Daar is goeie nuus wat almal nodig het
“Die goeie nuus . . . is trouens God se krag tot redding.”—ROM. 1:16.
1, 2. Waarom verkondig jy die “goeie nuus van die koninkryk”, en watter aspekte daarvan beklemtoon jy?
‘EK PRAAT graag elke dag oor die goeie nuus.’ Jy het waarskynlik al iets soortgelyks gedink of gesê. As ’n toegewyde Getuie van Jehovah weet jy hoe belangrik dit is om “hierdie goeie nuus van die koninkryk” te verkondig. Jy kan moontlik Jesus se profesie dat ons dit sal doen, uit die kop opsê.—Matt. 24:14.
2 Deur die “goeie nuus van die koninkryk” te verkondig, sit jy voort wat Jesus begin het. (Lees Lukas 4:43.) ’n Gedagte wat jy ongetwyfeld beklemtoon, is dat God binnekort in menseaangeleenthede sal ingryp. Met die “groot verdrukking” sal hy ’n einde aan valse godsdiens maak en die aarde van goddeloosheid reinig (Matt. 24:21). Jy vestig waarskynlik ook die aandag daarop dat God se Koninkryk die Paradys op aarde sal herstel sodat vrede en geluk kan floreer. Trouens, die “goeie nuus van die koninkryk” is deel van “die goeie nuus [wat vooraf] aan Abraham bekend gemaak [is], naamlik: ‘Deur middel van jou sal al die nasies geseën word.’”—Gal. 3:8.
3. Waarom kan ons sê dat die apostel Paulus goeie nuus in die boek Romeine beklemtoon het?
3 Maar skenk ons dalk min aandag aan ’n vername aspek van die goeie nuus wat mense nodig het? In sy brief aan die Romeine het die apostel Paulus die woord “koninkryk” slegs een keer gebruik, maar die uitdrukking “goeie nuus” 12 keer. (Lees Romeine 14:17.) Na watter aspek van die goeie nuus het Paulus so dikwels in daardie boek verwys? Waarom is hierdie spesifieke goeie nuus lewensbelangrik? En waarom moet ons dit in gedagte hou wanneer ons “die goeie nuus van God” aan mense in ons gebied verkondig?—Mark. 1:14; Rom. 15:16; 1 Tess. 2:2.
Wat dié in Rome nodig gehad het
4. Waaroor het Paulus gedurende sy eerste gevangenskap in Rome gepreek?
4 Dit is insiggewend om te let op die onderwerpe wat Paulus bespreek het toe hy die eerste keer ’n gevangene in Rome was. Ons lees dat hy, toe ’n aantal Jode hom besoek het, ‘deeglik aangaande (1) die koninkryk van God getuig het en met oorredingskrag met hulle oor (2) Jesus gepraat het’. Die gevolg? “Party het die dinge wat gesê is, begin glo; ander het nie geglo nie.” Daarna het Paulus ‘almal wat na hom toe ingekom het, vriendelik ontvang en (1) die koninkryk van God aan hulle verkondig en die dinge aangaande (2) die Here Jesus Christus geleer’ (Hand. 28:17, 23-31). Dit is duidelik dat Paulus aandag aan God se Koninkryk geskenk het. Maar wat het hy nog beklemtoon? Iets wat die kern vorm van die Koninkryk—Jesus se rol in God se voorneme.
5. Aan watter wesenlike behoefte het Paulus in die boek Romeine aandag geskenk?
5 Alle mense moet van Jesus weet en geloof in hom stel. In die boek Romeine het Paulus aan hierdie behoefte aandag geskenk. In die eerste hoofstuk van die boek het hy geskryf oor “God, aan wie ek met my gees heilige diens in verband met die goeie nuus oor sy Seun verrig”. Hy het bygevoeg: “Ek skaam my nie vir die goeie nuus nie; dit is trouens God se krag tot redding vir elkeen wat geloof het.” Later het hy verwys na die tyd “wanneer God deur Christus Jesus die verborge dinge van die mense oordeel, volgens die goeie nuus wat ek bekend maak”. En hy het gesê: “Van Jerusalem af en in ’n kring tot by Illirikum [het ek] die goeie nuus oor die Christus deeglik verkondig” (Rom. 1:9, 16; 2:16; 15:19).a Waarom dink jy het Paulus Jesus Christus herhaaldelik onder die Romeine se aandag gebring?
6, 7. Wat kan ons omtrent die begin en samestelling van die gemeente in Rome sê?
6 Ons weet nie hoe die gemeente in Rome begin het nie. Het Jode of proseliete wat op Pinkster 33 HJ teenwoordig was, as Christene na Rome teruggekeer? (Hand. 2:10). Of het Christenhandelaars en -reisigers die waarheid in Rome versprei? Hoe dit ook al sy, teen die tyd dat Paulus die boek omstreeks 56 HJ geskryf het, het die gemeente al lank bestaan (Rom. 1:8). Watter soort mense was in hierdie gemeente?
7 Party het ’n Joodse agtergrond gehad. Paulus het Andronikus en Junias gegroet as “my familielede”, wat waarskynlik na mede-Jode verwys het. Die tentmaker Aquila, wat saam met sy vrou, Priscilla, in Rome was, was ook Joods (Rom. 4:1; 9:3, 4; 16:3, 7; Hand. 18:2). Maar baie broers en susters aan wie Paulus groete gestuur het, was waarskynlik nie-Jode. Party was moontlik “van die huis van die keiser”, wat dalk na die keiser se slawe en ondergeskikte beamptes verwys het.—Fil. 4:22; Rom. 1:6; 11:13.
8. In watter netelige situasie het dié in Rome hulle bevind?
8 Elke Christen in Rome het hom in dieselfde netelige situasie bevind waarin ons vandag is. Paulus het dit soos volg gestel: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23). Almal aan wie Paulus geskryf het, moes erken dat hulle sondaars is en moes geloof stel in God se middel om in hierdie behoefte te voorsien.
Erken dat sonde bestaan
9. Op watter moontlike uitwerking van die goeie nuus het Paulus die aandag gevestig?
9 Vroeg in die brief aan die Romeine het Paulus gewys op die wonderlike uitwerking wat die goeie nuus kan hê waarna hy telkens verwys het: “Ek skaam my nie vir die goeie nuus nie; dit is trouens God se krag tot redding vir elkeen wat geloof het, eers vir die Jood, en ook vir die Griek.” Ja, redding was moontlik. Maar geloof was nodig, in ooreenstemming met ’n betekenisvolle waarheid wat uit Habakuk 2:4 aangehaal is: “Die regverdige—deur middel van geloof sal hy lewe” (Rom. 1:16, 17; Gal. 3:11; Heb. 10:38). Maar hoe hou daardie goeie nuus, wat tot redding kan lei, verband met die feit dat ‘almal gesondig het’?
10, 11. Waarom is die gedagte wat in Romeine 3:23 gemeld word, vir party mense nie vreemd nie maar wel vir ander?
10 Voordat iemand lewensreddende geloof kan opbou, moet hy erken dat hy ’n sondaar is. Die gedagte dat ’n mens ’n sondaar is, sal nie vreemd wees vir diegene wat grootword met die opvatting dat God bestaan en wat in ’n mate met die Bybel vertroud is nie. (Lees Prediker 7:20.) Hetsy hulle saamstem of nie, hulle het ten minste ’n idee van wat Paulus bedoel het toe hy gesê het: “Almal het gesondig” (Rom. 3:23). Maar terwyl ons ons bediening uitvoer, kom ons moontlik baie mense teë wat nie verstaan wat hy hier sê nie.
11 In party lande word die gemiddelde persoon nie grootgemaak met die gedagte dat hy (of sy) as ’n sondaar gebore is nie, dit wil sê dat hy sonde geërf het nie. Hy besef waarskynlik wel dat hy foute maak, ongewenste eienskappe het en moontlik slegte dinge gedoen het. En hy sien dat ander in ’n soortgelyke situasie is. Maar weens sy agtergrond verstaan hy nie werklik waarom hy en ander so is nie. Trouens, as jy in party tale sê dat iemand ’n sondaar is, kan ander dink dat jy sê dat hy ’n misdadiger is of ten minste iemand is wat reëls verbreek het. Iemand wat in so ’n milieu grootword, sal natuurlik nie geredelik aan homself dink as ’n sondaar in die sin wat Paulus bedoel het nie.
12. Waarom glo baie nie dat almal sondaars is nie?
12 Selfs in lande van die Christendom glo baie nie dat mense sondaars is nie. Waarom nie? Al gaan hulle soms kerk toe, beskou hulle die Bybelverslag van Adam en Eva as bloot ’n fabel of ’n mite. Ander word groot in ’n milieu wat anti-God is. Hulle twyfel aan die bestaan van God en verstaan dus nie dat ’n Opperwese sedelike standaarde vir mense gestel het en dat die versuim om hierdie standaarde te handhaaf, op sonde neerkom nie. In sekere sin is hulle soos diegene in die eerste eeu wat Paulus gesê het “geen hoop” het nie en “sonder God in die wêreld” is.—Ef. 2:12.
13, 14. (a) Wat is een rede waarom diegene wat nie aan God en aan sonde glo nie, onverskoonbaar is? (b) Waartoe het ongeloof baie mense gelei?
13 In die brief aan die Romeine het Paulus twee redes gegee waarom so ’n agtergrond nie ’n verskoning kan wees nie—nie destyds nie, en ook nie vandag nie. Die eerste rede is dat die skepping self getuig van die bestaan van ’n Skepper. (Lees Romeine 1:19, 20.) Dit stem ooreen met ’n opmerking wat Paulus gemaak het toe hy uit Rome aan die Hebreërs geskryf het: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Heb. 3:4). Hierdie redenasie toon dat daar ’n Skepper is wat die ganse heelal gebou, of in aansyn gebring het.
14 Paulus het dus op vaste grond gestaan toe hy aan die Romeine geskryf het dat enigiemand—insluitende die eertydse Israeliete—wat lewelose beelde vereer, “onverskoonbaar is”. Dieselfde kan gesê word van diegene wat hulle skuldig gemaak het aan onsedelike geslagsgebruike wat teen die natuurlike gebruik van die manlike en vroulike liggaam is (Rom. 1:22-27). Met verwysing na hierdie redenasie het Paulus tereg tot die slotsom gekom dat “Jode sowel as Grieke almal onder die sonde is”.—Rom. 3:9.
’n ‘Getuie’
15. Wie het ’n gewete, en met watter gevolg?
15 Die boek Romeine identifiseer nog ’n rede waarom mense moet erken dat hulle sondaars is en ’n uitweg uit hierdie netelige situasie nodig het. Aangaande die wetstelsel wat God aan eertydse Israel gegee het, het Paulus geskryf: “Almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word” (Rom. 2:12). Hy sit sy redenasie voort en wys daarop dat mense van nasies of etniese groepe wat nie met daardie wet van God vertroud is nie, dikwels “van nature die dinge van die wet doen”. Waarom verbied hierdie mense gewoonlik bloedskande, moord en diefstal? Paulus het die rede geïdentifiseer: Hulle het ’n gewete.—Lees Romeine 2:14, 15.
16. Waarom beteken die feit dat iemand ’n gewete het, nie noodwendig dat hy sonde vermy nie?
16 Maar jy het waarskynlik al gesien dat die blote feit dat iemand ’n gewete het wat soos ’n innerlike getuie optree, nie beteken dat hy die leiding daarvan sal volg nie. Die geval van eertydse Israel bevestig dit. Hoewel die Israeliete ’n godgegewe gewete sowel as spesifieke wette van God teen diefstal en egbreuk gehad het, het hulle dikwels hulle gewete sowel as Jehovah se wet geskend (Rom. 2:21-23). Hulle was in dubbele mate skuldig en was dus beslis sondaars deurdat hulle te kort geskiet het aan God se standaarde en wil. Dit het hulle verhouding met hulle Maker ernstig geskaad.—Lev. 19:11; 20:10; Rom. 3:20.
17. Watter bemoediging vind ons in die boek Romeine?
17 Dit lyk dalk of wat ons in die boek Romeine bespreek het, ’n sombere beeld skets van die mens se posisie voor die Almagtige, insluitende ons s’n. Maar Paulus het sake nie daar gelaat nie. Die apostel het Dawid se woorde in Psalm 32:1, 2 aangehaal en geskryf: “Gelukkig is dié wie se wettelose dade vergewe is en wie se sondes bedek is; gelukkig is die mens wie se sonde Jehovah hom hoegenaamd nie sal toereken nie” (Rom. 4:7, 8). Ja, God het gereël dat sondes vergewe word op ’n manier wat met sy wette ooreenstem.
Goeie nuus wat om Jesus draai
18, 19. (a) Op watter aspek van die goeie nuus het Paulus in Romeine die aandag gevestig? (b) Wat moet ons erken as ons Koninkrykseëninge wil geniet?
18 Jy sê dalk: “Dit is werklik goeie nuus!” Ja dit is, en dit bring ons terug na die aspek van die goeie nuus wat Paulus in die boek Romeine beklemtoon het. Soos gemeld is, het Paulus geskryf: “Ek skaam my nie vir die goeie nuus nie; dit is trouens God se krag tot redding.”—Rom. 1:15, 16.
19 Hierdie goeie nuus het gedraai om Jesus se rol in die verwesenliking van God se voorneme. Paulus kon uitsien na “die dag . . . wanneer God deur Christus Jesus die verborge dinge van die mense oordeel, volgens die goeie nuus” (Rom. 2:16). Toe hy dit gesê het, het hy nie “die koninkryk van die Christus en van God” of wat God deur middel van die Koninkryk sal doen, as onbelangrik afgemaak nie (Ef. 5:5). Maar hy het getoon dat ons, as ons wil lewe en die seëninge wil geniet wat God se Koninkryk sal meebring, die volgende moet erken: (1) Ons situasie as sondaars in God se oë en (2) waarom ons geloof in Jesus Christus moet beoefen as ons vergifnis vir ons sondes wil hê. Wanneer ’n persoon hierdie fasette van God se voorneme verstaan en aanvaar en sien watter toekoms hy kan geniet, kan hy tereg uitroep: “Ja, dit is werklik goeie nuus!”
20, 21. Waarom moet ons die goeie nuus in gedagte hou wat in die boek Romeine beklemtoon word, en met watter moontlike gevolg?
20 Ons moet beslis hierdie aspek van die goeie nuus in gedagte hou terwyl ons ons Christelike bediening uitvoer. Met verwysing na Jesus het Paulus Jesaja se woorde aangehaal: “Niemand wat sy geloof op hom grond, sal teleurgestel word nie” (Rom. 10:11; Jes. 28:16). Die basiese boodskap omtrent Jesus is moontlik nie vreemd vir diegene wat vertroud is met wat die Bybel oor sonde sê nie. Maar vir ander sal hierdie boodskap heeltemal nuut wees, iets wat nie in hulle kultuur bekend is of algemeen geglo word nie. Wanneer hierdie mense leer om in God te glo en op die Skrif te vertrou, sal ons Jesus se rol moet verduidelik. Die volgende artikel sal bespreek hoe Romeine hoofstuk 5 hierdie aspek van die goeie nuus ontwikkel. Jy sal waarskynlik daardie studie nuttig vind in jou bediening.
21 Hoe lonend is dit tog om opregtes van hart te help om die goeie nuus te verstaan wat herhaaldelik in die boek Romeine gemeld word, die goeie nuus wat “trouens God se krag tot redding [is] vir elkeen wat geloof het” (Rom. 1:16). Ons sal nie net hierdie beloning ontvang nie, maar sal ook sien hoe ander saamstem met die woorde wat Paulus in Romeine 10:15 aangehaal het: “Hoe lieflik is die voete van dié wat goeie nuus van goeie dinge bekend maak!”—Jes. 52:7.
[Voetnoot]
a Soortgelyke uitdrukkings kom in ander geïnspireerde boeke voor.—Mark. 1:1; Hand. 5:42; 1 Kor. 9:12; Fil. 1:27.
Onthou jy?
• Watter aspek van die goeie nuus word in die boek Romeine beklemtoon?
• Watter feit moet ons ander help om te verstaan?
• Hoe kan “die goeie nuus oor die Christus” vir ons en ander seëninge meebring?
[Lokteks op bladsy 8]
Die goeie nuus wat in Romeine beklemtoon word, hou verband met Jesus se uiters belangrike rol in God se voorneme
[Prent op bladsy 9]
Ons is almal gebore met ’n dodelike gebrek—sonde!