Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die briewe aan die Korintiërs
DIE apostel Paulus is diep besorg oor die geestelike welsyn van die gemeente in Korinte. Hy het gehoor dat daar onenighede onder die broers is. Onsedelikheid word geduld. Ook het die gemeente aan Paulus geskryf om navraag oor sekere sake te doen. Paulus skryf dus die eerste van sy twee briewe aan die Korintiërs omstreeks 55 G.J., terwyl hy op sy derde sendingreis in Efese is.
Die tweede brief, wat klaarblyklik net ’n paar maande ná die eerste geskryf is, is ’n opvolgbrief. Omdat toestande binne sowel as buite die gemeente in eerste-eeuse Korinte in baie opsigte ooreenkom met dié in ons tyd, is die boodskap in Paulus se briewe aan die Korintiërs vir ons van groot waarde.—Heb. 4:12.
‘BLY WAKKER, STAAN VAS, WORD STERK’
“Julle [moet] almal eenstemmig . . . praat”, maan Paulus (1 Kor. 1:10). Daar is ‘geen ander fondament as Jesus Christus’ waarop Christelike eienskappe gebou word nie (1 Kor. 3:11-13). Aangaande ’n hoereerder in die gemeente sê Paulus: “Verwyder die goddelose mens onder julle uit” (1 Kor. 5:13). “Die liggaam is nie vir hoerery nie”, sê hy, “maar vir die Here.”—1 Kor. 6:13.
In antwoord op ‘die dinge waaroor hulle geskryf het’, voorsien Paulus goeie raad oor die huwelik en die ongetroude lewe (1 Kor. 7:1). Nadat Paulus kommentaar gelewer het oor Christelike hoofskap, ordelikheid by Christelike vergaderinge en die sekerheid van die opstanding, vermaan hy hulle: “Bly wakker, staan vas in die geloof, gedra julle soos manne, word sterk.”—1 Kor. 16:13.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:21—Gebruik Jehovah werklik “dwaasheid” om dié te red wat glo? Nee. Maar aangesien “die wêreld deur sy wysheid God nie leer ken het nie”, lyk dit wat hy gebruik om mense te red, vir die wêreld dwaas.—Joh. 17:25.
5:5—Wat beteken dit om die goddelose man “aan Satan [oor te gee] vir die vernietiging van die vlees, sodat die gees gered kan word”? Wanneer iemand wat ernstige sonde beoefen en geen berou het nie, uit die gemeente gesit word, word hy weer deel van Satan se goddelose wêreld (1 Joh. 5:19). Daarom word daar gesê dat hy aan Satan oorgegee word. Die persoon se uitsetting lei tot die vernietiging, of die verwydering, van die verderflike element uit die gemeente en tot die bewaring van die gees, of oorheersende gesindheid, van die gemeente.—2 Tim. 4:22.
7:33, 34—Wat word bedoel met “die dinge van die wêreld” waaroor ’n getroude man of vrou besorg is? Paulus verwys na die alledaagse dinge in die lewe waaraan getroude Christene aandag moet gee. Dit sluit voedsel, klere en behuising in, maar sluit die slegte dinge van hierdie wêreld uit, wat Christene vermy.—1 Joh. 2:15-17.
11:26—Hoe “dikwels” moet Jesus se dood herdenk word, en tot wanneer? Paulus het nie gesê dat Jesus se dood dikwels herdenk sou word nie. Die Griekse woord wat vir “so dikwels as” gebruik word, beteken “wanneer ook al” of “elke keer dat”. Paulus het dus gesê dat gesalfde Christene, elke keer dat hulle van die Gedenkmaalembleme gebruik, een keer per jaar op 14 Nisan, “die dood van die Here . . . verkondig”. Hulle doen dit “totdat hy kom”, dit wil sê totdat hy hulle deur middel van ’n opstanding in die hemel ontvang.—1 Tess. 4:14-17.
13:13—In watter sin is liefde groter as geloof en hoop? Wanneer die “dinge waarop gehoop word”, ’n werklikheid word en “die gewaarborgde verwagting” daarvan verwesenlik word, kom aspekte van geloof en hoop tot ’n einde (Heb. 11:1). Liefde is groter as geloof en hoop in die sin dat dit vir ewig bly.
15:29—Wat beteken dit om “gedoop [te] word met die doel om dooies te wees”? Paulus het nie te kenne gegee dat lewende mense gedoop moet word namens dié wat ongedoop gesterf het, soos dalk afgelei kan word uit die manier waarop baie Bybelvertalings hierdie vers vertaal nie. Paulus praat hier van die onderdompeling van geesgesalfde Christene in ’n lewensweg waarin hulle hulle onkreukbaarheid tot hulle dood handhaaf, waarna hulle tot geeslewe opgewek word.
Lesse vir ons:
1:26-31; 3:3-9; 4:7. Wanneer ons nederig in Jehovah roem, en nie in onsself nie, bevorder dit eenheid in die gemeente.
2:3-5. Terwyl Paulus in Korinte, ’n sentrum van Griekse filosofie en geleerdheid, getuig het, was hy dalk daaroor besorg of hy sy toehoorders sou kon oortuig. Hy het egter nie toegelaat dat enige swakheid of vrees wat hy miskien gehad het, verhinder dat hy sy godgegewe bediening uitvoer nie. Ons moet ook nie toelaat dat ongewone omstandighede ons verhinder om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig nie. Soos Paulus, kan ons met vertroue op Jehovah se hulp staatmaak.
2:16. Om “die denke van Christus” te hê, beteken dat ons weet hoe hy dink en waarom hy so dink, asook dat ons soos hy dink, sy persoonlikheid ten volle begryp en sy voorbeeld navolg (1 Pet. 2:21; 4:1). Hoe belangrik is dit tog dat ons Jesus se lewe en bediening noukeurig bestudeer!
3:10-15; 4:17. Ons moet ons vermoë om te onderrig en dissipels te maak, ontleed en verbeter (Matt. 28:19, 20). As ons nie goed onderrig nie, sal ons student moontlik nie toetse van geloof deurstaan nie, en die verlies sal dalk vir ons so pynlik wees dat ons redding “soos deur vuur heen” sal wees.
6:18. Om te “vlug vir die hoerery”, beteken dat ons nie net dade van por·neiʹa vermy nie, maar ook pornografie, sedelike onreinheid, seksuele fantasieë, flankeerdery—enigiets wat tot hoerery kan lei.—Matt. 5:28; Jak. 3:17.
7:29. Egpare moet oppas dat hulle nie soveel aandag aan mekaar skenk dat Koninkryksbelange die tweede plek in hulle lewe inneem nie.
10:8-11. Jehovah was diep gegrief toe Israel teen Moses en Aäron gemurmureer het. Dit is verstandig van ons om daarop te let dat ons nie in die gewoonte verval om te murmureer nie.
16:2. Ons sal gereeld finansiële bydraes ter bevordering van Koninkryksbelange kan gee as ons vooruitbeplan en dit stelselmatig doen.
‘HOU AAN OM JULLE TE LAAT REGHELP’
Paulus sê vir die Korintiërs dat hulle ’n berouvolle oortreder wat bestraf is, “goedgunstig moet vergewe en vertroos”. Hoewel sy eerste brief hulle bedroef gemaak het, sê Paulus dat hy bly is dat hulle “droefheid [hulle] tot berou gebring het”.—2 Kor. 2:6, 7; 7:8, 9.
‘Net soos hulle in alles oorvloedig is’, spoor Paulus die Korintiërs aan om ook ‘oorvloedig te gee’. Nadat hy teenstanders geantwoord het, gee hy almal ten slotte die raad: “Hou aan om julle te verheug, om julle te laat reghelp, om julle te laat vertroos, om eenders te dink, om vreedsaam te lewe.”—2 Kor. 8:7; 13:11.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:15, 16—In watter sin is ons “’n soet geur van Christus”? Dit is omdat ons bly by die Bybel en help om die boodskap daarin te versprei. Terwyl so ’n “geur” dalk vir onregverdiges walglik is, is dit vir Jehovah en opregtes van hart welriekend.
5:16—In watter sin “ken” gesalfde Christene “geen mens na die vlees nie”? Hulle het nie ’n vleeslike beskouing van mense nie, dit wil sê, hulle begunstig mense nie op grond van rykdom of ras, of etniese of nasionale oorsprong nie. Wat vir hulle belangrik is, is hulle geestelike verhouding met medegelowiges.
11:1, 16; 12:11—Was Paulus onredelik teenoor die Korintiërs? Nee, hy was nie. Maar dit het dalk vir party geklink of hy roem en onredelik is as gevolg van wat hy verplig was om te sê ter verdediging van sy apostelskap.
12:1-4—Wie is “tot in die paradys weggeruk”? Aangesien die Bybel van niemand anders praat wat so ’n visioen gehad het nie en hierdie gedeelte op Paulus se verdediging van sy apostelskap volg, was dit waarskynlik sy eie ondervinding wat hy vertel het. Wat die apostel in ’n visioen gesien het, was moontlik die geestelike paradys wat die Christengemeente in “die tyd van die einde” geniet.—Dan. 12:4.
Lesse vir ons:
3:5. In beginsel sê hierdie vers vir ons dat Jehovah Christene voldoende bekwaam maak vir die bediening deur middel van sy Woord, sy heilige gees en die aardse deel van sy organisasie (Joh. 16:7; 2 Tim. 3:16, 17). Dit sal verstandig wees van ons om die Bybel en Bybelpublikasies ywerig te bestudeer, voortdurend vir heilige gees te bid en Christelike vergaderinge gereeld by te woon en daaraan deel te neem.—Ps. 1:1-3; Luk. 11:10-13; Heb. 10:24, 25.
4:16. Omdat Jehovah “die mens wat ons innerlik is, . . . van dag tot dag vernuwe”, moet ons gereeld gebruik maak van Jehovah se voorsienings en nie ’n dag laat verbygaan sonder om aandag te skenk aan geestelike sake nie.
4:17, 18. As ons onthou dat “die verdrukking kortstondig en lig” is, kan dit ons help om tydens ontberinge aan Jehovah getrou te bly.
5:1-5. Hoe pragtig beskryf Paulus tog hoe gesalfde Christene oor hulle hoop op hemelse lewe voel!
10:13. Die algemene reël is dat ons net in ons gemeente se toegewese gebied moet werk, tensy spesifieke reëlings getref is vir ons om te help waar hulp nodig is.
13:5. Om ‘te toets of ons in die geloof is’, moet ons ons gedrag meet aan wat ons in die Bybel leer. Om ‘onsself op die proef te stel’, moet ons die vlak van ons geestelikheid beoordeel, insluitende die skerpheid van ons “waarnemingsvermoëns” en die omvang van ons werke van geloof (Heb. 5:14; Jak. 1:22-25). Deur Paulus se goeie raad toe te pas, kan ons aanhou om in die weg van die waarheid te wandel.
[Prent op bladsy 26, 27]
Wat beteken die woorde “so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink”?—1 Kor. 11:26.