Jehovah is ons Soewereine Heer!
“In die Soewereine Heer Jehovah het ek my toevlug gestel.”—PS. 73:28.
1. Waarop het Paulus se woorde in 1 Korintiërs 7:31 klaarblyklik gesinspeel?
“DIE toneel van hierdie wêreld is aan die verander.” Die apostel Paulus het dit gesê (1 Kor. 7:31). Hy het die wêreld klaarblyklik vergelyk met ’n verhoog waarop akteurs in ’n drama hulle rolle as goeie of slegte karakters vertolk totdat die toneel verander.
2, 3. (a) Waarmee kan die uitdaging wat teen Jehovah se soewereiniteit gerig is, vergelyk word? (b) Watter vrae sal ons bespreek?
2 Vandag speel ’n drama van die allergrootste belang hom af—en jy is daarby betrokke! Dit hou veral verband met die regverdiging van Jehovah God se soewereiniteit. Hierdie drama kan toegelig word deur ’n situasie wat dalk in ’n sekere land bestaan. Aan die een kant is daar die regmatige regering wat die orde handhaaf. Aan die ander kant is daar ’n kriminele organisasie wat deur bedrog, geweld en moord regeer. Die onwettige organisasie is ’n uitdaging vir die soewereine heerskappy en stel al die burgers se lojaliteit aan hulle regering op die proef.
3 ’n Soortgelyke situasie bestaan in die heelal. Daar is die wettige regering van die “Soewereine Heer Jehovah” (Ps. 71:5). Maar die mensdom word nou bedreig deur ’n kriminele organisasie onder leiding van “die bose” (1 Joh. 5:19). Dit bied ’n uitdaging vir die regmatige regering van God en stel alle mense se lojaliteit aan sy soewereine heerskappy op die proef. Hoe het hierdie situasie ontstaan? Waarom laat God dit toe? Wat kan ons persoonlik daaromtrent doen?
Kenmerke van die drama
4. Met watter twee onderling verwante geskille hou die drama wat in die heelal ontvou, verband?
4 Hierdie drama wat in die heelal ontvou, hou verband met twee onderling verwante geskille: Jehovah se soewereiniteit en die mens se onkreukbaarheid. In die Skrif word Jehovah dikwels “die Soewereine Heer” genoem. Met volkome vertroue op hom het die psalmis byvoorbeeld gesing: “In die Soewereine Heer Jehovah het ek my toevlug gestel” (Ps. 73:28). “Soewereiniteit” is oppermag of -heerskappy. ’n Soewerein oefen oppergesag uit. Daar is goeie redes om Jehovah God as die Opperwese te beskou.—Dan. 7:22.
5. Waarom moet ons beweeg word om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun?
5 As die Skepper is Jehovah God die Soewerein van die aarde en die ganse heelal. (Lees Openbaring 4:11.) Jehovah is ook ons Regter, Wetgewer en Koning, want in hom verenig hy die regterlike, wetgewende en uitvoerende gesag van die regering van die heelal (Jes. 33:22). Aangesien ons ons bestaan aan God te danke het en van hom afhanklik is, moet ons hom as ons Soewereine Heer beskou. Ons sal beweeg word om sy verhewe posisie te ondersteun as ons altyd die volgende in gedagte hou: “Jehovah het sy troon stewig gevestig in die hemel; en oor alles het sy koningskap heerskappy gevoer.”—Ps. 103:19; Hand. 4:24.
6. Wat is onkreukbaarheid?
6 As ons Jehovah se soewereiniteit wil ondersteun, moet ons ons onkreukbaarheid teenoor hom handhaaf. “Onkreukbaarheid” is regskapenheid of volkomenheid. Iemand wat onkreukbaarheid handhaaf, is onberispelik en opreg. Die aartsvader Job was so ’n man.—Job 1:1.
Hoe die drama begin het
7, 8. Hoe het Satan die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit betwis?
7 Sowat 6 000 jaar gelede het ’n geesskepsel die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit betwis. ’n Selfsugtige begeerte om aanbid te word, het tot hierdie opstandeling se woorde en dade aanleiding gegee. Hy het die eerste mensepaar, Adam en Eva, oorgehaal om dislojaal aan God se soewereiniteit te wees, en hy het probeer om Jehovah se naam te beklad deur te beweer dat Hy gelieg het. (Lees Genesis 3:1-5.) Die opstandeling het die groot Vyand, Satan (Teenstander), Duiwel (Lasteraar), slang (bedrieër) en draak (verslinder) geword.—Op. 12:9.
8 Satan het hom ’n mededingende heerser gemaak. Wat sou die Soewereine Heer Jehovah omtrent hierdie uitdaging doen? Sou hy die drie opstandelinge—Satan, Adam en Eva—dadelik vernietig? Hy het beslis die krag gehad om dit te doen, en dit sou die antwoord voorsien het op die vraag oor wie oppermag het. Dit sou ook bewys het dat Jehovah die waarheid vertel het oor die straf vir die oortreding van sy wet. Waarom het God dit nie gedoen nie?
9. Wat het Satan bevraagteken?
9 Deur te lieg en Adam en Eva van God af te keer, het Satan Jehovah se reg om gehoorsaamheid van die mens te vereis, bevraagteken. En deur die eerste mensepaar oor te haal om aan God ongehoorsaam te wees, het Satan ook die lojaliteit van alle intelligente skepsele bevraagteken. Soos getoon is in die geval van Job, wat lojaal aan Jehovah se soewereiniteit was, het Satan beweer dat hy alle mense van God kan afkeer.—Job 2:1-5.
10. Wat het God toegelaat deur sy soewereiniteit nie dadelik te laat geld nie?
10 Deur sy soewereiniteit nie dadelik te laat geld nie, het Jehovah Satan tyd toegelaat om sy bewering te bewys. God het mense ook die geleentheid gebied om te bewys dat hulle aan sy soewereiniteit lojaal is. Wat het in die loop van die eeue gebeur? Satan het ’n magtige kriminele organisasie opgebou. Jehovah sal dít en die Duiwel uiteindelik vernietig en sodoende oortuigende bewys lewer van God se regmatige soewereiniteit. Jehovah God was so seker van ’n goeie uitkoms dat hy dit voorspel het toe die opstand in Eden plaasgevind het.—Gen. 3:15.
11. Wat het baie mense gedoen ten opsigte van Jehovah se soewereiniteit?
11 Baie mense het al geloof beoefen en hulle onkreukbaarheid gehandhaaf ten opsigte van Jehovah se soewereiniteit en die heiliging van sy naam. Van hulle is Abel, Henog, Noag, Abraham, Sara, Moses, Rut, Dawid, Jesus, die vroeë dissipels van Christus en miljoene hedendaagse handhawers van onkreukbaarheid. Hierdie ondersteuners van God se soewereiniteit het ’n aandeel daaraan om te bewys dat Satan ’n leuenaar is en om Jehovah se naam te suiwer van al die oneer wat die Duiwel dit aangedoen het deur te spog dat hy die hele mensdom van God kan afkeer.—Spr. 27:11.
Die uitkoms is seker
12. Hoe kan ons seker wees dat God nie vir altyd goddeloosheid sal duld nie?
12 Ons kan seker wees dat Jehovah binnekort sy soewereiniteit sal laat geld. Hy sal goddeloosheid nie vir altyd duld nie, en ons weet dat ons in die laaste dae lewe. Jehovah het tydens die Vloed teen die goddeloses opgetree. Hy het Sodom en Gomorra sowel as Farao en sy krygsmag vernietig. Sisera en sy leër en Sanherib en sy Assiriese troepe was nie opgewasse teen die Allerhoogste nie (Gen. 7:1, 23; 19:24, 25; Eks. 14:30, 31; Rig 4:15, 16; 2 Kon. 19:35, 36). Ons kan dus seker wees dat Jehovah God nie vir altyd die minagting van sy naam en die mishandeling van sy Getuies sal duld nie. Wat meer is, ons sien nou bewyse van die teken van Jesus se teenwoordigheid en die voleinding van hierdie goddelose stelsel van dinge.—Matt. 24:3.
13. Wat kan ons doen sodat ons nie saam met Jehovah se vyande vernietig sal word nie?
13 As ons nie saam met God se vyande vernietig wil word nie, moet ons lojaal bly aan Jehovah se soewereiniteit. Hoe kan ons dit doen? Deur afgeskeie te bly van Satan se kriminele heerskappy en te weier om ons te laat bang maak deur sy handlangers (Jes. 52:11; Joh. 17:16; Hand. 5:29). Slegs onder hierdie omstandighede kan ons ons hemelse Vader se soewereiniteit ondersteun en die hoop hê om behoue te bly wanneer Jehovah sy naam van smaad suiwer en toon dat hy die Universele Soewerein is.
14. Wat openbaar verskillende dele van die Bybel?
14 Die Bybel is vol besonderhede in verband met die mensdom en Jehovah se soewereiniteit. Die eerste drie hoofstukke vertel ons van die skepping en die mens se sondeval, terwyl die laaste drie hoofstukke oor die mens se herstel handel. Die bladsye tussenin voorsien besonderhede aangaande stappe wat die Soewereine Heer Jehovah gedoen het om sy voorneme met die mensdom, die aarde en die heelal te verwesenlik. Genesis toon hoe Satan en goddeloosheid in die wêreld ingekom het, en die laaste deel van Openbaring toon hoe boosheid uit die weg geruim sal word, die Duiwel vernietig sal word en God se wil op die aarde, soos in die hemel, sal geskied. Ja, die Bybel openbaar wat die oorsaak van sonde en die dood is en toon hoe dit van die aarde af verwyder sal word en vervang sal word deur eindelose vreugde en die ewige lewe vir diegene wat onkreukbaarheid handhaaf.
15. Wat moet ons doen om persoonlik baat te vind wanneer die drama in verband met soewereiniteit tot ’n einde kom?
15 Die toneel van hierdie wêreld sal binnekort heeltemal verander. Die gordyn sal sak oor die eeue-oue drama in verband met soewereiniteit. Satan sal van die verhoog af verwyder en uiteindelik heeltemal vernietig word, en God se wil sal beslis seëvier. Maar om hierby baat te vind en al die seëninge te geniet wat in God se Woord voorspel word, moet ons nou Jehovah se soewereiniteit ondersteun. Ons kan nie draadsitters wees nie. Om te kan sê: “Jehovah is aan my kant”, moet ons aan sy kant bly.—Ps. 118:6, 7.
Ons kan onkreukbaarheid handhaaf!
16. Waarom kan ons seker wees dat dit vir mense moontlik is om onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf?
16 Ons kan Jehovah se soewereiniteit ondersteun en ons onkreukbaarheid handhaaf, want die apostel Paulus het geskryf: “Geen versoeking het oor julle gekom nie, behalwe wat eie is aan mense. Maar God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur” (1 Kor. 10:13). Wat is die oorsaak van die versoeking waarvan Paulus gepraat het, en hoe gee God ons die uitweg?
17-19. (a) Vir watter versoeking het die Israeliete in die wildernis geswig? (b) Waarom is dit vir ons moontlik om ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf?
17 Soos Israel se ondervindinge in die wildernis toelig, ontstaan die “versoeking” weens omstandighede wat ons God se wet kan laat verbreek. (Lees 1 Korintiërs 10:6-10.) Die Israeliete kon versoeking weerstaan het, maar hulle het “skadelike dinge” begeer toe Jehovah genoeg kwartels vir ’n maand wonderdadig aan hulle voorsien het. Hoewel die volk ’n tyd lank nie vleis gehad het nie, het God hulle genoeg manna gegee om te eet. Tog het hulle geswig vir die versoeking om hulle aan onbeteuelde gierigheid oor te gee toe hulle die kwartels versamel het.—Num. 11:19, 20, 31-35.
18 Terwyl Moses vroeër die Wet op die berg Sinai ontvang het, het die Israeliete afgodedienaars geword wat ’n kalf aanbid en hulle aan wellustige genot oorgegee het. Die afwesigheid van hulle sigbare leier het beteken dat niks die versoeking teëgehou het nie (Eks. 32:1, 6). Kort voordat hulle die Beloofde Land binnegegaan het, is duisende Israeliete deur Moabitiese vrouens verlei en het hulle hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak. By hierdie geleentheid het duisende Israeliete vir hulle sonde gesterf (Num. 25:1, 9). Die volk Israel het soms geswig vir die versoeking om opstandig te kla en het by een geleentheid teen Moses sowel as God self gepraat! (Num. 21:5). Die volk Israel het selfs ná die vernietiging van die goddelose Korag, Datan, Abiram en hulle metgeselle gemurmureer en verkeerdelik geredeneer dat die teregstelling van die opstandelinge onregverdig was. Gevolglik het 14 700 Israeliete omgekom deur ’n plaag wat God gestuur het.—Num. 16:41, 49.
19 Nie een van die bogenoemde versoekings was so groot dat die Israeliete dit nie kon weerstaan het nie. Die volk het vir versoeking geswig omdat hulle hulle geloof verloor het en Jehovah, sy liefdevolle sorg vir hulle en die regverdigheid van sy weë vergeet het. Soos in die geval van die Israeliete is die versoekings waarvoor ons te staan kom, eie aan mense. As ons ons inspan om dit te weerstaan en op God vertrou om ons te onderskraag, kan ons ons onkreukbaarheid handhaaf. Ons kan hiervan seker wees, want “God is getrou” en laat nie toe dat ons “versoek word bo wat [ons] kan verdra nie”. Jehovah verlaat ons nooit in die sin dat hy toelaat dat ons in situasies beland wat dit menslik onmoontlik maak om sy wil te doen nie.—Ps. 94:14.
20, 21. Hoe gee God “die uitweg” wanneer ons versoek word?
20 Jehovah gee “die uitweg” deur ons te versterk om versoeking te weerstaan. Vervolgers kan ons byvoorbeeld fisies mishandel om ons te probeer dwing om ons geloof te verloën. Hierdie behandeling kan ons in die versoeking bring om ons geloof prys te gee sodat ons nie verder geslaan, gemartel of moontlik doodgemaak sal word nie. Maar ons weet na aanleiding van Paulus se geïnspireerde versekering in 1 Korintiërs 10:13 dat die situasie wat die versoeking laat ontstaan, net tydelik is. Jehovah sal nie toelaat dat dit voortgaan totdat ons nie langer aan hom getrou kan bly nie. God kan ons geloof versterk en ons die nodige geestelike krag gee om onkreukbaarheid te handhaaf.
21 Jehovah onderskraag ons deur middel van sy heilige gees. Hierdie gees herinner ons ook aan skriftuurlike gedagtes wat ons nodig het om versoeking te weerstaan (Joh. 14:26). Gevolglik word ons nie bedrieg sodat ons ’n verkeerde weg volg nie. Ons verstaan byvoorbeeld die verwante geskille oor Jehovah se soewereiniteit en die mens se onkreukbaarheid. Met hierdie kennis het God baie mense al onderskraag om tot die dood toe getrou te bly. Maar dit was nie die dood wat vir hulle die uitweg was nie; dit was Jehovah se hulp wat dit vir hulle moontlik gemaak het om tot die einde toe te volhard sonder om vir versoeking te swig. Hy kan dieselfde vir ons doen. Trouens, hy gebruik ook sy getroue engele om ons ontwil as geeste vir openbare diens “wat uitgestuur word om te dien ten behoewe van dié wat redding gaan beërf” (Heb. 1:14). Soos die volgende artikel toon, kan net diegene wat onkreukbaarheid handhaaf, hoop om die vreugdevolle voorreg te hê om vir ewig God se soewereiniteit te ondersteun. Ons kan onder hulle wees as ons Jehovah as ons Soewereine Heer aankleef.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom moet ons Jehovah as ons Soewereine Heer erken?
• Wat beteken dit om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf?
• Hoe weet ons dat Jehovah binnekort sy soewereiniteit sal laat geld?
• Waarom is dit in die lig van 1 Korintiërs 10:13 moontlik om onkreukbaarheid te handhaaf?
[Prent op bladsy 24]
Satan het Adam en Eva oorgehaal om dislojaal aan Jehovah te wees
[Prent op bladsy 26]
Wees vasbeslote om Jehovah se soewereiniteit te ondersteun