Christene—Wees trots op wie julle is!
“Hy wat roem, laat hom in Jehovah roem.”—1 KORINTIËRS 1:31.
1. Watter neiging word duidelik gesien in mense se gesindheid teenoor godsdiens?
“APATEÏSME.” ’n Kommentator oor godsdienssake het onlangs hierdie woord gebruik om baie mense se gesindheid teenoor hulle geloof te beskryf. Hy het verduidelik: “Die grootste ontwikkeling in hedendaagse godsdiens is geen godsdiens nie—dit is ’n gesindheid wat die beste beskryf kan word as ‘apateïsme’.” Hy het verder uitgewei en apateïsme omskryf as “’n geneigdheid om nie juis besorg te wees oor ’n mens se eie godsdiens nie”. Hy het gesê dat baie mense “in God glo . . . ; hulle steur hulle net nie juis aan hom nie”.
2. (a) Waarom is dit nie verbasend dat mense onverskillig geword het oor hulle geestelikheid nie? (b) Watter gevaar hou onverskilligheid vir ware Christene in?
2 Hierdie neiging tot onverskilligheid, of apatie, is iets wat studente van die Bybel glad nie verbaas nie (Lukas 18:8). En wat godsdiens oor die algemeen betref, kan so ’n gebrek aan belangstelling verwag word. Valse godsdiens het die mensdom baie lank mislei en teleurgestel (Openbaring 17:15, 16). Vir ware Christene hou die algemene gees van halfhartigheid en gebrek aan ywer egter ’n gevaar in. Ons kan nie bekostig om traak-my-nieagtig te word oor ons geloof en om ons ywer vir God se diens en vir Bybelwaarheid te verloor nie. Jesus het teen so ’n louwarm toestand gewaarsku toe hy die eerste-eeuse Christene in Laodisea vermaan het: “Jy [is] nie koud of warm . . . nie. Ek wens jy was koud of anders warm. . . . Jy [is] lou.”—Openbaring 3:15-18.
Ons moet besef wie ons is
3. Op watter aspekte van hulle identiteit kan Christene trots wees?
3 Om teen geestelike onverskilligheid te stry, moet Christene ’n duidelike begrip hê van wie hulle is, en hulle moet hulle unieke identiteit met ’n redelike mate van trots beskou. As knegte van Jehovah en dissipels van Christus kan ons in die Bybel beskrywings vind van wie ons is. Ons is “getuies” van Jehovah, “God se medewerkers”, terwyl ons die “goeie nuus” ywerig aan ander verkondig (Jesaja 43:10; 1 Korintiërs 3:9; Matteus 24:14). Ons is mense wat ‘mekaar liefhet’ (Johannes 13:34). Ware Christene is individue wie se “waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Ons is “ligte in die wêreld” (Filippense 2:15). Ons streef daarna om “goeie gedrag onder die nasies” te handhaaf.—1 Petrus 2:12; 2 Petrus 3:11, 14.
4. Hoe kan ’n aanbidder van Jehovah vasstel wat hy nié is nie?
4 Ware aanbidders van Jehovah weet ook wat hulle nié is nie. “Hulle is geen deel van die wêreld nie”, net soos hulle Leier, Jesus Christus, geen deel van die wêreld was nie (Johannes 17:16). Hulle bly afgeskeie van “die nasies”, wat “verstandelik in duisternis is en vervreemd is van die lewe wat tot God behoort” (Efesiërs 4:17, 18). Gevolglik verwerp Jesus se volgelinge “goddeloosheid en wêreldse begeertes en [lewe hulle] met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge”.—Titus 2:12.
5. Wat word geïmpliseer deur die vermaning om “in Jehovah [te] roem”?
5 Ons duidelike begrip van ons identiteit en ons verhouding met die Soewereine Heerser van die heelal beweeg ons om “in Jehovah [te] roem” (1 Korintiërs 1:31). Wat beteken dit? As ware Christene is ons trots daarop om Jehovah as ons God te hê. Ons gee gehoor aan die vermaning: “Laat hy wat met homself spog, hieroor met homself spog, dat hy insig en kennis van my het, dat ek Jehovah is, die Een wat liefderyke goedhartigheid, geregtigheid en regverdigheid op die aarde beoefen” (Jeremia 9:24). Ons “roem” in die voorreg om God te ken en om deur hom gebruik te word om ander te help.
Die uitdaging
6. Waarom is dit vir party moeilik om hulle identiteit as Christene duidelik voor oë te hou?
6 Dit is natuurlik nie altyd maklik om ons unieke identiteit as Christene duidelik voor oë te hou nie. ’n Jong man wat as ’n Christen grootgemaak is, het vertel dat hy ’n ruk lank geestelik swak gevoel het: “Soms het ek gewonder waarom ek nou eintlik een van Jehovah se Getuies is. Ek het die waarheid van kleins af geleer. Soms het ek gevoel dat dit maar net nog ’n aanvaarde hoofstroomgodsdiens is.” Ander het miskien toegelaat dat hulle identiteit gevorm word deur die vermaaklikheidswêreld, massamedia en die huidige goddelose uitkyk op die lewe (Efesiërs 2:2, 3). Party Christene vind dalk dat hulle nou en dan deur tye van onsekerheid gaan en bedenkinge het oor hulle waardes en doelwitte.
7. (a) Watter soort selfondersoek is gepas vir knegte van God? (b) Waar lê die gevaar?
7 Is noukeurige selfondersoek heeltemal onvanpas? Nee. Jy onthou moontlik dat die apostel Paulus Christene aangemoedig het om hulleself voortdurend te ondersoek: “Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef” (2 Korintiërs 13:5). Die apostel het hier aanbeveel dat ons ’n heilsame ondersoek doen om enige geestelike swakhede te identifiseer wat dalk in ons ontwikkel het, met die doel om die nodige stappe te neem om dit reg te stel. ’n Christen moet, wanneer hy toets of hy in die geloof is, vasstel of sy woorde en dade ooreenstem met die geloof wat hy bely. Maar die verkeerde soort selfondersoek, wat ons aanspoor om ons “identiteit” te soek of antwoorde te probeer vind sonder om ons verhouding met Jehovah of die Christengemeente in ag te neem, sal nutteloos wees en kan tot geestelike rampspoed lei.a Ons wil nooit ‘skipbreuk ly wat ons geloof betref’ nie!—1 Timoteus 1:19.
Ons is nie immuun teen uitdagings nie
8, 9. (a) Hoe het Moses sy gevoelens van onsekerheid uitgedruk? (b) Hoe het Jehovah op Moses se bedenkinge gereageer? (c) Hoe word jy geraak deur die gerusstelling wat Jehovah gee?
8 Moet Christene wat nou en dan gevoelens van onsekerheid ervaar, voel dat hulle misluk het? Natuurlik nie! Trouens, hulle kan vertroosting put uit die wete dat sulke gevoelens niks nuuts is nie. Getroue getuies van God in die verlede het dit ondervind. Neem byvoorbeeld Moses, wat buitengewone geloof, lojaliteit en toegewydheid geopenbaar het. Toe ’n taak wat oorweldigend gelyk het, aan hom toegewys is, het Moses beskeie gevra: “Wie is ek?” (Eksodus 3:11). Blykbaar was die antwoord wat hy in gedagte gehad het: ‘Ek is onbelangrik!’ of ‘Ek is onbekwaam!’ Verskeie aspekte van Moses se agtergrond kon hom onbevoeg laat voel het: Hy was deel van ’n nasie wat slawe was. Hy is deur die Israeliete verwerp. Hy was nie ’n vlot spreker nie (Eksodus 1:13, 14; 2:11-14; 4:10). Hy was ’n herder, ’n werk wat die Egiptenaars verafsku het (Genesis 46:34). Geen wonder dat hy onbekwaam gevoel het om op te tree as die bevryder van God se volk wat in slawerny was nie!
9 Jehovah het Moses gerusgestel deur twee kragtige beloftes aan hom te maak: “Ek [sal] met jou . . . wees, en dít is vir jou die teken dat ek jou gestuur het: Nadat jy die volk uit Egipte uitgelei het, sal julle die ware God op hierdie berg dien” (Eksodus 3:12). God het vir sy weifelende kneg gesê dat Hy voortdurend met hom sal wees. Daarbenewens het Jehovah aangedui dat hy beslis sy volk sal verlos. Deur die eeue heen het God soortgelyke beloftes van ondersteuning gemaak. Byvoorbeeld, toe die nasie Israel op die punt was om die Beloofde Land binne te gaan, het hy het deur Moses vir hulle gesê: “Wees moedig en sterk. . . . Jehovah jou God trek saam met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of jou heeltemal verlaat nie” (Deuteronomium 31:6). Jehovah het Josua ook verseker: “Niemand sal al die dae van jou lewe voor jou standhou nie. . . . Ek [sal] met jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat of jou heeltemal verlaat nie” (Josua 1:5). En hy beloof Christene: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie” (Hebreërs 13:5). Hierdie kragtige ondersteuning moet ons trots laat voel om Christene te wees!
10, 11. Hoe is die Leviet Asaf gehelp om die regte gesindheid te behou teenoor die waarde van sy diens aan Jehovah?
10 Omtrent vyf eeue ná Moses het ’n getroue Leviet met die naam Asaf openlik geskryf oor sy twyfelgedagtes oor die waarde daarvan om ’n regskape weg te volg. Terwyl hy ’n stryd gevoer het om God ten spyte van beproewinge en versoekings te dien, het Asaf gesien hoe party wat met God gespot het, magtiger en voorspoediger word. Watter uitwerking het dit op Asaf gehad? “Wat my betref, my voete het amper afgewyk”, het hy erken. “My voetstappe het byna uitgegly. Want ek het afgunstig geraak op die grootpraters toe ek die vrede van die goddeloses sien.” Hy het begin twyfel of dit die moeite werd is om ’n aanbidder van Jehovah te wees. “Waarlik, tevergeefs het ek my hart gereinig en was ek my hande in onskuld”, het Asaf gedink. “En ek word die hele dag gekwel.”—Psalm 73:2, 3, 13, 14.
11 Hoe het Asaf hierdie verontrustende emosies verwerk? Het hy dit ontken? Nee. Hy het dit in gebed aan God genoem, soos ons in die 73ste Psalm sien. Die keerpunt vir Asaf was ’n besoek aan die tempelheiligdom. Terwyl hy daar was, het hy besef dat toegewydheid aan God nog steeds die beste weg is om te volg. Met hernieude geestelike waardering het hy begryp dat Jehovah slegtheid haat en dat die goddeloses mettertyd gestraf sal word (Psalm 73:17-19). Dit het Asaf se identiteitsgevoel as ’n bevoorregte kneg van Jehovah versterk. Hy het vir God gesê: “Ek is voortdurend by u; u het my regterhand gevat. Met u raad sal u my lei, en daarna sal u my selfs tot heerlikheid voer” (Psalm 73:23, 24). Asaf het weer eens in sy God geroem.—Psalm 34:2.
Hulle het ’n sterk identiteitsgevoel gehad
12, 13. Gee voorbeelde van Bybelkarakters wat trots was op hulle verhouding met God.
12 Een manier waarop ons ons Christelike identiteitsgevoel kan versterk, is om die geloof van lojale aanbidders te ondersoek en na te volg, wat ondanks teëspoed waarlik trots was op hulle verhouding met God. Neem byvoorbeeld Josef, die seun van Jakob. Toe hy nog baie jonk was, is hy op verraderlike wyse as ’n slaaf verkoop en na Egipte geneem, honderde kilometers van sy godvresende vader af en ver verwyderd van die hartlike, ondersteunende atmosfeer van sy tuiste. Terwyl Josef in Egipte was, kon hy hom tot geen mens wend vir goddelike raad nie, en hy het voor moeilike situasies te staan gekom wat sy sedes en vertroue op God getoets het. Dit is egter duidelik dat hy ’n doelbewuste poging aangewend het om ’n sterk identiteitsgevoel as ’n kneg van God te behou, en hy het getrou gebly aan wat hy geweet het reg was. Hy was trots daarop om selfs in ’n vyandige milieu ’n aanbidder van Jehovah te wees, en hy nie geskroom om te sê hoe hy voel nie.—Genesis 39:7-10.
13 Agt eeue later het ’n gevange Israelitiese meisie, wat ’n slavin van die Siriese generaal Naäman geword het, nie haar identiteit as ’n aanbidder van Jehovah vergeet nie. Toe die geleentheid hom voordoen, het sy moedig ’n goeie getuienis van Jehovah gegee toe sy Elisa as ’n profeet van die ware God geïdentifiseer het (2 Konings 5:1-19). Jare later het die jong koning Josia, al het hy hom in ’n verdorwe milieu bevind, met omvattende godsdienshervormings begin, God se tempel herstel en die nasie na Jehovah teruggelei. Hy was trots op sy geloof en aanbidding (2 Kronieke, hoofstukke 34, 35). Daniël en sy drie Hebreeuse metgeselle in Babilon het nooit hulle identiteit as knegte van Jehovah vergeet nie, en hulle het selfs in tye van druk en versoeking hulle onkreukbaarheid gehandhaaf. Hulle was ongetwyfeld trots daarop om knegte van Jehovah te wees.—Daniël 1:8-20.
Wees trots op wie jy is
14, 15. Wat behels dit om in ons Christelike identiteit te roem?
14 Hierdie knegte van God was suksesvol omdat hulle ’n heilsame gevoel van trots ontwikkel het in hulle goeie naam by God. Wat van ons wat vandag lewe? Wat behels dit om in ons Christelike identiteit te roem?
15 Dit sluit hoofsaaklik ’n diepe waardering in vir die voorreg om ’n lid van Jehovah se naamvolk te wees, wat sy seën en goedkeuring geniet. Daar bestaan geen twyfel by God oor wie aan hom behoort nie. Die apostel Paulus, wat in ’n era van groot godsdiensverwarring gelewe het, het geskryf: “Jehovah ken dié wat aan hom behoort” (2 Timoteus 2:19; Numeri 16:5). Jehovah is trots op dié “wat aan hom behoort”. Hy sê: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel” (Sagaria 2:8). Dit is duidelik dat Jehovah vir ons lief is. In reaksie hierop moet ons verhouding met hom gegrond wees op innige liefde vir hom. Paulus het gesê: “As iemand God liefhet, word dié deur hom geken.”—1 Korintiërs 8:3.
16, 17. Waarom kan Christene, jonk en oud, trots wees op hulle geestelike erfenis?
16 Jongmense wat as Jehovah se Getuies grootgemaak is, kan gerus ondersoek of hulle Christelike identiteitsgevoel sterker word op grond van ’n persoonlike verhouding met God. Hulle kan hulle nie bloot op die geloof van hulle ouers verlaat nie. Paulus het oor elke kneg van God geskryf: “Hy staan of val ten opsigte van sy eie heer.” Daarom het Paulus verder gesê: “Elkeen van ons [sal] dan vir homself aan God rekenskap gee” (Romeine 14:4, 12). Dit spreek vanself dat ’n halfhartige voortsetting van ’n gesinstradisie nie ’n intieme, langtermynverhouding met Jehovah aan die gang kan hou nie.
17 Deur die hele geskiedenis heen was daar ’n opeenvolging van getuies van Jehovah. Dit strek van die getroue man Abel af—sowat 60 eeue gelede—tot die “groot menigte” hedendaagse Getuies en verder tot die groot getalle aanbidders van Jehovah wat ’n eindelose toekoms sal geniet (Openbaring 7:9; Hebreërs 11:4). Ons is die jongste toevoeging tot hierdie lang reeks getroue aanbidders. Wat ’n ryk geestelike erfenis het ons tog!
18. Hoe skei ons waardes en standaarde ons af van die wêreld?
18 Ons Christelike identiteit sluit ook die stel waardes, eienskappe, standaarde en kenmerke in wat ons as Christene identifiseer. Dit is “Die Weg”, die enigste weg wat sukses in die lewe meebring en God behaag (Handelinge 9:2; Efesiërs 4:22-24). Christene “maak seker van alles” en “hou vas aan wat goed is”! (1 Tessalonisense 5:21). Ons het ’n duidelike begrip van die ontsaglike verskil tussen die ware Christelike godsdiens en die wêreld wat van God vervreemd is. Jehovah laat geen ruimte vir twyfel oor die onderskeid tussen ware aanbidding en valse aanbidding nie. Deur middel van sy profeet Maleagi het hy gesê: “Julle sal beslis weer die onderskeid sien tussen ’n regverdige en ’n goddelose, tussen iemand wat God dien en iemand wat hom nie gedien het nie.”—Maleagi 3:18.
19. Wat sal ware Christene nooit word nie?
19 Wat kan ons help om ’n heilsame trots in ons God en ’n sterk Christelike identiteitsgevoel te behou, aangesien dit so belangrik is om in Jehovah te roem in hierdie verwarde en gedisoriënteerde wêreld? Nuttige wenke word in die volgende artikel voorsien. Terwyl jy dit ondersoek, kan jy hiervan seker wees: Ware Christene sal nooit slagoffers van “apateïsme” word nie.
[Voetnoot]
a Hier word uitsluitlik na ons geestelike identiteit verwys. In enkele gevalle sal geestesgesondheidsprobleme moontlik deskundige behandeling vereis.
Onthou jy?
• Hoe kan Christene “in Jehovah roem”?
• Wat het jy uit die voorbeelde van Moses en Asaf geleer?
• Watter Bybelkarakters was trots daarop om God te dien?
• Wat behels dit om in ons Christelike identiteit te roem?
[Prent op bladsy 14]
Moses het ’n tyd lank gevoelens van onsekerheid gehad
[Prente op bladsy 15]
Talle eertydse knegte van Jehovah was trots op hulle unieke identiteit