Vrae van lesers
Na wie verwys Paulus in 2 Korintiërs 6:14 wanneer hy die term “ongelowiges” gebruik?
Ons lees in 2 Korintiërs 6:14: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie.” As ons na die konteks kyk, is dit duidelik dat Paulus van persone praat wat glad nie deel van die Christengemeente is nie. Hierdie begrip word gesteun deur ander Bybelverse waarin Paulus die term “ongelowige” of “ongelowiges” gebruik.
Paulus het byvoorbeeld Christene streng berispe omdat hulle hof toe gegaan het “voor ongelowiges” (1 Korintiërs 6:6). Hier is die ongelowiges regters wat in Korinte se regstelsel gedien het. In sy tweede brief sê Paulus dat Satan “die verstande van die ongelowiges verblind het”. Die oë van sulke ongelowiges was ‘versluier’ sodat hulle die goeie nuus nie kon sien nie. Hierdie ongelowiges het geen poging aangewend om Jehovah te dien nie, want Paulus het vroeër verduidelik: “Wanneer mense hulle tot Jehovah wend, word die sluier weggeneem.”—2 Korintiërs 3:16; 4:4.
Party ongelowiges is betrokke by wetteloosheid of afgodediens (2 Korintiërs 6:15, 16). Maar nie almal staan Jehovah se knegte teë nie. Party toon belangstelling in die waarheid. Baie het Christenhuweliksmaats en het geen beswaar om met hulle getroud te bly nie (1 Korintiërs 7:12-14; 10:27; 14:22-25; 1 Petrus 3:1, 2). Maar Paulus gebruik die term “ongelowige” deurgaans vir persone wat, soos hierbo genoem word, glad nie deel is van die Christengemeente nie, wat uit “gelowiges in die Here” bestaan.—Handelinge 2:41; 5:14; 8:12, 13.
Die beginsel in 2 Korintiërs 6:14 is op alle lewensterreine ’n nuttige riglyn vir Christene, en dit word dikwels aangehaal om wyse raad te voorsien vir Christene wat na ’n huweliksmaat soek (Matteus 19:4-6). ’n Toegewyde, gedoopte Christen tree verstandig op deur nie ’n huweliksmaat onder ongelowiges te probeer vind nie, aangesien hulle waardes, doelwitte en oortuigings hemelsbreed van ’n ware Christen s’n verskil.
Maar wat van persone wat die Bybel studeer en met die Christengemeente assosieer? Wat van dié wat ongedoopte verkondigers is? Is hulle ongelowiges? Nee. Diegene wat die waarheid van die goeie nuus aangeneem het en stelselmatig tot doop vorder, moenie ongelowiges genoem word nie (Romeine 10:10; 2 Korintiërs 4:13). Voordat Kornelius gedoop is, is daar van hom gepraat as “’n vroom man en iemand wat . . . God gevrees het”.—Handelinge 10:2.
Sal ’n toegewyde Christen dan verstandig wees as hy ’n hofmakery begin en met iemand wil trou wat as ’n ongedoopte verkondiger aanvaar is, aangesien Paulus se raad in 2 Korintiërs 6:14 streng gesproke nie in hierdie geval van toepassing is nie? Nee, dit is nie verstandig nie. Waarom nie? Weens die uitdruklike raad wat Paulus in die geval van Christenweduwees gegee het. Paulus het geskryf: “Sy [is] vry om te trou met wie sy wil, net in die Here” (1 Korintiërs 7:39). In ooreenstemming met daardie raad word toegewyde Christene aangespoor om slegs onder diegene wat “in die Here” is, ’n huweliksmaat te soek.
Wat beteken die uitdrukking “in die Here” en die verwante uitdrukking “in Christus”? Paulus praat in Romeine 16:8-10 en Kolossense 4:7 van persone wat “in Christus” of “in die Here” is. As jy hierdie verse lees, sal jy sien dat sulke persone ‘medewerkers’, ‘goedgekeurdes’, ‘geliefde broers’, ‘getroue dienaars’ en ‘medeslawe’ is.
Wanneer word iemand ’n ‘slaaf in die Here’? Dit gebeur wanneer hy gewillig doen wat van ’n slaaf vereis word en homself verloën. Jesus verduidelik: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Matteus 16:24). ’n Persoon begin Christus volg en hom ten volle aan die wil van God onderwerp wanneer hy hom aan God toewy. Daarna laat hy hom doop en word hy ’n geordende bedienaar met ’n goedgekeurde posisie voor Jehovah God.a Om ‘in die Here te trou’, beteken dus dat ’n persoon met iemand trou wat bewys het dat hy waarlik ’n gelowige is, ’n toegewyde “slaaf van God en van die Here Jesus Christus”.—Jakobus 1:1.
Dit is prysenswaardig as iemand die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer en goeie geestelike vordering maak. Maar hy het hom nog nie aan Jehovah toegewy en verbind tot ’n lewe van diens en opofferinge nie. Hy is nog besig om belangrike veranderinge aan te bring. Hy moet eers al die groot veranderinge aanbring wat dit behels om ’n toegewyde, gedoopte Christen te word, voordat hy ’n ander groot verandering in sy lewe, soos die huwelik, oorweeg.
Sal dit raadsaam wees vir ’n Christen om ’n romantiese verhouding aan te knoop met iemand wat skynbaar goed vorder met sy Bybelstudie—dalk met die bedoeling om te wag totdat hy gedoop is voordat hulle trou? Nee. Dit kan ’n Bybelstudent se beweegredes vertroebel as hy daarvan bewus is dat ’n toegewyde Christen met hom wil trou, maar dit eers sal doen wanneer hy gedoop is.
Gewoonlik is iemand net vir ’n kort tydperk ’n ongedoopte verkondiger, waarna hy tot doop vorder. Daarom is die bogenoemde raad om net in die Here te trou, nie onredelik nie. Maar gestel iemand is hubaar, het in ’n Christengesin grootgeword, is al ’n aantal jare bedrywig in die gemeente en dien as ’n ongedoopte verkondiger. Wel, wat verhinder hom om sy lewe aan Jehovah toe te wy? Waarom huiwer hy? Het hy twyfelgedagtes? Hoewel hy nie ’n ongelowige is nie, kan daar nie gesê word dat hy “in die Here” is nie.
Paulus se raad oor die huwelik is tot ons voordeel (Jesaja 48:17). Wanneer albei voornemende maats hulle aan Jehovah toegewy het, het hulle verbintenis met mekaar ’n stewige, geestelike grondslag. Hulle het dieselfde waardes en dieselfde doelwitte. Dit dra grootliks by tot ’n gelukkige huwelik. Wat meer is, as ’n mens ‘in die Here trou’, toon jy jou lojaliteit aan Jehovah, en dit lei tot ewige seëninge, want “met iemand wat lojaal is, sal [Jehovah] lojaal handel”.—Psalm 18:25.
[Voetnoot]
a Die gesalfde Christene aan wie Paulus aanvanklik geskryf het, moes ook as kinders van God en broers van Christus gesalf word om ’n ‘slaaf in die Here’ te wees.
[Prent op bladsy 31]
“Met iemand wat lojaal is, sal [Jehovah] lojaal handel”