Vrae van lesers
Aangesien die oes amptelik begin het terwyl alle Israelitiese mans die Fees van die Ongesuurde Koeke bygewoon het, wie het die eerstelinge van die gars geoes wat na die heiligdom gebring is?
Die Mosaïese Wet het die Israeliete beveel: “Drie keer in die jaar moet almal wat manlik is onder jou, voor Jehovah jou God verskyn op die plek wat hy sal uitkies: op die fees van die ongesuurde koeke en op die fees van die weke en op die huttefees” (Deuteronomium 16:16). Sedert die tyd van koning Salomo was die tempel in Jerusalem die plek wat God uitgekies het.
Die eerste van die drie feeste is vroeg in die lente gehou. Dit is die Fees van die Ongesuurde Koeke genoem en het begin op die dag ná die viering van die Pasga op 14 Nisan en het sewe dae lank tot 21 Nisan geduur. Die tweede dag van die fees, 16 Nisan, het die begin van die eerste oes van die jaar volgens die heilige kalender aangedui. Op daardie dag moes die hoëpriester “’n gerf van die eerstelinge” van die garsoes neem en dit “voor Jehovah heen en weer beweeg” by die heiligdom (Levitikus 23:5-12). Wie het hierdie offer geoes, aangesien al die mans die Fees van die Ongesuurde Koeke moes bywoon?
Die bevel om gedurende die Fees van die Ongesuurde Koeke die eerstelinge van die oes aan Jehovah te offer, is aan die hele nasie gegee. Daar is nie van elke individu verwag om die oes te begin en die eerstelinge vir homself na die heiligdom te bring nie. Die nasie is eerder beveel om ’n gerf te bring wat die hele volk verteenwoordig het. Daarom kon ’n groep verteenwoordigers na ’n nabygeleë garsland gestuur word om die gerf vir die Fees van die Ongesuurde Koeke af te sny. Die Encyclopaedia Judaica lewer kommentaar hieroor en sê: “As die gars ryp was, is dit uit die omgewing van Jerusalem geneem; andersins kon dit elders in Israel verkry word. Dit is deur drie mans geoes, elkeen met sy eie sens en mandjie.” ’n Garsgerf sou dan na die hoëpriester gebring word, wat dit aan Jehovah geoffer het.
Die vereiste om die eerstelinge van die oes te offer, het die Israeliete ’n uitstekende geleentheid gebied om hulle waardering te toon vir God se seën op hulle land en die oes (Deuteronomium 8:6-10). Maar dit is nie al nie; die seremoniële offers was “’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge” (Hebreërs 10:1). Interessant genoeg, Jesus Christus is opgewek op 16 Nisan 33 G.J., die dag waarop die eerstelinge van die oes aan Jehovah geoffer is. Die apostel Paulus het aangaande Jesus geskryf: “Christus [is] uit die dode opgewek, die eersteling van dié wat ontslaap het. . . . Maar elkeen in sy eie rangorde: Christus, die eersteling, daarna dié wat aan die Christus behoort gedurende sy teenwoordigheid” (1 Korintiërs 15:20-23). Die gerf van eerstelinge wat die hoëpriester heen en weer voor Jehovah beweeg het, het die verrese Jesus Christus afgebeeld—die eerste een wat uit die dode tot ewige lewe opgewek is. Jesus het dus die weg gebaan vir die bevryding van die mensdom uit sonde en die dood.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
© 2003 BiblePlaces.com