“Sodat julle nie in versoeking kom nie”
“Hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”—MATTEUS 26:41.
DIE druk was intens—anders as enigiets wat hy tevore ondervind het. Jesus Christus, die Seun van God, was naby die einde van sy aardse lewe. Jesus het besef dat hy binnekort in hegtenis geneem, ter dood veroordeel en aan ’n folterpaal gehang sou word. Hy het geweet dat elke besluit wat hy neem en alles wat hy doen, sy Vader se naam tot eer of tot oneer sou strek. Jesus het ook geweet dat die toekomstige lewensvooruitsigte van die mensdom in die weegskaal gehang het. Wat het hy onder al hierdie druk gedoen?
2 Jesus het saam met sy dissipels na die tuin van Getsemane gegaan. Dit was een van Jesus se geliefkoosde plekke. Daar het hy ’n entjie van sy dissipels af weggegaan. Toe hy alleen was, het hy hom tot sy hemelse Vader gewend vir krag en sy hart in vurige gebed uitgestort—nie net een keer nie, maar drie keer. Al was Jesus volmaak, het hy nie gevoel dat hy die druk op sy eie kon deurstaan nie.—Matteus 26:36-44.
3 Vandag is ons ook onder druk. Vroeër in hierdie brosjure het ons getuienis bespreek dat ons in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel lewe. Die versoekings en druk van Satan se wêreld word al hoe erger. Die besluite en optrede van enigeen van ons wat sê dat ons die ware God aanbid, kan Sy naam tot eer of tot oneer strek en het ’n groot uitwerking op ons persoonlike vooruitsig op lewe in Sy nuwe wêreld. Ons het Jehovah lief. Ons wil “tot die einde toe volhard”—tot die einde van ons lewe of die einde van hierdie stelsel, wat ook al eerste kom (Matteus 24:13). Maar hoe kan ons ons gevoel van dringendheid behou en aanhou waak?
4 Jesus het geweet dat sy dissipels—destyds sowel as vandag—ook onder druk sou wees en daarom het hy hulle aangespoor: “Hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie” (Matteus 26:41). Wat beteken hierdie woorde vandag vir ons? Voor watter versoeking kom jy te staan? En hoe kan jy ‘aanhou waak’?
Versoeking om wat te doen?
5 Ons kom almal elke dag voor die versoeking te staan om voor “die strik van die Duiwel” te swig (2 Timoteus 2:26). Die Bybel waarsku ons dat Satan sy visier in die besonder op Jehovah se aanbidders gestel het (1 Petrus 5:8; Openbaring 12:12, 17). Met watter doel? Dit is nie noodwendig om ons dood te maak nie. Dit is geen oorwinning vir Satan as ons getrou aan God sterf nie. Satan weet dat Jehovah, op Sy bestemde tyd, die dood deur middel van die opstanding ongedaan sal maak.—Lukas 20:37, 38.
6 Satan wil iets vernietig wat selfs kosbaarder is as ons teenswoordige lewe—ons onkreukbaarheid teenoor God. Satan is desperaat om te bewys dat hy ons van Jehovah kan afkeer. Gevolglik sou dit vir Satan ’n oorwinning wees as hy ons kan oorhaal om ontrou te wees—om op te hou om die goeie nuus te verkondig of om Christelike standaarde prys te gee! (Efesiërs 6:11-13). Daarom versoek “die Versoeker” ons.—Matteus 4:3.
7 Satan se “bedrieglike taktiek” neem verskillende vorme aan (Efesiërs 6:11, Jewish New Testament). Hy versoek ons moontlik met materialisme, vrees, twyfelgedagtes of genotsug. Maar een van sy doeltreffendste metodes hou verband met ontmoediging. Hy is ’n slinkse opportunis en weet dat mismoedigheid ons kan verswak en ons kwesbaar kan maak (Spreuke 24:10). Veral wanneer ons emosioneel “verbryseld” voel, bring hy ons in die versoeking om tou op te gooi.—Psalm 38:8.
8 Dit lyk of oorsake van ontmoediging toeneem hoe dieper ons in die laaste dae inbeweeg, en ons is nie immuun daarteen nie. (Sien die venster “’n Paar faktore wat ontmoediging veroorsaak”.) Ongeag wat die oorsaak van ontmoediging is, dit kan ons uitput. As jy fisies, verstandelik en emosioneel uitgeput is, kan dit ’n uitdaging wees om ‘die geleë tyd uit te koop’ vir geestelike verpligtinge—wat Bybelstudie, die bywoning van Christelike vergaderinge en deelname aan die bediening insluit (Efesiërs 5:15, 16). Onthou dat die Versoeker wil hê jy moet tou opgooi. Maar dit is nie nou die tyd om traag te word of om jou gevoel van dringendheid te verloor oor die tye waarin ons lewe nie! (Lukas 21:34-36). Hoe kan jy versoekings weerstaan en aanhou waak? Hier is vier wenke wat jou kan help.
‘Hou aan bid’
9 Vertrou op Jehovah deur gebed. Dink aan Jesus se voorbeeld in die tuin van Getsemane. Wat het hy gedoen toe hy onder intense emosionele spanning verkeer het? Hy het hom tot Jehovah gewend om hulp en so vurig gebid dat “sy sweet . . . soos bloeddruppels geword [het] wat op die grond val” (Lukas 22:44). Dink net daaraan. Jesus het Satan goed geken. Vanuit die hemel het Jesus ál die versoekings gesien wat Satan gebruik in sy pogings om God se knegte te verstrik. Nogtans het Jesus nie gevoel dat hy enigiets wat die Versoeker voor hom sou bring, maklik sal kan hanteer nie. As die volmaakte Seun van God gevoel het dat dit vir hom nodig is om God se hulp en krag te vra, hoeveel te meer moet ons dit nie doen nie!—1 Petrus 2:21.
10 Onthou ook dat Jesus, nadat hy sy dissipels aangespoor het om ‘aan te hou bid’, gesê het: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak” (Matteus 26:41). Van wie se vlees het Jesus gepraat? Beslis nie sý vlees nie; daar was niks swaks omtrent sy volmaakte vlees toe hy ’n mens was nie (1 Petrus 2:22). Maar dit was nie die geval met sy dissipels nie. Weens oorgeërfde onvolmaaktheid en sondige neigings het hulle baie hulp nodig gehad om versoekings te weerstaan (Romeine 7:21-24). Dit is waarom hy hulle—en alle ware Christene ná hulle—aangespoor het om te bid vir hulp wanneer hulle voor versoekings te staan kom (Matteus 6:13). Jehovah verhoor sulke gebede (Psalm 65:2). Hoe? Op ten minste twee maniere.
11 Eerstens help God ons om versoekings te herken. Satan se versoekings is soos strikke wat op ’n donker pad verstrooi lê. As jy dit nie sien nie, kan jy daarin trap. Deur middel van die Bybel en Bybelpublikasies werp Jehovah lig op Satan se strikke sodat ons nie voor versoeking swig nie. Deur die jare heen het lektuur en byeenkomsprogramme ons herhaaldelik teen gevare soos mensevrees, geslagsonsedelikheid, materialisme en ander sataniese versoekings gewaarsku (Spreuke 29:25; 1 Korintiërs 10:8-11; 1 Timoteus 6:9, 10). Is jy nie dankbaar teenoor Jehovah dat hy ons teen Satan se planne waarsku nie? (2 Korintiërs 2:11). Al hierdie waarskuwings is ’n antwoord op jou gebede vir hulp om versoeking te weerstaan.
12 Tweedens antwoord Jehovah ons gebede deur ons die krag te gee om versoekings te verduur. Sy Woord sê: “God . . . sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee” (1 Korintiërs 10:13). God sal nooit toelaat dat ’n versoeking so oorweldigend word dat ons nie genoeg geestelike krag het om dit te weerstaan nie—mits ons op hom bly vertrou. Hoe ‘gee hy ons die uitweg’? Hy ‘gee heilige gees aan dié wat hom vra’ (Lukas 11:13). Daardie gees sal ons moontlik help om Bybelbeginsels te onthou wat ons meer vasbeslote kan maak om te doen wat reg is en ons kan help om wyse besluite te neem (Johannes 14:26; Jakobus 1:5, 6). Dit kan ons help om die eienskappe te openbaar wat nodig is om oor verkeerde neigings te seëvier (Galasiërs 5:22, 23). God se gees kan selfs medegelowiges beweeg om ‘vir ons ’n versterkende hulp te word’ (Kolossense 4:11). Is jy nie dankbaar dat Jehovah jou gebede om hulp op sulke liefdevolle maniere verhoor nie?
Wees realisties wat jou verwagtinge betref
13 Om aan te hou waak, moet ons realisties wees wat ons verwagtinge betref. Weens die druk van die lewe word ons almal soms moeg. Maar ons moet onthou dat God nooit belowe het dat ons ’n probleemvrye lewe in hierdie ou stelsel sal hê nie. Selfs in Bybeltye het God se knegte voor teëspoed te staan gekom, wat vervolging, armoede, terneergedruktheid en siekte ingesluit het.—Handelinge 8:1; 2 Korintiërs 8:1, 2; 1 Tessalonisense 5:14; 1 Timoteus 5:23.
14 Vandag het ons ook probleme. Ons word dalk vervolg, het dalk finansiële bekommernisse, sukkel dalk met depressie, word dalk siek en ly dalk op ander maniere. Sou dit nie vir Satan ’n rede gegee het om Jehovah uit te tart as Hy ons wonderdadig teen alle kwaad beskerm het nie? (Spreuke 27:11). Jehovah laat toe dat sy knegte versoek en beproef word, soms selfs tot die punt van ontydige dood deur die toedoen van teenstanders.—Johannes 16:2.
15 Wat het Jehovah dan belowe? Soos ons vroeër gesê het, het hy belowe om ons opgewasse te maak teen enige versoeking waarvoor ons te staan kom, mits ons ten volle op hom vertrou (Spreuke 3:5, 6). Deur sy Woord, sy gees en sy organisasie beskerm hy ons geestelik en help hy ons om ons verhouding met hom te bewaar. As daardie verhouding ongeskonde bly, is ons oorwinnaars, al sterf ons ook. Niks—nie eens die dood—kan keer dat God sy getroue knegte beloon nie (Hebreërs 11:6). En in die nuwe wêreld, wat nou op hande is, sal Jehovah vir seker die res van sy wonderlike beloofde seëninge uitstort oor diegene wat hom liefhet.—Psalm 145:16.
Hou die geskille in gedagte
16 Om tot die einde toe te volhard, moet ons die lewensbelangrike geskille in gedagte hou wat by God se toelating van goddeloosheid betrokke is. As ons probleme soms oorweldigend lyk en ons in die versoeking kom om tou op te gooi, sal dit goed wees as ons ons daaraan herinner dat Satan die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit betwis het. Die Bedrieër het ook die toegewydheid en onkreukbaarheid van God se aanbidders bevraagteken (Job 1:8-11; 2:3, 4). Daardie geskille en die manier waarop Jehovah gekies het om dit te besleg, is groter as enigeen van ons as individue. Hoe so?
17 Die feit dat God swaarkry tydelik toegelaat het, het ander die nodige tyd gegee om die waarheid aan te neem. Dink hieraan: Jesus het gely sodat ons die lewe kan hê (Johannes 3:16). Is ons nie dankbaar daarvoor nie? Maar is óns bereid om swaarkry nog ’n rukkie langer te verduur sodat nog ander die lewe kan kry? As ons tot die einde toe wil volhard, moet ons erken dat Jehovah se wysheid baie groter is as ons s’n (Jesaja 55:9). Hy sal goddeloosheid op die beste tyd tot ’n einde bring sodat die geskille vir altyd en tot ons ewige beswil besleg kan word. Is daar ’n beter manier waarop dit gedoen kon word? Daar is geen onregverdigheid by God nie!—Romeine 9:14-24.
“Kom nader aan God”
18 Om ons gevoel van dringendheid te behou, moet ons na aan Jehovah bly. Moet nooit vergeet dat Satan alles in sy vermoë doen om ons goeie verhouding met Jehovah te vernietig nie. Satan wil hê dat ons moet glo dat die einde nooit sal kom nie en dat dit geen sin het om die goeie nuus te verkondig of volgens Bybelstandaarde te lewe nie. Maar hy “is ’n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44). Ons moet vasbeslote wees om ‘die Duiwel teë te staan’. Ons verhouding met Jehovah is iets wat ons nooit as vanselfsprekend moet aanneem nie. Die Bybel spoor ons liefdevol aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:7, 8). Hoe kan jy nader aan Jehovah kom?
19 Biddende bepeinsing is noodsaaklik. Stort jou hart voor Jehovah uit wanneer die druk van die lewe oorweldigend lyk. Hoe meer spesifiek jy is, hoe makliker sal dit wees om sy antwoord op jou versoeke te sien. Die antwoord is moontlik nie altyd presies wat jy in gedagte gehad het nie, maar as dit jou begeerte is om hom te eer en jou onkreukbaarheid te handhaaf, sal hy jou die nodige hulp gee sodat jy kan volhard (1 Johannes 5:14). Wanneer jy sy leiding in jou lewe sien, sal jy nader aan hom kom. Dit is ook noodsaaklik om van Jehovah se eienskappe en weë, soos dit in die Bybel geopenbaar word, te lees en daaroor te peins. Hierdie bepeinsing help jou om hom beter te leer ken; dit roer jou hart en laat jou liefde vir hom inniger word (Psalm 19:14). En daardie liefde sal jou meer as enigiets anders help om versoekings te weerstaan en aan te hou waak.—1 Johannes 5:3.
20 As ons na aan Jehovah wil bly, is dit ook belangrik dat ons na aan ons medegelowiges bly. Dit sal in die laaste gedeelte van hierdie brosjure bespreek word.
STUDIEVRAE
• Wat het Jesus gedoen toe hy naby die einde van sy lewe onder geweldige druk was, en wat het hy sy dissipels aangespoor om te doen? (Par. 1-4)
• Waarom het Satan sy visier op Jehovah se aanbidders gestel, en hoe versoek hy ons? (Par. 5-8)
• Om versoeking te weerstaan, waarom moet ons aanhou bid (Par. 9-12), realisties wees wat ons verwagtinge betref (Par. 13-15), die geskille in gedagte hou (Par. 16-17) en ‘nader aan God kom’ (Par. 18-20)?
[Venster op bladsy 25]
’n Paar faktore wat ontmoediging veroorsaak
Gesondheid/ouderdom. As ons aan ’n chroniese siekte ly of deur ouderdom beperk word, kan ons terneergedruk raak omdat ons nie meer kan doen in God se diens nie.—Hebreërs 6:10.
Teleurstelling. Ons kan mismoedig raak as ons min reaksie sien op ons pogings om God se Woord te verkondig.—Spreuke 13:12.
Gevoelens van nutteloosheid. As gevolg van jare van slegte behandeling kan iemand oortuig raak dat niemand, nie eens Jehovah, vir hom of haar lief is nie.—1 Johannes 3:19, 20.
Gekwetste gevoelens. As iemand diep seergemaak is deur ’n medegelowige, kan hy so ontsteld raak dat hy in die versoeking kom om op te hou om Christelike vergaderinge by te woon of aan die veldbediening deel te neem.—Lukas 17:1.
Vervolging. Jy word dalk teëgestaan, vervolg of bespot deur ander wat nie soos jy glo nie.—2 Timoteus 3:12; 2 Petrus 3:3, 4.
[Prent op bladsy 26]
Jesus het ons aangespoor om ‘aan te hou bid’ vir hulp om versoekings te weerstaan