Hulle het hulle lewe verryk—Kan jy dit ook doen?
MARC, ’n broer in Kanada, het by ’n onderneming gewerk wat ingewikkelde robotstelsels bou wat deur ruimteagentskappe gebruik word. Hy het deeltyds gewerk en as ’n gewone pionier gedien. Toe het ’n bestuurder vir Marc bevordering aangebied—’n voltydse pos met ’n groot salaris. Wat het Marc gedoen?
Amy, ’n suster in die Filippyne, het as ’n gewone pionier gedien terwyl sy haar skoolopleiding voltooi het. Nadat sy met skool klaargemaak het, is sy ’n voltydse werk aangebied wat baie van haar tyd in beslag sou neem, maar goed sou betaal. Watter keuse het Amy gemaak?
Marc en Amy het verskillende besluite geneem, en die uiteinde van hulle keuses lig die wysheid toe van die raad wat aan Christene in eertydse Korinte gegee is. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat . . . dié wat van die wêreld gebruik maak, [wees] soos dié wat dit nie ten volle gebruik nie.”—1 Kor. 7:29-31.
Gebruik die wêreld, maar nie ten volle nie
Voordat ons uitvind wat met Marc en Amy gebeur het, kan ons kortliks kyk na die betekenis van die uitdrukking “die wêreld” (of, koʹsmos in Grieks) wat Paulus in sy brief aan die Korintiërs gebruik het. In daardie Skrifgedeelte verwys koʹsmos na die wêreldstelsel waarin ons lewe—die mensegemeenskap as ’n geheel—en dit sluit die alledaagse dinge van die lewe in, soos blyplek, kos en klere.a Om hierdie daaglikse benodigdhede te verkry, moet die meeste van ons ’n werk hê. Ja, ons het geen ander keuse nie as om die wêreld te gebruik sodat ons ons skriftuurlike verpligting kan nakom om vir ons en ons gesin te sorg (1 Tim. 5:8). Maar ons besef terselfdertyd dat ‘die wêreld verbygaan’ (1 Joh. 2:17). Daarom gebruik ons die wêreld in die mate wat nodig is, maar nie “ten volle” nie.—1 Kor. 7:31.
Hierdie Bybelraad om die mate waarin ons die wêreld gebruik, so ver moontlik te beperk, het baie broers en susters beweeg om hulle omstandighede in heroorweging te neem, minder sekulêre werk te doen en hulle lewe te vereenvoudig. Nadat hulle dit gedoen het, het hulle gou uitgevind dat hulle in werklikheid hulle lewe verryk het, aangesien hulle meer tyd saam met hulle gesin en in Jehovah se diens kon deurbring. Verder het hulle eenvoudige lewenstyl hulle minder op die wêreld en meer op Jehovah laat vertrou. Kan jy dit ook doen—jou lewe vereenvoudig om die belange van God se Koninkryk te bevorder?—Matt. 6:19-24, 33.
“Ons voel nader aan Jehovah as ooit tevore”
Marc, wat aan die begin genoem is, het die Bybel se raad gevolg om die wêreld nie ten volle te gebruik nie. Hy het die aanloklike bevordering wat hy aangebied is, van die hand gewys. ’n Paar dae later het Marc se bestuurder hom selfs ’n groter salaris aangebied om hom te oorreed om die nuwe werk te aanvaar. “Dit was ’n toets”, sê Marc, “maar ek het weer nee gesê.” Hy verduidelik waarom: “Ek en my vrou, Paula, wou ons lewe daaraan wy om soveel moontlik in Jehovah se diens te doen. Ons het ons dus voorgeneem om ons lewe te vereenvoudig. Ons het tot Jehovah gebid vir wysheid om ons doelwit te bereik en het ’n spesifieke datum vasgestel waarop ons ons beskikbaar sou stel om meer in Jehovah se diens te doen.”
Paula vertel: “Ek het drie dae per week as ’n sekretaresse by ’n hospitaal gewerk en ’n goeie salaris gekry. Ek het ook as ’n gewone pionier gedien. Maar soos Marc wou ek my beskikbaar stel om Jehovah te dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Toe ek my bedanking indien, het my hoof egter gesê dat ek in aanmerking kom vir die pos as uitvoerende sekretaresse wat kort tevore oopgegaan het. Dit was die sekretariële pos met die grootste salaris in die hospitaal, maar ek het gebly by my besluit om te bedank. Toe ek vir my hoof sê waarom ek nie om die pos aansoek doen nie, het sy my geprys vir my geloof.”
Kort daarna het Marc en Paula ’n toewysing ontvang om as spesiale pioniers in ’n klein gemeente in ’n afgeleë deel van Kanada te dien. Hoe het die verandering afgeloop? Marc sê: “Nadat ek ’n finansieel bestendige werk opgegee het wat ek byna die helfte van my lewe gedoen het, was ek skrikkerig, maar Jehovah het ons bediening geseën. Ons ervaar die groot vreugde wat dit verskaf om geestelike gawes met ander te deel. Voltydse diens het ook ons huwelik verryk. Ons gesprekke draai om dinge wat werklik belangrik is—geestelike onderwerpe. Ons voel nader aan Jehovah as ooit tevore” (Hand. 20:35). Paula voeg by: “Wanneer jy jou werk opgee en die geriewe van ’n bekende tuiste agterlaat, moet jy jou volle vertroue in Jehovah stel. Ons het, en Jehovah het ons geseën. Die dierbare broers en susters in ons nuwe gemeente laat ons geliefd en nodig voel. Ek gebruik nou die energie wat ek voorheen aan my werk bestee het, om mense geestelik te help. Ek is verheug om in hierdie toewysing te dien.”
‘Welaf maar nie gelukkig nie’
Amy, wat vroëer gemeld is, het ’n ander weg gekies. Sy het die goed besoldigde voltydse werk aanvaar wat sy aangebied is. Amy sê: “Die eerste jaar het ek bedrywig gebly in die bediening, maar gevind dat my lewe geleidelik minder om Koninkryksbelange en meer om die bevordering van my loopbaan begin draai het. Ek het aanloklike aanbiedings vir vooruitgang ontvang en my energie daaraan begin wy om die maatskappyleer te klim. Namate die verantwoordelikhede van my werk toegeneem het, het ek al hoe minder tyd in die bediening deurgebring. Ek het uiteindelik heeltemal opgehou om die predikingswerk te doen.”
Amy dink terug aan daardie tyd en sê: “Ek was welaf. Ek het baie gereis en die aansien geniet wat met my beroep gepaardgegaan het. Maar ek was nie gelukkig nie. Al het ek geld gehad, het ek baie probleme gehad. Ek het gewonder wat fout is. Toe het ek uiteindelik besef dat ek byna ‘van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring is’ omdat ek ’n loopbaan in hierdie wêreld nagejaag het. Gevolglik het ek, net soos God se Woord sê, ‘baie pyne’ ondervind.”—1 Tim. 6:10.
Wat het Amy gedoen? Sy sê: “Ek het die ouer manne gevra om my te help om my geestelike gesondheid te herwin en het vergaderinge begin bywoon. Gedurende ’n lied het ek begin huil. Ek het onthou hoe gelukkig ek was gedurende die vyf jaar waartydens ek as ’n pionier aan die oeswerk deelgeneem het, al was ek toe arm. Ek het geweet dat ek moet ophou om my tyd te mors deur geld na te jaag en dat ek Koninkryksbelange eerste moet stel. Ek het ’n laer pos by die werk aanvaar, wat beteken het dat my salaris 50 persent kleiner was, en het weer aan die predikingswerk begin deelneem.” Amy sê vreugdevol: “Ek het die vreugde gesmaak om ’n paar jaar lank as ’n pionier te dien. Ek geniet nou ’n gevoel van voldoening wat ek nooit ervaar het toe ek die meeste van my tyd daaraan bestee het om vir die wêreld te werk nie.”
Kan jy jou omstandighede verander en jou lewe vereenvoudig? As jy die tyd wat jy dan sal hê, gebruik om Koninkryksbelange te bevorder, sal jy ook jou lewe verryk.—Spr. 10:22.
[Voetnoot]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 1207-8.
[Lokteks op bladsy 19]
Kan jy jou omstandighede verander en jou lewe vereenvoudig?
[Venster/Prent op bladsy 19]
“Ek geniet dit reeds baie!”
David, ’n Christen- ouer man in die Verenigde State, wou graag saam met sy vrou en kinders in die voltydse diens wees. Hy het daarin geslaag om deeltydse werk te kry by die maatskappy waar hy gewerk het, en hy het as ’n gewone pionier begin dien. Het die verandering sy lewe verryk? ’n Paar maande later het David aan ’n vriend geskryf: “Niks verskaf groter voldoening as om Jehovah voltyds saam met jou gesin te dien nie. Ek het regtig gedink dat dit my ’n ruk sou neem om aan die pionierdiens gewoond te raak, maar ek geniet dit reeds baie! Dit is so verkwikkend.”
[Prent op bladsy 18]
Marc en Paula in die bediening