Kan jy verruim word in jou liefde?
DIE ketting waaraan ’n skip se anker vas is, moet geweldige spanning kan verduur om te verhoed dat die vaartuig wegdryf. Maar dit is slegs moontlik as die skakels in die ketting sterk is. Anders sal die ketting breek.
Min of meer dieselfde kan van die Christengemeente gesê word. ’n Gemeente sal slegs sterk en gesond wees as die individuele lede in eenheid saamgebind is. Wat bind hulle saam? Liefde, wat die sterkste verenigende krag is. Geen wonder dat Jesus Christus vir sy dissipels gesê het nie: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Ja, ware Christene het die soort liefde vir mekaar wat verder strek as terloopse vriendskap en wedersydse respek. Hulle kweek selfopofferende liefde aan.—Johannes 13:34, 35.
Waardering vir ons medegelowiges
Baie gemeentes bestaan uit mense van verskillende ouderdomme, rasse, nasionaliteite, kulture, tale en sosiale agtergronde. Elke lid het sy eie voorkeure en afkeure, verwagtinge en vrese, en gewoonlik het elkeen ’n persoonlike las wat hy moet dra—dalk swak gesondheid of finansiële onsekerheid. Hierdie veelsydigheid kan Christelike eenheid op die proef stel. Wat kan ons dan help om ondanks hierdie uitdaging verruim te word in ons liefde en verenig te bly? Opregte waardering vir almal in die gemeente sal ons help om ons liefde vir mekaar te vergroot.
Maar wat beteken dit om iemand te waardeer? Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal definieer die woord “waardeer” soos volg: “die waarde bepaal”, “op prys stel; ten volle geniet en begryp”, “dankbaar wees vir”. As ons ons medegelowiges waardeer, begryp ons hulle behoeftes, stel ons hulle hoog op prys, erken ons hulle voortreflike waarde en is ons dankbaar dat hulle saam met ons aanbid. Gevolglik kry ons hulle baie lief. ’n Kort bespreking van wat die apostel Paulus aan die eerste-eeuse Christene in Korinte geskryf het, sal ons help om te sien hoe ons Christelike liefde in die volste mate kan betoon.
“Te min ruimte” onder die Korintiërs
Paulus het sy eerste brief aan die Korintiërs in 55 G.J. geskryf en sy tweede brief minder as ’n jaar later. Sy kommentare dui aan dat sommige in die Korintiese gemeente ’n gebrek aan waardering vir hulle medegelowiges gehad het. Paulus het die situasie soos volg beskryf: “Ons mond is teenoor julle geopen, Korintiërs, ons hart het verruim geword. Julle het nie te min ruimte in ons nie, maar julle het te min ruimte in julle eie tere geneenthede” (2 Korintiërs 6:11, 12). Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat hulle “te min ruimte” het?
Hy het bedoel dat hulle bekrompe en selfsugtig van hart was. Een Bybelgeleerde meen dat die Korintiërs se liefde vir Paulus “versper [is] deur netelige situasies, ongegronde agterdog . . . en gekrenkte trots”.
Let op watter raad Paulus hulle gegee het: “By wyse van vergoeding dan—ek praat soos met kinders—moet julle ook verruim word” (2 Korintiërs 6:13). Paulus het die Korintiërs aangespoor om verruim te word in hulle liefde vir medegelowiges. Dit het beteken dat hulle deur ’n positiewe gesindheid en ’n vrygewige hart beweeg moes word, nie deur wantroue en kleingeestigheid nie.
Hoe om vandag verruim te word in liefde
Dit is hartverblydend om te sien hoe ware aanbidders van God hulle vandag kragtig inspan om verruim te word in liefde vir mekaar. Dit is so dat dit inspanning verg om verruim te word. Dit is nie bloot ’n intellektuele oefening nie. Om verruim te word, vereis dat ons anders optree as mense wat nie volgens Bybelstandaarde lewe nie. Sulke mense het dikwels min waardering vir ander. Hulle kan onbedagsaam, oneerbiedig en sarkasties wees. Laat ons dus nooit toelaat dat ons deur hierdie gesindhede beïnvloed word nie. Hoe tragies sou dit tog wees as ons liefde, soos dié van die Korintiërs, deur gevoelens van wantroue beperk word! Dit kan gebeur as ons gou is om ’n Christenbroer se foute raak te sien, maar stadig is om sy sterk punte te erken. Dit kan ook gebeur as ons te min ruimte in ons geneenthede het omdat iemand uit ’n ander kultuur kom.
In teenstelling hiermee het ’n kneg van God wat verruim word in sy liefde, opregte waardering vir medegelowiges. Hy stel hulle hoog op prys, respekteer hulle waardigheid en begryp hulle behoeftes. Selfs wanneer daar goeie rede tot klagte is, is hy gretig om te vergewe en weier hy om ’n wrok te koester. Hy gee eerder sy medegelowiges die voordeel van die twyfel. Vrygewigheid van hart help hom om die soort liefde te betoon wat Jesus in gedagte gehad het toe hy voorspel het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
Neem die inisiatief en maak nuwe vriende
Hartgrondige liefde sal ons in staat stel om vriende te probeer maak met mense wat nie in ons vriendekring is nie en die geselskap op te soek van diegene in die gemeente met wie ons nie normaalweg noue omgang het nie. Wie kan dit insluit? Party van ons Christenbroers en -susters is skaam of het om die een of ander rede min vriende. Ons voel dalk aanvanklik dat ons, benewens ons aanbidding, nie veel in gemeen het met hierdie persone nie. Maar is dit nie so dat party van die hegste vriendskappe in die Bybel tussen mense was wat skynbaar min in gemeen gehad het nie?
Kyk byvoorbeeld na Rut en Naomi. Daar was ’n groot ouderdomsverskil tussen hulle, hulle was van verskillende nasionaliteite en kulture, en hulle het selfs verskillende moedertale gehad. En tog het hulle vriendskap hierdie verskille oorbrug. Jonatan is as ’n prins grootgemaak, en Dawid was ’n herder. Daar was ook ’n groot ouderdomsverskil tussen hulle, maar hulle het een van die hegste vriendskappe gehad wat in die Heilige Skrif genoem word. Albei hierdie vriendskappe was ’n bron van genot en geestelike onderskraging vir die betrokkenes.—Rut 1:16; 4:15; 1 Samuel 18:3; 2 Samuel 1:26.
Selfs vandag ontwikkel hegte vriendskappe tussen ware Christene wat van verskillende ouderdomsgroepe is of wie se situasie in die lewe heeltemal verskillend is. Byvoorbeeld, Regina is ’n enkelmoeder met twee tienderjarige kinders.a Sy het ’n besige rooster en min tyd om te sosialiseer. Harald en Ute is ’n afgetrede egpaar sonder kinders. Op die oog af lyk dit of hierdie twee gesinne min in gemeen het. Maar Harald en Ute het die Bybelraad toegepas om verruim te word. Hulle het Regina en haar kinders by baie van hulle bedrywighede betrek en tyd saam met hulle in die openbare bediening deurgebring en ontspanning saam met hulle geniet.
Kan ons verruim word en vriende maak met mense wat nie in ons bestaande vriendekring is nie? Probeer gerus nader kom aan medegelowiges van ’n ander nasionaliteit, kultuur of ouderdomsgroep.
Voorsien in ander se behoeftes
’n Vrygewige hart sal ons beweeg om bewus te wees van ander se behoeftes. Watter soort behoeftes? Wel, kyk na die lede van die Christengemeente. Die jonges het leiding nodig, die bejaardes het aanmoediging nodig, voltydse bedienaars het lof en ondersteuning nodig en medegelowiges wat mismoedig is, het ’n horende oor nodig. Elkeen het behoeftes. Ons wil sover as moontlik in hierdie behoeftes voorsien.
Om verruim te word, beteken ook dat ons begrip sal toon vir diegene met spesiale behoeftes. Ken jy iemand wat chronies siek is of wat ’n ander beproewing deurmaak? As jy verruim word in liefde en ’n vrygewige hart aankweek, sal dit jou help om simpatiek te wees teenoor hierdie persone en hulle te ondersteun.
Wanneer Bybelprofesieë vir die nabye toekoms in vervulling gaan, sal sterk bande van eenheid in die gemeente van veel groter waarde wees as besittings, vermoëns of prestasies (1 Petrus 4:7, 8). Elkeen van ons kan persoonlik help om die bande van eenheid in ons eie gemeente te versterk deur verruim te word in ons liefde vir ons medegelowiges. Ons kan seker wees dat Jehovah ons ryklik sal seën as ons optree in ooreenstemming met die woorde van sy Seun, Jesus Christus, wat gesê het: “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos ek julle liefgehad het.”—Johannes 15:12.
[Voetnoot]
a Van die name is verander.
[Lokteks op bladsy 10]
Om ons broers en susters te waardeer, beteken dat ons hulle almal hoog op prys stel, hulle waardigheid respekteer en hulle behoeftes begryp