Bybelboek nommer 46—1 Korinthiërs
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Efese
Geskrif voltooi: ca. 55 G.J.
1. Watter soort stad was Korinthe in Paulus se dag?
KORINTHE was “’n vermaarde en wellustige stad, waar die euwels van die Ooste en die Weste mekaar ontmoet het”.a Korinthe, wat op die smal landengte tussen die Peloponnesus en die vasteland van Griekeland geleë was, het die landroete na die vasteland beheers. In die apostel Paulus se dag is die stad se bevolking van nagenoeg 400 000 slegs deur Rome, Alexandrië en Siriese Antiochië oortref. Oos van Korinthe het die Egeïese See gelê en aan die westekant die Golf van Korinthe en die Ioniese See. Korinthe, die hoofstad van die provinsie Achaje, met sy twee hawens Kenchreë en Lecheum, het dus op kommersiële gebied ’n posisie van strategiese belang gehad. Dit was ook ’n sentrum van Griekse geleerdheid. “Die stad se rykdom”, is daar gesê, “was so beroemd dat dit spreekwoordelik geword het; dit was ook die geval met die verdorwenheid en losbandigheid van sy inwoners.”b Die aanbidding van Aphrodite (teenhanger van die Romeinse Venus) was een van die heidense godsdiensgebruike aldaar. Wellus was ’n produk van Korinthiese aanbidding.
2. Hoe is die Korinthiese gemeente gestig, en watter band was daar gevolglik tussen Paulus en die gemeente?
2 Dit was na hierdie florerende dog sedelik vervalle metropolis van die Romeinse wêreld dat die apostel Paulus in omstreeks 50 G.J. gereis het. Gedurende sy verblyf van 18 maande is ’n Christengemeente aldaar gestig (Hand. 18:1-11). Hoe lief was Paulus tog vir hierdie gelowiges aan wie hy aanvanklik die goeie nuus oor Christus gebring het! Hy het hulle per brief herinner aan die geestelike band wat bestaan het en gesê: “Want al sou julle tienduisend tugmeesters in Christus hê, dan het julle tog nie baie vaders nie; want in Christus Jesus het ek julle vader geword deur die evangelie.”—1 Kor. 4:15.
3. Wat het Paulus beweeg om sy eerste brief aan die Korinthiërs te skryf?
3 Diepe besorgdheid oor die geestelike welsyn van die Korinthiese Christene het Paulus beweeg om gedurende sy derde sendingreis sy eerste brief aan hulle te skryf. ’n Paar jaar het verstryk sedert hy in Korinthe gewoon het. Dit was nou omstreeks 55 G.J. en Paulus was in Efese. Hy het blykbaar ’n brief van die betreklik nuwe gemeente in Korinthe ontvang, en dit moes beantwoord word. Paulus het boonop verontrustende berigte ontvang (7:1; 1:11; 5:1; 11:18). Dié was so onrusbarend dat die apostel eers in die openingsvers van hoofstuk 7 van sy brief verwys het na hulle brief waarin hulle verskillende dinge gevra het. Veral as gevolg van die berigte wat hy ontvang het, het Paulus hom genoodsaak gevoel om aan sy mede-Christene in Korinthe te skryf.
4. Wat bewys dat Paulus Eerste Korinthiërs in Efese geskryf het?
4 Maar hoe weet ons dat Paulus Eerste Korinthiërs in Efese geskryf het? In die eerste plek sluit die apostel die groete van Aquila en Priscilla in wanneer hy die brief met groete afsluit (16:19). Handelinge 18:18, 19 toon dat hulle van Korinthe na Efese verhuis het. Aangesien Aquila en Priscilla daar gewoon en Paulus hulle in die slotgroete van Eerste Korinthiërs ingesluit het, moes hy in Efese gewees het toe hy die brief geskryf het. ’n Punt wat egter alle onsekerheid uit die weg ruim, is Paulus se verklaring in 1 Korinthiërs 16:8: “Maar ek sal in Efese bly tot Pinkster toe.” Paulus het Eerste Korinthiërs dus in Efese geskryf, blykbaar teen die einde van sy verblyf daar.
5. Waardeur word die egtheid van die briewe aan die Korinthiërs gestaaf?
5 Die egtheid van Eerste Korinthiërs, asook van Tweede Korinthiërs, is onbetwisbaar. Hierdie briewe is deur die vroeë Christene aan Paulus toegeskryf en as kanoniek aanvaar, en hulle het dit in hulle versamelings opgeneem. Trouens, daar word gesê dat ’n brief uit Rome aan Korinthe wat uit omstreeks 95 G.J. dateer en Eerste Clemens genoem is ten minste ses toespelinge op en aanhalings uit Eerste Korinthiërs bevat het. Blykbaar met verwysing na Eerste Korinthiërs het die skrywer die ontvangers van hierdie brief aangespoor om “die brief van die geseënde Paulus, die apostel, te hande te neem”.c Justinus Martyr, Athenagoras, Ireneus en Tertullianus haal ook regstreeks uit Eerste Korinthiërs aan. Daar is kragtige bewyse dat ’n corpus, of versameling, van Paulus se briewe, met inbegrip van Eerste en Tweede Korinthiërs, “in die laaste dekade van die eerste eeu saamgestel en uitgegee is”.d
6. Watter probleme het in die Korinthiese gemeente bestaan, en veral waarin het Paulus belanggestel?
6 Paulus se eerste brief aan die Korinthiërs bied ons ’n geleentheid om ’n kykie in die Korinthiese gemeente self te kry. Hierdie Christene het probleme gehad wat opgelos en vrae wat beantwoord moes word. Daar was verdeeldheid in die gemeente, want party het mense gevolg. ’n Skokkende geval van geslagsonsedelikheid het voorgekom. Party het in godsdienstig verdeelde huise gelewe. Moet hulle by hulle ongelowige huweliksmaat bly of hom/haar verlaat? En wat van vleis wat aan afgode geoffer is? Mag hulle daarvan eet? Die Korinthiërs het raad nodig gehad oor die hou van hulle vergaderinge, met inbegrip van die viering van die Here se Aandmaal. Wat moet vroue se posisie in die gemeente wees? Dan was daar ook diegene in hulle midde wat die opstanding geloën het. Daar was baie probleme. Die apostel het egter veral daarin belanggestel om die Korinthiërs se geestelike toestand te herstel.
7. Met watter gesindheid moet ons Eerste Korinthiërs ondersoek, en waarom?
7 Omdat toestande in die gemeente en die milieu daarbuite in eertydse Korinthe, met sy welvaart en losbandigheid, hedendaagse parallelle het, eis Paulus se voortreflike raad wat onder inspirasie opgeteken is ons aandag. Wat Paulus gesê het, is so ryk aan betekenis vir ons dag dat ’n peinsende ondersoek van sy eerste brief aan sy geliefde broers en susters in Korinthe inderdaad nuttig sal wees. Stel jou nou die gees van die tyd en plek voor. Dink diep na, soos die Korinthiese Christene moes gedoen het, terwyl ons die indringende, besielende, geïnspireerde woorde van Paulus aan sy medegelowiges in eertydse Korinthe hersien.
INHOUD VAN EERSTE KORINTHIËRS
8. (a) Hoe stel Paulus die dwaasheid van ’n sektegees in die gemeente aan die kaak? (b) Wat is nodig om die dinge van God te verstaan, soos Paulus toon?
8 Paulus stel ’n sektegees aan die kaak, maan tot eenheid (1:1–4:21). Paulus het goeie wense vir die Korinthiërs. Maar wat van die verdeeldheid, die onenigheid, onder hulle? “Is Christus verdeel?” (1:13). Die apostel is dankbaar dat hy so min van hulle gedoop het, sodat hulle nie kan sê dat hulle in sy naam gedoop is nie. Paulus verkondig Christus wat aan die paal gehang is. Dit is ’n rede tot struikeling vir die Jode en dwaasheid vir die nasies. Maar God het die dwase en swak dinge van die wêreld uitverkies om die wyses en sterkes te beskaam. Paulus gebruik dus nie ’n oormaat woorde nie, maar laat die broers die gees en krag van God deur sy woorde sien, sodat hulle geloof nie in die wysheid van mense is nie, maar in God se krag. Ons spreek die dinge wat deur God se gees geopenbaar is, sê Paulus, “want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God”. Hierdie dinge kan nie deur die fisiese mens verstaan word nie maar net deur die geestelike mens.—2:10.
9. Deur watter argument bewys Paulus dat niemand op mense moet roem nie?
9 Hulle volg mense—sommige Apollos, sommige Paulus. Maar wie is hierdie manne? Slegs dienaars deur wie die Korinthiërs gelowiges geword het. Diegene wat plant en natmaak, is niks nie, want “God het laat groei” en hulle is sy “medewerkers”. Die vuurproef sal bewys wie se werke duursaam is. Paulus sê vir hulle: “Julle [is] ’n tempel van God” in wie Sy gees woon. “Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.” Laat niemand dus op mense roem nie, want alles behoort inderdaad aan God.—3:6, 9, 16, 19.
10. Waarom is dit vir die Korinthiërs onvanpas om te roem, en watter stappe doen Paulus om die situasie reg te stel?
10 Paulus en Apollos is nederige bedienaars van God se heilige geheime, en bedienaars moet getrou bevind word. Wie is die broers in Korinthe om te roem, en wat het hulle wat hulle nie ontvang het nie? Het hulle ryk geword, as konings begin heers en so verstandig en sterk geword terwyl die apostels, wat ’n skouspel vir die engele sowel as die mense geword het, nog dwaas en swak is, die afskraapsel van alles? Paulus stuur Timotheüs om hulle te help om sy metodes in verband met Christus te onthou en sy navolgers te word. As Jehovah wil, sal Paulus self binnekort kom en nie net die woorde van diegene wat opgeblase is nie, maar hulle krag, te wete kom.
11. Watter onsedelikheid het onder hulle ontstaan, wat moet daaromtrent gedoen word, en waarom?
11 Oor die reinheid van die gemeente (5:1–6:20). ’n Skokkende geval van onsedelikheid is onder die Korinthiërs aangemeld! ’n Man het sy vader se vrou geneem. Hy moet aan Satan oorgelewer word, want ’n bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur. Hulle moenie langer omgaan met iemand wat ’n broer genoem word en goddeloos is nie.
12. (a) Watter argument voer Paulus aan oor regsgedinge tussen broers? (b) Waarom sê Paulus: “Vlug vir die hoerery”?
12 Die Korinthiërs neem mekaar dan selfs hof toe! Sou dit nie beter wees as hulle hulle laat berowe nie? Kan hulle nie iemand onder hulle vind om tussen broers te oordeel nie, aangesien hulle die wêreld en engele gaan oordeel? Bowendien moet hulle rein wees, want hoereerders, afgodedienaars en dies meer sal nie God se Koninkryk beërwe nie. Dit was sommige van hulle, maar hulle is rein gewas en geheilig. “Vlug vir die hoerery”, sê Paulus. “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam.”—6:18, 20.
13. (a) Waarom raai Paulus party aan om te trou? Maar wat moet hulle doen as hulle eers getroud is? (b) In watter opsig doen die ongetroude persoon “beter”?
13 Raad oor die ongehude staat en die huwelik (7:1-40). Paulus beantwoord ’n vraag oor die huwelik. Omdat hoerery so algemeen voorkom, is dit moontlik raadsaam vir ’n man of ’n vrou om getroud te wees, en die getroudes moet mekaar nie die huweliksregte ontsê nie. Dit is goed vir die ongetroudes en die weduwees om, soos Paulus, ongetroud te bly; maar laat hulle trou as hulle nie selfbeheersing het nie. As hulle eers getroud is, moet hulle bymekaar bly. Selfs as iemand se huweliksmaat ’n ongelowige is, moet die gelowige nie weggaan nie, want sodoende kan die gelowige dalk die ongelowige huweliksmaat red. Wat die besnydenis en slawerny betref, moet almal tevrede wees om te bly in die staat waarin hulle geroep is. Die getroude persoon is verdeeld, want hy wil die goedkeuring van sy huweliksmaat verkry, terwyl die ongetroude persoon net oor die dinge van die Here besorg is. Diegene wat trou, sondig nie, maar diegene wat nie trou nie, “doen beter”.—7:38.
14. Wat sê Paulus oor “gode” en “here”, maar wanneer is dit verstandig om nie voedsel te eet wat aan afgode geoffer is nie?
14 Doen alles ter wille van die goeie nuus (8:1–9:27). Wat van voedsel wat aan afgode geoffer is? ’n Afgod is niks! Daar is baie “gode” en “here” in die wêreld, maar vir die Christen is daar slegs “een God, die Vader”, en “een Here Jesus Christus” (8:5, 6). Tog kan iemand aanstoot neem as hy jou vleis sien eet wat aan ’n afgod geoffer is. Onder hierdie omstandighede, maan Paulus, moet jy dit nie eet nie sodat jy nie jou broer laat struikel nie.
15. Hoe gaan Paulus in die bediening te werk?
15 Paulus ontsê hom baie dinge ter wille van die bediening. As ’n apostel het hy die reg om ‘van die evangelie te lewe’, maar hy het dit nie gedoen nie. Dwang is hom egter opgelê om te preek; trouens, hy sê: “Wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” Hy het hom dus ’n slaaf van almal gemaak deur ‘vir almal alles te word’ sodat hy ‘in alle geval dalk sommige sal red’, en hy doen alles “ter wille van die evangelie”. Om die wedstryd en die onverganklike kroon te wen, kasty hy sy liggaam sodat hy nie, nadat hy vir ander gepreek het, “self verwerplik sou wees nie”.—9:14, 16, 19, 22, 23, 27.
16. (a) In watter opsig is die “vaders” ’n waarskuwing vir Christene? (b) Hoe kan Christene, wat afgodediens betref, alles tot verheerliking van God doen?
16 Waarskuwing teen skadelike dinge (10:1-33). Wat van die “vaders”? Hulle was onder die wolk en is in Moses gedoop. Die meeste van hulle het nie God se goedkeuring verkry nie, maar is in die woestyn neergeslaan. Waarom? Hulle het skadelike dinge begeer. Christene moet dit as ’n waarskuwing beskou en hulle nie aan afgodery en hoerery skuldig maak nie, Jehovah nie beproef nie en nie murmureer nie. Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Daar sal versoekings kom, maar God sal nie toelaat dat sy knegte bo hulle kragte versoek word nie; hy sal ’n uitweg voorsien sodat hulle dit kan verduur. “Daarom”, skryf Paulus, “vlug vir die afgodediens” (10:1, 14). Ons kan nie deel hê aan die tafel van Jehovah en die tafel van die demone nie. As jy in ’n huis eet, moet jy egter nie uitvra oor waar die vleis vandaan kom nie. Maar as iemand jou meedeel dat dit aan afgode geoffer is, moet jy dit ter wille van sy gewete nie eet nie. “Doen alles tot verheerliking van God”, skryf Paulus.—10:31.
17. (a) Watter beginsel oor hoofskap sit Paulus uiteen? (b) Hoe verbind hy die kwessie van verdeeldheid in die gemeente met ’n bespreking van die Here se Aandmaal?
17 Hoofskap; die Here se Aandmaal (11:1-34). “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is”, sê Paulus, en dan sit hy die goddelike hoofskapbeginsel uiteen: Die hoof van die vrou is die man, die hoof van die man is Christus, die hoof van Christus is God. Daarom moet die vrou “ ’n aanduiding van gesag” op haar hoof hê wanneer sy in die gemeente bid of profeteer. Paulus kan die Korinthiërs nie prys nie, want daar heers verdeeldheid onder hulle wanneer hulle vergader. Hoe kan hulle in hierdie toestand gepas aan die Here se Aandmaal deel hê? Hy gee ’n oorsig van wat plaasgevind het toe Jesus die herdenking van sy dood ingestel het. Elkeen moet homself ondersoek voor hy daaraan deelneem, sodat hy nie ’n oordeel oor homself bring omdat hy nie “die liggaam” onderskei nie.—11:1, 10, 29.
18. (a) Waarom moet daar geen verdeeldheid in die liggaam wees nie, hoewel daar ’n verskeidenheid van gawes en bedieninge is? (b) Waarom is die liefde die uitnemendste?
18 Geestelike gawes; liefde en die najaging daarvan (12:1–14:40). Daar is ’n verskeidenheid van geestelike gawes, dog dieselfde gees; ’n verskeidenheid van bedieninge en werkinge, dog dieselfde Here en dieselfde God. Daar is eweneens baie lede in die een verenigde liggaam van Christus, waarin elke lid die ander nodig het, net soos in die menseliggaam. God het elke lid in die liggaam geplaas soos dit Hom behaag, en elkeen het sy werk om te doen sodat “daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie” (12:25). Diegene wat geestelike gawes gebruik, is niks sonder die liefde nie. Die liefde is lankmoedig en vriendelik, nie jaloers nie, nie opgeblase nie. Dit is slegs bly saam met die waarheid. “Die liefde vergaan nimmermeer” (13:8). Geestelike gawes, soos profesieë en tale, sal weggedoen word, maar geloof, hoop en liefde bly. Die grootste hiervan is die liefde.
19. Watter raad gee Paulus vir die opbouing van die gemeente en vir die ordelike verloop van dinge?
19 “Jaag die liefde na”, vermaan Paulus. Geestelike gawes moet in liefde gebruik word tot opbouing van die gemeente. Om hierdie rede is dit verkiesliker om te profeteer as om in tale te spreek. Hy sou liewer vyf woorde met verstand spreek om ander te onderrig as tienduisend in ’n onbekende taal. Tale is ’n teken vir die ongelowiges, maar profesieë is vir die gelowiges. Hulle moet nie “kinders” wees in hulle begrip van hierdie sake nie. Wat vroue betref, hulle moet in die gemeente onderworpe wees. “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.”—14:1, 20, 40.
20. (a) Watter bewyse voer Paulus aan van Christus se opstanding? (b) In watter volgorde vind die opstanding plaas, en watter vyande word onderwerp?
20 Die sekerheid van die opstandingshoop (15:1–16:24). Die verrese Christus het aan Cefas, aan die 12, aan meer as 500 broers tegelyk, aan Jakobus, aan die apostels en laastelik aan Paulus verskyn. ‘As Christus nie opgewek is nie’, skryf Paulus, ‘is ons prediking en geloof tevergeefs’ (15:14). Elkeen word in sy eie orde opgewek, Christus as eersteling, daarna diegene wat gedurende sy teenwoordigheid aan hom behoort. Ten slotte gee hy die Koninkryk aan sy Vader oor nadat al die vyande onder sy voete gestel is. Selfs die dood, die laaste vyand, word tot niet gemaak. Van watter nut is dit vir Paulus om gedurig in doodsgevaar te verkeer as daar geen opstanding is nie?
21. (a) Hoe word diegene wat God se Koninkryk sal beërwe, opgewek? (b) Watter heilige geheim openbaar Paulus, en wat sê hy oor oorwinning oor die dood?
21 Maar hoe word die dode opgewek? Voor die liggaam van ’n plant kan ontwikkel, moet die gesaaide korrel sterf. Dieselfde geld vir die opstanding van die dode. “’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. . . . Vlees en bloed [kan] die koninkryk van God nie . . . beërwe nie” (15:44, 50). Paulus vertel ’n heilige geheim: Nie almal sal ontslaap nie, maar gedurende die laaste basuin sal hulle in ’n oogwink verander word. Wanneer dit wat sterflik is met onsterflikheid beklee word, sal die dood vir ewig verslind word. “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” Paulus roep uit die grond van sy hart uit: “Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.”—15:55, 57.
22. Watter raad en vermaning gee Paulus ten slotte?
22 Ten slotte gee Paulus raad oor die ordelike insameling van die bydraes wat na Jerusalem gestuur sal word om behoeftige broers te help. Hy vertel van sy komende besoek via Macedonië en gee te kenne dat Timotheüs en Apollos hulle dalk ook sal besoek. “Waak”, vermaan Paulus. “Staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. Laat alles by julle in liefde geskied” (16:13, 14). Paulus stuur die groete van die gemeentes in Asië, en dan skryf hy met sy eie hand ’n laaste groet waarin hy sy liefde oordra.
WAAROM NUTTIG
23. (a) Hoe illustreer Paulus die rampspoedige gevolge van verkeerde begeertes en selfversekerdheid? (b) Na watter gesag verwys Paulus wanneer hy raad gee oor die Here se Aandmaal en gepaste voedsel?
23 Hierdie brief van die apostel Paulus is baie nuttig om ons begrip te vergroot van die Hebreeuse Geskrifte, waaruit dit dikwels aanhaal. In die tiende hoofstuk wys Paulus daarop dat die Israeliete onder Moses uit ’n geestelike rots gedrink het, wat die Christus afgebeeld het (1 Kor. 10:4; Num. 20:11). Vervolgens bespreek hy die rampspoedige gevolge wanneer skadelike dinge begeer word, soos toegelig deur die Israeliete onder Moses, en hy voeg by: “Al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.” Laat ons nooit selfversekerd word en dink dat ons nie kan val nie! (1 Kor. 10:11, 12; Num. 14:2; 21:5; 25:9). Hy gebruik weer eens ’n illustrasie uit die Wet. Hy praat van die gemeenskapsoffers in Israel om te toon hoe deelnemers aan die Here se Aandmaal op waardige wyse aan die tafel van Jehovah deel moet hê. Dan haal hy Psalm 24:1 aan ter stawing van sy argument dat dit gepas is om enigiets te eet wat in die vleismark verkoop word: “Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.”—1 Kor. 10:18, 21, 26; Ex. 32:6; Lev. 7:11-15.
24. Watter ander verwysings maak Paulus na die Hebreeuse Geskrifte ter ondersteuning van sy argumente?
24 Wanneer Paulus die voortreflikheid toon van “wat God berei het vir die wat Hom liefhet” en die vergeefsheid van “die gedagtes van die wyse mense” van hierdie wêreld, gebruik hy weer die Hebreeuse Geskrifte (1 Kor. 2:9; 3:20; Jes. 64:4; Ps. 94:11). As gesag vir sy instruksies in hoofstuk 5 oor die uitsetting van die oortreder haal hy Jehovah se wet aan dat ‘die kwaad uit jou midde uitgeroei moet word’ (Deut. 17:7). Waar hy sy reg bespreek om van die bediening te lewe, verwys Paulus weer eens na die Wet van Moses, wat gesê het dat werkende diere nie gemuilband mag word om te voorkom dat hulle eet nie en dat die Leviete in tempeldiens hulle deel van die altaar af moes ontvang.—1 Kor. 9:8-14; Deut. 25:4; 18:1.
25. Wat is enkele van die uitsonderlike punte van nuttige onderrig in Eerste Korinthiërs?
25 Watter voordele in die vorm van geïnspireerde onderrig het ons tog uit Paulus se eerste brief aan die Korinthiese Christene ontvang! Dink na oor die raad wat gegee is dat daar geen verdeeldheid moet wees nie en dat mense nie gevolg moet word nie (Hoofstukke 1-4). Dink aan die geval van onsedelikheid en hoe Paulus die noodsaaklikheid vir deugsaamheid en reinheid in die gemeente beklemtoon het (Hoofstukke 5, 6). Beskou sy geïnspireerde raad oor die ongehude staat, die huwelik en die skeiding van huweliksmaats (Hoofstuk 7). Dink aan die apostel se bespreking van voedsel wat aan afgode geoffer is en hoe kragtig hy beklemtoon het dat Christene moet waak dat hulle ander nie laat struikel of self in afgodery verval nie (Hoofstukke 8-10). Vermaning oor gepaste onderworpenheid, ’n bespreking van geestelike gawes, daardie uiters praktiese bespreking oor die uitnemendheid van duursame, onfeilbare liefde—ook hierdie dinge is die een na die ander bespreek. En hoe goed het die apostel tog die nodigheid van ordelikheid in Christenvergaderinge beklemtoon! (Hoofstukke 11-14). Wat ’n wonderlike verdediging van die opstanding het hy tog onder inspirasie opgeteken! (Hoofstuk 15). Dit alles en nog meer het voor die geestesoog verbygegaan—en dit is so waardevol vir Christene in ons dag!
26. (a) Watter werk, wat lank tevore voorspel is, verrig die verrese Christus wanneer hy as Koning regeer? (b) Watter kragtige aanmoediging gee Paulus op grond van die opstandingshoop?
26 Hierdie brief dra in groot mate by tot ons begrip van die glorieryke Bybeltema, naamlik die Koninkryk van God. Dit gee ’n sterk waarskuwing dat onregverdiges nie die Koninkryk sal ingaan nie, en dit noem baie van die verdorwenhede wat iemand sou diskwalifiseer (1 Kor. 6:9, 10). Maar bowenal verklaar dit die verband tussen die opstanding en God se Koninkryk. Dit wys dat Christus, “die eersteling” van die opstanding, “as koning [moet] heers totdat [God] al sy vyande onder sy voete gestel het”. Dan, wanneer hy al die vyande, met inbegrip van die dood, onderwerp het, gee ‘hy die koninkryk aan God die Vader oor, sodat God alles in almal kan wees’. Laastelik verbrysel Christus, saam met Sy verrese geestelike broers, die Slang se kop finaal, ter vervulling van die Koninkryksbelofte wat in Eden gemaak is. Hoe heerlik tog is die vooruitsig op die opstanding vir diegene wat saam met Christus Jesus in die hemelse Koninkryk onverganklikheid deelagtig sal word. Dit is op grond van die opstandingshoop dat Paulus vermaan: “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”—1 Kor. 15:20-28, 58; Gen. 3:15; Rom. 16:20.
[Voetnote]
a Halley’s Bible Handbook, 1988, H. H. Halley, bladsy 593.
b Smith se Dictionary of the Bible, 1863, Dl. 1, bladsy 353.
c The Interpreter’s Bible, Dl. 10, 1953, bladsy 13.
d The Interpreter’s Bible, Dl. 9, 1954, bladsy 356.