Die vervolger sien ’n groot lig
SAULUS het gekook van woede teenoor Jesus se volgelinge. Omdat hy nie tevrede was met die vervolging wat hulle alreeds in Jerusalem verduur het nie, wat die steniging van Stefanus ingesluit het, wou hy hê dat hulle nou nog verder verdruk moes word. “Saulus, wat nog steeds dreiging en moord teen die dissipels van die Here geblaas het, het na die hoëpriester toe gegaan en van hom briewe aan die sinagoges in Damaskus gevra, sodat hy almal wat hy sou vind wat tot Die Weg behoort, manne sowel as vroue, geboeid na Jerusalem kon bring.”—Handelinge 9:1, 2.
Terwyl Saulus na Damaskus toe geloop het, het hy seker nagedink oor hoe hy hierdie opdrag op die doeltreffendste manier kon uitvoer. Die gesag wat die hoëpriester hom gegee het, sou ongetwyfeld daartoe lei dat die leiers van die groot Joodse gemeenskap in daardie stad hom hulle samewerking gee. Saulus sou hulle hulp inroep.
Saulus het seker al hoe meer opgewonde geword namate hy sy bestemming genader het. Die reis van Jerusalem na Damaskus—’n afstand van ongeveer 220 kilometer wat sewe of agt dae te voet geduur het—was uitputtend. Omstreeks die middaguur het ’n lig wat skerper as die son was skielik rondom Saulus geflits, en hy het op die grond geval. Hy het ’n stem in Hebreeus vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy my? Om teen die prikkels te bly skop, maak dit vir jou moeilik.” “Wie is u, Here?” het Saulus gevra. “Ek is Jesus, wat jy vervolg”, het hy geantwoord. “Maar rig jou op en staan op jou voete. Want met dié doel het ek my aan jou sigbaar gemaak, om jou uit te kies as ’n dienaar en ’n getuie van dinge wat jy gesien het sowel as dinge wat ek jou aangaande my sal laat sien; terwyl ek jou verlos van hierdie volk en van die nasies, na wie ek jou stuur.” “Wat moet ek doen, Here?” het Saulus gevra. “Staan op, gaan in Damaskus in, en dáár sal jy vertel word van alles wat jou opgelê is om te doen.”—Handelinge 9:3-6; 22:6-10; 26:13-17.
Diegene wat saam met Saulus gereis het, het ’n stem gehoor, maar hulle het nie die spreker gesien of verstaan wat hy gesê het nie. Vanweë die helderheid van die lig kon Saulus nie sien toe hy opstaan nie en moes hulle hom aan die hand lei. “Hy het drie dae lank niks gesien nie, en hy het nie geëet of gedrink nie.”—Handelinge 9:7-9; 22:11.
Drie dae van bepeinsing
Judas, wat in die straat gewoon het wat Reguit genoem is, het Saulus gasvry ontvang (Handelinge 9:11).a Hierdie straat—wat in Arabies Darb al-Mustaqim genoem word—is nog steeds ’n vername deurgang in Damaskus. Stel jou net voor wat deur Saulus se gedagte gegaan het terwyl hy in Judas se huis was. Vanweë die ondervinding was Saulus blind en geskok. Nou was daar tyd om oor die implikasies daarvan te peins.
Die vervolger het te staan gekom voor wat hy as absurd verwerp het. Die Here Jesus Christus wat aan die paal genael is—veroordeel deur die hoogste Joodse gesag en “verag en deur die mense verlaat”—was lewendig. Trouens, hy is selfs deur God goedgekeur en het aan sy regterhand in “ontoeganklike lig” gestaan! Jesus was die Messias. Stefanus en die ander was reg (Jesaja 53:3; Handelinge 7:56; 1 Timoteus 6:16). Saulus was geheel en al verkeerd, want Jesus het homself vereenselwig juis met diegene wat deur Saulus vervolg is! Hoe kon Saulus met die oog op die getuienis “teen die prikkels . . . bly skop”? Selfs ’n koppige bul word uiteindelik gedwing om in die rigting te gaan wat sy eienaar wil hê hy moet gaan. As Saulus sou weier om op Jesus se aansporing te reageer, sou hy derhalwe homself benadeel.
As die Messias kon Jesus nie deur God veroordeel gewees het nie. Jehovah het nietemin toegelaat dat hy die skandelikste dood sterf en onder die veroordeling van die Wet kom: “Een wat opgehang is, is deur God vervloek” (Deuteronomium 21:23). Jesus het gesterf terwyl hy aan die folterpaal gehang het. Hy is vervloek, nie vanweë sy eie sondes nie, want hy het nie sondes gehad nie, maar vanweë die sonde van die mensdom. Saulus het later verduidelik: “Almal wat op werke van die wet staatmaak, is onder ’n vloek; want daar staan geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat nie in al die dinge bly wat in die boekrol van die Wet geskrywe staan om hulle te doen nie.’ En dat niemand deur die wet by God regverdig verklaar word nie, is duidelik . . . Christus het ons losgekoop van die vloek van die Wet deur in ons plek ’n vloek te word, want daar staan geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ’n paal gehang is.’”—Galasiërs 3:10-13.
Jesus se offerande het verlossingswaarde. Deur daardie offerande aan te neem, het Jehovah in figuurlike sin die Wet en die vloek wat daarin voorkom aan die paal genael. Toe Saulus hierdie feit begryp het, kon hy die folterpaal wat “vir die Jode ’n oorsaak tot struikeling” was as “wysheid van God” waardeer (1 Korintiërs 1:18-25; Kolossense 2:14). As redding dan nie deur werke van die wet verkry kon word nie, maar deur God se uitoefening van onverdiende goedhartigheid teenoor sondaars soos Saulus self, was dit gevolglik binne bereik vir diegene wat nie onder die Wet was nie. En Jesus het Saulus juis na die nie-Jode gestuur.—Efesiërs 3:3-7.
Ons weet nie hoeveel Saulus hiervan verstaan het ten tye van sy bekering nie. Jesus sou weer, miskien meer as een keer, met hom praat oor sy opdrag om na die nasies te gaan. Daarbenewens het etlike jare verstryk voordat Saulus dit alles onder Goddelike inspirasie neergeskryf het (Handelinge 22:17-21; Galasiërs 1:15-18; 2:1, 2). Net ’n paar dae het egter verstryk voordat Saulus verdere riglyne van sy nuwe Heer ontvang het.
’n Besoek van Ananias
Nadat Jesus aan Saulus verskyn het, het hy ook aan Ananias verskyn en vir hom gesê: “Gaan na die straat wat Reguit genoem word en soek by die huis van Judas ’n man met die naam Saulus, van Tarsus. Want kyk! hy is besig om te bid, en hy het in ’n visioen gesien hoe ’n man met die naam Ananias inkom en hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.”—Handelinge 9:11, 12.
Aangesien Ananias geweet het wie Saulus was, is dit te verstane dat hy verbaas was oor Jesus se woorde. Hy het gesê: “Here, ek het by baie van hierdie man gehoor, hoeveel skadelike dinge hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het. En hier het hy volmag van die hoofpriesters om almal wat u naam aanroep in boeie te slaan.” Maar Jesus het vir Ananias gesê: “Gaan heen, want hierdie man is vir my ’n uitverkore vat om my naam na die nasies sowel as na konings en die kinders van Israel te dra.”—Handelinge 9:13-15.
Nadat Ananias gerusgestel is, het hy na die adres gegaan wat Jesus hom gegee het. Toe Ananias Saulus gevind en gegroet het, het hy hom die hande opgelê. “En onmiddellik”, sê die verslag, “het daar iets wat soos skubbe gelyk het van [Saulus se] oë afgeval, en hy kon weer sien.” Saulus was nou gereed om te luister. Ananias se woorde het bevestig wat Saulus moontlik verstaan het toe Jesus met hom gepraat het: “Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te leer ken en die Regverdige te sien en die stem van sy mond te hoor, want jy moet by alle mense vir hom ’n getuie wees van dinge wat jy gesien en gehoor het. En waarom talm jy nou? Staan op, laat jou doop en was jou sondes af deur sy naam aan te roep.” Die gevolg? Saulus “het opgestaan en is gedoop, en hy het voedsel ingeneem en krag gekry”.—Handelinge 9:17-19; 22:12-16.
Nadat die getroue Ananias sy opdrag uitgevoer het, het hy net so vinnig van die toneel af verdwyn as wat hy verskyn het, en ons word nie verder van hom vertel nie. Maar almal wat Saulus gehoor het, was verbaas! Die voormalige vervolger, wat na Damaskus toe gekom het om Jesus se dissipels te arresteer, het in die sinagoges begin preek en bewys dat Jesus die Christus is.—Handelinge 9:20-22.
“Apostel vir die nasies”
Saulus se ontmoeting op pad na Damaskus het die vervolger in sy spore laat vassteek. Omdat Saulus besef het wie die Messias is, kon hy baie begrippe en profesieë van die Hebreeuse Geskrifte op Jesus toepas. Die wete dat Jesus aan hom verskyn het en hom “vasgegryp” het en hom die opdrag gegee het om “’n apostel vir die nasies” te wees, het Saulus se lewe ingrypend verander (Filippense 3:12; Romeine 11:13). Nou het hy as die apostel Paulus ’n voorreg en die gesag gehad wat nie net die res van sy lewe op die aarde sou raak nie, maar ook die verloop van die Christelike geskiedenis.
Jare later, toe Paulus se apostelskap betwis is, het hy sy gesag verdedig deur na sy ondervinding op die pad na Damaskus te verwys. “Is ek nie ’n apostel nie? Het ek nie Jesus, ons Here, gesien nie?” het hy gevra. En nadat hy van die verrese Jesus se verskyning aan ander melding gemaak het, het Saulus (Paulus) gesê: “Laaste van almal het hy ook aan my verskyn asof aan een wat te vroeg gebore is” (1 Korintiërs 9:1; 15:8). Dit was asof Saulus, deur sy visioen van Jesus se hemelse heerlikheid, die eer gegee is om voor die tyd tot geestelike lewe gebore, oftewel opgewek, te word.
Saulus het sy voorreg waardeer en hom ingespan om dit na te leef. “Ek is die geringste van die apostels, en ek is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het”, het hy geskryf. “Maar . . . [God se] onverdiende goedhartigheid teenoor my het nie tevergeefs geblyk nie, maar ek het meer as [al die ander apostels] gearbei.”—1 Korintiërs 15:9, 10.
Miskien onthou jy die tyd toe jy besef het dat jy, soos Saulus, jou lank gehuldigde godsdiensopvattings moes verander om God se guns te verkry. Jy was ongetwyfeld baie dankbaar dat Jehovah jou gehelp het om die waarheid te verstaan. Toe Saulus die lig gesien het en besef het wat van hom vereis word, het hy nie gehuiwer om dit te doen nie. En hy het dit met ywer en vasbeslotenheid bly doen vir die res van sy lewe op aarde. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir almal wat vandag Jehovah se guns wil hê!
[Voetnoot]
a Een geleerde meen dat Judas moontlik ’n leier van die plaaslike Joodse gemeenskap of die eienaar van ’n herberg vir Jode was.
[Prent op bladsy 27]
Die straat wat Reguit genoem word in die hedendaagse Damaskus
[Erkenning]
Foto deur ROLOC Color Slides