“Huil saam met mense wat huil”
“Hou dus aan om mekaar te vertroos en mekaar op te bou.”—1 TESS. 5:11.
1, 2. Waarom moet ons weet hoe om bedroefdes te vertroos? (Sien prent aan begin van artikel.)
“VIR ’n jaar ná ons seun se dood was ons diep bedroef”, sê Susi. ’n Broer het gesê dat hy “onbeskryflike fisiese pyn” gehad het toe sy vrou onverwags oorlede is. Baie mense ervaar sulke pyn. Baie Christene het nie verwag dat hulle geliefdes voor Armageddon sal sterf nie. Miskien het jy al ’n geliefde verloor of jy weet dalk van iemand wat treur. Jy wonder dalk: ‘Hoe kan ons bedroefdes help om hulle hartseer te verwerk?’
2 Jy het mense miskien al hoor sê: ‘Tyd genees alle wonde.’ Maar is dit net tyd wat ’n gebroke hart sal genees? ’n Weduwee het gesê: “Dit was hoe ek my tyd gebruik het wat my gehelp het om te genees.” Net soos ’n fisiese wond, het emosionele pyn ook tyd en versorging nodig om te genees. Wat kan bedroefdes help om te genees?
JEHOVAH—“DIE GOD VAN ALLE VERTROOSTING”
3, 4. Hoe weet ons dat Jehovah verstaan hoe bedroefdes voel?
3 Ons Vader, Jehovah, is ongetwyfeld die grootste bron van vertroosting. (Lees 2 Korintiërs 1:3, 4.) Jehovah is die beste voorbeeld van empatie en hy verseker sy knegte: “Ek vertroos julle.”—Jes. 51:12; Ps. 119:50, 52, 76.
4 Ons Vader van tere barmhartighede het ook geliefdes soos Abraham, Isak, Jakob, Moses en koning Dawid in die dood verloor (Num. 12:6-8; Matt. 22:31, 32; Hand. 13:22). God se Woord verseker ons dat Jehovah gretig daarna uitsien om mense uit die dood op te wek (Job 14:14, 15). Hulle sal gelukkig en blakend gesond wees. Dink ook daaraan dat God se geliefde Seun—“vir wie hy . . . besonder lief was”—’n pynlike dood gesterf het (Spr. 8:22, 30). Ons kan ons nie indink hoe Jehovah moes gevoel het nie.—Joh. 5:20; 10:17.
5, 6. Hoe kan Jehovah ons vertroos?
5 Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah ons sal help. Daarom kan ons vir Jehovah in gebed sê hoe hartseer ons werklik is. Dit is gerusstellend om te weet dat Jehovah ons pyn verstaan en dat hy ons vertroos! Maar hoe doen hy dit?
6 Een manier waarop Jehovah ons help, is deur “die vertroosting van die heilige gees” (Hand. 9:31). God se werkende krag kan ons help. Jesus het belowe dat ons Vader in die hemel baie graag “heilige gees gee aan dié wat hom vra” (Luk. 11:13). Susi, wat vroeër genoem is, sê: “Ons het so baie kere net op ons knieë gegaan en Jehovah gesmeek om ons te vertroos. Die God van vrede het elke keer ons hart en gedagtes bewaak.”—Lees Filippense 4:6, 7.
JESUS—’N HOËPRIESTER MET SIMPATIE
7, 8. Waarom kan ons daarvan seker wees dat Jesus ons sal vertroos?
7 Toe Jesus op die aarde was, het hy deur sy woorde en dade Jehovah se tere medelye volmaak weerspieël (Joh. 5:19). Jehovah het Jesus gestuur om al die “gebrokenes van hart” en die “treurendes” te vertroos (Jes. 61:1, 2; Luk. 4:17-21). Mense het geweet dat Jesus hulle pyn verstaan en dat hy hulle graag wou help.—Heb. 2:17.
8 Toe Jesus jonk was, het party van sy familielede en vriende sekerlik ook gesterf. Josef, Jesus se pa, is waarskynlik oorlede toe Jesus nog ’n jong man was.a Stel jou voor hoe hartseer Jesus self was en hoe moeilik dit vir hom moes gewees het om te sien hoe hartseer sy ma, broers en susters was.
9. Hoe het Jesus empatie betoon toe Lasarus oorlede is?
9 Jesus het gedurende sy bediening gewys dat hy mense werklik verstaan en dat hy empatie vir hulle gehad het. Dink byvoorbeeld aan die tyd toe Jesus se dierbare vriend Lasarus gesterf het. Hoewel Jesus geweet het dat hy Lasarus gaan opwek, het Maria en Marta se groot hartseer hom diep geraak. Sy empatie vir hulle was so sterk dat hy begin huil het.—Joh. 11:33-36.
10. Hoe weet ons dat Jesus vandag vir ons simpatie het?
10 Hoe kan Jesus se simpatie en vertroosting ons vandag help? Die Bybel verseker ons: “Jesus Christus is gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde” (Heb. 13:8). Jesus, die “Hoofbewerker van die lewe”, weet hoe dit voel om hartseer te wees en hy kan “dié wat op die proef gestel word, te hulp kom” (Hand. 3:15; Heb. 2:10, 18). Daarom kan ons seker wees dat Jesus nog steeds geraak word deur ander se pyn. Hy verstaan hulle hartseer en kan hulle vertroos “op die regte tyd”.—Lees Hebreërs 4:15, 16.
“VERTROOSTING VAN DIE SKRIF”
11. Watter tekste is vir jou vertroostend?
11 Die verslag van Jesus se hartseer tydens Lasarus se dood, is maar net een van die baie vertroostende tekste in God se Woord. En dit verbaas ons nie, “want alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Rom. 15:4). As jy bedroef is, kan die volgende tekste jou ook vertroos:
“Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Ps. 34:18, 19.
“Toe my verontrustende gedagtes binne-in my baie geword het, het u [Jehovah se] vertroostinge my siel begin streel.”—Ps. 94:19.
“Mag ons Here Jesus Christus self en God, ons Vader, wat ons liefgehad het en deur middel van onverdiende goedhartigheid ewige troos en goeie hoop gegee het, julle harte vertroos en julle standvastig maak.”—2 Tess. 2:16, 17.b
DIE GEMEENTE—’N BRON VAN VERTROOSTING
12. Hoe kan ons ander vertroos?
12 Nog ’n bron van vertroosting is die broers in die gemeente. (Lees 1 Tessalonisense 5:11.) Hoe kan jy dié met ’n “verslae gees” aanmoedig en vertroos? (Spr. 17:22). Onthou, daar is “’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Pred. 3:7). ’n Weduwee met die naam Dalene sê: “Bedroefdes moet vir ander van hulle gedagtes en gevoelens vertel. Die belangrikste ding wat jy vir ’n bedroefde persoon kan doen, is om te luister—sonder om hom in die rede te val.” Junia, wie se broer selfmoord gepleeg het, sê: “Al kan jy hulle hartseer nie heeltemal verstaan nie, moet jy net probeer verstaan hoe hulle voel.”
13. Wat moet ons oor droefheid in gedagte hou?
13 Hou in gedagte dat almal nie op dieselfde manier treur nie. Soms kan net die persoon wat treur verstaan hoe hy werklik voel en kan dit vir hom moeilik wees om vir ander te sê hoe hy voel. God se Woord sê: “Die hart ken die bitterheid van ’n mens se siel, en met die blydskap daarvan sal geen vreemdeling inmeng nie” (Spr. 14:10). Al sê die persoon hoe hy voel, is dit nie altyd maklik om te verstaan wat hy bedoel nie.
14. Wat kan ons sê om bedroefdes te vertroos?
14 Ons weet nie altyd wat om vir iemand te sê wat diep bedroef is nie. Maar die Bybel sê “die tong van die wyses is genesing” (Spr. 12:18). Die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf het baie vertroostende gedagtes wat ander kan aanmoedig.c Maar wat gewoonlik die meeste help, is om te “huil saam met mense wat huil” (Rom. 12:15). “Trane was die enigste taal wat my hart kon verstaan”, erken Gaby wie se man oorlede is. “Daarom vertroos dit my wanneer my vriende saam met my huil. Op daardie oomblik voel ek nie so alleen nie.”
15. Hoe kan jy iemand vertroos as dit vir jou moeilik is om dit persoonlik te doen? (Sien die venster “Woorde wat vertroos”.)
15 As dit vir jou moeilik is om iemand persoonlik te vertroos, is dit dalk makliker om vir hulle ’n kaartjie, ’n e-pos, ’n SMS of ’n brief te stuur. Miskien kan jy ’n vertroostende teks aanhaal of iets vertel wat jy van die persoon onthou. Junia sê: “’n Aanmoedigende boodskappie of ’n uitnodiging om by iemand in die gemeente te gaan kuier, help my vreeslik baie. Ek kan voel dat hulle vir my omgee en vir my lief is.”
16. Wat is nog ’n manier om bedroefdes te vertroos?
16 Ons gebede vir en saam met broers en susters wat treur, het groot waarde. Al is dit vir jou moeilik om in so ’n emosionele situasie te bid, sal jou opregte gebed hulle vertroos, al is dit met trane en ’n bewerige stem. Dalene sê: “Wanneer susters my kom vertroos het, het ek hulle soms gevra om vir my te bid. Aan die begin sukkel hulle dalk ’n bietjie, maar na ’n rukkie kry hulle meer selfvertroue en dan bid hulle uit die hart. Hulle sterk geloof, liefde en belangstelling het my geloof versterk.”
HOU AAN OM ANDER TE VERTROOS
17-19. Waarom moet ons aanhou om ander te vertroos?
17 Ons almal treur op verskillende maniere. Ná die dood van ’n geliefde is daar baie vriende en familie om die bedroefde te vertroos. Maar wanneer die bedroefde weer alleen is, moet jy bereid wees om hulle te help en te vertroos. “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spr. 17:17). Christene moet bereid wees om bedroefdes te vertroos vir solank as wat hulle dit nodig het.—Lees 1 Tessalonisense 3:7.
18 Onthou dat enigiets hulle weer baie hartseer kan maak. Dit kan ’n huweliksherdenking, ’n liedjie, ’n foto, ’n reuk, ’n geluid of selfs die tyd van die jaar wees. Dit kan baie moeilik wees as die persoon vir die eerste keer iets alleen moet doen, soos om die Gedenkmaal of ’n byeenkoms by te woon. ’n Broer vertel: “Ek het gedink dat die eerste huweliksherdenking ná my vrou se dood baie traumaties gaan wees, en dit was nie maklik nie. Maar ’n paar broers en susters het gereël dat goeie vriende kom kuier, sodat ek nie alleen hoef te wees nie.”
19 Maar hou in gedagte dat bedroefdes nie net aanmoediging op spesiale geleenthede nodig het nie. Junia sê: “Soms is ’n bietjie hulp en geselskap op ander tye net die regte medisyne. Sulke spontane oomblikke is so kosbaar en vertroostend.” Ons kan nie al hulle hartseer en eensaamheid wegvat nie, maar ons kan hulle vertroos deur iets vir hulle te doen (1 Joh. 3:18). Gaby sê: “Ek dank Jehovah vir die liefdevolle ouer manne wat my deur dik en dun gehelp het. Ek het regtig gevoel hoe Jehovah sy liefdevolle arms om my sit.”
20. Waarom is Jehovah se beloftes ’n bron van vertroosting?
20 Dit vertroos ons baie om te weet dat Jehovah, die God van alle vertroosting, al ons hartseer sal wegneem gedurende die opstanding, wanneer “almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Joh. 5:28, 29). God belowe: “Hy sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee” (Jes. 25:8). Dan sal ons nie meer “huil saam met mense wat huil” nie, maar ‘bly wees saam met mense wat bly is’.—Rom. 12:15.
a Ons weet dat Josef nog gelewe het toe Jesus 12 jaar oud was. Toe Jesus sy eerste wonderwerk gedoen het, om water in wyn te verander, word Josef nie genoem nie en ook nie weer daarna nie. Toe Jesus aan die folterpaal gehang het, het hy Maria in die sorg van die apostel Johannes gelaat, wat hy nie sou gedoen het as Josef nog gelewe het nie.—Joh. 19:26, 27.
b Ander tekste wat ook vertroostend is, is Psalm 20:1, 2; 31:7; 38:8, 9, 15; 55:22; 121:1, 2; Jesaja 57:15; 66:13; Filippense 4:13 en 1 Petrus 5:7.
c Sien ook die artikel “Vertroos die bedroefdes, soos Jesus gedoen het” in Die Wagtoring van 1 November 2010.