’n Gebalanseerde beskouing van werk—Hoe om dit te verkry
IN VANDAG se wêreld waar wêreldmarkte, genadelose mededinging en massaproduksie soveel druk veroorsaak, sien baie mense nie daarna uit om elke dag werk toe te gaan nie. Tog moet ons ons werk geniet. Waarom? Omdat ons na God se beeld geskep is—en God skep behae in sy werk. Toe hy byvoorbeeld aan die einde van die ses “skeppingsdae”, of lang tydperke, gekyk het na wat hy gedoen het, “het God alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed”, sê Genesis 1:31.
Jehovah se liefde vir werk is ongetwyfeld een rede waarom hy “die gelukkige God” genoem word (1 Timoteus 1:11). Is dit dan nie redelik om te dink dat ons geluk sal toeneem namate ons sy voorbeeld noukeuriger navolg nie? In hierdie verband het koning Salomo van eertydse Israel, ’n uitsonderlike bouer en organiseerder, geskryf: “Elke mens [moet] eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God.”—Prediker 3:13.
In vandag se vinnig veranderende werksklimaat kan dit ’n uitdaging wees om ’n gebalanseerde, heilsame beskouing van werk te verkry. Maar Jehovah God seën diegene wat op sy liefdevolle riglyne ag slaan (Psalm 119:99, 100). Sulke mense word gerespekteerde en betroubare werknemers en sal dus nie so maklik hulle werk verloor nie. Hulle leer ook om hulle lewe en werk nie bloot uit ’n materiële oogpunt te sien nie, maar uit ’n geestelike oogpunt. Dit stel hulle in staat om verantwoordelike besluite in die lewe te neem en te besef dat hulle geluk en gevoel van sekerheid nie van hulle werk of van die wisselvallige arbeidsmark afhang nie (Matteus 6:31-33; 1 Korintiërs 2:14, 15). Dit help hulle om ’n waarlik gebalanseerde werketiek te ontwikkel.
Ontwikkel ’n godvrugtige werketiek
Party mense is werkslawe en stel hulle werk voor alle ander dinge. Ander kan weer nie wag dat die werksdag eindig nie, sodat hulle huis toe kan gaan. Wat is die gebalanseerde beskouing? Die Bybel antwoord: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk en ’n gejaag na die wind” (Prediker 4:6). As ’n mens te hard of te lank werk, is dit in werklikheid teenproduktief—’n vergeefse “gejaag na die wind”. Waarom? Omdat ons juis dít kan benadeel wat ons die grootste geluk verskaf: ons verhouding met ons gesin en vriende, ons geestelikheid, ons gesondheid en selfs ons lewensduur (1 Timoteus 6:9, 10). Die gebalanseerde beskouing is om materieel met minder tevrede te wees terwyl ons ’n redelike mate van vrede geniet eerder as om gebuk te gaan onder ’n dubbele werkslas tesame met moeite en ellende.
Die feit dat die Bybel so ’n gebalanseerde beskouing voorstaan, beteken nie dat dit luiheid goedkeur nie (Spreuke 20:4). Luiheid ondermyn selfrespek en die respek wat ander moontlik vir ons het. Wat nog erger is, dit skaad ons verhouding met God. Die Bybel sê onomwonde dat iemand wat weier om te werk, nie verdien om op ander se onkoste te eet nie (2 Tessalonisense 3:10). Hy moet eerder sy weë verander en hard werk, sodat hy op eerbare wyse vir homself en sy afhanklikes kan sorg. Deur hard te werk, kan hy dalk selfs diegene help wat waarlik behoeftig is—iets wat in God se Woord aangemoedig word.—Spreuke 21:25, 26; Efesiërs 4:28.
Leer kinders die regte beskouing van werk
Goeie werksgewoontes kom nie vanself nie; dit word vroeg in die lewe aangeleer. Daarom gee die Bybel hierdie raad aan ouers: “Lei ’n seun [of dogter] op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie” (Spreuke 22:6). Wyse ouers stel nie net ’n goeie voorbeeld as werkers nie, maar hulle leer ook hulle kinders deur vir hulle takies in en om die huis te gee wat by hulle ouderdom pas. Hoewel kinders dalk nie van sekere takies sal hou nie, sal hulle hulleself as waardevolle lede van die gesin begin beskou—veral wanneer hulle ma en pa hulle prys vir iets wat hulle goed gedoen het. Ongelukkig doen party ouers feitlik alles vir hulle kinders, moontlik uit misplaaste goedhartigheid. Dit sal goed wees as sulke ouers nadink oor die woorde in Spreuke 29:21: “As ’n mens sy kneg [of kinders] van jongs af bederf, sal hy in sy latere lewe ’n ondankbare word.”
Verantwoordelike ouers stel ook opreg belang in hulle kinders se skoolwerk en spoor hulle aan om te leer en hard te werk terwyl hulle op skool is. Dit sal jongmense goed te pas kom wanneer hulle later begin werk.
Kies jou werk verstandig
Hoewel die Bybel nie vir ons sê watter soort werk ons moet doen nie, gee dit ons goeie riglyne sodat ons geestelike vooruitgang, diens aan God en ander belangrike verantwoordelikhede nie daaronder ly nie. Die apostel Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Die oorblywende tyd is kort. Laat dié wat . . . van die wêreld gebruik maak, [wees] soos dié wat dit nie ten volle gebruik nie; want die toneel van hierdie wêreld is aan die verander” (1 Korintiërs 7:29-31). Niks in hierdie huidige stelsel van dinge is permanent of heeltemal bestendig nie. As ons al ons tyd en energie daaraan wy, is dit soos om al ons spaargeld in ’n huis te belê wat in ’n oorstromingsgebied gebou is. Wat ’n onverstandige belegging!
Ander Bybelvertalings vertaal die frase “dit nie ten volle gebruik nie” met “nie daarin verdiep raak nie” en “nie geheel en al daarby betrokke raak nie” (The Jerusalem Bible; Today’s English Version). Verstandige mense verloor nooit die feit uit die oog dat die tyd vir die huidige stelsel ‘kort is’ nie, en dat dit beslis tot teleurstelling en spyt sal lei as ’n mens “daarin verdiep” is of “geheel en al daarby betrokke” is.—1 Johannes 2:15-17.
‘God sal jou hoegenaamd nie versaak nie’
Jehovah ken ons behoeftes beter as wat ons dit self ken. Hy weet ook waar ons in die tydstroom is wat die vervulling van sy voorneme betref. Daarom herinner hy ons: “Laat julle lewenswyse vry wees van die liefde vir geld, terwyl julle tevrede is met die teenwoordige dinge. Want [God] het gesê: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie’” (Hebreërs 13:5). Hoe bemoedigend is hierdie woorde tog! In navolging van God se liefdevolle besorgdheid oor sy volk het Jesus ’n groot deel van sy beroemde Bergpredikasie daaraan gewy om sy dissipels die regte beskouing van werk en materiële dinge te leer.—Matteus 6:19-33.
Jehovah se Getuies probeer daardie leringe nakom. Toe ’n Getuie, wat ’n elektrisiën is, se werkgewer byvoorbeeld aangebied het dat hy gereeld oortyd kan werk, het hy dit van die hand gewys. Waarom? Omdat hy nie wou hê dat sy sekulêre werk moet inbreuk maak op die tyd wat hy aan sy gesin en aan geestelike sake wy nie. Aangesien hy ’n uitstekende en betroubare werker was, het sy werkgewer sy wense gerespekteer. Sake verloop natuurlik nie altyd so vlot nie, en ’n mens moet dalk ander werk soek om ’n gebalanseerde lewenswyse te handhaaf. Maar diegene wat ten volle op Jehovah vertrou, vind gewoonlik dat hulle weens hulle goeie gedrag en werketiek hulle werkgewer se guns geniet.—Spreuke 3:5, 6.
Wanneer alle werk bevredigend sal wees
In die huidige, onvolmaakte stelsel van dinge sal werk en werkvooruitsigte nooit sonder probleme en onsekerheid wees nie. Trouens, sake kan versleg namate die wêreld onbestendiger word en ekonomieë wipplank ry of selfs in duie stort. Maar hierdie situasie is tydelik. Binnekort sal niemand werkloos wees nie. Wat meer is, alle werk sal waarlik interessant en bevredigend wees. Hoe is dit moontlik? Hoe sal so ’n verandering teweeggebring word?
Deur sy profeet Jesaja het Jehovah verwys na so ’n tyd. “Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde”, het Jehovah gesê, “en die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie” (Jesaja 65:17). Hy het van ’n nuwe regering gepraat wat hy tot stand sal bring, waaronder ’n heeltemal nuwe mensegemeenskap ’n werklikheid sal word.—Daniël 2:44.
Aangaande die manier waarop mense dan sal lewe en werk, sê die profesie verder: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie. Want die dae van my volk sal wees soos die dae van ’n boom; en die werk van hulle eie hande sal my uitverkorenes ten volle benut. Hulle sal nie verniet swoeg nie, en ook sal hulle nie vir ontsteltenis geboorte gee nie; want hulle is die nageslag wat uit die geseëndes van Jehovah bestaan, en hulle nakomelinge saam met hulle.”—Jesaja 65:21-23.
Wat ’n verskil sal daardie nuwe wêreld van God tog nie maak nie! Sal jy nie graag in so ’n wêreld wil lewe nie, een waar jy “nie verniet [sal] swoeg nie”, maar die “vrug” van jou arbeid ten volle sal geniet? Let egter op wie hierdie seëninge sal geniet: “Hulle is die nageslag wat uit die geseëndes van Jehovah bestaan.” Jy kan een van daardie “geseëndes” wees deur van Jehovah te leer en aan sy vereistes te voldoen. Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om daardie lewegewende kennis op te doen deur middel van ’n stelselmatige studie van God se Woord, die Bybel.
[Venster op bladsy 6]
“GESOGTE WERKNEMERS”
“Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie”, sê die Bybel (Kolossense 3:23). Dit is net logies dat iemand wie se werketiek deur hierdie goeie beginsel gerig word, ’n gesogte werknemer sal wees. Daarom spoor J. J. Luna in sy boek How to Be Invisible voornemende werkgewers aan om bedrywige lede van sekere godsdiensgroepe te soek, maar hy voeg by: “In die praktyk kry ons gewoonlik op die ou end [Jehovah se] Getuies.” Een van die redes wat hy gee, is dat hulle welbekend is vir hulle eerlikheid, en dit maak dat hulle “gesogte werknemers” in verskillende velde is.
[Prente op bladsy 5]
Dit bring bevrediging mee as ’n mens werk in ewewig hou met geestelike bedrywighede en ontspanning