Die huwelik en ouerskap in hierdie tyd van die einde
“Die oorblywende tyd is kort.”—1 KOR. 7:29.
1. (a) Watter huidige veranderinge is van die dinge wat “moeilik is om deur te kom”? (b) Waarom is veranderende gesinswaardes vir ons van belang?
GOD se Woord het voorspel dat “die tyd van die einde” gekenmerk sou word deur oorloë, aardbewings, hongersnood en pessiektes (Dan. 8:17, 19; Luk. 21:10, 11). Die Bybel het ook gewaarsku dat hierdie beslissende tydperk in die mensegeskiedenis ’n tyd van groot maatskaplike veranderinge sou wees. Omwentelinge in die gesinslewe sou van die dinge wees wat “moeilik is om deur te kom” in hierdie kritieke “laaste dae” (2 Tim. 3:1-4). Waarom is hierdie veranderinge vir ons van belang? Omdat dit so wydverspreid en so kragtig is dat dit ’n invloed kan hê op hoe Christene vandag die huwelik en ouerskap beskou. In watter opsig?
2. Hoe beskou die wêreld oor die algemeen die huwelik en egskeiding?
2 Om te skei, is vandag maklik en iets algemeens, en in baie lande neem die egskeidingsyfer toe. Maar ons moet goed in gedagte hou dat Jehovah God ’n heeltemal ander beskouing van die huwelik en egskeiding het as wat algemeen aanvaar word in die wêreld om ons. Wat is Jehovah se beskouing dan?
3. Hoe beskou Jehovah en Jesus Christus die huwelik?
3 Jehovah God verwag van huweliksmaats om getrou te bly aan hulle huweliksgelofte. Toe hy die eerste man en vrou in die eg verbind het, het Jehovah gesê: “’n Man . . . sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word.” Jesus Christus het hierdie woorde later herhaal en bygevoeg: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.” Jesus het verder gesê dat “elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, egbreuk pleeg” (Gen. 2:24; Matt. 19:3-6, 9). Jehovah en Jesus beskou die huwelik dus as ’n lewenslange verbintenis wat slegs eindig wanneer een van die maats sterf (1 Kor. 7:39). Aangesien die huwelik ’n heilige reëling is, moet egskeiding nie lig opgeneem word nie. Trouens, God se Woord sê dat Jehovah ’n egskeiding wat geen skriftuurlike grondslag het nie, haat.a—Lees Maleagi 2:13-16; 3:6.
’n Verantwoordelike beskouing van die huwelik
4. Waarom is party jong Christene spyt dat hulle oorhaastig getrou het?
4 Die goddelose wêreld waarin ons lewe, is behep met seks. Ons word elke dag gebombardeer met sensuele beelde. Ons kan nie die uitwerking ignoreer wat dit op ons, en veral op ons geliefde jongmense in die gemeente, kan hê nie. Hoe moet jong Christene reageer op hierdie skadelike invloed, wat selfs teen hulle sin seksuele begeertes in hulle kan wek? Party het dit probeer te bowe kom deur baie jonk te trou. Hulle het sodoende geslagsonsedelikheid probeer vermy. Maar kort voor lank was party spyt oor hierdie besluit. Waarom? Toe die getroude lewe nie meer ’n nuwigheid was nie, het hulle besef dat hulle en hulle huweliksmaat min in gemeen het wat alledaagse dinge betref. Dit is te verstane dat sulke paartjies dan voor ’n groot uitdaging te staan kom.
5. Wat sal paartjies help om hulle huweliksgelofte na te kom? (Sien ook voetnoot.)
5 Om getroud te wees met iemand—selfs ’n mede-Christen—wat op die ou end baie anders is as wat jy verwag het, kan beslis ’n uitdaging wees (1 Kor. 7:28). Maar ongeag hoe moeilik die situasie is, ware Christene weet dat ’n onskriftuurlike egskeiding nie ’n aanvaarbare oplossing is vir die probleme wat met ’n ongelukkige huwelik gepaardgaan nie. Diegene wat hulle dus voortdurend daarop toelê om ’n sukses van hulle huwelik te maak omdat hulle hulle huweliksgelofte wil nakom, verdien die respek en liefdevolle hulp van die Christengemeente.b
6. Hoe moet jong Christene die vooruitsig beskou om te trou?
6 Is jy jonk en nog ongetroud? Hoe moet jy dan die vooruitsig beskou om te trou? Jy kan baie hartseer vermy as jy wag totdat jy fisies, verstandelik en geestelik gereed is om te trou voordat jy ’n romantiese verhouding met ’n Christen van die teenoorgestelde geslag aanknoop. Die Skrif sê natuurlik nie spesifiek hoe oud ’n mens moet wees om te trou nie.c Maar die Bybel toon wel dat dit goed is om te wag totdat jy verby die leeftyd is waartydens seksuele gevoelens baie sterk is (1 Kor. 7:36). Waarom? Omdat sterk seksuele gevoelens goeie oordeel kan vertroebel en jou onwyse besluite kan laat neem wat later hartseer tot gevolg kan hê. Onthou, Jehovah se wyse raad oor die huwelik in die Bybel is tot jou voordeel en geluk.—Lees Jesaja 48:17, 18.
Verantwoordelike ouerskap
7. Wat gebeur met party jong paartjies, en waarom kan dit druk op die huwelik plaas?
7 Party paartjies wat jonk trou, bevind hulle in die situasie dat hulle ’n kind verwag terwyl hulle self nog so te sê tieners is. Hulle het nog nie werklik tyd gehad om mekaar behoorlik te leer ken voor die koms van die baba nie, wat 24 uur per dag aandag verg. Wanneer die pasgebore baba natuurlikerwys die meeste van die ma se aandag kry, voel die jong man miskien jaloers. Wat meer is, slapelose nagte kan spanning en stres veroorsaak wat druk op die paartjie se verhouding plaas. Hulle besef skielik dat hulle baie van hulle vryheid verloor het. Hulle kan nou nie meer so vryelik soos voorheen uitgaan of dinge doen nie. Hoe moet hulle die verandering in hulle situasie beskou?
8. As wat moet ouerskap beskou word, en waarom?
8 Net soos die huwelik op ’n verantwoordelike manier aangepak moet word, moet ouerskap as ’n godgegewe verantwoordelikheid en voorreg beskou word. Ongeag watter aanpassings die koms van ’n baba in die lewe van ’n Christenegpaar vereis, hulle moet hulle bes doen om dit op ’n verantwoordelike wyse te hanteer. Aangesien Jehovah mense die vermoë gegee het om kinders voort te bring, moet ouers die pasgebore baba as “’n erfdeel van Jehovah” beskou (Ps. 127:3). ’n Christenmoeder en -vader sal daarna streef om hulle pligte as “ouers in eenheid met die Here” na te kom.—Ef. 6:1.
9. (a) Wat behels dit om ’n kind groot te maak? (b) Wat kan die man doen om sy vrou te help om geestelik sterk te bly?
9 Om ’n kind groot te maak, behels jare van selfopoffering. Dit is ’n projek wat baie tyd en energie in beslag neem. ’n Christenman moet besef dat sy vrou waarskynlik ná die geboorte van ’n baba ’n paar jaar lank nie haar volle aandag by die vergaderinge sal kan bepaal nie en dalk minder tyd sal hê vir persoonlike Bybelstudie en bepeinsing. Dit kan ’n negatiewe uitwerking op haar geestelikheid hê. Verantwoordelike ouerskap vereis dat die man alles doen wat hy redelikerwys kan om te help om na die kind te kyk. Hy kan probeer vergoed vir wat sy vrou nie by die vergaderinge hoor nie deur later by die huis van die gedagtes met haar te bespreek. Hy kan ook help om na die baba te kyk om sy vrou ’n geleentheid te gee om ’n betekenisvolle aandeel aan die Koninkrykspredikingswerk te hê.—Lees Filippense 2:3, 4.
10, 11. (a) Hoe word kinders in die “verstandsregulering van Jehovah” opgevoed? (b) Waarom verdien baie Christenouers lof?
10 Verantwoordelike ouerskap behels baie meer as om ’n kind van voedsel, klere, onderdak en gesondheidsorg te voorsien. Veral in hierdie gevaarlike tyd van die einde moet kinders van kleintyd af die sedelike beginsels leer waarvolgens hulle moet lewe. Kinders moet opgevoed word “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” (Ef. 6:4). Hierdie “verstandsregulering” behels dat Jehovah se gedagtes van kleins af en deur die kritieke tienerjare heen in die verstand van ’n kind ingeprent moet word.—2 Tim. 3:14, 15.
11 Toe Jesus vir sy volgelinge gesê het dat hulle “dissipels van mense van al die nasies [moet maak]”, het hy baie beslis bedoel dat ouers hulle kinders moet help om dissipels te word (Matt. 28:19, 20). Dit is ’n uitdaging weens die druk wat hierdie wêreld op jongmense plaas. Ouers wat daarin slaag om hulle kinders groot te maak om toegewyde Christene te word, verdien dus waarlik die hartlike lof van almal in die gemeente. Hulle het die wêreld se invloed “oorwin” deur hulle geloof en hulle getrouheid as verantwoordelike ouers.—1 Joh. 5:4.
Ongetroud of kinderloos vir ’n edele doel
12. Waarom besluit party Christene om ’n tyd lank ongetroud te bly?
12 Omdat ‘die oorblywende tyd kort is’ en ‘die toneel van hierdie wêreld aan die verander is’, spoor God se Woord ons aan om die voordele van die ongetroude lewe te oorweeg (1 Kor. 7:29-31). Party Christene verkies dus om glad nie te trou nie of besluit om ’n aantal jare te wag voordat hulle trou. Dit is prysenswaardig dat hulle nie die vryheid wat die ongetroude lewe bied, gebruik om selfsugtige belange na te jaag nie. Baie bly ongetroud sodat hulle Jehovah kan dien “sonder om afgelei te word”. (Lees 1 Korintiërs 7:32-35.) Party ongetroude Christene dien as pioniers of Betheliete. ’n Aantal wil graag nuttiger vir Jehovah se organisasie wees deur te kwalifiseer om die Bedieningsopleidingskool by te woon. Trouens, diegene wat ’n tyd lank as voltydse bedienaars gedien het terwyl hulle ongetroud was en wat toe later besluit het om te trou, voel dikwels dat die waardevolle lesse wat hulle gedurende daardie vroeë jare geleer het, hulle huwelik nog steeds tot voordeel strek.
13. Waarom besluit party Christenegpare om nie kinders te hê nie?
13 In party wêrelddele was daar nog ’n verandering in die gesinslewe—baie egpare besluit om kinderloos te bly. Party doen dit om finansiële redes; ander doen dit omdat hulle vry wil wees om ’n winsgewende loopbaan na te streef. Onder Christene is daar ook egpare wat besluit om nie kinders te hê nie. Hulle doen dit egter dikwels om groter vryheid te hê om Jehovah te dien. Dit beteken nie dat hierdie egpare nie ’n normale huwelikslewe het nie. Hulle het. Maar hulle is bereid om Koninkryksbelange bo party van die voorregte te stel wat met die huwelik gepaardgaan (1 Kor. 7:3-5). Party van hierdie egpare dien Jehovah en hulle broers in die kring- en streekwerk of by Bethel. Ander dien as pioniers of as sendelinge. Jehovah sal nie hulle werk vergeet en die liefde wat hulle vir sy naam toon nie.—Heb. 6:10.
‘Verdrukking in die vlees’
14, 15. Watter “verdrukking in hulle vlees” kan Christenouers ondervind?
14 Die apostel Paulus het vir getroude Christene gesê dat hulle “verdrukking in hulle vlees” sou hê (1 Kor. 7:28). Dit kan gesondheidsprobleme insluit wat die egpaar, hulle kinders of hulle bejaarde ouers het. Dit kan ook probleme en hartseer in verband met die grootmaak van hulle kinders insluit. Soos in die begin van hierdie artikel genoem is, het die Bybel voorspel dat daar “in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom”. Een van die dinge wat moeilik is om deur te kom, is dat kinders “ongehoorsaam aan ouers” sal wees.—2 Tim. 3:1-3.
15 Die grootmaak van kinders is ’n groot uitdaging vir Christenouers. Ons is nie vrygestel van die slegte gevolge van die huidige “kritieke tye” nie. Christenouers moet dus voortdurend stry teen die verderflike invloed wat “die stelsel van dinge van hierdie wêreld” op hulle kinders kan hê (Ef. 2:2, 3). En hulle wen nie altyd die stryd nie! As ’n seun of ’n dogter in ’n Christengesin ophou om Jehovah te dien, is dit inderdaad “verdrukking” vir die ouers wat hom of haar in God se waarheid probeer grootmaak het.—Spr. 17:25.
‘Daar sal groot verdrukking wees’
16. Watter “verdrukking” het Jesus voorspel?
16 Enige “verdrukking” wat met die huwelik of ouerskap verband hou, sal egter oortref word deur ’n ander verdrukking wat baie omvangryker sal wees. Jesus het in sy profesie oor sy teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge gesê: “Daar [sal] groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matt. 24:3, 21). Jesus het later geopenbaar dat ’n groot menigte hierdie “groot verdrukking” sal oorleef. Maar Satan se stelsel sal ondergaan tydens ’n hewige en finale aanval teen Jehovah se vreedsame Getuies. Dit sal ongetwyfeld ’n moeilike tyd wees vir ons almal—volwassenes sowel as kinders.
17. (a) Waarom kan ons die toekoms met vertroue tegemoetgaan? (b) Wat moet ’n invloed hê op ons beskouing van die huwelik en ouerskap?
17 Ons moet nietemin nie onnodige vrees vir die toekoms koester nie. Ouers wat getrou aan Jehovah bly, het die hoop om saam met hulle jong kinders beskerm te word. (Lees Jesaja 26:20, 21; Sef. 2:2, 3; 1 Kor. 7:14.) Maar op die oomblik moet die feit dat ons bewus is van die kritieke dae waarin ons lewe, ’n invloed hê op ons beskouing van die huwelik en ouerskap in hierdie tyd van die einde (2 Pet. 3:10-13). Dan sal ons lewe—hetsy ons getroud of ongetroud is, kinders het of nie—tot eer en lof van Jehovah en die Christengemeente strek.
[Voetnote]
a Sien die onderhofie “Hy het egskeiding gehaat” in Lewe met Jehovah se dag in gedagte, op bladsy 125.
b Dit sal egpare met huweliksprobleme versterk as hulle artikels oor die huwelik hersien, soos dié in Die Wagtoring van 15 September 2003 en die Ontwaak! van 8 Januarie 2001.
c Sien hoofstuk 30, “Is ek gereed vir die huwelik?” in Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk.
Ter hersiening
• Waarom moet jong Christene nie oorhaastig trou nie?
• Wat behels dit om ’n kind groot te maak?
• Waarom bly baie Christene ongetroud of as hulle getroud is, kinderloos?
• Watter “verdrukking” kan Christenouers ervaar?
[Prent op bladsy 17]
Waarom is dit wys vir jong Christene om te wag voordat hulle trou?
[Prent op bladsy 18]
’n Man kan baie doen om sy vrou te help om ’n betekenisvolle deelname aan geestelike bedrywighede te hê
[Prent op bladsy 19]
Waarom besluit party Christenegpare om nie kinders te hê nie?