HOOFSTUK 30
“Hou aan om liefde te betoon”
1-3. Wat is die gevolg wanneer ons Jehovah se voorbeeld van liefde navolg?
“DIT maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Dié woorde van Jesus beklemtoon hierdie belangrike waarheid: Onselfsugtige liefde is op sigself lonend. Hoewel dit groot geluk verskaf om liefde te ontvang, verskaf dit selfs groter geluk om liefde aan ander te gee, of te betoon.
2 Niemand weet dit beter as ons hemelse Vader nie. Soos ons in die voorgaande hoofstukke van hierdie deel gesien het, is Jehovah die voortreflikste voorbeeld van liefde. Niemand het liefde op omvangryker maniere of oor ’n langer tydperk bewys as hy nie. Geen wonder dan dat Jehovah “die gelukkige God” genoem word nie. – 1 Timoteus 1:11.
3 Ons liefdevolle God wil hê dat ons soos hy moet probeer wees, veral wanneer dit by die betoning van liefde kom. Efesiërs 5:1, 2 sê vir ons: “Word . . . navolgers van God, as geliefde kinders, en hou aan om liefde te betoon.” Wanneer ons Jehovah se voorbeeld van liefde navolg, ervaar ons die groter geluk wat dit verskaf wanneer ’n mens gee. Ons put ook bevrediging uit die wete dat ons Jehovah behaag, want sy Woord spoor ons aan “om mekaar lief te hê” (Romeine 13:8). Maar daar is nog ander redes waarom ons moet ‘aanhou om liefde te betoon’.
Waarom liefde noodsaaklik is
4, 5. Waarom is dit belangrik dat ons selfopofferende liefde aan medegelowiges betoon?
4 Waarom is dit belangrik dat ons liefde aan medegelowiges betoon? Kortom, liefde is die kern van ware Christelikheid. Sonder liefde kan ons nie ’n hegte band met mede-Christene hê nie, en nog belangriker, daarsonder is ons niks werd in Jehovah se oë nie. Kyk hoe God se Woord hierdie waarhede beklemtoon.
5 Op die laaste aand van sy aardse lewe het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het” (Johannes 13:34, 35). “Net soos ek julle liefgehad het” – ja, ons word beveel om dieselfde soort liefde as Jesus te betoon. In Hoofstuk 29 het ons gesien dat Jesus ’n voortreflike voorbeeld van selfopofferende liefde gestel het deur die behoeftes en belange van ander voor sy eie te stel. Ons moet ook onselfsugtige liefde openbaar, en dit moet so duidelik wees dat ons liefde selfs deur mense buite die Christengemeente gesien kan word. Ja, selfopofferende broederliefde is die kenmerk wat ons as ware volgelinge van Christus identifiseer.
6, 7. (a) Hoe weet ons dat Jehovah se Woord groot waarde aan die betoning van liefde heg? (b) Op watter aspek van liefde vestig Paulus se woorde in 1 Korintiërs 13:4-8 die aandag?
6 Sê nou ons het ’n gebrek aan liefde? “As ek . . . geen liefde het nie”, het die apostel Paulus gesê, “het ek ’n klinkende metaal of simbaal geword” (1 Korintiërs 13:1). ’n Klinkende simbaal veroorsaak ’n onaangename geraas. Wat van ’n klinkende metaal? Watter gepaste illustrasies tog! ’n Liefdelose persoon is soos ’n musiekinstrument wat ’n harde, steurende geluid maak wat ’n mens eerder afstoot as aantrek. Hoe kan so iemand ’n hegte verhouding met ander geniet? Paulus het ook gesê: “As ek . . . soveel geloof het dat ek berge kan verskuif, maar geen liefde het nie, is ek niks” (1 Korintiërs 13:2). Dink net, iemand wat geen liefde het nie, is “’n ronde nul”, ondanks enige werke wat hy moontlik verrig! (The Amplified Bible). Is dit nie duidelik dat Jehovah se Woord groot waarde aan die betoning van liefde heg nie?
7 Maar hoe kan ons hierdie eienskap in ons handelinge met ander openbaar? Kom ons ondersoek Paulus se woorde in 1 Korintiërs 13:4-8 om dit te beantwoord. Hierdie verse beklemtoon nie God se liefde vir ons of ons liefde vir God nie. Paulus het eerder die aandag gevestig op hoe ons liefde aan mekaar moet betoon. Hy het ’n beskrywing gegee van wat liefde is en wat dit nie is nie.
Wat liefde is
8. Hoe kan geduld ons in ons handelinge met ander help?
8 “Liefde is geduldig.” So, liefde beteken dat ons ander geduldig verdra (Kolossense 3:13). Het ons nie sulke geduld nodig nie? Omdat ons onvolmaakte mense is wat skouer aan skouer dien, is dit net realisties om te verwag dat ons Christenbroers ons soms sal irriteer en dat ons hulle soms sal irriteer. Maar geduld en verdraagsaamheid kan ons help om die ligte stampe en stote wat ons in ons handelinge met ander kry, te verwerk – sonder om die vrede van die gemeente te versteur.
9. Hoe kan ons goedhartigheid aan ander betoon?
9 “Liefde is . . . goedhartig.” Goedhartigheid word deur behulpsaamheid en bedagsame woorde getoon. Liefde beweeg ons om na maniere te soek waarop ons goedhartigheid kan betoon, veral aan dié wat dit die nodigste het. Byvoorbeeld, ’n bejaarde medegelowige is dalk eensaam en het ’n bemoedigende besoek nodig. ’n Enkelma of ’n suster wat in ’n godsdienstig verdeelde huis woon, het miskien hulp nodig. Iemand wat siek is of deur moeilike tye gaan, het moontlik ’n behoefte aan vriendelike woorde van ’n lojale vriend (Spreuke 12:25; 17:17). Wanneer ons die inisiatief neem om op hierdie maniere goedhartigheid te betoon, bewys ons dat ons liefde opreg is. – 2 Korintiërs 8:8.
10. Hoe help liefde ons om die waarheid hoog te hou en om die waarheid te praat, selfs wanneer dit nie maklik is nie?
10 “Liefde . . . is bly saam met die waarheid.” ’n Ander vertaling sê: “Die liefde . . . skaar hom met vreugde aan die kant van die waarheid.” Liefde beweeg ons om die waarheid hoog te hou en om ‘die waarheid met mekaar te praat’ (Sagaria 8:16). As ’n geliefde byvoorbeeld ’n ernstige sonde begaan het, sal liefde vir Jehovah – en vir die oortreder – ons help om by God se standaarde te bly eerder as om die oortreding te probeer verberg, goed te praat of selfs leuens daaroor te vertel. Dit is wel soms moeilik om die feite te aanvaar. Maar as ons die belange van ons geliefde op die hart dra, sal ons wil hê dat hy God se liefdevolle dissipline moet ontvang en daarop moet reageer (Spreuke 3:11, 12). Daarbenewens wil ons, as liefdevolle Christene, “ons in alles eerlik gedra”. – Hebreërs 13:18.
11. Wat moet ons in verband met die tekortkominge van medegelowiges probeer doen, aangesien die liefde ‘alles verdra’?
11 “Liefde . . . verdra alles.” Hierdie uitdrukking beteken letterlik “dit bedek alles” (Kingdom Interlinear). Eerste Petrus 4:8 sê: “Die liefde bedek baie sondes.” Ja, ’n Christen wat deur liefde gerig word, is nie gretig om die onvolmaakthede en tekortkominge van sy Christenbroers openbaar te maak nie. In baie gevalle is die foute en tekortkominge van medegelowiges gering en kan dit met die mantel van liefde bedek word. – Spreuke 10:12; 17:9.
12. Hoe het die apostel Paulus getoon dat hy die beste van Filemon geglo het, en wat kan ons uit Paulus se voorbeeld leer?
12 “Liefde . . . glo alles.” Moffat se vertaling sê dat die liefde “altyd gretig is om die beste te glo”. Ons is nie onnodig agterdogtig teenoor medegelowiges nie en bevraagteken nie al hulle beweegredes nie. Die liefde help ons “om die beste te glo” van ons broers en om hulle te vertrou.a Let op ’n voorbeeld in Paulus se brief aan Filemon. Paulus het geskryf om Filemon aan te spoor om die wegloperslaaf Onesimus, wat ’n Christen geword het, vriendelik te verwelkom wanneer hy terugkeer. Paulus het Filemon nie probeer dwing nie, maar het eerder ’n versoek op grond van liefde gerig. Hy het die vertroue uitgespreek dat Filemon die regte ding sou doen en gesê: “Ek is vol vertroue dat jy sal doen wat ek vra, en daarom skryf ek aan jou, want ek weet dat jy selfs meer sal doen as wat ek sê” (Vers 21). Wanneer liefde ons beweeg om sulke vertroue in ons broers uit te spreek, bring ons die beste in hulle te voorskyn.
13. Hoe kan ons toon dat ons die beste vir ons broers hoop?
13 “Liefde . . . hoop alles.” Net soos die liefde vertroue openbaar, is dit ook hoopvol. Beweeg deur liefde, hoop ons die beste vir ons broers. As ’n broer byvoorbeeld “’n verkeerde rigting inslaan voordat hy daarvan bewus is”, hoop ons dat hy sal reageer op liefdevolle pogings om hom reg te help (Galasiërs 6:1). Ons koester ook die hoop dat dié wat swak is in geloof, sal herstel. Ons is geduldig met hulle en doen alles in ons vermoë om hulle te help om weer sterk geloof op te bou (Romeine 15:1; 1 Tessalonisense 5:14). Selfs as ’n geliefde afdwaal, gee ons nie hoop op dat hy eendag tot besinning sal kom en tot Jehovah sal terugkeer soos die verlore seun in Jesus se illustrasie nie. – Lukas 15:17, 18.
14. Hoe kan ons volharding in die gemeente getoets word, en hoe sal liefde ons help om te reageer?
14 “Liefde . . . verduur alles.” Volharding stel ons in staat om standvastig te bly ondanks teleurstellings of ontberinge. Ons volharding word nie net buite die gemeente getoets nie. Soms word ons in die gemeente getoets. Omdat ons broers onvolmaak is, kan hulle ons soms teleurstel. ’n Onnadenkende opmerking kan ons gevoelens seermaak (Spreuke 12:18). Miskien word ’n aangeleentheid in die gemeente nie hanteer soos ons dink dit hanteer moet word nie. Die gedrag van ’n gerespekteerde broer ontstel ons dalk en laat ons wonder: ‘Hoe kan ’n Christen so optree?’ Sal ons ons weens sulke situasies aan die gemeente onttrek en Jehovah ophou dien? Nie as ons liefde het nie! Ja, liefde voorkom dat ons ons so blind staar op die tekortkominge van ’n broer dat ons niks goeds meer in hom of in die gemeente as ’n geheel kan sien nie. Liefde stel ons in staat om aan God getrou te bly en die gemeente altyd te ondersteun ongeag wat ’n ander onvolmaakte mens sê of doen. – Psalm 119:165.
Wat liefde nie is nie
15. Wat is ongepaste jaloesie, en hoe help liefde ons om hierdie verwoestende emosie te vermy?
15 “Liefde is nie jaloers nie.” Ongepaste jaloesie kan veroorsaak dat ons afgunstig raak op wat ander het – hulle besittings, voorregte of vermoëns. Hierdie jaloesie is ’n selfsugtige, verwoestende emosie wat die vrede van die gemeente kan versteur as dit nie beheers word nie. Wat sal ons help om die neiging tot afguns te weerstaan? (Jakobus 4:5). In een woord, liefde. Hierdie kosbare eienskap kan ons help om bly te wees saam met ander wat blykbaar sekere voordele in die lewe het wat ons nie het nie (Romeine 12:15). Liefde help ons om nie afgehaal te voel as iemand geprys word oor ’n besondere vermoë of uitsonderlike prestasie nie.
16. Waarom sal ons nie spog oor wat ons in Jehovah se diens doen as ons ons broers werklik liefhet nie?
16 “Liefde . . . praat nie groot nie, word nie trots nie.” Liefde weerhou ons daarvan om oor ons talente of prestasies te spog. Hoe kan ons, as ons ons broers werklik liefhet, gedurig spog oor wat ons in die bediening bereik of oor ons voorregte in die gemeente? Sulke grootpratery kan ander afbreek en hulle minderwaardig laat voel. Liefde laat ons nie spog oor wat God ons toelaat om in sy diens te doen nie (1 Korintiërs 3:5-9). Bowendien ‘word liefde nie trots nie’, of soos The New Testament in Modern English sê, dit “het nie ’n oordrewe beskouing van sy eie belangrikheid nie”. Liefde voorkom dat ons te veel van onsself dink. – Romeine 12:3.
17. Hoe sal ons ander in ag neem as ons liefde het, en watter soort gedrag sal ons dus vermy?
17 “Liefde . . . gedra hom nie ongepas nie.” Iemand wat hom ongepas gedra, tree op ’n onbetaamlike of aanstootlike wyse op. Sulke gedrag is liefdeloos, want dit toon geen agting vir die gevoelens en welsyn van ander nie. Aan die ander kant is daar ’n minsaamheid in liefde wat ons beweeg om ander in aanmerking te neem. Liefde bevorder goeie maniere, gedrag wat God goedkeur en respek vir ons medegelowiges. Liefde sal dus nie toelaat dat ons ons skuldig maak aan “skandelike gedrag” – trouens, aan enige gedrag wat ons Christenbroers sal skok of aanstoot gee nie. – Efesiërs 5:3, 4.
18. Waarom dring ’n liefdevolle persoon nie daarop aan dat alles op sy manier gedoen word nie?
18 “Liefde . . . soek nie sy eie belang nie.” Die Revised Standard Version sê hier: “Die liefde dring nie daarop aan om sy sin te kry nie.” ’n Liefdevolle persoon dring nie daarop aan dat alles op sy manier gedoen word, asof sy menings altyd reg is nie. Hy manipuleer ander nie deur sy oorredingskrag te gebruik totdat hy hulle uiteindelik kry om van mening te verander nie. Sulke eiesinnigheid openbaar ’n mate van trots, en die Bybel sê: “Trots lei tot ondergang” (Spreuke 16:18). As ons ons broers werklik liefhet, sal ons hulle beskouings respekteer en sover moontlik toon dat ons bereid is om toe te gee. ’n Toegewende gees is in ooreenstemming met Paulus se woorde: “Laat elkeen nie sy eie voordeel bly soek nie, maar dié van die ander persoon.” – 1 Korintiërs 10:24.
19. Hoe laat liefde ons reageer wanneer ander ons te na kom?
19 “Liefde . . . raak nie gou kwaad nie . . . , hou nie boek van slegte dinge wat aan hom gedoen is nie.” Die liefde raak nie gou kwaad oor wat ander sê of doen nie. Dit is weliswaar doodnatuurlik om ontsteld te raak wanneer ander ons te na kom. Maar selfs wanneer ons rede het om ons te vererg, laat liefde ons nie kwaad bly nie (Efesiërs 4:26, 27). Ons sal nie boekhou van kwetsende woorde of dade asof ons dit in ’n register skryf sodat ons dit nie sal vergeet nie. Liefde beweeg ons eerder om ons liefdevolle God na te volg. Soos ons in Hoofstuk 26 gesien het, vergewe Jehovah wanneer daar ’n grondige rede daarvoor is. Wanneer hy vergewe, vergeet hy, dit wil sê, hy hou nie daardie sondes die een of ander tyd in die toekoms teen ons nie. Is ons nie dankbaar dat Jehovah nie boekhou van die slegte dinge wat ons doen nie?
20. Hoe moet ons reageer wanneer ’n medegelowige in oortreding verstrik raak en as gevolg daarvan ly?
20 “Liefde . . . is nie bly oor onregverdigheid nie.” The New English Bible sê hier: “Die liefde . . . verlustig hom nie in ander se sondes nie.” Moffat se vertaling sê: “Die liefde is nooit bly wanneer ander verkeerd doen nie.” Die liefde skep geen behae in onregverdigheid nie; onsedelikheid is dus vir ons heeltemal onaanvaarbaar. Hoe reageer ons wanneer ’n medegelowige in sonde verstrik raak en as gevolg daarvan ly? Liefde sal keer dat ons ons daarin verbly, asof ons sê: ‘Goed so! Hy verdien dit!’ (Spreuke 17:5). Ons is egter bly wanneer ’n broer wat oortree het, stappe doen om van sy geestelike val te herstel.
“’n Weg . . . wat ver beter is as enigiets anders”
21-23. (a) Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het “liefde faal nooit nie”? (b) Wat sal in die laaste hoofstuk bespreek word?
21 “Liefde faal nooit nie.” Wat het Paulus met hierdie woorde bedoel? Soos die konteks toon, het hy die gawes van die gees bespreek wat die vroeë Christene gehad het. Hierdie gawes het gedien as tekens dat die pas gestigte gemeente God se guns geniet. Maar nie alle Christene kon genesings verrig, profeteer of in tale praat nie. Dit het egter nie saak gemaak nie; die wonderdadige gawes sou in elk geval eendag ophou. Maar iets anders sou bly, iets wat elke Christen kon aankweek. Dit was uitsonderliker, blywender as enige wonderdadige gawe. Trouens, Paulus het dit “’n weg . . . wat ver beter is as enigiets anders” genoem (1 Korintiërs 12:31). Wat was hierdie “weg . . . wat ver beter is as enigiets anders”? Dit was die weg van liefde.
22 Ja, die Christelike liefde wat Paulus beskryf het, “faal nooit nie”, dit wil sê, dit sal nooit tot ’n einde kom nie. Vandag nog identifiseer selfopofferende broederliefde Jesus se ware volgelinge. Sien ons nie bewys van hierdie liefde in die gemeentes van Jehovah se aanbidders regoor die aarde nie? Hierdie liefde sal vir ewig duur, want Jehovah belowe ewige lewe aan sy getroue knegte (Psalm 37:9-11, 29). Laat ons steeds ons bes doen om ‘aan te hou om liefde te betoon’. As ons dit doen, kan ons die groter geluk ervaar wat dit verskaf wanneer ’n mens gee. Wat meer is, ons kan vir ewig bly lewe – ja, bly liefhê – in navolging van ons liefdevolle God, Jehovah.
Jehovah se volk word geïdentifiseer deur hulle liefde vir mekaar
23 In hierdie laaste hoofstuk van die deel oor liefde het ons bespreek hoe ons liefde aan mekaar kan betoon. Maar in die lig van al die maniere waarop ons baat vind by Jehovah se liefde – asook by sy krag, geregtigheid en wysheid – kan ons ons gerus afvra: ‘Hoe kan ek vir Jehovah wys dat ek hom waarlik liefhet?’ Hierdie vraag sal in ons laaste hoofstuk bespreek word.
a Christelike liefde is natuurlik geensins goedgelowig nie. Die Bybel vermaan ons: “[Pasop] vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en ander laat struikel . . . , en vermy hulle.” – Romeine 16:17.