“Wees gasvry teenoor mekaar”
FEBE, ’n eerste-eeuse Christen, het ’n probleem gehad. Sy het uit Kenchreë, in Griekeland, na Rome gereis, maar sy het nie enige van haar medegelowiges in daardie stad geken nie (Romeine 16:1, 2). “Die [destydse] Romeinse wêreld was ’n slegte en wrede plek”, sê die Bybelvertaler Edgar Goodspeed, “en herberge was berug daarvoor dat hulle geen plek vir ’n ordentlike vrou was nie, veral nie ’n Christenvrou nie.” Waar sou Febe dan verblyf kry?
In Bybeltye het mense baie gereis. Jesus Christus en sy dissipels het dit gedoen om die goeie nuus deur die hele Judea en Galilea te verkondig. Kort daarna het Christensendelinge soos Paulus die boodskap na verskillende dele van die Mediterreense gebied geneem, ook na Rome, die hoofstad van die Romeinse Ryk. Waar het eerste-eeuse Christene gebly wanneer hulle gereis het, hetsy binne of buite Joodse gebied? Watter probleme het hulle ondervind wanneer hulle verblyf gesoek het? Wat kan ons by hulle leer wat gasvryheid betref?
“Ek moet vandag in jou huis bly”
Gasvryheid word gedefinieer as “vriendelikheid en gulheid in die onthaal en ontvang van gaste” en is al lank ’n kenmerk van Jehovah se ware aanbidders. Abraham, Lot en Rebekka het byvoorbeeld gasvryheid betoon (Genesis 18:1-8; 19:1-3; 24:17-20). Die aartsvader Job het van sy gesindheid teenoor vreemdelinge gesê: “Geen inwonende vreemdeling het buite oornag nie; my deure het ek oopgehou na die pad toe.”—Job 31:32.
Al wat iemand moes doen om gasvrye behandeling van sy mede-Israeliete te ontvang, was om op die openbare plein van ’n stad te gaan sit en op ’n uitnodiging te wag (Rigters 19:15-21). Gashere het gewoonlik hulle gaste se voete gewas, vir die besoekers kos en drank aangebied en ook voer vir hulle diere voorsien (Genesis 18:4, 5; 19:2; 24:32, 33). Reisigers wat nie ’n las vir hulle gashere wou wees nie, het die nodige saam met hulle gedra—brood en wyn vir hulleself en strooi en voer vir hulle esels. Hulle het net onderdak vir die nag nodig gehad.
Hoewel die Bybel selde spesifiek noem hoe Jesus gedurende sy predikingsreise verblyf gekry het, moes hy en sy dissipels iewers geslaap het (Lukas 9:58). Toe Jesus Jerigo besoek het, het hy eenvoudig vir Saggeus gesê: “Ek moet vandag in jou huis bly.” Saggeus het sy gas “met blydskap” ontvang (Lukas 19:5, 6). In Betanië was Jesus dikwels die gas van sy vriende Marta, Maria en Lasarus (Lukas 10:38; Johannes 11:1, 5, 18). En dit lyk of Jesus in Kapernaum by Simon Petrus gebly het.—Markus 1:21, 29-35.
Jesus se instruksies oor hoe sy 12 apostels hulle bediening moes uitvoer, openbaar baie oor die soort ontvangs wat hulle in Israel kon verwag. Jesus het vir hulle gesê: “Moenie goud of silwer of koper vir julle gordelbeurse aanskaf nie, of ’n voedselsak vir die reis of twee onderkledingstukke of sandale of ’n staf nie; want die werker is sy voedsel werd. In watter stad of dorpie julle ook al ingaan, soek wie daarin verdienstelik is en bly daar totdat julle vertrek” (Matteus 10:9-11). Hy het geweet dat regskape persone sy dissipels sou ontvang en vir hulle kos, onderdak en ander nodige dinge sou gee.
Maar die tyd sou kom wanneer evangeliedienaars wat van plek tot plek gereis het, vir hulleself sou moes sorg en hulle eie onkoste sou moes dra. Met die oog op toekomstige vyandigheid teenoor sy volgelinge en die uitbreiding van die predikingswerk in gebiede buite Israel, het Jesus gesê: “Laat nou die een wat ’n beurs het, dit opneem, so ook ’n voedselsak” (Lukas 22:36). Reis en verblyf sou onontbeerlik wees in die verspreiding van die goeie nuus.
“Volg die weg van gasvryheid”
In die eerste eeu het relatiewe vrede en ’n groot netwerk van geplaveide paaie regoor die Romeinse Ryk ’n besonder beweeglike gemeenskap tot gevolg gehad.a ’n Oorvloed reisigers het ’n groot vraag na verblyf laat ontstaan. Herberge langs die hoofpaaie, ’n dagreis uitmekaar, het in daardie behoefte voorsien. Maar The Book of Acts in Its Graeco-Roman Setting sê: “Wat in die literatuur van hierdie fasiliteite bekend is, skilder ’n redelik droewige prentjie. Die beskikbare literêre en argeologiese bronne getuig oor die algemeen van bouvallige en vuil fasiliteite, feitlik ongemeubileerd, vol weeluise, met kos en drank van swak gehalte, onbetroubare eienaars en personeel, kliënte van twyfelagtige karakter en oor die algemeen losse sedes.” Dit is te verstane dat ’n reisiger met goeie sedes dit sover moontlik sou vermy om in sulke herberge te bly.
Dit is dan nie verbasend nie dat die Skrif Christene herhaaldelik vermaan om aan ander gasvryheid te betoon. Paulus het Christene in Rome aangespoor: “Deel met die heiliges na gelang van hulle behoeftes. Volg die weg van gasvryheid” (Romeine 12:13). Hy het die Joodse Christene herinner: “Moenie die gasvryheid vergeet nie, want daardeur het party, sonder dat hulle dit geweet het, engele onthaal” (Hebreërs 13:2). Petrus het sy mede-aanbidders vermaan om ‘gasvry teenoor mekaar te wees sonder om te kla’.—1 Petrus 4:9.
Daar was egter situasies waarin dit onvanpas sou wees om gasvryheid te betoon. Aangaande “elkeen wat vooruitdring en nie in die leer van die Christus bly nie”, het die apostel Johannes gesê: “[Julle moet] hom nooit in julle huise ontvang of hom groet nie. Want wie hom groet, het deel aan sy goddelose werke” (2 Johannes 9-11). Van onberouvolle sondaars het Paulus geskryf: “[Hou op] om met enigeen om te gaan wat ’n broer genoem word maar wat ’n hoereerder of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n afperser is, en [moenie] eens saam met so iemand . . . eet nie.”—1 Korintiërs 5:11.
Bedrieërs en ander het sekerlik die goedhartigheid van ware Christene probeer uitbuit. ’n Nie-Bybelse verklaring van die Christelike geloof uit die tweede eeu G.J. wat as Die Didache, of Leer van die Twaalf Apostels, bekend staan, beveel aan dat ’n rondreisende prediker “vir een dag [ontvang word], of indien nodig ook vir ’n tweede”. Daarna, wanneer hy vertrek, “moet hy net brood gegee word . . . As hy geld vra, is hy ’n valse profeet.” Die dokument sê verder: “As hy hom onder julle wil vestig en ’n ambag beoefen, laat hom vir sy brood werk. Maar as hy geen ambag beoefen nie, voorsien na julle goeddunke in sy behoeftes, sodat geen mens onder julle ledig sal wees omdat hy ’n Christen is nie. Maar as hy dit nie wil doen nie, gebruik hy Christus vir eie gewin; pas op vir sulke mense.”
Die apostel Paulus was versigtig om sy gashere nie ’n duur las op te lê gedurende sy lang verblyf in party stede nie. Hy het as ’n tentmaker gewerk om homself te onderhou (Handelinge 18:1-3; 2 Tessalonisense 3:7-12). Om verdienstelike reisigers onder hulle te help, het vroeë Christene blykbaar gebruik gemaak van aanbevelingsbriewe, soos Paulus se bekendstelling van Febe. “Ek beveel ons suster Febe . . . by julle aan”, het Paulus geskryf, “sodat julle haar sal verwelkom in die Here . . . en dat julle haar sal bystaan in enige saak waarin sy julle nodig mag hê.”—Romeine 16:1, 2.
Seëninge as gevolg van gasvryheid
Eerste-eeuse Christensendelinge het op Jehovah vertrou om in al hulle behoeftes te voorsien. Maar kon hulle verwag om die gasvryheid van medegelowiges te geniet? Lidia het haar huis vir Paulus en ander oopgestel. Die apostel het in Korinte by Aquila en Priscilla gebly. ’n Tronkbewaarder in Filippi het ’n ete vir Paulus en Silas voorgesit. In Tessalonika is Paulus gasvry ontvang deur Jason, in Sesarea deur Filippus en op pad van Sesarea na Jerusalem deur Mnason. Op pad na Rome toe, het broers in Puteoli aan Paulus gasvryheid betoon. Hoe geestelik lonend was hierdie geleenthede tog vir diegene wat hom as ’n gas ontvang het!—Handelinge 16:33, 34; 17:7; 18:1-3; 21:8, 16; 28:13, 14.
Die geleerde Frederick F. Bruce sê: “Hierdie vriende en medewerkers, gashere en gasvroue, het geen ander beweegrede gehad om so behulpsaam te wees nie as liefde vir Paulus en liefde vir die Here wat hy gedien het. Hulle het geweet dat hulle deur die een te dien, ook die ander dien.” Dít is ’n uitstekende beweegrede om gasvry te wees.
Dit is nog steeds nodig om gasvry te wees. Duisende reisende verteenwoordigers van Jehovah se Getuies geniet die gasvryheid van medegelowiges. Party Koninkryksverkondigers reis op eie koste om die goeie nuus op plekke te verkondig waar dit selde gehoor word. Ons kan groot voordeel daaruit put as ons ons huise, hoe nederig ook al, vir sulke persone oopstel. Hartlike gasvryheid, wat moontlik niks meer as ’n eenvoudige ete beteken nie, bied uitstekende geleenthede vir “wedersydse aanmoediging” en om liefde vir ons broers en ons God te betoon (Romeine 1:11, 12). Sulke geleenthede is besonder lonend vir die gashere, want “dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang”.—Handelinge 20:35.
[Voetnoot]
a Daar word geskat dat daar teen die jaar 100 G.J. sowat 80 000 kilometer geplaveide Romeinse paaie was.
[Prent op bladsy 23]
Christene “volg die weg van gasvryheid”