“Laat ons liefhê . . . met dade en in waarheid”
“Laat ons liefhê, nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid.”—1 JOH. 3:18.
1. Wat is die belangrikste soort liefde, en waarom? (Sien prent aan begin van artikel.)
JEHOVAH is die Bron van liefde (1 Joh. 4:7). Die belangrikste soort liefde is gebaseer op goeie beginsels. In die Bybel word hierdie liefde beskryf deur die Griekse woord a·gaʹpe. Dit kan gevoelens van hartlikheid teenoor ander insluit. Maar dit is meer as net ’n gevoel. Dit is liefde wat ons motiveer om goeie dinge vir ander te doen sonder om iets terug te verwag. Hierdie soort liefde maak ons gelukkig en maak ons lewe betekenisvol.
2, 3. Hoe het Jehovah gewys dat sy liefde vir die mens onselfsugtig is?
2 Jehovah het gewys dat hy lief is vir die mens selfs voordat hy Adam en Eva geskep het. Hy het die aarde geskep vir mense, nie net om te kan oorleef nie, maar ook om die lewe te geniet. Jehovah het dit nie vir homself gedoen nie. Hy het dit vir ons gedoen. Jehovah het toe die mens geskep en hulle die hoop gegee om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.
3 Nadat Adam en Eva gerebelleer het, het Jehovah die grootste bewys van sy onselfsugtige liefde vir die mens gegee. Jehovah was so seker dat party van hulle nageslag vir Hom lief sou wees, dat hy belowe het om Sy Seun as ’n losprys te gee om hulle te red (Gen. 3:15; 1 Joh. 4:10). Van die oomblik dat Jehovah hierdie belofte gemaak het, was dit vir Hom asof die losprys reeds betaal was. Omtrent 4 000 jaar later het Jehovah sy enigverwekte Seun vir die mensdom opgeoffer (Joh. 3:16). Ons is baie dankbaar vir Jehovah se liefde!
4. Hoe weet ons dat onvolmaakte mense onselfsugtige liefde kan betoon?
4 Ons kan onselfsugtige liefde betoon omdat God ons na sy beeld geskep het. Omdat ons onvolmaak is, is dit vir ons moeilik om liefde te betoon, maar dit is nie onmoontlik nie. Ons kan dit doen. Abel het gewys dat hy lief is vir God deur onselfsugtig te wees en die beste vir God te offer (Gen. 4:3, 4). Noag het onselfsugtige liefde betoon vir sy medemens deur God se boodskap jare lank te verkondig, al het die mense nie geluister nie (2 Pet. 2:5). Abraham het gewys dat sy liefde vir God sterker as enigiets anders was deur bereid te wees om sy geliefde seun Isak op te offer (Jak. 2:21). Ons wil net soos hierdie getroue manne liefde betoon, al is dit nie altyd maklik nie.
WAT IS OPREGTE LIEFDE?
5. Hoe kan ons wys dat ons liefde opreg is?
5 Die Bybel verduidelik dat opregte liefde betoon word, “nie met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid” (1 Joh. 3:18). Beteken dit dat ons nie liefde deur ons woorde kan betoon nie? Glad nie! (1 Tess. 4:18). Dit beteken dat dit nie altyd genoeg is om net te sê dat ons lief is vir iemand nie. Ons moet wys dat ons dit bedoel. Byvoorbeeld, wanneer ’n broer of suster nie genoeg kos of klere het nie, het hulle meer as net aanmoedigende woorde nodig (Jak. 2:15, 16). Omdat ons lief is vir Jehovah en ons naaste sal ons nie net bid vir meer mense om die predikingswerk te doen nie, ons sal ook ywerig wees in die bediening.—Matt. 9:38.
6, 7. (a) Wat beteken dit om liefde te hê sonder skynheiligheid? (b) Wat is ’n paar voorbeelde van liefde wat nie opreg was nie?
6 Die apostel Johannes het geskryf dat ons moet liefhê “met dade en in waarheid”. Daarom moet ons liefde “sonder huigelary”, of skynheiligheid, wees (Rom. 12:9; 2 Kor. 6:6). As ons voorgee om iemand te wees wat ons nie is nie, dan is ons liefde nie opreg nie. Daar is nie iets soos liefde met skynheiligheid nie. Sulke liefde beteken niks.
7 Kyk na ’n paar voorbeelde van liefde wat nie opreg was nie. Satan het in die tuin van Eden vir Eva laat dink dat hy net die beste vir haar wou hê, maar sy dade het gewys dat hy selfsugtig en skynheilig was (Gen. 3:4, 5). Agitofel het gewys dat hy nie werklik Dawid se vriend was nie. Hy het Dawid verraai om homself te bevoordeel (2 Sam. 15:31). Vandag gebruik afvalliges, en ander wat die eenheid van die gemeente wil versteur, “mooipraatjies en vleitaal” (Rom. 16:17, 18). Hulle maak asof hulle vir ander omgee, maar eintlik is hulle selfsugtig.
8. Watter vraag moet ons ons afvra?
8 Liefde wat nie opreg is nie, is skandelik omdat dit mense bedrieg. Dit kan dalk mense bedrieg, maar nie Jehovah nie. Jesus het gesê dat dié wat skynheilig is, gestraf sal word “met die grootste strengheid” (Matt. 24:51). Jehovah se knegte wil natuurlik nooit skynheilig wees nie. Daarom moet ons ons afvra: ‘Is my liefde altyd opreg, of is ek selfsugtig en oneerlik?’ Kom ons kyk na nege maniere hoe ons kan seker maak dat ons liefde sonder skynheiligheid is.
HOE OM ‘LIEF TE HÊ MET DADE EN IN WAARHEID’
9. Wat sal opregte liefde ons motiveer om te doen?
9 Wees tevrede om te dien, selfs wanneer niemand jou sien nie. Ons moet bereid wees om liefdevolle dinge vir ons broers te doen waarvan niemand ooit sal weet nie. (Lees Matteus 6:1-4.) Ananias en Saffira het nie hierdie gesindheid gehad nie. Toe hulle ’n bydrae gemaak het, wou hulle hê dat ander daarvan moes weet. Hulle het gelieg oor hoeveel hulle gegee het, en hulle is gestraf vir hulle skynheiligheid (Hand. 5:1-10). As ons werklik lief is vir ons broers, sal dit ons gelukkig maak om liefdevolle dinge vir hulle te doen en nie verwag dat ander dit moet raaksien nie. Ons kan leer by die broers wat die Bestuursliggaam help om geestelike voedsel voor te berei. Hulle doen dit sonder om enige erkenning te verwag en hulle vertel ook vir niemand waaraan hulle gewerk het nie.
10. Hoe kan ons wys dat ons respek het vir ander?
10 Respekteer ander. (Lees Romeine 12:10.) Jesus het gewys dat hy sy apostels respekteer toe hy hulle voete gewas het (Joh. 13:3-5, 12-15). Ons moet hard werk om nederig te wees sodat ons ook ander kan respekteer. Selfs die apostels het nie verstaan wat Jesus gedoen het totdat hulle die heilige gees ontvang het nie (Joh. 13:7). Ons respekteer ander deur nie te veel van onsself te dink omdat ons dalk meer geleerd is, meer besittings het of spesiale voorregte in Jehovah se diens het nie (Rom. 12:3). En in plaas daarvan om jaloers te wees as ander geprys word, is ons bly saam met hulle, al voel ons dalk dat ons ook geprys moet word.
11. Waarom moet ons ander opreg prys?
11 Prys ander opreg. Soek na geleenthede om ander te prys, want dit bou hulle op (Ef. 4:29). Maar wanneer ons ander prys moet ons seker maak dat dit opreg is, anders vlei ons hulle net. Ons moet bedoel wat ons sê en ons moet ook nie vergeet om raad te gee wanneer dit nodig is nie (Spr. 29:5). Ons sal skynheilig wees as ons iemand prys en hom dan agter sy rug afkraak. Die apostel Paulus se liefde was opreg. Hy het byvoorbeeld die gemeente in Korinte opreg geprys vir die goeie dinge wat hulle gedoen het (1 Kor. 11:2). Maar toe hulle raad nodig gehad het, het hy dit reguit maar op ’n liefdevolle manier gedoen.—1 Kor. 11:20-22.
12. Hoe kan ons wys dat ons liefde opreg is wanneer ons gasvry is?
12 Wees gasvry. Jehovah beveel ons om vrygewig te wees teenoor ons broers en susters. (Lees 1 Johannes 3:17.) Maar ons moet dit vir die regte rede doen. Ons moet ons afvra: ‘Is ek slegs gasvry teenoor my vriende of dié wat ek dink belangrike persone in die gemeente is? Nooi ek net mense wat weer iets vir my kan doen? Of is ek ook gasvry teenoor broers en susters wat ek nie goed ken nie of wat niks het om vir my te gee nie?’ (Luk. 14:12-14). Maar wat as ’n broer swaar kry omdat hy ’n slegte besluit geneem het? Of dalk sê iemand nie eers dankie as hulle by jou gekuier het nie. In sulke situasies moet ons onthou wat Jehovah van ons verwag: “Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla” (1 Pet. 4:9). As ons hierdie raad toepas en dit vir die regte rede doen, sal ons gelukkig wees.—Hand. 20:35.
13. (a) Wanneer het ons meer geduld nodig? (b) Wat kan ons doen om die swakkes te help?
13 Help dié wat swak is. Die Bybel se bevel om die swakkes te help en om met almal geduldig te wees, kan ons help om te sien of ons liefde opreg is (1 Tess. 5:14). Baie broers wat swak was, het later weer geestelik sterk geword. Maar ander het ’n bietjie meer van ons liefdevolle hulp en geduld nodig. Ons kan die Bybel gebruik om hulle aan te moedig, saam met hulle velddiens doen of net na hulle luister. En in plaas daarvan om te dink dat ’n broer of suster “sterk” of “swak” is, moet ons besef dat ons almal sterk en swak punte het. Selfs die apostel Paulus het erken dat hy swakhede het (2 Kor. 12:9, 10). Ons almal het hulp en aanmoediging nodig.
14. Wat moet ons bereid wees om te doen om die vrede met ons broers te bewaar?
14 Maak vrede. Ons sal hard werk om die vrede in die gemeente te bewaar, selfs al voel ons dat iemand ons verkeerd verstaan het of dat ons onregverdig behandel is. (Lees Romeine 12:17, 18.) As ons iemand se gevoelens seergemaak het, moet ons jammer sê. Maar dit moet opreg wees. Byvoorbeeld, in plaas daarvan om te sê: “Ek is jammer dat jy so voel”, sal dit beter wees om ons fout te erken en te sê: “Ek is jammer dat ek jou seergemaak het.” Dit is veral belangrik dat daar vrede in die huwelik moet wees. ’n Man en vrou moenie maak asof hulle vir mekaar lief is wanneer hulle saam met ander mense is nie, maar by die huis het hulle stilstuipe, skree hulle op mekaar of wil hulle mekaar slaan.
15. Hoe kan ons wys dat ons iemand regtig vergewe het?
15 Vergewe mekaar vryelik. As iemand iets gesê het wat ons seergemaak het, sal ons die persoon vergewe en nie vir hulle kwaad bly nie. As ons “mekaar in liefde verdra en ywerig daarna streef om die eenheid van die gees in die verenigende band van vrede te bewaar”, sal ons ander vergewe, selfs al weet hulle nie eers dat hulle ons seergemaak het nie (Ef. 4:2, 3). As ons iemand regtig vergewe het, sal ons nie aanhou dink aan wat die persoon gedoen het nie, want liefde “hou nie boek van die kwaad nie” (1 Kor. 13:4, 5). As ons kwaad bly, kan dit ons vriendskap met die broer of suster en selfs met Jehovah benadeel (Matt. 6:14, 15). Ons wys ook dat ons iemand regtig vergewe het as ons vir hulle bid.—Luk. 6:27, 28.
16. Hoe moet ons optree wanneer ons voorregte in Jehovah se diens het?
16 Moenie jou eie voordeel soek nie. As ons voorregte in Jehovah se diens kry, moet ons dit gebruik om te wys dat ons liefde opreg is deur “nie [ons] eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek” (1 Kor. 10:24). Byvoorbeeld, saalwagters mag voor die ander by die byeenkomsterrein ingaan en wil dalk vir hulle en hulle gesin die beste sitplekke hou. Maar baie kies sitplekke waarvan ander nie hou nie. Op hierdie manier wys hulle dat hulle nie selfsugtig is nie. Hoe kan jy hulle voorbeeld navolg?
17. Wat sal opregte liefde iemand motiveer om te doen as hy ’n ernstige sonde gepleeg het?
17 Bely jou sondes en hou op om in die geheim sondes te pleeg. Party Christene wat ernstige sondes gepleeg het, probeer dit wegsteek omdat hulle verleë is of ander nie wil teleurstel nie (Spr. 28:13). Maar dit is nie liefdevol nie, want dit maak die sondaar en ander seer. Jehovah kan dalk sy heilige gees van die gemeente af wegvat en dan sal daar nie meer vrede wees nie (Ef. 4:30). Opregte liefde sal ’n Christen wat ’n ernstige sonde gepleeg het, motiveer om met die ouer manne te praat sodat hulle hom kan help.—Jak. 5:14, 15.
18. Hoe belangrik is opregte liefde?
18 Liefde is die belangrikste eienskap (1 Kor. 13:13). Dit help mense om te sien dat ons ware volgelinge van Jesus en van Jehovah, die Bron van liefde, is (Ef. 5:1, 2). Paulus het geskryf: “As ek . . . geen liefde het nie, is ek niks” (1 Kor. 13:2). Mag ons aanhou om liefde te betoon nie net met “woorde” nie, maar ook “met dade en in waarheid”.