer van krag nie. Nogtans het dit party Joodse Christene dalk gekwel om op ’n dag wat hulle vroeër as heilig beskou het, enige soort werk te doen of ver te reis. Selfs nadat hulle Christene geword het, het hulle miskien die sewende dag uitsluitlik vir geestelike doeleindes opsygesit, al het God die Sabbat nie langer as bindend beskou nie. Was dit verkeerd? Nee, solank hulle nie beweer het dat God vereis dat die Sabbat onderhou moet word nie. Omdat Paulus die gewete van sy Christenbroers in ag geneem het, het hy derhalwe geskryf: “Laat elkeen heeltemal oortuig wees in sy eie verstand.”—Romeine 14:5b.
8. Wat moes die Christene in Rome nie doen nie, hoewel hulle ander se gewete in ag kon neem?
8 Al het Paulus sy broers hartlik aangemoedig om geduldig te wees met diegene wat met gewetensake worstel, het hy nietemin diegene sterk veroordeel wat medegelowiges probeer dwing het om die Mosaïese Wet te volg as ’n vereiste vir redding. Byvoorbeeld, omstreeks 61 G.J. het Paulus die boek Hebreërs geskryf, ’n kragtige brief aan Joodse Christene wat baie duidelik toon dat dit geen waarde het om die Mosaïese Wet te onderhou nie omdat Christene ’n verhewe hoop het wat op Jesus se losprysoffer gegrond is.—Galasiërs 5:1-12; Titus 1:10, 11; Hebreërs 10:1-17.
9, 10. Wat moet Christene nie doen nie? Verduidelik.
9 Soos ons gesien het, voer Paulus aan dat verskillende keuses nie die eenheid behoort te bedreig solank daar geen duidelike skending van Christelike beginsels is nie. Gevolglik vra Paulus Christene met ’n swakker gewete: “Waarom oordeel jy jou broer?” En hy vra dié wat sterker is (moontlik dié wie se gewete hulle toelaat om voedsel te eet wat onder die Wet verbied is of om sekulêre werk op die Sabbat te doen): “Waarom sien jy ook neer op jou broer?” (Romeine 14:10). Volgens Paulus moet Christene met ’n swakker gewete nie hulle broers veroordeel wat ’n ruimer beskouing het nie. Terselfdertyd moet Christene wat sterk is, nie neersien op dié wie se gewete op sekere gebiede nog swak is nie. Almal moet die suiwer beweegredes van ander respekteer en nie “meer van [hulleself] dink as wat dit nodig is om te dink nie”.—Romeine 12:3, 18.
10 Paulus het verduidelik wat die gebalanseerde beskouing is: “Laat die een wat eet, nie neersien op die een wat nie eet nie, en laat die een wat nie eet nie, die een wat eet, nie oordeel nie, want God het hom verwelkom.” Verder sê hy: “Christus [het] ons ook verwelkom . . . , tot heerlikheid van God.” Aangesien die sterkes en die swakkes vir God en Christus aanneemlik is, moet ons net so ruimhartig wees en ‘mekaar verwelkom’ (Romeine 14:3; 15:7). Wie kon dit tereg betwis?
Broederliefde werk vandag eenheid in die hand
11. Watter unieke situasie het in Paulus se dag bestaan?
11 In sy brief aan die Romeine het Paulus ’n unieke situasie bespreek. Jehovah het kort tevore een verbond afgeskaf en ’n nuwe van krag laat word. Sommige het dit moeilik gevind om aan te pas. Daar bestaan nie vandag so ’n situasie nie, maar soortgelyke geskille kan van tyd tot tyd ontstaan.
12, 13. In watter situasies kan Christene van vandag die gewete van hulle broers in ag neem?
12 Byvoorbeeld, ’n Christenvrou het dalk vroeër aan ’n godsdiens behoort wat klem gelê het op eenvoudige kleredrag en voorkoms. Wanneer sy die waarheid aanneem, vind sy dit miskien moeilik om aan te pas by die idee dat dit nie verkeerd is om beskeie, kleurvolle klere by gepaste geleenthede te dra of om grimering smaakvol te gebruik nie. Aangesien daar geen Bybelbeginsel by betrokke is nie, sal dit nie gepas wees vir enigeen om daardie Christenvrou te probeer oorreed om haar gewete te skend nie. Terselfdertyd besef sy dat sy nie Christenvroue moet kritiseer wie se gewete hulle toelaat om sulke dinge te gebruik nie.
13 Beskou nog ’n voorbeeld. ’n Christenman het moontlik grootgeword in ’n milieu waar die gebruik van alkohol afgekeur is. Wanneer hy kennis van die waarheid opgedoen het, leer hy die Bybel se beskouing dat wyn ’n gawe van God is en met matigheid gebruik mag word (Psalm 104:15). Hy aanvaar daardie beskouing. Weens sy agtergrond verkies hy egter om alkohol heeltemal te vermy, maar hy kritiseer nie diegene wat dit met matigheid gebruik nie. Hy pas dus Paulus se woorde toe: “Laat ons dan die dinge nastreef wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is.”—Romeine 14:19.
14. In watter situasies kan Christene die gees van Paulus se raad aan die Romeine toepas?
14 Ander situasies ontstaan waarin die gees van Paulus se raad aan die Romeine toegepas moet word. Die Christengemeente bestaan uit baie individue, en hulle smaak verskil. Gevolglik kan hulle verskillende keuses maak—byvoorbeeld wat hulle kleredrag en persoonsversorging betref. Die Bybel voorsien natuurlik duidelike beginsels wat alle opregte Christene volg. Nie een van ons behoort klere of haarstyle te dra wat eksentriek of onbeskeie is of wat ons met ongewenste wêreldse elemente vereenselwig nie (1 Johannes 2:15-17). Christene onthou dat hulle te alle tye, selfs wanneer hulle ontspan, bedienaars is wat die Universele Soewerein verteenwoordig (Jesaja 43:10; Johannes 17:16; 1 Timoteus 2:9, 10). Maar op baie gebiede is daar ’n groot verskeidenheid keuses wat vir Christene aanvaarbaar is.a
Moenie ander laat struikel nie
15. Wanneer sal ’n Christen, tot voordeel van sy broers, nie op sy reg aandring nie?
15 Daar is nog ’n belangrike beginsel wat Paulus onder ons aandag bring in sy raad aan die Christene in Rome. Soms besluit ’n Christen met ’n goed opgeleide gewete miskien teen iets, al is dit nie verkeerd nie. Waarom? Omdat hy besef dat ’n sekere handelswyse ander kan skaad. Wat moet ons in so ’n geval doen? Paulus sê: “Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets te doen waaroor jou broer struikel nie” (Romeine 14:14, 20, 21). Daarom behoort “ons wat sterk is, . . . die swakhede te dra van dié wat nie sterk is nie en nie onsself te behaag nie. Laat elkeen van ons sy naaste behaag in wat goed is vir sy opbouing” (Romeine 15:1, 2). Wanneer iets wat ons doen, die gewete van ’n mede-Christen kan kwets, sal broederliefde ons beweeg om bedagsaam te wees en ons daarvan te onthou. ’n Voorbeeld hiervan kan die gebruik van alkohol wees. ’n Christen mag wyn met matigheid gebruik. Maar as dit sy broer kan laat struikel, sal hy nie op sy reg aandring nie.
16. Hoe kan ons diegene in ons gebied in ag neem?
16 Hierdie beginsel kan ook toegepas word op ons handelinge buite die Christengemeente. Byvoorbeeld, ons woon dalk in ’n gebied waar die meeste mense aan ’n godsdiens behoort wat sy lidmate leer om een dag van die week as ’n rusdag te beskou. Aangesien ons nie ons bure wil laat struikel en hindernisse vir ons predikingswerk wil skep nie, sal ons dit dus sover moontlik vermy om op daardie dag iets te doen wat ons bure sal aanstoot gee. In ’n ander situasie verhuis ’n welgestelde Christen moontlik om te gaan dien waar daar hulp nodig is onder ’n armer gemeenskap. Hy besluit dalk om sy nuwe bure in ag te neem deur baie eenvoudig aan te trek of deur ’n laer lewenstandaard te handhaaf as wat sy finansies toelaat.
17. Waarom is dit redelik om ander in ag te neem wanneer ons keuses maak?
17 Is dit redelik om te verwag dat dié “wat sterk is”, sulke aanpassings moet maak? Wel, dink aan hierdie illustrasie: Terwyl ons op ’n hoofweg ry, sien ons kinders voor ons wat gevaarlik na aan die pad loop. Hou ons aan om so vinnig te ry as wat ons mag net omdat ons die wetlike reg het om dit te doen? Nee, ons verminder spoed sodat ons die kinders nie in gevaar stel nie. Soms is ’n soortgelyke bereidwilligheid om “spoed te verminder”, of toe te gee, nodig in ons verhouding met ons medegelowiges of ander. Ons doen moontlik iets wat ons die volste reg het om te doen. Geen Bybelbeginsels word oortree nie. Maar as ons ander aanstoot kan gee of dié met ’n swakker gewete skade kan berokken, sal Christelike liefde ons beweeg om versigtig te wees (Romeine 14:13, 15). Dit is belangriker om eenheid te handhaaf en Koninkryksbelange te bevorder as om op ons persoonlike regte aan te dring.
18, 19. (a) Hoe volg ons Jesus se voorbeeld deur ander in ag te neem? (b) In watter sake tree ons almal in volkome eenheid op, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?
18 Wanneer ons so optree, volg ons die beste voorbeeld wat daar is. Paulus sê: “Selfs die Christus het homself nie behaag nie; maar net soos daar geskrywe staan: ‘Die smaadhede van dié wat u gesmaad het, het op my geval.’” Jesus was bereid om sy lewe vir ons op te offer. Ons sal tog sekerlik bereid wees om van ons regte op te offer sodat “dié wat nie sterk is nie”, God in eenheid saam met ons kan verheerlik. As ons ’n inskiklike en ruimhartige gesindheid teenoor Christene met ’n swakker gewete openbaar—of ons keuses uit vrye wil beperk en nie op ons regte aandring nie—toon ons waarlik dat ons “dieselfde geestesgesindheid . . . [het] as wat Christus Jesus gehad het”.—Romeine 15:1-5.
19 Hoewel ons beskouing oor sake waarby geen skriftuurlike beginsels betrokke is nie, ietwat kan verskil, tree ons in volkome eenheid op in sake van aanbidding (1 Korintiërs 1:10). Hierdie eenheid kan byvoorbeeld duidelik gesien word in ons reaksie op diegene wat ware aanbidding teëstaan. God se Woord noem sulke teenstanders vreemdelinge en waarsku ons om op te pas vir “die stem van vreemdelinge” (Johannes 10:5). Hoe kan ons sulke vreemdelinge identifiseer? Hoe moet ons teenoor hulle optree? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnoot]
a Minderjarige kinders word deur hulle ouers se besluite oor kleredrag gerig.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom is verskillende beskouings oor persoonlike sake geen bedreiging vir eenheid nie?
• Waarom moet ons as Christene mekaar liefdevol in ag neem?
• Op watter maniere kan ons vandag Paulus se raad oor eenheid toepas, en wat sal ons beweeg om dit te doen?
[Prent op bladsy 9]
Paulus se raad oor eenheid was noodsaaklik vir die gemeente
[Prent op bladsy 10]
Christene is verenig ten spyte van hulle verskillende agtergronde
[Prent op bladsy 12]
Wat moet hierdie bestuurder nou doen?